Аннотация

Kruispad is die kern van Deon Opperman se groot TV-trilogie oor die Afrikaner se pad in Suid-Afrika. Dit beeld presies uit waar die groot verandering gekom en hoe die Afrikaner daarop gereageer het. In Donkerland het Opperman gekyk na die aanloop van 1834 tot 1994 en in Hartland na die huidige stand van sake. In Kruispad fokus hy op 1994 en wat die verlies van mag vir Afrikaners ingehou het. Dis ’n verhaal van vreugde, smart, trots en vernedering wat tot ’n klimaks ontvou soos ons dit nog selde op TV gesien het, en die romanweergawe vat dié emosionele gegewe meesterlik in woorde vas. Die stuk wentel om Sophia en Mariana, die twee dogters van ’n welgestelde boer, Soois van Rooyen, en sy vrou, Mart. Sophia is met die skatryk FG van den Berg getroud en Mariana met die arm, bekrompe Andries Landman. Terwyl FG en Andries albei hul ekonomiese status ná die verkiesing van 27 April 1994 verloor, sit hul onderskeie seuns, Klein FG en Henk, met die nalatenskap van apartheid. FG rinkink en ploeter voort asof sy pa se besigheid nie besig is om ten gronde te gaan nie en Henk, wat op skool gepresteer het, vind weer dat die deur vir hom toegaan omdat hy wit is. Hy verloor ’n beurs en moet op sy eie bene leer staan. Tussen die ontwikkeling van dié groot menslike drama deur probeer die susters, Sophia en Mariana, agter die skerms red wat te redde is – grootliks in eie belang. Maar hulle is van uiteenlopende stoffasie en uiteindelik sal net een van die twee kop omhoog voortgaan. Kruispad bevat al die verhaalelemente wat gesorg het dat Hartland en Donkerland soveel byval by lesers gevind het – en nog meer: Dit belig nie net die snykant van apartheid fel nie, maar boor ook diep in die problematiek waarmee die Afrikaner in die jare negentig moes worstel en toon hoeveel inbors en karakter dit verg om die juk van die verlede af te skud. Maar anders as in Donkerland en Hartland gaan dit in Kruispad uiteindelik oor hoe ouers hul kinders verraai deur ’n toekomskoers in te slaan wat wreed in die gesig van die nageslag kan ontplof.

Аннотация

Een plaas. Een familie. Een bloedlyn. Sewe geslagte.
In 1838 vlug Pieter de Witt uit die Oos-Kaap na Natal om ná maande van uiterste ontbering op die walle van die Tugelarivier ’n hoekpaal in te kap en sy plaas af te tree. Hy noem die plaas Donkerland. Dit is hier waar sewe geslagte De Witts die wel en wee van ’n ontluikende volk beleef: die Groot Trek, die stryd teen die Zoeloes, die Anglo-Boereoorlog, Groot Depressie, 1948-verkiesing, Grensoorlog, Soweto-opstande en die oorgang tot ’n demokratiese Suid-Afrika. Vir honderd agt-en-vyftig jaar leef die De Witts die triomf en die smaad van die geskiedenis op ’n enkele stuk grond uit; ná sewe geslagte begin dit deurskemer wat dit beteken om in hierdie aarde ’n hoekpaal in te slaan en ’n plaas af te tree.
Donkerland is die eerste aflewering in Deon Opperman se Afrikaner-trilogie.

Аннотация

Deon Opperman het televisiekykers geboei met sy epiese familiesage Hartland. Hierdie omvangryke Boere-Dallas word nou ’n groots opgesette roman waarin Opperman se meesterskap as storieverteller sorg vir ’n pakkende leeservaring. Hartland vertel die verhaal van drie Afrikaanse families, van die bloedlyn wat hulle bind, en die manier waarop botsende drome en ambisies hulle voortdryf na ’n onvermydelike ontmoeting met die noodlot. Die moderne lewe met sy maalkolk van sosiale, politieke en ekonomiese werklikhede vorm die agtergrond van ’n verhaal wat toon hoe menslik almal se swakhede is en hoe medemenslikheid hulle dit te bowe laat kom. Die leesplesier lê in die detail waarmee Opperman kleiner kwinte en kwale teken, en die ontknoping van die drie familieverhale word ’n magtige emosionele oomblik waarin die harde werklikheid van ons land vir almal ’n pad vorentoe uitstippel. Die TV-teks is verwerk deur Kerneels Breytenbach. Vir die eerste keer word die volle verhaal van Hartland hier vertel.