Скачать книгу

      Liedjieboerdery

      As onderwysstudent het ek met my kleurbaadjie oor die skouer en musiek-tape in my hand Johannesburg toe geryloop, vol verwagting en hoop. Eers 15 jaar later, op 33, is my eerste liedjie opgeneem. Dit geld seker nie vir almal nie, maar ek glo dat jare se volharding wel ook jare se wysheid bring – wysheid en rypheid wat jy nodig het om jou gedagtes musikaal oor te dra. Woorde en musiek is vir my ’n eenheid, die een kom nie noodwendig voor die ander nie, maar ek veronderstel dit kan wel anders gebeur.

      Ek probeer soveel tyd moontlik afstaan aan die ontwikkeling van ’n lied of tema. Soms is dit jare, natuurlik met tussenposes, want jy moet jou gedagtes blaaskans gee. Ek probeer myself soveel moontlik ontvanklik hou vir gebeurtenisse en situasies, soos ’n musiekjoernalis dit behoort te doen.

      Ek skryf grootliks tematies. As liedjieskrywer hoor ek spontaan ’n tema in my kop – soms die musiek, soms die woorde, maar meestal saam soos “Waterblommetjies” en “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie-boeredans”. Dis die beste manier om liedjies te skryf, het ek gevind. As jy gaan sit en doelbewus ’n liedjie probeer uitdink, is hulle gewoonlik nie so goed nie. Maar selfs met dié wat uit die hart kom, moet jy by ’n tafel gaan sit en sweet, soms nagte lank, want ’n liedjie is so goed soos die swakste skakel. Moet nooit in jou aanvanklike opgewondenheid vergeet om ’n ruk daarna nugter hersiening te doen nie. Skryf oor dinge wat jou gehoor sal verstaan en waarvan hulle hou.

      “Waterblommetjies” het ek binne vyftien minute geskryf nadat ek Esmé Euvrard die woord oor die radio hoor sê het. Een aand het ek na ’n TV-program oor die trein na Matjiesfontein gesit en kyk en dadelik gedink dis ’n heerlike titel vir ’n liedjie. Ek en Antjie het gereeld bargains by die Indiërwinkels in Fietas, soos Vrededorp destyds genoem is, gaan soek. As die een winkel nie iets gehad het nie, was daar altyd ’n uncle in ’n ander winkel wat dit wel aangehou het. Toe word 14de Straat in Fietas die inspirasie vir “Kyk hoe dans ek”, my liedjie vir Sonja. Dis polities dubbelsinnig, soos ’n vrolike liedjie oor iemand wat hartseer is: Bye bye love, bye bye happiness. Kyk hoe happy is ons Indiërs in 14de Straat, al jaag julle ons hier weg. Ek het hierdie tema ook in “Jantjie” gebruik en in my songs oor Distrik Ses en gedwonge verskuiwings soos “Atlantis” en “Hanoverstraat”, en dis ook hoekom die engel in “Waterblommetjies” trane in sy oë kry oor die Kaap.

      Die reël “dina kanakia” in “Hanoverstraat” kom uit ’n ou tradisionele song. Brigadiers het my gedwing om dit te verander na “môre ga’ ons seaside toe” want die gehoor sou dit kwansuis nie verstaan nie. Met ghantang het ek my voet neergesit, die Maleise woord wat my ma so graag gebruik het vir ’n vryersklong. Daar is nou nog mense wat my vra wat ’n ghantang is, en dit wys net weer as ’n vreemde woord opspring gaan dit mense nie keer om van die liedjie te hou nie.

      Tussen 1976 en 1978 is seker so vyftig van my liedjies deur sangers opgeneem en teen 2019 trek dit seker verby 500, maar ek tel nie. Ek sê al sedert 1979 vir joernaliste wat vra dis 500. Ek weet nie hoeveel nie. Dit maak nie saak nie. Kwantiteit heers nie oor kwaliteit nie.

      Albie Venter-hulle het my gevra om ’n lied vir Gé Korsten te skryf. Dit was “Vergeet my nie”. Vicki du Preez het op die toneel verskyn en ek het al die songs op haar eerste album geskryf. Haar “Tot Siens Auf Wiedersehen” (met Tinus Esterhuizen) het die treffersparade gehaal. Vir Carike Keuzenkamp was dit “Byeboerwa”, “Hoeka toeka” en “Lang maer blonde man” (dit was oorspronklik donker man, maar haar hubby, Olaus, is blond) en toe vir Laurika Rauch “Vergeet om te vergeet”, “Aai aai”, “Neanderthalman” en “Atlantis”, waarin ek met “my hand vol vere oopgemaak/ en die dons wat daaruit waai” ’n kopknik maak na die Breyten-gedig “Die hand vol vere”.

      Herbie & Spence het een van my songs opgeneem en omtrent al my woorde verander. Hulle het my later om verskoning gevra en belowe hulle sal nooit weer nie, maar hulle het ook nooit weer ’n song van my gekry nie. In September 1978 was daar vir die eerste keer tegelykertyd ’n Engelse liedjie én ’n Afrikaanse een van my op die treffersparade: “My Life is in Good Hands” met Gene Rockwell en Carike Keuzenkamp se “Hoeka toeka”.

      Voor die dae van selfone en minibandopnemers het mens wysies en lirieke inderhaas in ’n sakboekie of op stukkies papier neergeskribbel soos dit in jou kop kom. Tydens ’n publisiteitstoer het die komponis Barry Mason wat o.a. “Delilah” vir Tom Jones geskryf het, my vertel dat hy die hele tyd ’n sakboekie by hom dra vir gedagtes oor liedjies. Die probleem daarmee is nes met bandopnames – jy moet gedissiplineerd wees en terugkyk en weggooi. Nie net versamel nie. Maar as dit goed genoeg is, gaan jy dikwels onthou. Ek onthou Barry het ook vertel hy kon nie musiek skryf of ’n instrument bespeel nie, hy het die wysies in sy kop vir iemand geneurie of gesing en dié het dit dan neergepen. Hy het wel die eerste van sy hits saam met Les Reed geskryf. Albert Hammond het my vertel dat hy en Mike Hazlewood saam geskryf het, maar kontinente van mekaar af. Hulle het mekaar gebel.

      Op pad terug van Pretoria waar ek bladmusiek gaan aflaai het, het die wysie van die koor in “Byeboerwa” ingewarrel gekom. Net die eerste note, toe weet ek dit kan ’n tune word. Ek het dit vir myself herhaal tot by die huis waar ek dit kon opneem.

      Dan begin die gekarring om iets te kry wat sal inpas by die wysie. Jy blaai deur die Afrikaanse spelreëls, of maar weer deur ’n Breyten-digbundel en kom af op die reël “hier kom ek aan uit die berge met blomme in my hare”. Die titel van daardie gedig was “Byeboer”. Net dit. Dan tref dit jou dat die dude dalk moet rondtrek. Ek het ’n groot sagte plek vir Pelgrimsrus en die dorp se geskiedenis. So laat ek die byeboer soontoe gaan en terugkeer. Maar “byeboer” het steeds een lettergreep te min. Wel, in 1891 is daar nie motors nie, so hy en sy korwe sal met ’n wa moet trek. Bingo. Dit was toe uiteindelik metafories/simbolies van die gras aan daardie kant is groener, en as jy daar kom, is hierdie kant se gras groener. Dit het my twee dae geneem om “Byeboerwa” te skryf.

      Tant Mossie van Arlington het ’n mondigwordingspartytjie vir haar seun gehou en ons is saam met my broer-hulle daarheen. Terug in Fontainebleau skryf ek die song van “Ta’ Mossie se sakkie sakkie boeredans”. Toe tant Mossie dit die eerste keer oor Radio Oranje hoor, het sy skertsend gesê dis baie nice maar dit was ’n deftige partytjie, glad nie soos Anton dit in die liedjie verduidelik het nie.

      Maar dis presies hoe dit werk as jy ’n liedjie skryf. Jy meng beelde wat jy in herinnering oproep, soos die kampterrein in Musina waar die ooms hul amps met karbatterye laai en ek en Antjie kaalvoet om die vuur gedans het. Kleintydherinneringe van die partytjies by die Lace-myn en my oom wat koponderstebo rondloop en kyk of hy diamante kan optel. Meng dit met Ta’ Mossie se partytjie en jy het ’n song. Dis soos die trekklavierkoning Ollie Viljoen gesê het: “Moenie dat feite in die pad van ’n goeie storie kom nie.”

      Die finale woord oor liedjies: Moenie jou kennis of hoogdrawendheid op die luisteraar probeer afdwing nie. Liedjies is nie poësie of letterkunde nie. Die luisterliedjie het juis hieroor gesterf, doodgepraat en doodgesimposium.

      In ’n song oor bokkoms op die stoep skryf ek “waar al my liefde gedy het”. Stephan Bouwer, ’n baanbreker in Afrikaanse TV-dramas wat self gedigte geskryf het, se kommentaar daarop was dat mense met bokkoms op die stoep nie die woord gedy gebruik nie. Hy was reg.

      Gedigte is moeilik om in liedjies te verwerk. Dit leef op papier, maar ek het net ’n paar suksesvol kon toonset. In Stephan se gedig “Die mense wat ek liefhet” is die reël “ek met my harnas van been”. Dit het nie vir my as beeld in ’n liedjie gewerk nie, toe verander ek dit na “ek met my moskombersie”. Mense wat nie die song se titel onthou nie sal vir my sê sing vir ons van die moskombersie. Dis vir my die verskil tussen poësie en liriekskryf. Om die swakste skakel heel te maak. Met “om te breyten” het ek “my wintervoël” verander na “wintervoëltjie” – dit het die betekenis heeltemal verander en liries versag.

      Jy moet jou eie werk gereeld ondersoek en nasorg doen en kyk of jy nie besig is om tematies vas te haak of te herhaal nie. Wanneer dit gebeur is dit tyd vir nuwe invloede of interaksie met ander kunstenaars of skrywers. Soms kry jy writer’s block en

Скачать книгу