Скачать книгу

dat dit hom agterbaks laat lyk. En hy is allesbehalwe. Miskien ’n bietjie nerderig, ’n taks bleeksielerig, maar dis van harde werk en sy logistieke meesterskap in Jan se fabriek. Dis eintlik die probleem. ’n Dag by Jan en Maria bevestig net vir haar dat Adriaan min het om te wys vir al sy toewyding en vlyt. Sy broer sit met die blink huis en beeldskone vrou, terwyl Adriaan met ’n saai lewe, ’n vervelige huis en ’n skraal bankrekening opgeskeep sit. En met haar, wat ’n dag lank dinge sal raaksien wat sy en Adriaan eintlik ook behoort te hê. Sy sê altyd vir haarself: Wag ’n bietjie, gee kans! Jou dag kom nog. Maar die Vader hoor haar, as sy nie handjie bysit nie, gaan eendag nooit aanbreek nie. Sy het geweet, destyds toe sy met Adriaan trou en gou tot die besef gekom het die mensdom sien Adriaan nie as Adriaan Cilliers nie, maar wel as Adriaan, die suksesvolle entrepreneur Jan Cilliers se jonger broertjie, tóé al het sy geweet dat sy Adriaan gaan moet help. Help beplan. Help dink. Helène, die sielkunde-proffie wat ook lid is van haar boekklub, het op ’n keer gesê dat mans nie hul emosies of doelwitte kan verbaliseer nie. En dit is só wat sy vir Adriaan wil doen: sy doelwitte verbaliseer, hom goed maak verstaan waarheen hy op pad is. Sy weet nie of dít presies is wat Helène in gedagte gehad het nie; maak ook nie saak nie. Adriaan weet gewoonlik presies wat hy vandag wil hê, en sy is baie goedgunstig met haar hulp. Dis net dat hy nooit oor die dag van môre gedink het nie. Maar sy het alles verander.

      Vandag het sy ’n somersrok aan wat sy by een van die winkels in die Menlyn-sentrum gekoop het. Dis nou wel nie die eerste keer dat sy dit dra nie, maar naby genoeg daaraan. Dit druk haar borste netjies in ’n kloof op, ’n lus vir die oog. Sy weet Adriaan se oë gaan nie vandag ver afdwaal nie. Maria sal vandag deur ’n ring getrek wees – deur ’n winkel iewers in Sandton – en Antoinette gaan nie terugstaan nie. Mens weet ook nie watse spronge Elna in Kanada gemaak het nie. Sy gaan waaragtig nie deur Jan en Maria se kinders in die skadu gestel word nie.

      Hulle staan saam-saam en aantrek – sodat Antoinette ’n wakende oog oor Adriaan kan hou. Sy sien hoe hy hom langs haar regskud in die klere wat sy vir hom gekies het.

      “Wat my so irriteer ... dis soos: die koning ontbied en die onderdane kom op hulle knieë aangekruip.”

      “Mm.” Adriaan hoor wat sy sê – só sê hy altyd – maar hy wil nie nou betrek word in ’n skindersessie oor sy broer nie. Dis genoeg dat hierdie geskinner ’n deurlopende tema in hul huwelik is, hy wil nie op ’n dag soos hierdie óók daarna moet luister nie. Antoinette klee hom vandag in ’n langmouhemp met groot blomme daarop afgedruk, teen ’n ligpers agtergrond. Lyk nie te onaardig saam met sy gebruiklike blou-vaal chino’s nie. Hy voel hy verraai homself met die hemp, maar hy neem aan Antoinette weet wat sy doen. Dank Vader dit kamoefleer sy bleek boepie. Hul dogter, Elisabeth, met haar gifbekkie sê altyd Antoinette wil hulle in die verleentheid stel deur Adriaan aan te trek soos ’n onderwyser wat vir almal wil wys hy het vrede gemaak met sy innerlike vrou.

      “En dan moet ons daar gaan staan en vir Elna en Bertus verwelkom asof die prinses met haar prins uit die wildernis teruggekeer het.” Antoinette gaan sit by haar spieëltafel om haar grimering te verfyn.

      “Mmm-hm.”

      “Om nie eers te praat van die precious kleinkind nie ...” sy swaai na Adriaan met poeier en pof in die hand, swyg skielik. Adriaan weet hy moet hom nou staal. “Verduidelik jy vir my hoekom jou ma ...”

      “Moet net nie my ma hierby insleep nie.”

      “Nee, ek vra: Hoe is dit dat jou ma liewer is vir Elna en Bertus se Neil as vir ons Vlooi?” Sy wil Adriaan onder vier oë aantree, maar hy is doenig met sy sokkies. En as hy vir sy sokkies wil kyk, sál hy. “En ek sal jou sê: omdat Neil haar gunstelingseun, Jan, se kleinseun is.”

      Adriaan wens só dat sy nie alewig hierdie sake oprakel nie. Dis asof sy haar minderwaardigheidsgevoel met ’n spesiale groeidoepa wil voed.

      “En ék sal jou sê. Ma bly by Jan en Maria, nie hier by ons nie. So, dis te verstane.”

      “Presies. En hoekom bly sy by hulle? Want golden boy Jan besit die maatskappy en jy’s die lakei.”

      “Presies.”

      “Presies?” Sy kan haar ore nie glo nie.

      “Presies.”

      “Wat bedoel jy, presies?”

      “Hy besit die maatskappy en ek’s die lakei.” Hy wou nog byvoeg, feit soos ’n koei, maar hy weet sy luister nie meer nie, té besig met plannetjies maak.

      Antoinette buk vorentoe na haar spieël, raak-raak met haar stiffie aan die swart aksentlyn onder haar oog, maar sy is besig om haarself in die oog te kyk, intiem vertroulik.

      Sy laat die stilte vet word tussen hulle voordat sy weer praat. “Mens sou dink dat hulle ten minste my ma en pa sou genooi het, want ek kan jou nou sê daardie BEE Zweli gaan daar wees.”

      “Hy’s nie BEE nie. Sy pa het die besigheid saam met Jan gestig.” Nog ’n feit soos ’n koei, dink Adriaan. “In fact, die besigheid was Zweli se pa se idee.”

      “Man, jy weet wat ek bedoel.”

      Nee, ek weet nie wat jy bedoel nie, wil Adriaan sê, maar uit die hoek van sy oog sien hy Vlooi die kamer binnekom. Vlooi, koerant in die hand, van niks anders in die wêreld bewus nie. “Pa ... het Pa hierdie gesien ...?”

      Antoinette het nie ore vir Vlooi se Boere-politiek nie. Al wat sy sien, is dat haar oudste kind sy slonsige slaapklere aanhet – boxers en ’n oranje T-hemp. ’n Meerdoelige T-hemp, weet sy. Vlooi steur hom só min aan sommige konvensies dat hy nie sal skroom om sy slaaphempie ook klas toe te dra nie. “My magtag, Vlooi, het jy nog nie aangetrek nie?” roep sy.

      “Ek gaan nou aantrek, Ma. Hoor hier, Pa: ‘Dit word beraam dat daar tans vir ongeveer honderd en veertig miljoen rand nie rekenskap gegee kan word nie.’ ” Hy kyk met ’n onderkaak wat van verontwaardiging byna uit sy skarniere val na sy pa. “En dis net vir een jaar in hierdie een staatsdepartement, Pa.”

      Die seekoei se oortjies, dink Adriaan. Die kind se onskuld is só opvallend dat hy hom net wil vasdruk. “Ja, my seun.”

      Antoinette slaan hom uit die hoek van die kamer gade – Vlooi wat só baie op haar eie pa lyk dat sy hom al in matriek die raad gegee het om sy hare vorentoe te kam sodat die hoër wordende voorkop minder opvallend is. Hier is ’n groot vleiskuif in wording.

      “Ek sê vir Pa ... as ons nie nou iets doen nie, gaan daar nie ’n land oor wees vir my en my geslag om te erf nie.”

      “As jy my vra, my seun,” val Antoinette in, “moet jy dit maar oorweeg om eendag, as jy jou graad klaar gevang het, soos Elna en Bertus oorsee te gaan bly.”

      Die saadjies moet sy saai.

      “As ouma hoor Ma sê so iets, word Ma-hulle onterf. En buitendien: hierdie is my land en ek gaan nêrens nie.”

      Adriaan kan die kind gryp en hom vasdruk. “En so praat ’n Boerseun!”

      “As die swartes my hier wil ...”

      Antoinette is klaar met haar grimering. Nou wil sy nie politieke praatjies hoor nie. Sy wil ry. “Vlooi, gaan trek aan!”

      “Ek sê maar net.”

      Vlooi skuif in die kamer se klein ingangsportaaltjie by sy suster verby – Elisabeth, lank ’n verpesting in sy lewe, maar nou, wel, sy is orraait. Hy kan sien hoekom sy pelle ’n hand of wat oor daardie boudjies wil laat gly. Hy weet ook wat die algemene stand van humeure in sy ouers se slaapkamer op hierdie oomblik is. Hier kom ’n vloermoer as hy haar so vinnig in die verbygaan bekyk.

      Adriaan sien nie sy dogter nie. Hy sien net ’n sexy rokkie en dan sien hy dis sy onskuldige klein Elisabeth waaraan daardie klere hang. As hang die regte woord is. Sy vul daardie rok se geheime plekkies volborstig en uitdagend. Hy sien hoe kort die rompie is en hoe lank die bene. Hy weet wat manne van lang bene dink en weet dat Elisabeth net een doel met haar rok het, en dis om die manne te laat kwyl. Hy haal diep asem vir die skreeuslag, maar Elisabeth

Скачать книгу