Скачать книгу

deur die water,” lag Tillie.

      “Maar nou moet jy jou stil hou. Kom ons kyk of sy my sal toelaat om haar te bad,” stel Lisa voor en gaan haal lyfroom en ’n ligte parfuumsproei in haar kamer voordat sy water in Tillie se bad tap. Skuim lê dik op die water toe sy rubbermannetjies, ’n duikboot en ander speelgoed wat sy daar vind, ingooi.

      Sy kry Nadia op die kombuisvloer, besig om poedingbeslag uit ’n glasbak te skraap. Lisa gaan hurk by haar. “Jy moet kom bad, jong. Pappa kom jou haal en jy wil mos nie hê hy moet sien hoe vol deeg jy is nie?”

      Nadia skud haar kop driftig en staan op. Lisa vat haar hand en sê: “Wanneer jy klaar gebad het, gaan ek jou lekker met room smeer.” Hulle stap verby Tillie en Lisa knipoog vir haar. “En heerlike lekkerruikgoed aan jou sit.” Sy begin Nadia se klere uittrek. “Dan ruik jy so lekker vir Pappa.”

      Dalk weens die gedurige noem van “Pappa”, staan Nadia gedwee stil terwyl Lisa haar was. Lisa laat haar ’n rukkie in die water speel voor sy haar uithelp.

      “Haar klere is in daai laaikas,” beduie Tillie.

      Toe Nadia kant en klaar is, spuit Lisa ’n klein bietjie parfuum aan haar. Dis baie lig, soos appels.

      Tillie maak ’n groot bohaai oor Nadia so mooi skoon is en kyk sameswerend na Lisa. “Belowe jy jy sal Nadia môre weer bad? Dat sy weer so heerlik kan ruik, nes ’n groot meisie?”

      “Ek belowe,” stem Lisa sedig in. Nadia lyk in haar noppies.

      Later die aand toe Kallie haar kom haal, maak Lisa haar vinnig uit die voete. Eers toe die gedreun van Kallie se Jeep stil raak, kom sy uit haar kamer en gaan maak tee. Tillie vra dadelik toe sy met die tee inkom: “Hoekom het jy verdwyn toe Kallie opdaag?”

      As Kallie nou nie vanoggend geïmpliseer het Lisa probeer vir Nico verlei nie, sou sy vir Tillie kon vertel wat in die kombuis gebeur het. “Ag, ek het taai gevoel en lekker op my tyd gaan stort.”

      “Dit lyk dan of jy Kallie vermy. Hou jy nie van hom nie?”

      Sy het by Tillie kom kuier, nie vir Kallie nie! “Hemel, Tillie, ek ken die man skaars. En hy ís nie juis my soort ou nie.”

      “Maar hy ís jou soort man!” sê Tillie. “Jy het nog altyd van mans met ambisie gehou, en Kallie het tonne daarvan. Net om jou ’n voorbeeld te gee –”

      “Ek weet heeltemal genoeg van hom af,” mor Lisa, maar Tillie druk deur.

      “Kallie het sy B-graad gekry voor hy veeartseny gaan studeer het by Onderstepoort.”

      “Whatever,” mompel Lisa.

      “Hy het in Kaapstad geswot en terselfdertyd daar saam met ambulansmanne nooddiens gedoen.”

      “Klink vir my asof hy dalk hiperaktief is.” Lisa moet skop teen haar onwillekeurige gevoel van respek vir die man.

      “Jy sit die pot mis. Die punt is, Kallie het nie gejol saam met die ander studente nie, hy het beseerdes gehelp. Mense se skete interesseer hom, nes diere s’n.”

      Lisa bly stil. Dit maak nie saak wát Kallie alles bereik het nie, sy gaan probeer om so min as moontlik van hom te sien. Om háár darem daarvan te beskuldig dat sy ’n flerrie of ’n ding is!

      * * *

      Twee volle dae lank kry Lisa dit reg om Kallie te vermy. Maar toe raak dit moeilik, want Tillie sê nie meer vooraf wanneer hy gaan opdaag om Nadia te bring of te kom haal nie. Natuurlik aspris van haar!

      Lisa het gaan stap en voel goed toe sy net ná vieruur natgesweet terug by die huis kom. Sy drink eers water voor sy na Tillie gaan soek.

      Tillie lê op ’n rusbank en stut haar op ’n elmboog toe Lisa inkom. “Jou wange is omtrént rooi!”

      Lisa haal haar hoed af en waai haar daarmee koel. “Dit voel of ek uitbrand, maar die stap was lekker. ’n Koue stort gaan nou nóg lekkerder wees.”

      “Ons braai vanaand, Kallie kom ook.”

      Lisa probeer haar misnoegdheid wegsteek, maar Tillie ken haar te goed.

      “Wat ís dit met jou? Kallie is die aantreklikste man in die kontrei en die meisies tou agter hom aan.”

      “En jy wil hê ek moet ook soos die ander bakvissies voor sy voete neerval?”

      “Jy oordryf al weer.”

      “Vandat ek hier aangekom het, is jy besig om die man aan my af te smeer!”

      “Dis nie waar nie.”

      Lisa is te moeg en warm vir stry. “Wanneer is jou volgende afspraak by die ginekoloog?”

      “Oormôre, tienuur die oggend. Kallie het voorgestel ons los Nadia by jou.”

      “Dit sal oukei wees,” knik Lisa. “Ek gaan ’n rukkie werk nadat ek gestort het, hoor.”

      Tillie tel ’n boek van die vloer af op en sê stroef: “Onthou net ons braai.”

      Kallie en Nico se stemme bring Lisa na die werklikheid terug. Dis al halfsewe. Sy maak lêers toe en skakel die rekenaar af. Sy het vroeër skoon jeans en ’n netjiese bloes aangetrek, en sy druk haar voete in goue ballerinaskoene in. Haar hand huiwer oor haar grimeersakkie. Sy sit net lipglans en maskara aan. Sy gaan haar g’n vir Kallie mooimaak nie!

      Die reuk van tuisgebakte brood hang in die lug toe Lisa kombuis toe stap. Nadia sit by die kombuistafel, besig om rooiworsies en tjips te eet.

      “Hallo, Nadia,” groet Lisa en kry ’n drukkie.

      “Truitjie het groot slaaie gemaak sodat jy ook lekker kan eet,” sê Tillie, steeds ’n bietjie styf. Sy steur haar nie meer soveel aan die stilhouery nie en loop stadig rond. Lisa tel bakke op en hulle twee stap lapa toe.

      Van al haar wegkruipery is Lisa nou besonder onwillig om Kallie te sien. Sy groet maar dadelik om dit oor te kry. Hy gee haar ’n deurdringende kyk. Sy stem toe hy groet laat haar aan donkersjokolade dink, diep en sag. O aarde tog.

      Nico en Kallie drink rooiwyn, sy en Tillie vrugtesap en water. Dit lyk nie vir Lisa asof die mans haastig is om te begin braai nie, want Nico pak nog stompe op die vuur. Die vlamme brand hoog en Lisa ontspan gaandeweg terwyl almal om haar gesels, maar sy bly heeltyd ongemaklik bewus van Kallie. Sy was eintlik laf om op te sien teen die braai in sy geselskap. Sy hou van sy diep lag en toe dit haar die soveelste keer na hom laat kyk, spring haar hart in haar keel toe sy oë hare vasvang.

      Dis ’n oomblik stil. Toe ’n jakkals naby tjank, ril Lisa, maar dis ook omdat ’n koue windjie begin waai het. Sy skrik ligweg toe Kallie skielik agter haar staan en sy baadjie oor haar skouers vou.

      “Ag nee.” Sy probeer dit afgooi, maar sy hande rus op haar skouers. “Wat van jou?”

      “Ek kry nie so gou koud nie,” sê hy half nors, en gaan sit.

      “Nè?” fluister Tillie vir niemand nie.

      Lisa maak asof sy dit nie hoor nie. Die baadjie wil sy so gou moontlik vir Kallie teruggee, maar sy geniet nogal die reuk wat daaraan kleef … Lisa wag tot die mans kombuis toe gaan om die vleis en speserye te gaan haal en gaan trek dan haar groen baadjie aan. Nadia slaap in die sitkamer, sien sy op pad terug lapa toe.

      Kallie pak tjops op die rooster. “Dankie vir die leen, ek het myne gaan aantrek.” Sy hou sy baadjie na hom uit. In die oranje gloed van die vuur kan sy sien hy bekyk haar van kop tot tone.

      “Wat’s fout? Is my baadjie nie hoog mode genoeg nie?”

      Sy het lus en klap hom! Sy laat val sy baadjie sonder ’n woord ongeërg op ’n stoel.

      “Goeiste, maar jy lyk opgeklits,” sê Tillie saggies toe Lisa gaan sit.

      “Kom ons los dit net.”

      Dankie tog, dat ons kan eet en klaarkry, dink Lisa toe die vleis op die tafel is en die mans kom sit. Sy smeer botter op ’n sny louwarm brood toe Kallie praat.

Скачать книгу