Скачать книгу

      26

      In order to study spoor, one must inevitably go to places where one will most likely encounter wild and often dangerous animals.

      – The Basics of Tracking: Dangerous Animals

      Vlooi van Jaarsveld, renostertemmer.

      Sy orkestreer die afhaal van die seil met ’n geïrriteerde stem en selfbelangrikheid, asof haar verantwoordelikhede groter is as wat ons kan begryp. Sy kyk een keer afkeurend na waar ek arms gevou as toeskouer staan, ’n blik wat sê ek moet ook kom help. Dit is wanneer ek sien haar skoonheid is van naderby beskou relatief, die geheelbeeld indrukwekkender as die onderdele. Die lyne van haar mond is effe suinig getrek, die kaak is ’n aks te swak. Wat dié gelaatstrekke van kilheid red, is die klein misvorming van haar linkeroog, ’n kepie in die onderste lid, soos ’n traan. Dit versag alles met ’n skimp van melancholie.

      Hulle rol die groot bedekking van die Bedford se bak af, ontbloot die twee massiewe staalhokke wat styf agter mekaar ingepas is. Daar is net millimeters tussen die Bedford se agterste bakflap en die laaste hok. Die renosters is in skadu gehul, twee bonkige, rustelose vorms agter ysterstaaf-tralies.

      “Ek soek lig hier,” kommandeer Vlooi en beduie na die diere. Jong Swannie spring, skielik die hoogs doeltreffende jong boer, en blaf bevele in die rigting van die arbeiders.

      Sy klouter terug in die Bedford se kajuit, kuitspiere wat bekoorlik bol, bedrewe bewegings, vol selfvertroue en fokus. Toe sy afkom, is daar ’n swart leertas in haar hand, die onpraktiese soort wat medici soos ’n statussimbool dra. Hierdie een het myle op. Sy swaai dit tot bo-op die Bedford se bak, trap op die agterwiel en klim agterna.

      “Waar’s die lig?”

      “Dit kom,” roep Swannie.

      Sy kyk na die bonkige horlosie op haar slanke arm, druk knoppies daarop. Swannie kom aangedraf met ’n skietlamp, die straal soos ’n soeklig in die naghemel. Hy hou dit vir haar uit.

      “Klim op,” sê sy, haar aandag nou by die oopgemaakte tas.

      Hy grinnik oor sy geluk om gekies te word, knik ywerig en klim op die bak.

      Op daardie oomblik sien ek vir Lourens le Riche. Hy staan langs die Bedford. Sy oë is vasgenael op haar, ’n uitdrukking van absolute fassinasie op sy gesig.

      “Lig hier,” sê sy vir Swannie en wys na die voorste hok. Sy haal ’n spuitnaald en ’n botteltjie vloeistof uit die tas. Die naald aan die spuit is kort en dik.

      Ek loop nader om te sien. Die skietlamp verlig die voorste renoster. Die dier is geblinddoek. Gebondelde materiaal steek by die een oor uit en hang oor die blinddoek. Die renoster beweeg onrustig, ’n poot stamp teen die staalvloer, ’n ruk van die kop teen die tralies. Die vel is ligter as wat ek my voorgestel het, vaalgrys en sterk getekstuur in die helder beligting, oortrek met ’n plaag van pienkrooi, septiese groeisels in die nek, oor die rug en agterkant, dit blink, nat en sieklik.

      “Koot!” sê Wickus Swanepoel van waar hy sake langs die Bedford dophou. “Wat makeer die goed?”

      Vlooi trek vloeistof uit die bottel met die spuitnaald. “Nekrolitiese dermatitis, in die sweerstadium.”

      “Jy’s ’n veearts,” sê Swannie met groot respek.

      “Kan hulle vrek van dié sere?” vra sy pa.

      “Dit gaan gewoonlik gepaard met anemie en gastro-intestinale siektes,” sê sy. “Dit is waar die gevaar lê.”

      “Koot!” sê Wickus.

      Sy druk die spuitnaald in die renoster se kruis, agter, bo die sterk boude. “Hulle is baie swak, baie gestres. Ons kan nie tyd mors nie. Kan jy daardie kous vir my terugdruk in die oor?”

      “Dis ’n kous?”

      “Stormers-rugbykous se enigste nut. Demp geraas. Hou hulle rustig.”

      “Kan jy nou meer. Klink my sy is ’n Bulls-supporter,” sê Wickus in sy noppies hier van onder af. “Nes ons.”

      Sy vat haar tas en beweeg na die tweede hok toe. Ons staan soos een man en kyk vir haar klein, hitsige agterstewe.

      “Wat spuit jy hulle?” vra Swannie.

      “Azaperone. Honderd-en-vyftig milligram. Dit hou hulle kalm, help met die negatiewe fisiologiese effek van die M99.”

      “O.K.,” sê Swannie weer met grenslose bewondering.

      En Lourens le Riche staan en staar na haar soos ’n bok in verblindende kopligte.

      * * *

      Die oorlaaiproses neem langer as ’n uur, vyftien mans wat sweet, trek, stoot, optel, neersit en die hokke sentimeter vir sentimeter van die Bedford tot in die Mercedes se laairuim skuif. Wickus organiseer die arbeid, sy taal nou aansienlik meer sosiaal aanvaarbaar. Vlooi vermaan met die minimum van woorde en die maksimum frons, die res van ons werk.

      Tot Lourens eindelik die deure toestoot en die grendels sluit. Vlooi loop haastig na hom toe. “Jy’s die drywer Karoo toe.”

      “Lourens,” sê hy en steek sy hand uit.

      Sy ignoreer dit, vee die sweet van haar voorkop met die agterkant van haar linkerhand, loop na die Mercedes se passasiersdeur en sê: “Nou kom ons ry.”

      Dit is die eerste aanduiding dat sy saamgaan.

      * * *

      Ons kom eers twintig voor tien weg. Vlooi gooi ’n bloedrooi reissak en die dokterstas in die kajuit, klim agterna, maak haar op die passasiersitplek tuis. As ek agterna inklouter, kyk sy my aan: “Kom jy ook saam?” Nie verheug oor dié moontlikheid nie.

      “Dis oom Lemmer,” is al wat Lourens sê. Toe haal hy twee groot, sagte kussings vir haar uit, plaas dit op die boggel tussen die twee sitplekke, bêre haar bagasie, skuif die kussings reg, een onder haar sitvlak, een agter haar rug.

      Die Swanepoels staan buite, langs my venster, net oë vir haar. “Jy weet nou waar ons is, Cornél. Kom kuier,” roep Wickus Swanepoel hoopvol. Langs hom beaam sy seun die uitnodiging kopknikkend, die swaar wenkbroue hoog gelig in besieling. Dan waai hulle vir oulaas en ons ry die donkerte in.

      * * *

      Haar reuk syfer deur die Mercedes se kajuit, ’n interessante versnit van seep, sjampoe en sweet. Sy sit met haar bene opgetrek, die arms om die knieë, haar lyftaal sê sy is ontevrede, vermoedelik omdat ons drie in dié spasie is, dat sy nie die luukse van persoonlike ruimte en ’n regte sitplek het nie.

      Lourens bel vir Nicola, sê ons is op pad.

      Vlooi raadpleeg die digitale horlosie aan haar arm. “Tussen halftwee en twee-uur moet ek hulle weer spuit,” gelas sy vir Lourens.

      Ek sit en wag vir sy reaksie. Hoe gaan ’n Karooknaap hierdie … verskynsel hanteer?

      Hy haal papiere uit sy deurpaneel en gee dit vir haar aan, sy bewegings stadig en afgemete. “Die boonste een is die roeteboek, die onderste een is ’n kaart. Teen twee-uur behoort ons so driehonderd kilometer van hier af te wees, miskien ’n bietjie meer …”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала,

Скачать книгу