Скачать книгу

lê doodstil, sy oë toe, haar pa – Piet Summers! Die man wat met dom, growwe vingers soggens haar lang, bruin hare voor skool probeer borsel en vasmaak het. En een oggend het hy van moedeloosheid die skêr gegryp en die lang, blink lokke stomp afgesny. Deur haar trane het sy die bondels hare langs haar sien afstroom vloer toe. Sy was te bang om ’n geluid te maak, het net stil in haar binneste gehuil oor nog ’n herinnering wat afgesny is.

      Haar ma het altyd saggies vir haar gesing terwyl sy haar lang hare geborsel het. Daardie oggend nadat haar pa uit die badkamer geloop het met die skêr in sy hand, het sy op ’n stoel geklim en in die spieël die skade bekyk. Magaret, hulle huishulp, het probeer om met dieselfde skêr te red wat daar te red was. Toe maar net haar kop geskud en ’n rooi kopdoek oor die versnipperde haartjies vasgebind.

      Lank staan Anika hom net en bekyk. Die maer man met die wit laken tot hoog onder sy ken opgetrek is tog sekerlik nie haar forse pa wat sy onthou nie! Haar mond is droog; ’n naar gevoel skop nes op die krop van haar maag.

      Sy loop tot langs die bed; sy weet nie wat om vir die man met die toe oë voor haar te sê nie. Alles wat sy vir hom wou sê, het sy klaar in haar briewe geskryf. Nou is hy die een wat moet praat en verduidelik. Hy beweeg effens en sy gee instinktief ’n tree weg van die bed.

      Toe eers sien sy die pakkie vasgebinde briewe op die trollie voor sy bed lê – veelkleurige koeverte, gekreukel van baie hanteer. Haar briewe …

      Op elkeen van die bladsye is ’n stukkie van haar lewe neergepen nadat sy Brugstraat nommer een se voordeur agter haar toegetrek het. Daarin lê elke stonde van haar struikel en val opgeteken, die moeitevolle opstaan en treetjie vir treetjie vorentoe beur. Haar vrees om te lewe, maar ook haar vrees vir die dood – gedagtes wat sy met geen ander mens gedeel het nie. Nie eens Henk ken al die feite wat in hierdie briewe oorvertel is nie. Sy het Piet Summers herhaaldelik met die tong gestraf oor die leuens waarmee hy haar grootgemaak het.

      Die man teen die kussings het die skerp intrek van haar asem gehoor en sy oë gaan moeisaam oop. Hy draai sy kop en sien haar met die briewe in haar hande langs die bed staan. Daar is egter geen herkenning of selfs uitdrukking in sy dowwe blou oë nie.

      Met moeite dwing hy sy regterhand omhoog. “Myne!” sê hy sag maar duidelik.

      Dadelik sit Anika die pakkie op die bedkassie neer. “Herken Pa my dan nie? Ses jaar is lank om –”

      “Nie lank genoeg nie,” val hy haar in die rede.

      “Hoe bedoel Pa?”

      “Om te vergeet nie … Jy het my nie toegelaat om te vergeet nie. Briewe … elke maand … jou briewe gevrees!”

      Anika sleep die stoel teen die muur nader en skuif dit tot teen die bed. Die weersiens is vir haar ’n amperse antiklimaks. Hoe anders het sy haar dit nie voorgestel nie. Miskien het sy iets soos die verwelkoming van die verlore seun verwag, gryns sy in haar binneste, maar beslis nie hierdie kalm woorde tussen haar en die man wat nog altyd vir haar Pa was nie. Asof sy net vir ’n heen-en-weertjie uit was.

      “Sy het nog nie gepraat nie, Pa,” sê sy sommer die eerste woorde wat in haar kop kom. “Henk sê die kanker het reeds na haar brein versprei en haar verstand aangetas. Hy sê sy ken nie meer die antwoorde op my vrae nie, maar ek sien iets anders in haar oë. Ek weet sy ken my en my vrae.”

      Hy beweeg teen die kussings. “Maar sy moes tog al iets kwytgeraak het … dis al ses jaar. En sy moet tog besef die dood staan voor haar deur.”

      Anika skud haar kop. “Sy hou die dood as haar laaste troefkaart. Dit gee haar ontvlugting, die kwytskelding van enige vonnis. Sy dink sy wen weer.”

      “Ag, Here, nee …” ’n Traan biggel oor sy bleek, ingesonke wang.

      Haar hande bal in vuiste langs haar sye, haar gesig strak en bleek. “Maar sy’s verkeerd, Pa. Henk sal my help, hy het belowe. Hy sê hy glo my storie ten spyte van die sogenaamde bewysstukke in haar besit. Sy het haar spore goed doodgevee, die leidrade is min. Ses jaar gelede toe ek ontdek sy’s weg met my …”

      Anika vee verwoed oor haar nat wange. “Maar Pa weet van al hierdie gebeure. Ek wil nou weet hoekom het Pa nooit enige woord gesê nie. Nie eens die woorde ‘Ek glo jou’ het ek uit Pa se mond gehoor nie.” Sy druk met haar hande op die bed langs sy lyf. “Waarom het jy my nie gesê jy glo my nie?” kreun sy dit uit en val dan moeg terug in die stoel.

      “Alles het ek opgeoffer, deurgemaak, en tog het ek niks bereik nie, my arms is steeds leeg. Pa weet, soms raak ek angsbevange: gaan hierdie nagmerrie ooit einde kry? Maar die wete dat Pa my glo, sou vir my soveel beteken het.”

      ’n Sirene lui skril in die gang.

      Sy vee vinnig, ergerlik oor haar nat wange. “Ek het nog nie eens gevra hoe Pa voel nie,” sê sy verskonend, verleë oor haar uitbarsting. “Wat sê die dokters? Hoe groot is die skade?”

      Hy beweeg sy gesonde hand effens. “Later … gaan nou eers.”

      “Maar …”

      “Gaan, ek is moeg.”

      “As dit is wat Pa wil hê.”

      “Wat ek wil hê … nie belangrik nie. Dis die liggaam wat my nou voorsê.”

      “Ek is hier om te help, Pa.”

      “Dis goed. Gaan nou …”

      Daar is ’n onmiskenbare dringendheid in sy stem. Asof hy nou ten alle koste alleen moet wees met sy gedagtes.

      “Nag, Pa,” groet sy en lê haar hand op sy arm. Voel die koue daarvan en neem haar hand weer weg.

      Hy antwoord nie, lê net met toe oë.

      Sy staan op en loop tussen die ander mense deur uit die saal. Vleg, hardloop tussen mense in die gange deur. Eers by die uitgang kom sy tot stilstand.

      Sy wil terugdraai, terughardloop, haar pa aan die skouers beetpak en uitroep: “Praat met my! Vir ses jaar swyg jy nou al!”

      Met geboë skouers draai sy om, weg van die groot wit gebou, en loop die nag in.

      It is not dying that hurts us so. It is living, draal die woorde van Cindy Lauper deur haar kop. Weer wonder sy wat is die seerste: om iemand aan die dood af te staan, of aan die lewe?

      “Ma, jy’t in jou liedjie belowe: ‘If you fall I will catch you, I’ll be waiting, time after time …”

      Net leë beloftes in die lug gestrooi, en die wind het dit geskep en weggedra.

      Die wind waai onstuimig, takke kraak buite en iewers ratel ’n venster omdat dit nie dig op knip is nie. Die koue byt haar lyf terwyl sy kaalvoet in ’n dun nagrok in die lang gang afhardloop. Aan die onderpunt daarvan flikker ’n flou lig. Sy hoor ’n droewige gehuil. Dit meng met die weeklag van die wind. Vir ’n oomblik wonder sy of die gehuil nie dalk maar net die wind is nie. Haar nagrok kleef aan haar vas van sweet ten spyte van die winterkoue. Haar voete maak hol geluide op die plankvloer; haar asem jaag. Dit voel of sy nooit die onderpunt van die gang bereik nie.

      Nou is die gehuil harder, nader. Sy kom voor ’n toe deur tot stilstand. Daar binne kan sy die droewige, bang gehuil hoor. Die deur is gesluit; sy ruk daaraan. Stamp daarteen en dit gee mee, swaai oop. Sy gil en gil …

      Anika skok wakker; ruk regop in die bed. Haar hare lê in ’n natgeswete warboel om haar kop. Die lakens en komberse het sy in haar nagmerrie deurmekaar gewoel. Die huilgeluid in haar droom weerklink nog in haar ore, sodat sy verplig is om haar hande daaroor te slaan.

      Toe dit voel of sy nie kan asem kry nie, druk sy paniekerig die beddegoed van haar weg. Sy vrees donkerte en skakel onmiddellik die bedliggie aan. Die oomblik toe die donkerte verdryf word, slaak sy ’n verligte sug. Na ’n paar minute bedaar haar hartklop en begin sy rustiger asemhaal.

      Nog ’n nagmerrie! Wanneer hou dit dan op?

      Haar skouers begin ruk; woedend, histeries swaai sy haar arms wild deur die lug. Soms voel dit of sy besig is om haar verstand te verloor. Aan die ander kant: sal dit

Скачать книгу