Скачать книгу

Hy weet wat hy moet doen. Kniel in gebed voor die Vader. Aan wie hy en Hannes albei hul bestaan te danke het. Bid dat Hy deur sy Gees vir Hannes die krag van heling gee. En vir hom? Die krag van boetedoening? Van nederigheid en ootmoed? Kan hulle nog, nou, met Hannes se klag wat sy gemoed vergif, nog saam as gelowiges begryp hoe wyd die liefde van Christus strek? Terwyl dit juis hy is wat Hannes sy geloof gekos het ...

      Hy weet dat God die hoorder en verhoorder van alle gebede is.

      Maar hy huiwer. Hy kon nie eerlik teenoor Rika wees nie. Wat sal hy vir God sê?

      Sy drentelgang deur die huis eindig uiteindelik in sy studeerkamer. Hy sit agter sy lessenaar, die Bybel voor hom oop. Sy gedagtes dwaal. Hy dink aan God, die barmhartige God. Hy dink aan sy geloof, wat vir hom sê dat God nooit sal toekyk hoe hy, Rudi Naudé, seerkry sonder om hom te beskerm nie. Wanneer hy in die spervuur van sy naaste kom, dit glo Rudi, is dit weens dinge wat hy oor homself gebring het, sy eie dade. Wat bly daar vir hom oor wanneer hy by hierdie kruispaaie kom?

      Rudi staan op, neem sy Bybel en stap om sy lessenaar. Hy trek die gemakstoel wat voor sy lessenaar staan uit en plaas die Bybel op die kussing neer.

      Dan kniel hy voor die stoel, vou sy hande in gebed saam, met sy voorkop teen sy hande en oor die Bybel. “My Hemelse Vader, ek kniel hier voor U vandag, u nederige dienaar, en vra dat U my gebed sal hoor. In u Heilige Woord het U gewaarsku dat die sondes van die vaders besoek sal word aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat U haat ...”

      Sy konsentrasie word versteur deur ’n klop aan die deur.

      Hy lig sy kop, open vir ’n oomblik sy oë. “Nie nou nie!” roep hy en buig sy hoof weer in gebed, sy oë toe, sy konsentrasie terug by sy gesprek met die Hemelse Vader. “Vandag het daardie sondes my ingehaal ... het ek gekyk na ’n man uit wie se siel ek u Heilige Gees verban het. Ek was jonk en het nie geweet wat ek doen nie. Ek smeek U vir leiding en vir u wysheid, dat ek hierdie onreg, hierdie sonde, kan uitwis, en u kind weer terug na u heilige kroos kan bring. En mag U, in u oneindige genade, my vergewe vir wat ek gedoen het.”

      Rudi open sy oë. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om op te staan, na sy vrou en kinders te gaan. Maar dan besef hy dat hy vanaand net vertroosting op een plek sal vind.

      Hy bly op sy knieë.

      Durf hy die Here daaraan herinner dat Hy beloof het dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het?

      Rudi voel dat sy gemoed lig telkens wanneer hy “amen” prewel.

      Dan kom die herinneringe terug. Die bosveld-briesie en die reuke wat dit dra. Die gat in die grond en die koppe wat bo die grond uitsteek.

      Hy bly op sy knieë.

      In die sitkamer sit Rika op die bank met haar breiwerk op haar skoot. Sy sit na die Travel-kanaal en kyk – ’n wonderlike Mediterreense vakansie. Haar gedagtes is besig met die soort vlugte wat sy nooit met Rudi sal bespreek nie. Hy het dit so moeilik met die gemeente wat krimp en die samelewing se laste wat vermeerder, sy wil hom nie nog laat voel dat hy nie vir haar sorg nie.

      Esmé stap in, geïrriteerd: “Ma, wat gaan aan met Pa? Hy’s nou al ure in sy studeerkamer. Ek wil iets belangriks oor my kursus met hom bespreek voor ek my vorms instuur, maar elke keer as ek klop, stuur hy my weg.”

      “My kind, jy weet mos nou al ... as Pa nie met ons wil praat nie, dan is dit omdat hy met die Here praat.”

      “Wel, ek’s seker die Here sal verstaan as hy net vir ’n paar minute die gesprek op pause sit.”

      “Esmé! Skaam jou!”

      “Jammer, Ma ... maar rêrig.”

      “Dit was nog altyd so, en so sal dit altyd wees.”

      Op die skerm voor haar vaar ’n jong vrou op ’n seiljag wat by ’n eiland voor anker lê. Voel die wind in jou gesig, dink Rika.

      “Partykeer wens ek ek het ’n normale pa gehad.”

      “En wat, my kind,” vra Rika, haar oë steeds op die TV-skerm vasgenael, “as jy na die lewe om jou kyk, is ’n normále pa?”

      — II —

      “’n Man se dood behoort nie net aan homself nie.”

      Dit voel vir Jan of Boetjan se woorde hom op die bank vasdruk. Die moegheid wat hom laat terugsak, het waarskynlik baie te make met die ellendige gevoel wat nog van hom besit neem, dít weet Jan, maar die genadelose waarheid van Boetjan se woorde weeg nóú veel swaarder op sy gemoed. Hy het toegelaat dat ’n leuen deel word van sy lewe. Hy het toegekyk hoe daardie leuen die verhouding tussen Maria en haar enigste oorlewende seun, Boetjan, jare lank wegvreet, vernietig, soos die kanker wat nou in sy binneste die lewe wegvreet, die gesonde selle usurpeer met die lewende dood. Hy het gesien hoe Boetjan sy toevlug tot drank neem, soekend na die liefde van sy moeder, toegesien hoe Maria hom die liefde en koestering ontsê omdat sy net daardie leuen gehad het om in te glo.

      Alles sy skuld. ’n Man se dood behoort nie net aan homself nie.

      Dieselfde geld die leuens wat hy vertel. Hulle behoort nie net aan homself nie. Hulle is die eiendom van daardie mense wat die leuens aanhoor. En daardie leuens vorm die toehoorders se werklikheid. Die valsheid neem die plek van die waarheid, en lewens word gebou rondom ’n kern van suiwer niks.

      Maar hoe hanteer hy hierdie – niksheid? Dit mag ’n leuen wees, maar hier kom Maria nou ingestap. Vlees en bloed. By dieselfde vertrek in waar hulle destyds Francois se dood probeer verwerk het, hy en Maria alleen. In dieselfde vertrek waar Francois, Boetjan en Elna ’n groot afskeidspartytjie vir die twee seuns gehou het voordat hulle kamp toe is. Dieselfde vertrek wat eens in Habitat beskryf is as een van die stylvolste sitkamers in Pretoria, ambassades ingesluit.

      En voor hom is Boetjan ewe werklik. Hul seun wie se lewe amper ’n ramp was – deels omdat sy pa nie eerlik met sy ma kon wees nie, haar wou beskerm teen die lewe se wreedhede.

      Wat gaan hy doen, wat kán hy doen – aan hierdie valsheid wat soos die afstotende pole van magnete hulle verhinder om mekaar weer te vind?

      Boetjan moes aan sy gesig gesien het dat Maria in die kamer is, want hy begin dadelik praat nog voordat hy haar kan sien: “Ek weet wat Ma gaan sê.”

      “O?”

      Dis amper onuitstaanbaar, hierdie gewetenskwelling wat sy maag op ’n knop laat trek wanneer hy uit een enkele klank uit sy vrou se mond net haat en veragting vir haar kind kan aflei.

      “Jy weet wat ek gaan sê?”

      “Ma sê dit al vir jare. Die lewe wat ek Ma gekos het. Die prys wat Ma moes betaal.”

      “En ons betaal dit nog steeds.”

      Nou! skree dit binne Jan. Vernietig die leuen! Voordat die skade onherstelbaar groot is. “Maria, asseblief ...”

      “Nee! As hy so vry voel om oor die dood te praat,” roep sy verbete uit, “dan praat ons nou oor die dood.”

      “Ek is nie bang om oor die dood te praat nie, Ma, en ek praat nie net van Pa se dood nie.”

      Boetman staan sy man. En daardeur kantel die las al swaarder op hom oor, weet Jan.

      “Het jy al ooit die dood vierkant in die oë gekyk?”

      Maria en Boetjan hou mekaar se blik, verbete.

      “Om die waarheid te sê, ja,” sê Boetjan. “Ek het my broer se dood vierkant in die oë gekyk.”

      Jan reik na Maria. Keer, keer! roep hy na binne. “My vrou ...”

      Maria ruk haar los van sy greep, lig albei haar hande omhoog, asof sy die boosheid van die oomblik wil afweer, wegklap van haar kop. “Nee! Ek het geweet hierdie ding gaan gebeur!”

      Wat gaan in haar gedagtes aan? wonder Jan. Dink sy dat sy hierdie oomblik sou kon uitstel tot

Скачать книгу