Скачать книгу

oor sy só ’n vraag kan vra.

      Hy soek na sy selfoon, kry dit op een van Maria se modieuse kiste teen ’n muur.

      “Jy weet, dis iets wat ek nog nooit kon kleinkry nie: ons woon almal in dieselfde stad,” hy tel sy selfoon op, kyk daarna asof dit dadelik vir hom ’n boodskap gereed sal hê, “maar dit neem vir Elna en Bertus om al die pad van Kanada te kom kuier om die hele familie bymekaar te kry.”

      Hy weet dis nie waar nie – en Maria weet dis nie waar nie. Maar in hul harte weet hulle hoe belangrik dit vir Jan is om nóú weer sy dogter te kan sien.

      Elna – én Bertus.

      Twee name, twee gewaarwordings. Jan het Elna lief, hartstogtelik, onvoorwaardelik, volledig. Soos net ’n pa sy dogter kan liefhê. Die noem van haar naam laat sonstrale deur die donker wolke van sy gemoed skiet, net om weer verdoof te word by die aanhoor van Bertus se naam.

      Jan hou van Bertus. Maar Bertus is die een wat Elna Kanada toe geneem het.

      Kanada.

      Geen boodskap nie. Jan is verdiep in sy selfoon, hoor nie sy ma in haar rolstoel die vertrek binnekom nie. Sy begin reg agter hom praat, daardie bekende klaende toon wat hom laat lus voel om te skrou en te skrou totdat sy ophou. En maak nie saak wat sy sê nie, sy laat hom altyd ongelooflik beklemd voel:

      “Ja-nee ... as die kinders eers begin dros, is die einde in sig.”

      Maria rol haar oë. Baie soos Elna altyd op skool gedoen het, daardie omhoog werp van die blik waarmee Elna altyd verveelde verontwaardiging wou oordra. Maria kyk na Jan, asof sy wil sê: Toe, hanteer jy haar! Sy gryp die rangskikking waarmee sy besig is en vlug die kamer uit. “Ek sit net gou hierdie in hulle kamer,” roep sy oor haar skouer.

      Jan weet sy ma het nie die vaagste benul van presies wat die woord “takt” beteken nie, laat staan nog taktvol wees, maar hy sal haar vir die soveelste keer tot orde móét roep. “Ma ... ek wil Ma mooi vra om nie weer daardie woord te gebruik nie.” Jan probeer die betigting versag deur haar rolstoel vir haar na haar gunsteling-plekkie te stoot – teenaan die teetafel.

      “Watse woord?”

      Dros! Dros! wil hy roep, maar bedwing hom. Jan sit teenoor sy ma, die lang tafeltjie tussen hulle wat die konfrontasie versag. As mens sy ma se gekorswil konfrontasie kan noem, dink Jan. “Ma weet goed watse woord. Dit ontstel vir Maria ...”

      Soms wonder hy of sy regtig luister wat betoog word. Elke keer dat sy praat, wip sy ongeërg die argument vooruit.

      “Noem dit wat jy wil, dit bly wat dit is.”

      “... en dit ontstel my.” Hy haat dit om aanspraak te maak op haar simpatie. Hy voel die beklemming weer in sy maag aanmeld, kyk liewer na die manier hoe die klipmuur rondom die kaggel, dieselfde muur waarteen Maria se gelaat só sprankelend en amper jeugdig sag vertoon, hoe daardie klipmuur sy ma se ouderdom beklemtoon, die harde lyne om haar mond, die ou verrimpelde pruimbekkie, die manier hoe die oë wegraak in die lens van die bril wat sy dra, die manier hoe haar skouers meer tenger as ooit tevore lyk. Alles behalwe haar stem, onseker weens ouderdom, maar tog ook kragtig omdat die wil agter daardie stem kliphard en sekuur is. En klae sal sy klae.

      “Waar sou jy vandag gewees het as jou voorvaders se kinders gedros het toe die eerste Zoeloe-impi’s oor die veld gestorm het? Hm?” Sy byt die klank tussen haar voortande vas, asof sy self in die loopgrawe lê. “Ek sal jou sê: Jy sou nie hier gewees het nie.”

      Dis ’n ou argument, een van haar gunsteling-opmerkings. “Ek verstaan dit, Ma, maar ...”

      “Nee jy verstaan dit nie, want as jy dit verstaan het, dan het jy verstaan dat jou dogter jou ...” sy hap-hap na haar volgende woorde, diep ontstel deur die gedagtes wat sy nou hier uitspreek, “in die steek gelaat het.”

      As hy eerlik moet wees – dít is hoe hy ook soms daaroor voel, diep in die nag wanneer sy lewe by hom spook en hy net homself het om mee te praat. Maar verdomp of hy dit teenoor enigiemand sal erken.

      “Sy’t my nie in die steek gelaat nie, Ma. Elna en Bertus het hulle lewe iewers anders gaan maak. Mense doen dit al deur die eeue heen. Dis presies hoe my voorvaders in die eerste plek hier gekom het – deur die land van hulle geboorte te verlaat.”

      “Altyd ’n slim antwoord vir alles ... selfs toe jy ’n kind was.” Sy antwoord té vinnig, probeer haar oppervlakkige reaksie maskeer met ’n laggie. Jan ken die maniere waarop sy haar verleentheid probeer verberg. Hy besluit om dit ’n bietjie in te vryf.

      “Dankie, Ma, ek beskou dit as ’n kompliment. Maar Ma gebruik nie weer daai woord nie.”

      Sy ma besef wat aan die gang is. Dat Jan haar wil dwing om te maak soos hy sê. Dan liewer voort, dink sy, voort na haar eintlike kwelling.

      “En dit gaan nie lank wees nie, dan’s jy en Maria ook weg.”

      En sy, die matriarg, alleen. Haar grootste vrees. Ná al die jare, al die opoffering. Alleen.

      “Ek gaan in hierdie land bly, tot die dag van my dood.” Daar kom ’n vreemde trek oor sy gesig. Indien sy dit opmerk, laat blyk sy dit nie. “Dit kan ek waarborg, glo my.”

      “Dit sal nie nodig wees nie, ek het my versekering.”

      Sy het niks gemerk nie, dink hy verlig. Hy kyk met deernis na haar waar sy soek na iets wat in die sakdoek in die voue van haar rok toegedraai is.

      “Sien jy hierdie Krugerrand?” Sy hou die muntstuk tussen haar duim en wysvinger op, haar woorde wat vrolik uitspat op die wieke van hoopvolheid. “Oom Paul. Hy’s my versekering. Wanneer jy en jou vrou eendag hier uitsluip, dan vat ek hom ...”

      Terug op die ou stories.

      “... en Ma gaan koop Pa se plaas terug. Dis goed so, Ma. Ek sal Ma waarsku voor ons waai, maar Ma gebruik nie weer die woord ‘dros’ nie. Nie voor my nie, nie voor my vrou nie, en beslis nie voor die kinders nie.”

      “Hmf.”

      — II —

      Antoinette kyk vlugtig by die kamervenster uit. Deur die hoë tralies van hul voorhek sien sy die skoolseun wat op sy fiets kom koerant aflewer, sy lyf netjies afgeëts teen die spierwit dubbelhoogte-muur van die bure oorkant die straat. As hulle maar kon bekostig om ook só ’n muur op te rig! Die geraas van Brooklyn se motors maak haar mal. Selfs Simson, hul dobermann wat nie eens meer vir die mense in die straat blaf nie, veral nie vir die koerantafleweraar nie, kan dan maar in die sonnetjie bly lê, daglank. Dan begin sy werk eers wanneer daar oor die muur geklouter word.

      Die dag lê soos ’n berg voor haar. Sy glo nog altyd dat ’n mens ideale moet hê. Drome wat jy wil verwesenlik. Maar elke keer dat sy haar voete oor Maria Cilliers se drempel sit, is dit vir haar ’n uitmergeling. Sy wéét dat die mans almal Maria se groot skoonheid raaksien en aan haar wat Antoinette is dink asof sy die tannie was wat haar man in die Hoekie vir Eensames ontmoet het. Hou van dans, die buitelug en perdry. Maar sy weet, sy is eerder die popsie wat al in die eerste ronde van die skoonheidskompetisie uitgeval het. Adriaan sê sy’s laf, wat hom betref het sy ’n skoonheid wat meer as veldiep lê. Maar dis nie hy wat voel en sien nie. Wat dink aan die ou voorspelbare voorstedelike kombuis in Brooklyn wanneer sy in Maria se byderwetse, pragtige kombuis instap. Wat die tekens van Jan du Toit se binnenshuise smaakvolheid in elke vertrek raaksien, terwyl sy die meubelstukke in hul huis tot so ver as Bapsfontein gekoop het. En wanneer sy die badkamer besoek, kan sy dit nie verduur om in die volmuurspieëls te kyk nie. Dan sien sy die genetiese spore van haar Oos-Kaapse Olivier-voorouers raak in haar hoë wangbene en effense wipneus. Kan sy haarself nie in die oë kyk nie, want haar eie oë werp die een beskuldiging na die ander. Kyk hoe skuif jou bloes bo jou heupe op. Het jy jou hare gewas gisteraand? Laat hang jou hare breed, die lyne van jou nek is nie meer sigbaar nie ...

      Antoinette weet sy gaan moeite hê om nie nurks te lyk tussen die ander mense nie. ’n Familiedag soos vandag is net genoeg om alles, maar alles te vererger. As sy dit regkry om

Скачать книгу