Скачать книгу

en buitentoe gevlug. Bertha het altyd benoud geraak wanneer hy haar te styf vashou. Sy het hom uitgekryt as te vurig en te lastig met sy liefkosings. Al wat hy gesoek het, was oortuiging vir homself: Bertha ís die vrou van sy drome.

      Maar Bertha was dit beslis nie, besef hy opnuut. Dit was net gerieflik en sussend vir sy gewete om hom dit te probeer wysmaak. Bertha is nie sy droomvrou van wie se lyf hy nie versadig kon word nie. Die uiteinde was: hy het opgehou probeer om Bertha te bevredig en gelukkig te maak.

      Bedags het hy op Nouveau gewerk tot hy te moeg was om te dink of te droom. Dikwels het hy sommer daar in die kelder geslaap. En toe hy eendag onverwags huis toe gaan ná ’n week waarin hy Bertha nie gesien het nie, was daar ’n ander man in sy bed, met sy vrou in sy arms. Die musiek wat effens te hard op die agtergrond gespeel het, het sy teenwoordigheid verbloem. Toe het hy net die deur toegetrek en uitgestap, in sy bakkie geklim en die nag ingery.

      Lank sit Nelis in sy bakkie en dink. Dan kom hy tot ’n besluit. Hy skakel die bakkie aan en ry terug in die rigting van sy plaas.

      Ek sit vandag met my lewe in my hand en vou dit oop soos ’n stadskaart. Voel met bewerige vingers oor strate, pleine en uitweë.

      Anika druk die verseboek terug in die boekrak. Opnuut besef sy hoe waar dié woorde van T.T. Cloete is. Dis sinneloos om langer te probeer om die ompad te loop. Hierdie pad waarop sy nou is, moet sy enduit stap, met een doel voor oë. Hulle behoort aan haar … háár vlees en bloed, die kinders van haar lyf.

      Sy stap uit op die stoep en gaan sit in die tuin. Genadiglik het die wind wat in die nanag begin waai het, nou effens bedaar. Die lug is egter nog betrokke en dit ruik na reën.

      Langs haar op die bankie lê die speelgoedteddiebeertjie wat sy gisteraand in haar slaapkamer se kas ontdek het. Traag draai sy haar kop en kyk daarna. Haar ma het dit nog vir haar gegee, onthou sy. Dit was ’n afskeidsgeskenk vir ’n klein dogtertjie wat nie kon verstaan waarom haar ma haar nie wou saamneem nie.

      Sy tel die beertjie op en bekyk dit. Dis al effens gehawend van die baie hanteer.

      Onthou jy nog, Ma? Met ’n kreet gooi sy die speelding van haar weg. Wel, ék onthou nog!

      Daardie dag het die wind ook so aan die deure en vensters geruk, sonder ophou. Klein Anika was bang, want sy was alleen in die groot huis met sy krakende vloere en dak. Met die nuwe speelding styf in haar arms vasgedruk het sy in haar pa se stoel in die sitkamer gaan sit. Wagtend op haar ouers om huis toe te kom.

      Sy skud haar kop ergerlik om van die seerkrygedagtes te probeer ontvlug. Sy vee haar natgeswete hande, ten spyte van die winterkoue, teen haar langbroek droog. Dis asof sy haar pa weer duidelik op die rand van die groot bed sien sit daardie aand. Sy lyf ruk, maar hy maak geen geluid nie. Dan skielik uiter hy ’n noodkreet soos ’n gekweste dier en met ’n kragwoord op sy lippe skeur hy iets tussen sy groot hande stukkend.

      Verskrik het sy teruggehardloop na haar slaapkamer. Die donderweer het gedreun en sy het bang met haar kop onder die kussing ingekruip. Sy was maar net vier jaar oud, maar sy het besef sy moet hom nie op daardie oomblik pla nie.

      Die volgende oggend het sy glasskerwe in die vullisdrom in sy slaapkamer gesien; op die bedkassie het ’n bottel en ’n glas gestaan. Die papier wat sy hom die vorige aand sien skeur het, was ook daarin. Sy het op haar knieë langs die vullisdrom gaan sit en die papiertjies een vir een uitgehaal.

      In haar slaapkamer het sy dit aanmekaargepas tot dit ’n prentjie gevorm het – die laggende gesig van haar ma. Die vrou wat belowe het sy kom haar haal.

      Wanneer, Ma? Dis nou al baie jare later en daardie belofte is nog steeds uitstaande!

      Sonja Summers, die vrou wat haar pa nooit kon vergeet nie … en sy ook nie. ’n Ma vergeet nooit die kind wat haar liggaam gedra het nie. Net so vergeet die kind ook nooit die ma wat hom of haar in die lewe gebring het nie.

      Laatoggend klim Anika in haar motor en ry hospitaal toe. Vandag wil sy met die dokter praat oor die versorging van haar pa. Sy glo nou eenmaal ’n pasiënt sterk vinniger aan by sy eie huis. Alhoewel sy nie vir ’n onbepaalde tyd in die Paarl kan vertoef nie, weet sy sy kan haar pa tuis dieselfde versorging gee as wat hy tans in die hospitaal kry.

      Nou is eintlik ’n baie kritieke tyd vir haar. Sy kan nie toelaat dat daar sand waai oor die spoor waarna sy soveel jare gesoek het nie. Die aand wat oom Abram haar geskakel het met die nuus van haar pa se beroerte, het sy net minute gelede eers tuis gekom. Vroeër die aand het sy buite Henk Zimmerman se huis verskuil agter bome in haar motor gesit en wag. Die een of ander tyd, het sy geweet, sou hy haar reguit na die vrou lei na wie sy al ses jaar lank soek.

      En hy het haar ook nie teleurgestel nie. Sy het skaars haar wagpos ingeneem, of hy het by die hek van sy huis uitgedraai en sonder om links of regs te kyk by haar verbygery. Met straaltjies sweet wat teen haar wange afloop, het sy hom op ’n veilige afstand gevolg, tot by die hospitaal.

      Sy ken die opset van ’n hospitaal en dit was nie moeilik om inligting uit die sekuriteitsbeampte by die ontvangstoonbank te kry nie. Sy het bloot die selfoon in haar hand vir hom gewys en gesê sy is dokter Henk Zimmerman se metgesel. Sy selfoon het gelui terwyl sy buite in die motor vir hom gewag het terwyl hy sy vrou, Petro de Klerk, besoek. Dis ’n dringende boodskap oor ’n pasiënt van hom. Sonder om te huiwer het die ouerige man agter die toonbank op ’n lys gekyk en die saal- en kamernommer vir haar gegee.

      Die oomblik toe sy A3 op die deur van die privaat hospitaalkamer lees, wou sy daar instorm en die vrou aan die keel gryp, maar sy het haar bedwing. Sy het in die damesbadkamer geskuil tot die skril gelui van ’n klokkie die einde van besoektyd aangekondig het.

      Toe sy Henk in die gang sien afstap, het sy vinnig by die kamer ingeglip. Sy maak die deur versigtig oop en druk dit net so sag agter haar op knip. Toe sy omdraai, herken sy dadelik die vrou wat teen die wit laken lê. Haar gesig is vervalle en uitgeteer, die oë toe en ingesonke in die oogkasse, merk sy sonder enige meegevoel op.

      Sy moet haar bedwing om nie aan die gil te gaan en vorentoe te storm nie. Haar hart klop met swaar slae; haar tong kleef aan haar verhemelte vas. Onthou breek in haar oop. Dit was ses jaar gelede wat sy ook in hierdie vrou se gesig gekyk het, met soveel dankbaarheid en vertroue. Nou is die enigste gevoel in haar een van veragting en haat. Petro de Klerk het haar lewe, haar hoop, haar vlees geroof. Al moet sy ook met haar kaal hande die bekentenis uit hierdie vrou wurg, sal sy dit doen.

      Die maer vrou wat teen die kussings sitlê, raak bewus van iemand se teenwoordigheid in die kamer. Haar oë gaan oop en oor die kort afstand kyk hulle mekaar net aan. Lees sy iets soos herkenning in die glasige oë? dink Anika. Of verbeel sy haar dit net? Wat as Henk tog reg is dat die vrou se brein só deur kanker aangetas is dat sy haar nie meer sal herken nie?

      “Wie is jy? Waar is Henk?”

      Sy tas na die noodklokkie, maar dan is Anika langs die bed en ruk die klokkie tot buite haar bereik. Sy buig nader na die vrou se gesig, tot haar gesig amper teen die uitgeteerde gesig gedruk is. Sy sien die uiterlike tekens van chemoterapie: die verdonkering van die te droë vel, die yl hare en tong wat aanhoudend oor die lippe lek.

      Haar verpleegstersoog mis niks van die agteruitgang in die lyf van die vrou voor haar nie. Maar vanaand is sy nie daardie mens wat ’n eed afgelê het om te genees en te versorg nie. Vanaand is sy net ’n vrou wat haar wil wreek op die een wat haar te na gekom het, van haar gesteel het.

      “Jy onthou my, dokter De Klerk, so staak jou speletjie! Jy kan vir Henk flous, maar nie vir my nie. Want weet jy hoekom?”

      Die vrou lê haar net en aankyk, maar daar is ’n duidelike terugdeinsing in haar liggaam. En Anika mis dit nie.

      “Weet jy?! Omdat ek jou ken, weet hoe slu en wreed jy is. Jy is ’n slang, Petro de Klerk! Jy is besig om dood te gaan en ek is bly!”

      Die vrou teen die kussings praat asemrig: “Ja, die kanker het my finaal ingehaal. Maar jy is ’n verpleegster; jy behoort meegevoel met ’n pasiënt te hê.”

      Anika lag skril, lelik. “Meegevoel? Hoe durf jy van alle mense praat van meegevoel vir ’n ander! ’n Duiwel soos jy wat my kinders gesteel

Скачать книгу