Скачать книгу

      “Jy’s ’n genius, Neil!” roep sy uit. “Daarvoor sal hy beslis nie nee kan sê nie. Ek gee jou sommer ’n soen!”

      Neil verstar. Hy wonder vir ’n oomblik of sy bedoel wat sy sê. Maar hy sien hoe sy skaam afkyk en dan verleë glimlag wanneer sy weer sy oë vind.

      “Jy weet, Neil, toe jy vroeër gesê het jy dink dat ek ook mooi geword het ... Dit het regtig baie vir my beteken.”

      Neil glimlag, die ene tande.

      “Wil jy rêrig hê dat ek moet kom?” vra sy dan.

      Neil skrik sy glimlag heeltemal weg. “Skuus?”

      Elisabeth stel hom dadelik met ’n begrypende glimlag gerus: “Kanada toe?”

      “Ja.” Die klank kom skor uit sy keel.

      Hulle kyk mekaar ’n ruk in die oë, nie seker presies hoe om die oomblik te hanteer nie. Dan leun Elisabeth vorentoe en vind sy lippe. Sy beweeg nie dadelik weg nie, maak heeltemal seker dat haar vlees op sy vlees ’n belofte maak wat hy nie verkeerd kan verstaan nie.

      Net wanneer hulle begin wegbeweeg van mekaar, hoor hulle hoe die deur oopgemaak word. Dis Vlooi wat op sy gebruiklike boerse manier Elisabeth se heiligdom betree asof hy nie bewus is van enige toegewings wat hy behoort te maak vir die privaatheid van sy suster se kamer nie.

      Elisabeth en Neil sit dadelik weg van mekaar.

      “Klop jy nie?” probeer Elisabeth.

      “Sê sy wat nooit klop nie.” Vlooi plons tussen Elisabeth en Neil neer. “Neil, ek reken dis tyd dat die manne ’n bietjie gesels.”

      “En wat van my?”

      Vlooi sit sy arm kameraadskaplik om Neil se skouers. “Lyk sy vir jou soos ’n man?”

      Neil is effens ongemaklik. Hoeveel het Vlooi gesien; vermoed hy iets?

      Elisabeth kan nie toelaat dat sy sommer só uitgeskuif word nie. “Ingeval jy vergeet het: Ek’s die een wat gereël het dat Neil hier kuier.”

      “Beteken nie hy hoef heelaand na jou te luister nie.” Hy trek Neil orent. “Kom, swaer.”

      Neil stap agter Vlooi aan. Hy wil nog terugkyk na Elisabeth, maar Vlooi trek die deur voor haar toe.

      Elisabeth moet haar gedagtes agtermekaar kry. ’n Nuwe plan maak.

      — IV —

      Jan se groot held was altyd maar Dok Craven. Laat ander mense maar praat oor die spelers, het hy altyd aan Maria en die kinders verduidelik, hy stel meer belang in die performance van die span se afrigter. Mens kan sien wat aan die kom is as jy weet wat met die afrigter van die span aan die gang is.

      Dok Craven is die een waaraan Jan nou dink. “Mens moet rats wees,” het Craven op ’n keer gesê. “Die ratsste van alles met jou kop.”

      Dis nou tyd vir rats wees met die kop, dink Jan. Hy en Maria het alles haarfyn beplan vir hierdie naweek. Hoe daar gesels sou word, wat gesê sal word. Wanneer die nuus gebreek sou word. Netjies, korrek, alles uiteengesit. Hy en Maria op dieselfde golflengte.

      Natuurlik het hy en Maria nie vooraf oor álles gepraat nie. Hoe kon hulle? Hulle het nooit oor Boetjan gepraat nie. Hy het vir Maria bestaan, maar ook nie.

      En toe is dit juis Boetman wat ná al die jare van swyg, van verguising, skielik sy nuwe nugterheid gevier het. Vir Jan voel dit asof Boetjan gekom het om sy erfreg op te eis. Hoe kon hy so dom wees om nie te sien presies wat dit was wat Boetjan al die jare afgetrek het in die dieptes van swartgalligheid nie? Om die liefde van jou ma te verloor terwyl sy nog lewend is, dít is nie iets wat enigiemand kan hanteer nie. Boetjan wil sy ma se liefde herwin.

      Rats met die kop, Jan, sê hy vir homself. Rats met die kop.

      Hy moet homself dwing om, soos met sy beplanning van die naweek, ’n bietjie gedagtegimnastiek te doen. Hom te forseer om alles vanaf ’n afstand te betrag. Anders sou die doodse moegheid hom bed toe gedryf het.

      Goed, hy is besig om dood te gaan. Hy het nie kon voorsien dat Maria vandag die waarheid oor Francois se dood sou uitvind nie, maar daar het jy dit. Hy is dankbaar dat sy en Boetjan versoen is. Dis die groot plus. Dat Maria besef hy het haar deur die jare probeer beskerm – wel, hy is nie seker dit reflekteer goed op hom nie, want die prys wat hulle daarvoor betaal het, was onhanteerbaar groot. Hulle het Boetjan amper verloor.

      Boetjan. Die man wat die oordra van die doodstyding versnel het.

      Moet seker dankbaar wees vir die groot emosionele ontlading by almal, dink Jan. As dankbaarheid net pyn kon verlig ...

      Dis ’n vreemde gevoel, hier in sy klein paleis op die koppie, sy Bosveld-pandokkie, soos Maria altyd skerts oor die groot grasdak-kompleks met sy baie klipwerk, grasdak en gevierde vensters. Jan het hulle spesiaal uit Spanje ingevoer, glasruite wat nes sekere soorte brille verdonker wanneer die sonlig té skerp begin word. Maar die son is onder, en hier in die sitkamer is hulle bewus van die lig wat uit die huis uit na buite skyn, en die strategies geplaaste ligte in die tuin, wat sorg dat die toevlug van insekte na die ligbronne in die rigting van die tuin gestuur word.

      Dis die eerste kans wat Jan en Maria het om alleen saam met hul kinders, en Bertus, rustig te sit en gesels. Jan kan sien hoeveel Maria gekalmeer het, maar die knop op sy maag is nie weg nie.

      Hulle pas gemaklik in die rusbanke, jare gelede vir die Cilliers’s persoonlik uitgesoek deur Jan du Toit van Waterbrook. Destyds sou Francois gesit het waar Bertus nou sit, dink Maria. En sy is bly dat Francois die beklemmende nuus gespaar gebly het, die nuus wat die hele gesin nou in somberheid laat verseil raak.

      “Hoe lank weet Pa al?” wil Elna weet. Die nuus van Jan se kanker ontstel haar. Dis aaklige nuus, maar magtag, hoe kon hy haar nie in Kanada laat weet het nie?

      “Ses weke,” sê Jan. “Ek’s jammer julle moes nou eers uitvind, maar ek wou nie die nuus breek terwyl julle daar doer in Kanada sit nie. Ek het gedink om julle ná my verjaarsdag te sê, maar Boetjan is reg – mens kan nie ’n partytjie hou met van die mense wat ‘veels geluk liewe maatjie’ sing terwyl almal weet dat hy beslis nie vir nog baie jare gespaar gaan word nie.”

      Vir Elna is daar die eerste toevlug wat almal neem wat slegte nuus gekry het: “Is daar niks wat ons kan doen nie?”

      “Die kanker wat ek het, my dogter, is soos oor ’n afgrond spring – dis ’n waarborg dat jy die grond gaan tref en dit gaan nie lank vat nie.” Rats met die kop, Jan! Werk sag met die harde nuus. Moet net nie probeer om Elna teen dié werklikheid te beskerm nie.

      Dit is verwoestende nuus vir sy dogter. Sy bars in trane uit. “Pappa ...”

      Jan staan op en gaan sit langs sy dogter en neem haar in sy arms. Die rouheid van haar emosie, die breekbaarheid wat hy dadelik by haar aanvoel, is amper te veel vir hom om te hanteer. “Toe maar, toe maar ... die dood kom haal ons almal op die ou end.”

      Bertus kyk vergeefs op na Boetjan. Jan kan sien dit pla hom dat sy vrou nie by hom vertroosting gesoek het nie.

      “Pa is nog so jonk.” Die woorde kom soos ’n klein kind s’n oor haar lippe.

      Jan voel hoe sy keel begin toetrek. “Ek moet dankbaar wees,” sê hy. “Ek is agt jaar ouer as wat my pa was.”

      Elna kyk op na haar pa. “Ag, my pappa.” Sy verslap nie haar greep op Jan nie. Dit is asof sy wanhopig probeer om hierdie oomblik te laat stol en die sloping van sy liggaam op hierdie manier te probeer stuit.

      “Ten minste het ons nog ’n bietjie tyd,” sê Jan, en hy dink: Nou weet almal. Hierdie naweek is nie ’n verjaarsdagnaweek nie. Dis ’n naweek waarin vrede gemaak word met die dood.

      Bertus sit tjoepstil langs sy vrou. Jan het dit nogal verwag. Hy “lees” Bertus taamlik maklik.

      Sal dit nog môre dieselfde

Скачать книгу