Скачать книгу

geken. Maar met Bertha was dit anders. Hy wou haar nie met Anika bespreek of haar selfs van hulle verhouding vertel nie. Iets het hom telkens daarvan weerhou, wat meegebring het dat Anika lank onbewus was van sy verhouding met Bertha.

      Vandag besef hy dit was ’n fout om Anika so in die duister te hou. Dan sou sy dit nie uiteindelik uit Bertha se mond gehoor het nie. Toe hy uitvind dat Bertha met Anika gepraat het, het hy haar onmiddellik kom sien. Sy het egter amper traak-my-nieagtig op die nuus gereageer. So asof dit nie vir haar enigsins saak gemaak het nie. Dié afsydige houding van haar het aan hom gekrap – waarom weet hy tot vandag toe nog nie.

      Hy trek sy asem hoorbaar in en blaas dit dan weer hard uit. “Nooit gedink ek sal weer my voete in dié huis sit nie,” praat hy sommer net om die ongemaklike stilte tussen hulle wat rek en rek te verbreek. Maar toe die woorde oor sy lippe glip, besef hy dit was ondeurdag.

      “Dis ’n vreemde opmerking, Nelis! Enige spesifieke rede?” vra sy versigtig en hou hom deurentyd dop.

      Hy vryf teen sy voorkop – weer die onseker gebaartjie, sien sy.

      “Ag, jy weet …”

      Sy skud haar kop beslis. “Nee, ek weet nie, sê jy vir my.”

      “Jy’t padgegee sonder om te groet … en nooit van jou laat hoor nie. Vriende maak nie so nie!” slaan die verwyt in sy stem deur.

      “Nee, seker nie.” Sy stap tot by die rusbank en gaan sit met haar voete onder haar ingetrek. “Maar ’n vriend laat dit ook nie aan ander mense oor om te vertel van sy troue nie, nè? So wat is die werklike rede, Nelis? Het my pa iets daarmee te doen? Het hy iets gesê of gedoen wat jou hierdie huis laat vermy het? Ek wil weet!” dring sy aan.

      Hy begin op en af in die vertrek stap, sy hande diep in sy broeksakke gedruk.

      “Jou pa en ek … Wel, eintlik het ons nie langs dieselfde vuur gesit nie,” probeer hy dit ligtelik afmaak.

      Haar vreemde kalmte en amperse koudheid maak hom senuagtig. Dis asof hy met ’n waspop probeer kommunikeer – ’n pragtige uiterlike, maar die oë is vol donker skadu’s. ’n Rilling glip langs sy ruggraat af.

      My briewe! besef Anika dadelik. Sy verbleek.

      Met haar briewe wou sy haar pa straf en skok met die waarheid. En natuurlik sou hy vir Nelis de Villiers blameer – Piet Summers het immers geweet hoe lief sy vir Nelis was.

      Nelis het voor die kaggel vasgesteek. “Onthou jy nog … ons het wintertye hierdie kaggel gestook. Jy was altyd so koulik en het omtrent binne-in die vuur plat op jou sitvlak gesit.” Hy uiter ’n suggie. “Moet sê, daar is darem min dinge so lekker soos ’n kaggelvuur terwyl die reën neersif. Voor die vuurtjie met ’n glasie wêreldklasrooiwyn van die Paarlvallei in jou hand.”

      “Baie geluk met die toekennings vir jou wyn – ek het daarvan gelees.”

      Hy grinnik effe verleë. “Was maar altyd my droom om wyn te maak, onthou jy nog?”

      Sy antwoord nie en hy gaan voort: “Ek en Gerhard het oom Hendrik de Villiers, Pa se neef, se plaas Deville by hom gekoop en dit toe herdoop tot Nouveau – eerste wyn, nuwe wyn. Broer Gerhard is die boer, hy plant die wingerde en oes, en ek pars en maak wyn.”

      Hy gee ’n tree in haar rigting. Sy stem raak opgewonde; sy hande beduie en praat saam. “Ek sê jou, daar is niks meer bevredigend as om onder die blou hemel, in die asemrowende natuurskoon van die Paarlvallei, ’n bottel se prop uit te lig en jou eie wyn te proe nie.”

      Sy hou hom dop met gesluierde oë. “Jy wou van kleins af wyn maak soos jou oom Hendrik. Vakansietye het jy ure saam met hom in sy kelder deurgebring – en my gewoonlik ook soontoe saamgesleep.”

      Hy glimlag met ’n sagte onthou-uitdrukking in sy blou oë. “Jy was lank weg, Antjie … Ek sien daar is nog geen ring aan jou vinger nie.”

      Hy vryf ongemaklik agter sy nek toe hy die waarskuwingslig in haar oë sien. Maar om die een of ander rede is dit vir hom belangrik om te weet.

      “Is daar iemand spesiaal in jou lewe? Jy’s ’n te pragtige vrou om nie deur mans raakgesien te word nie.” Hy kan sy tong afbyt oor die vraag, maar betrap hom dat hy angstig op haar antwoord wag.

      “Is ek vir jou mooi, Nelis?” Sy kom voor hom staan, amper teen hom. “Voorheen het jy my nooit as ’n vrou raakgesien nie. Net as ’n tipe susterfiguur, ’n maat.”

      “Verdomp, Antjie, moenie aan iets krap wat kon gebly het nie! Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ja, ek het jou raakgesien. Ja, ek het gesien hoe mans in die straat jou agternakyk. En ek wou hulle bliksem net omdat hulle na jou gekyk het. Dit was my plig om jou te beskerm.”

      Sy is verbaas. “Hoekom?”

      “Hulle het jou met begeerte aangekyk en jy was nog onskuldig. Ek ken die vieslike gedagtes van mans.” Het ek dan nie self begeer nie? dink hy. Jy was myne, mý maatjie!

      Hy glimlag vir haar. “So wie’s die man in jou lewe? Vertel.”

      “Henk Zimmerman, ’n psigiater. Hy’s verbonde aan dieselfde hospitaal waar ek werk.”

      Die blote gedagte aan ’n ander man in haar lewe laat die woede skielik in hom opvlam, maar daar is ook ’n beklemming in sy binneste. Die gevoel is so oorweldigend, hy wil met sy vuis teen die muur slaan om uiting daaraan te gee. Dit verwar hom omdat hy nie die oorsprong van die gevoel ken nie. Daar was nooit enige sprake van ’n verhouding tussen hom en Anika nie. Hulle was boesemvriende, ja!

      Of was dit meer as net dit? wonder hy nie vir die eerste keer nie. Anika het soms vreemde gevoelens in hom wakker gemaak, weet hy.

      “Jou ma het genoem dat jy en my pa nie goed klaargekom het nie, Nelis. Wat het sy daarmee bedoel?”

      Haar vraag vang hom onkant. Sy mond gaan oop om ontkennend te antwoord, maar dan bly hy stil.

      3

      “Nelis de Villiers, jou gemors! Jy sit nie weer jou voete in my huis nie!”

      “Hoe nou, oom?” vra hy verslae. “Ek het net gekom om van Antjie te hoor. Waar sy is …”

      “Gee pad, De Villiers! Gaan in jou swernoot! Jy het my kind hier verdryf. Jý! Ek soek jou soort nie op my werf nie.”

      Vir die eerste keer beskou hy die ouer man voor hom regtig. Piet Summers sien daar verwaarloos uit. Dit lyk of hy dae laas geskeer het en sommer in sy klere geslaap het.

      Ek was lanklaas hier, besef hy. Doelbewus het hy weggebly, gedink dis die beste vir almal. Maar gister het sy ma iets kwytgeraak van Anika wat darem nou al lank weg is, dis al maande.

      “Wat is fout, oom? Waar is Antjie?” dring hy aan om te weet.

      In die diep leunstoel langs die deur sit Piet Summers met ’n bottel drank in sy hand. Hy beduie met ’n gebalde vuis na Nelis, wat nog steeds net buitekant die voordeur op die stoepie staan.

      “Anika is weg! Hoor jy? Sy’s weg … Almal het my verlaat. Dié bottel is nou my vrou, die een wat my nooit sal verlaat of dreig om my te verlaat nie. Hierdie bottel vat my weg na ’n plek waar my gedagtes en herinneringe nie kan kom nie. Maar ek wil my bottel-vrou nie meer hê nie. Ek wil my kind terughê. Hoor jy? Voetsek uit my huis uit!”

      “Ek is nie ’n hond wat oom kan voetsek nie. Oom kan my nie sonder rede beledig en dan weet ek nie eens waaroor dit gaan nie.”

      “Jy was nog altyd ’n gladdebek-donner, kon jou uit enige situasie praat. Wel, nie hierdie keer nie. Ek weet van alles! Anika het geskryf – alles vertel!” Die ouer man is spierwit in sy gesig. “Jy het my mooi, pragtige kind misbruik en toe weggegooi …”

      Nelis skrik en is self bleek. “Ek weet nie waarvan oom praat nie,” hou hy verdwaas vol.

      “Die aand van jou ramparty … sy het eers in die oggendure huis toe gekom. Sy’t my alles vertel – alles!”

      Met moeite dwing Nelis

Скачать книгу