Скачать книгу

prysgee nie. Oom Walter is die een wat maklik trane afvee, wat groot omhelsings maak en stywe drukkies uitdeel.

      “Wat jy vir ons seun gedoen het, sal ons nooit vergeet nie. Ons weet jy het jare opgeoffer, dae ingesit, baie ure aanhoudend probeer en weer probeer. Nou moet ons jou vrystel sodat jy kan aanbeweeg, ’n nuwe lewe begin. Miskien weer ’n man ontmoet. Hou die ringetjie en laat verander dit in iets moois – ’n hangertjie, of iets om sommer nou en dan as ’n stukkie juweliersware te dra. Kom kuier nou en dan. Maar ontmoet iemand anders, en kom stel hom eendag aan ons voor.”

      Isabelle sit doodstil, haar blik op die mooi vrou met die moeë oë. Wat moes dit haar nie gekos het om te sê wat sy nou gesê het nie …

      Met hierdie woorde het Katarina erken dat sy die handdoek ingooi. Dat sy haar ambisieuse drome vir haar seun begrawe het en leer aanvaar het wat die lewe hom toegedeel het.

      Van haar wat Isabelle is, sal sy ma nooit die volle waarheid oor Rigardt hoor nie. Dis ’n geheim wat saam met haar eendag graf toe sal gaan, het Isabelle lankal besluit.

      Die voordeur gaan oop en Rigardt en oom Walter kom in. Toe Isabelle die vreugde op Rigardt se gesig sien toe hy haar gewaar, wil haar hart breek. Amper begewe haar moed haar.

      Sy knik net effens met haar kop in Katarina se rigting, sien dat die ouer vrou dit raaksien. Hulle verstaan mekaar se verwarring, mekaar se leed.

      ~ 3 ~

      Dag vir dag as Isabelle in Ernst Joubert se guitige sportmotortjie rondry, dink sy aan hom. Sy sien hom egter nie weer nie.

      Sou hy dan nooit wonder wanneer hy weer sy motor sal terughê nie? Mis hy dit nie tydens naweke, wanneer hy blykbaar met die motortjie gery het nie? Miskien Hartbeespoortdam toe om te gaan seil, saam met ’n lieflike meisie wie se hare in die wind wapper. Of na ’n lekker wegbreekplaas iewers diep in die platteland?

      Isabelle se motor word herstel.

      “Maar dit gaan lank neem,” verseker die paneelklopper haar. “Die skade is groot en ek wag vir ’n part. En die fabriek wat die onderdele maak, is aan die staak. Ek besef dis ’n splinternuwe motor; dit moet so goed as uit die boks wees,” verseker die fris man met die getatoeëerde arms haar. “Jy sal ongelukkig nog moet wag. Ek weet nie vir hoe lank nog nie.”

      Sy is dus afhanklik van die geleende motortjie. Sy moet seker maar vir Ernst Joubert kontak en sê dat dit nog miskien tot tien dae sal neem.

      Maar sy bly baie besig en kom nie by bel uit nie. Boonop voel sy hy kan maar die ongerief verduur aangesien hy so dom was om ’n ongeluk te maak deur sy selfoon in sy motor te gebruik. Hy kry net wat hy verdien, verseker sy haarself ietwat moedswillig.

      Sy gaan gereeld na Dolf Dreyer in sy weelderige huis, waar ’n kloekende huishulp en ’n inwonende assistent, Thabo, vir hom sorg.

      “Die pyn maak my klaar,” sê hy moedeloos.

      “ ’n Skietwond is ’n duiwel,” stem sy saam. “Dit doen soveel skade omdat dit so groot is en ’n groot klomp weefsel of been vernietig. Ek is so bly jou neuroloog gaan vir jou ’n pynblokkeerder insit. Ek weet van baie goeie resultate met dié operasietjie. Sodra die blokkeerder in is, keer dit dat die senuwees die pynboodskap na die brein deurgee.”

      Sy laat hom opstaan en wys hom weer hoe om die swakker linkerbeen te oefen.

      “Wanneer hierdie regterbeen nog ’n bietjie sterker is, gaan jy weer stap! Dan sal die swakker linkerbeen ook begin verbeter. Moenie nou staan en moedeloos raak nie, Dolf. Ek maak staat op jou. Oefen! Oefen! Oefen! Jy kán dit doen.”

      Hy is ’n groot man en sy is uitasem toe sy hom stewig om die middel vashou en hom weer in die rolstoel laat sak. Sy probeer om nie te dink aan die nabyheid van die man nie. Hy is groot en fris, ’n pragtige man, wat nou ongelukkig ’n bietjie gewig optel omdat hy nie meer aktief is nie. Maar steeds ’n lus vir die oog, moet sy erken.

      “Dankie, jy’s ’n engel,” sê hy opreg en hou haar hand ’n oomblik langer vas as wat nodig is. “Wat ek tog sonder jou sou doen!”

      ’n Paar dae later bel Dolf haar.

      “Ek het gister die blokkeerder gekry. Dis, soos jy wel weet, ’n klein dingetjie soos ’n pasaangeër. ’n Spesiale elektrode word langs die senuwees geplaas wat die pynboodskap na die brein toe oordra. Die stelsel stuur elektriese impulse wat soos ’n gekriewel voel in die deel waar die pyn was. Daar is nie verdere medikasie nodig nie, en ek kan self die werking van die blokkeerder aanpas. Ek het ’n tipe kontrole daarvoor.”

      “Ag, maar dis wonderlik,” adem Isabelle. “En het jy nou minder pyn?”

      “Baie, baie minder! Ek kan saamleef met die pyn wat nou oorbly. Jy kan nie dink hoeveel beter ek voel nie. Ek het sommer weer moed vir dinge.”

      “Ek is so bly! Dis wonderlike nuus, en ek is bly jy het my laat weet. Maar ek sien jou seker nog môremiddag?”

      “Ja, natuurlik. Asseblief. Ek moet aanhou oefen om soveel moontlik die gebruik van my spiere terug te kry. Ek maak staat op jou, dit weet jy. En dis altyd lekker om jou vrolike gesig te sien. Ek kan nie vir jou sê wat jou besoeke vir my beteken nie. Jy is vir my teen hierdie tyd baie meer as net ’n fisio.”

      Isabelle is al gewoond daaraan dat pasiënte haar so hoog aanslaan. Almal is verstom oor die sukses wat op ’n fisioterapeut se goeie werk volg. En elkeen dink gewoonlik dis net met hom of haar dat Isabelle sukses behaal. Maar dis die werk van ’n fisioterapeut: om met die regte en langdurige oefening jou pasiënt weer so mobiel en soepel as moontlik te maak. Om nuwe patrone van leef en doen aan te leer, om ou gewoontes af te leer en nuwe tegnieke te gebruik.

      Sy gaan dus die volgende dag met ’n lekker hart terug om saam met Dolf te oefen. Sy weet hy is eensaam. Dis erg genoeg om ná die skietery ’n parapleeg te wees, maar om daarmee saam ook die verlies aan ’n sosiale lewe te hê maak alles erger.

      Dit lyk soms vir haar of Dolf nie meer wil aangaan met die lewe nie. Dan moet sy nie net sy oefenprogram met hom bespreek nie, maar hom ook moed inpraat en doelwitte stel wat hom sal aanmoedig. Die feit dat hy nou baie minder pyn het, is ’n groot, groot hulp.

      Sy wil hom so graag help, maar tog weet sy dat sy hom nie durf aanmoedig as hy dalk ’n bietjie romanse en vertroosting by haar soek nie. Alles moet streng professioneel bly. ’n Mens raak nie betrokke by jou pasiënte nie, maan sy haarself. Veral nie by een wat soveel trauma beleef het nie. Hy moet homself eers vind, eers vasstel wie en wat hy ná die insident is. Hy moet klaar rou oor sy verlies aan beweeglikheid.

      Hy wou ’n werksverandering maak voor die voorval, maar weet nou nie wat om te doen nie. Sy werkgewer – ’n prokureursfirma – laat hom baie tyd toe vir rehabilitasie. Hy word dus gedwing om aan te bly by dieselfde werk.

      Hulle geduld met sy situasie is onskatbaar baie werd. Hy kan tuis werk en sy verslae per e-pos aanstuur. Hulle hou hom op hoogte met wat op kantoor en in vergaderings besluit word. Gelukkig het hy ook ’n baie goeie siekefonds en ongeskiktheidsversekering, wat die grootste deel van die onkoste gedra het.

      “Dink maar eers net aan jouself en aan jou herstel,” het Isabelle destyds gesê toe hy oor sy beroep met haar wou praat. “Op ’n dag sal jy net skielik weet wat jy wil doen. Dan sal jy reg wees vir ander veranderinge, soos by jou werk. Intussen is dit net eenvoudig nie so belangrik as om self weer op die been te kom nie. En met harde werk sal ons dit nog regkry dat jy weer loop, of ten minste baie meer mobiel is.”

      Dit bekommer haar soms dat hy so onbeskaamd ingenome is met haar. Maar as iemand so depressief is as wat Dolf tot dusver was, is ’n romanse eintlik net ’n tydelike oplossing. En sy wil nie haar professionele verhouding met hom ondermyn nie. Sy voel sy ken hom slegs as ’n pasiënt. Sy weet presies uit watter toestand hy kom en waarheen sy met hom op pad is. Sy moet hom weer op sy voete kry – letterlik. Dan eers sal sy ’n moontlike verhouding met hom kan oorweeg.

      Dié gedagte vang haar onkant. Sy het nie vantevore aan haarself erken dat sy gevoelens vir Dolf koester nie. Sy het gereken dat haar sterk gevoel vir

Скачать книгу