Скачать книгу

belangstel het nie.

      Gister in sy telefoonoproep het hy iets gesuggereer wat haar in haar diepste wese geraak het, besef sy nou. Sy het tot dusver nog nie aan haarself gedink as beskikbaar vir ’n verhouding nie.

      Maar sy weet nou wat sy gaan doen. Een ding het intussen vir haar uitgekristalliseer: sy sal amptelik haar verlowing met Rigardt verbreek. Hoe sy dit moet doen, is nog nie duidelik nie. Hy sal nie verstaan as sy sy ring teruggee nie – hy sal die betekenis van die gebaar nie verstaan nie. Sy ma het dit in soveel woorde ook erken, en selfs gesê Isabelle kan maar die ring hou. Daar sal dus nie die tradisionele manier van afsê kan wees nie. Sy sal net vir die familie gaan sê sy is nie meer verloof nie.

      Nou moet sy ook besluit of sy skielik gaan ophou om ná werk na Rigardt se ouers te gaan, en of sy net geleidelik minder by hulle huis sal opdaag. Watter manier ook al vir almal die mins traumatiese sal wees.

      Sy weet van fisieke herstel, van spiere en beendere. Sy kan dit help bewerkstellig deur behandeling, oefening en aanmoediging. Maar sy weet nie veel van breinfunksie en van emosionele skade en herstel nie. En dís wat Rigardt oorgekom het.

      In die liggaam wat ná sy ongeluk geleer is om te loop, aan te trek, te eet en min of meer sosiaal aanvaarbaar op te tree, woon die gees van ’n kind. Nie die opgeruimde ekstrovert wat sy jare gelede leer ken het nie. Nie die intelligente student van hulle universiteitsdae nie, nie die man wat standpunte kon beredeneer en intens kon debatteer nie, maar ’n verskrikte robotmens wat ’n werkie in sy pa se fabriek sal gaan doen.

      Sy weet ’n mens moet dit tyd gee, nie gou moed opgee nie. Dis waarom sy vir twee volle jare elke dag ná werk na Rigardt se ouerhuis gegaan het, waar sy ouers hom in alles bystaan en ook nie moed opgegee het nie.

      Juis omdat Rigardt breinskade het, waardeer sy Dolf se geselskap. Sy weet dat hy ten spyte van die pyn en oneindige frustrasie ’n aangename, optimistiese geaardheid het. Sy waardeer dit dat hy met sy werk aangaan, al moet hy elke dag ure lank rehabilitasie-oefeninge doen, sodat hy min tyd het vir enigiets anders.

      Sy kry hom meteens verskriklik jammer.

      “As jy vanaand wil gaan fliek, sal ek jou kom oplaai,” bied sy impulsief aan. Sy wil haar eers bedink, maar voeg dan vinnig by: “Nee, wag, dit sal met jou motor moet wees, want ek ry met ’n geleende motortjie. Daar kan nie eens ’n paar tekkies in sy kattebak inpas nie, wat nog te sê ’n rolstoel.”

      “Sal jy regtig?” Hy kyk haar verwonderd aan.

      Sy voel effens skuldig; hy weet sy is tegnies nog verloof. Sy sien dan ook dadelik sy blik op haar ringvinger, waar haar ring vanmiddag pryk.

      “Ek gaan as jou fisioterapeut.” Sy weifel. “Of sal ons dit maar los?”

      “Nee, kom asseblief. Kom ons doen dit,” pleit hy dringend. “Ek sal jou geselskap soveel meer geniet as my familie of helpers s’n.”

      “Jy moet net nie idees kry nie,” dring sy aan. “Dis bloot ’n ontspanningsoefening.” Sy glimlag skeef.

      “Natuurlik,” glimlag hy ook. “Ek en jy het dit albei nodig. Ek weet genoeg van jou omstandighede om te weet dat jy ook frustrasie en pyn beleef. En ek kan darem ry, so ek sal jou kom oplaai.”

      Sy spreek met hom af om halfagt gereed te staan buite haar meenthuisie.

      Die aand saam met Dolf verloop goed. Hy help homself met die rolstoel, met die in- en uitklim uit sy aangepaste motor en die ophys van die stoel. Isabelle staan terug en laat hom toe om alles self te doen.

      Sy weet hoe ver hy gekom het van daardie eerste dae in die hospitaal toe almal gespanne gewag het vir die swelsel om te sak, sodat hulle kon sien hoeveel gebruik hy nog in sy arms en bene oorhet. Sy weet hoeveel ure en ure se rehabilitasie hom gebring het tot op hierdie punt waar hy homself taamlik goed kan behelp.

      Sy weet ook dat hy liewers alles self moet doen – dis goed vir sy selfvertroue.

      En juis om hom nie as ’n hulpelose gestremde te laat voorkom nie, het sy moeite gedoen met haar voorkoms. Mense sal meer respek vir hom hê as die vrou aan sy sy iemand is op wie hy trots kan wees, dink sy simpatiek. Iemand wat by hom is omdat sy hom waardeer as mens, en nie uit jammerte of omdat sy betaal word om saam met hom daar te wees nie. Of ’n afgesloofde familielid nie.

      Sy weet sy lyk pragtig met haar hare wat in sagte kartels om haar gesig en tot in haar nek hang. Haar ovaalvormige gesig lyk mooi met amper enige haarstyl, selfs as sy haar hare strak wegkam vir die werk. Maar daar kom ’n vriendelike sagtheid oor haar as haar hare los hang en sy vleiende, vroulike klere aantrek.

      Hulle geniet die fliek en raak na die tyd in druk gesprek daaroor.

      “Ek hou nie van Meryl Streep nie, sy het al wéér oorspeel,” kla sy kastig.

      “Jy is seker nie ernstig nie,” kap hy teë. “As jý in so ’n krisis was, sou jy ook tekere gegaan het.”

      Sy lag hom uit. “Sy was uitstekend. Ek wou jou maar net ’n bietjie terg. Ek weet die meeste mense is mal oor haar.”

      “Kom ons gaan eet iets of gaan drink ’n glasie wyn,” stel hy voor.

      “Dit sal lekker wees.”

      Sy help hom kies tussen twee restaurante wat albei gesellig lyk. Hulle kry ’n lekker hoekie waar sy rolstoel uit die pad staan. Hy staan self op en kom sit langs haar aan tafel. Heimlik is sy bly dat hulle nie te veel in die oog is nie. Sy wil darem nou ook nie dat bekendes hulle dalk sien en allerhande verkeerde afleidings maak nie.

      Amptelik is sy nog ’n verloofde vrou, hoewel sy weet dat niemand meer van haar verwag om aan Rigardt getrou te wees nie. Maar nie meer vir lank nie, beloof sy haarself. Sy is dit aan haarself verskuldig om weer met die lewe aan te gaan.

      “Wat het jy nog onlangs gesien?” vra Dolf uit.

      Sy erken dat sy lanklaas gefliek het, lanklaas uitgeëet het, lanklaas vlooimark toe was, lanklaas in die winkels rondgeflenter het, behalwe soms met ’n vriendin wat haar saamsleep.

      “Dan is dit hoog tyd dat albei van ons hierdie aand geniet,” kondig hy aan en vra dat die kelner spyskaarte bring. “Ons gaan eet en drink en vrolik wees.”

      Dit word die lekkerste aand wat Isabelle in twee jaar beleef het. Sy flankeer ’n bietjie met hom, terg hom en laat haar terugterg. Hy laai haar eers kort voor middernag by haar huis af.

      “Jammer dit het so laat geword. Jy moet môre werk,” sê hy.

      Sy buk af by sy oop motorvenster. “Dis niks. Ek het lanklaas laat uitgebly en dit was heerlik. Lekker slaap!”

      “Jy het my vanaand ’n groot eer aangedoen.” Hy sit sy hand op hare. “Ek kan jou nooit vergoed daarvoor nie. Dankie dat jy vir my so absoluut pragtig lyk, en dat jy geduld met my gehad het.”

      “Ons moet dit weer doen,” stel sy voor.

      Sy weet dat sy onder die omstandighede maar die voortou kan neem. Self sal hy dalk nie die selfvertroue hê om haar uit te vra nie.

      “Dit sal heerlik wees.”

      Sy leun vinnig vorentoe en soen hom op die wang, kry die geur van ’n heerlike vars naskeermiddel. Toe draai sy om en verdwyn by haar huisie se voordeur in. Sy hoor hom nog ’n rukkie wag, dan sy motor aanskakel en baie stadig wegry.

      Dit was nou lekker, dink sy tevrede. ’n Lekker ontspanne aandjie by die fliek en daarna lekker geselskap, soos in die dae toe sy baie uitgegaan het voor en na sy vir Rigardt ontmoet het.

      Al het ek die man nou ook self uitgenooi, het ek vanaand ’n afspraak gehad, juig dit in haar.

      Wat het my besiel? wonder sy egter die volgende dag in die helder oggendlig terwyl sy en Maxi en Yvette gou saam praktykvergadering hou.

      “Nie net het ek met ’n pasiënt uitgegaan nie, ek het hom sowaar gesoen! Én hom aanleiding gegee om te dink daar sal nog sulke afsprake wees,” erken sy teenoor haar kollegas.

      “Gesoen nogal, nè?” beklemtoon

Скачать книгу