Скачать книгу

hy gaan nou op sy bankbestuurder skel, hy stuur dadelik ’n nuwe tjek. ’n Week later is dit dieselfde storie. En so gaan dit vir ’n maand of wat, dan besef die ouens hulle is vir ’n ride gevat, dan’s dit prokureursbriewe en dreigemente. Maar oom Diederik ken al die truuks, hy sê sy state wys hulle geld is deur, of hy vra vir bewyse van koopkontrakte, wat daar nie is nie, want hy doen alles mondeling. Of hy antwoord nie sy foon nie, hy hou hulle aan ’n lyntjie en hy trek die rente op R800 000 vir amper ’n jaar, tot die ding in die hof gaan draai. En dan, daar op die hof se trappies, sê hy, O.K., julle kan julle geld kry, sonder die rente, maar dan los julle al die prosederings, en dan’s die ouens so moeg en so dankbaar, hulle sê dis reg.”

      Ek begin verstaan waarom almal sê ek moet my geld vooraf vra.

      “Slim,” sê Lourens le Riche.

      Voor hy my nog kan vertel, lui Lourens se selfoon. Dis Nicola, wat wil weet waar ons is.

      “Ons is binne ’n halfuur by die laaiplek,” sê Lourens.

      Toe hy klaar gepraat het, vra ek hom: “Wat is dié ding se topspoed?”

      “Dit hang af hoe swaar die vrag is, oom. En met die wild op ry ons maar rustig, so tussen tagtig en negentig.”

      Wegjaag van moeilikheid gaan nie ’n opsie wees nie.

      “Wat weeg ’n renoster?”

      “Ek weet nie, oom.”

      “Hoeveel massa kan ons dra?”

      “So twintig ton, oom. Maar hierdie vrag sal nie naby dit kom nie. Ek skat in totaal gaan ons nie meer as vyf ton vanaand laai nie.”

      My selfoon biep. Dit is ’n SMS van Jeanette Louw af, die standaard-navraag dié tyd van die dag: ALLES REG?

      Sal nie help om haar op te saal nie met my frustrasies. Ek antwoord: ALLES REG.

      * * *

      Ek verwag ’n tersluikse smokkelontmoeting in die donker, sluipende mense en dringende fluisterstemme iewers in die digte bos. Wat ons kry, is die helderverligte, besige werf van ’n besproeiingsplaas langs die Limpoporivier.

      ’n Dosyn swart arbeiders sit luid en gesels op die sementsoom van ’n lang staalskuur, wagtend. Op die agterflap van ’n wit Land Cruiser sit twee wit mans in kakie-kortbroeke, kakie-en-groen-hemde, lang kouse, kort werkstewels. Toe ons die werf inry, spring hulle af. Die een is jonk, vroeë twintigs, die ander diep in die veertig.

      Lourens hou stil. Ons klim uit. Die wit mans kom nader. “Lourens?” vra die ouer een en steek sy hand uit.

      “Dis ek, oom.”

      “Wickus Swanepoel, dis my seun, Swannie.”

      “En dis oom Lemmer …”

      Ons groet. Hulle is twee groot mans met vroegaand-baardskaduwees, boere-sonbruin, identiese knoetsneuse en ruie wenkbroue. Pa Wickus se leergordel sit laag om ’n bierpens te akkommodeer.

      “Hulle trok wag by die grens, hier oorkant,” sê hy en beduie reg noord. “Is julle reg?”

      “Ons is reg, oom.”

      Wickus kyk na sy seun. “Sê hulle kan maar kom. En maak seker hulle het wiele afgeblaas. En hulle weet van die paaltjies.”

      Swannie haal ’n selfoon uit sy broeksak en bel. Sy pa sê: “Ons het gedink dis beter om te wag vir die donker voor hulle deurkom. Net vir ingeval.”

      Vir die wis en die onwis, dink ek. Diederik se woorde.

      Sy seun praat oor die selfoon: “Cornél, julle kan maar deurkom, hulle is hier. Is julle wiele afgeblaas?”

      “Draai solank die trok van jou om,” sê Wickus vir Lourens. “En kry die deure oop agter.”

      “Reg, oom,” sê Lourens. “Hoe lank sal dit vat?”

      “Hulle staan hier reg oorkant, in die boorde aan die Zim-kant. As hulle nie in die donnerse sand vasval nie, is hulle nou hier.”

      Lourens gaan klim in die Mercedes.

      “Hulle kom, Pa,” sê Swannie, die seun.

      “Het jy gesê hulle moet uitkyk vir die paaltjies?”

      “Nee, Pa. Maar sy sê hulle sien ons ligte.”

      “Nee, o koot, dis tipies vroumens, die ligte gaan hulle fokkol help as hulle nie vir die paaltjies kyk nie.”

      “Moenie worry nie, Pa.”

      Lourens draai die Mercedes om sodat die neus terugkyk in die rigting waaruit ons gekom het. Wickus Swanepoel loop na waar die arbeiders sit en gesels. Hy roep bevele in ’n swart taal. Hulle staan op, begin naderkom. Wickus beveel weer, beduie in die rigting van dik ysterstawe wat by die skuur se deur lê. Die helfte van die arbeiders beweeg daarnatoe, gaan haal dit.

      Lourens skakel die Mercedes af, spring uit en maak die grendels van die agterste grys staaldeure oop.

      “Ek hoor hulle het ’n Bedford, hy kan dalk bietjie laer as jou bak wees, maar dan moet ons maar die katrolle gaan uithaal,” sê Wickus.

      “Ek hoor hulle, Pa,” sê Swannie.

      ’n Dieselenjin se gedreun klink uit die donker op, die revolusies hoog.

      “O koot,” sê Wickus, “ek hoop die fokker ken van sand ry.”

      Lourens kom nader. Ons staan al vier in ’n ry, ons oë noord, in die rigting van die geluid. “Sand is los, dié tyd van die jaar,” sê Wickus. “Sag. Poeier. Rivier is leeg. As hulle nie wiele afgeblaas het nie, gaan hulle vassit. Dan is ons in ons moer in.”

      “Moenie worry nie, Pa.”

      “Iémand moet fokken worry.”

      “Hoor, hulle is deur.”

      Die enjin se revolusies is nou laer, meer beheersd.

      “Nou hoekom sit hy nie nou maar sy ligte aan nie.”

      “Moenie worry nie, Pa.”

      “Jy hou aan om só vir my te sê.”

      “Maar ons hoef nie te worry nie, Pa. Ons het al die permitte vir hierdie kant.”

      “Daai mense moet nog terugfok Zim toe vanaand, en hulle het nie papiere van ’n uur oud nie.”

      En dan sien ons die vragmotor, ’n ou Bedford, wat op die verste punt van die ligkring uit die donker verskyn.

      “Goddank,” sê Wickus Swanepoel. “Dis ’n ou RL.”

      “Pa?”

      “Was omtrent die enigste Bedford met four wheel drive,” sê sy pa toe die vragmotor voor ons kom stilhou. Dit lyk na ’n ou militêre voertuig, die groen verf verbleik en gehawend, maar die enjin makeer niks. ’n Swart bestuurder is agter die wiel, geel frokkie, gespierde arms, sigaret in die mond.

      Die passasiersdeur gaan oop. ’n Vrou spring af, ligvoets. Sy ignoreer ons, beweeg dadelik na die bak van die voertuig, wat toe is onder ’n vuilvaal seil. Sy begin toue losmaak.

      “Koot!” sê Wickus, maar gedemp. Want sy is met die eerste oogopslag skouspelagtig. Skouers, arms en bene met die spierdefinisie van ’n atleet. Gitswart hare in ’n verinneweerde poniestert, die nek lank en elegant, die glans van fyn sweet op die heuningvel, die gesig oorheers deur sterk, hoë wangbene. Lara Croft van die Limpopo in haar stewels, stywe kakie-kortbroek en moulose wit T-hemp wat te koop loop met die stewige borsmaat.

      “Cornél?” vra Swannie. Hy klink verheug om die telefoonstem met dié voorkoms te assosieer.

      Sy kyk na hom. “Kom help,” gebied sy.

      Swannie beweeg nie dadelik nie. “Vlooi?” vra hy verstom. “Vlooi van Jaarsveld?”

      Sy ruk haar op. “Ek ken jou nie.”

      “Ons

Скачать книгу