Аннотация

Een oorlog, twee broers, een tragiese twis – die verskriklikste Afrikanerbroedertwis ooit. Meer as 'n honderd jaar ná die laaste skote in die Anglo-Boereoorlog geklap het, word genl. Christiaan de Wet steeds bewonder as onverbiddelike bittereinder, die held wat tot die einde toe volhard het. Sy jonger broer, Piet, word onthou as die joiner wat die wapen teen sy eie mense opgeneem het. In Broedertwis klim Albert Blake as't ware in dié twee broers se koppe. Hy probeer verstaan waarom hulle lynreg in stryd met mekaar gekom het. Watter rol het geloofsoortuigings, elkeen se eiesoortige karakter, hul vroue en ook oorlogtrauma in hul keuses gespeel? Teenoor die vurige en waaghalsige Christiaan staan sy temperamentele, andersdenkende jonger broer, Piet. Die een 'n spreekwoordelike valk, die ander 'n duif. Wie was reg? Christiaan, wat ten alle koste die vryheidstryd wou voer, of Piet, wat die einde aan die smart en lyding van die oorlog wou bring?

Аннотация

Henning Viljoen, 'n agterkleinseun van Piet Retief, was maar 17 toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en hy opgekommandeer is. Vir die volgende meer as twee jaar hou hy dagboek van die daaglikse lewe op kommando. Teen die aanvang van die guerrillafase is hy reeds 'n deurwinterde vegter in die Oos-Transvaal. Sy dagboeke, nou vir die eerste keer verwerk, bied 'n aangrypende blik op 'n oorlog wat ons gedink het ons reeds ken. Henning se eerlike beskrywings van bloedige gevegte teen die Britse magte en die teregstelling van verraaiers bring die gruwel van oorlog tuis. Sy dagboeke verklap voorts baie van die bittereinderpsige. Uit sy inskrywings blyk dit duidelik waarom 'n handjievol Afrikaners bly voortveg het toe ander gedink het die stryd is reeds verlore.

Аннотация

Bomplanters, sluipmoordenaars, saboteurs. Almal Afrikaners. Kragstasies is opgeblaas en politieke moorde uitgevoer. Dié terreurveldtog van militante Afrikaners, wat die land in die 1940's naby aan die afgrond van anargie gebring het, is vandag grootliks vergete. Daar was spioenasie-intriges, opspraakwekkende hoogverraadsake en gewaagde ontsnappingspogings. Maar om politieke redes is hierdie hoofstuk in ons geskiedenis dekades lank diep begrawe. In Wit terroriste vlek Albert Blake dit wawyd oop. Hy vertel die dramatiese ware verhale van Afrikaners wat hulle tot terreur gewend het. Onder hulle tel die sanger Steve Hofmeyr se oupa en die latere eerste minister John Vorster, asook die wêreldbekende stoeier Johannes van der Walt. Wat het hulle gedryf? Waarvoor het hulle baklei? Was hulle verraaiers of was hulle ware patriotte? Wit terroriste bied 'n fassinerende blik op 'n versweë, hoogs aangrypende deel van die Afrikaner-geskiedenis.

Аннотация

Onstuitbaar en vreesloos. Só was die Boerekrygers wat gedurende die Anglo-Boereoorlog uit krygsgevangekampe probeer ontsnap het. Niks sou hulle keer om weer vry te wees nie: nie 'n moontlike skietdood, 'n oseaan vol haaie, die gevaar om van 'n bewegende trein af te spring of 'n tonnel wat op hulle kon inval nie. In hierdie boek bring Albert Blake van die mees gewaagde ontsnappingspogings deur Boerekrygsgevangenes byeen. Hulle verstom met hul vindingryke planne om die Britse owerhede te uitoorlê en weg te kom uit kampe in Suid-Afrika en Indië, maar ook op die eilande van Bermuda, St. Helena en Ceylon. Hierdie opwindende, ware verhale getuig van mannemoed en die oorwinning van die menslike gees.

Аннотация

In die dae toe speurders nog aan hul safaripakke en Grasshopper-skoene uitgeken kon word, was die Moord-en-roofeenheid ewe beroemd as berug. Charles Miller was een van hul topspeurders.
As lid van die Wes-Randse tak het hy verskeie opspraakwekkende moord- en roofsake danksy deeglike speurwerk en 'n uitstekende netwerk opgelos. Bloedbesmeerde moordtonele, donker hole, omstrede ondervragingsmetodes en smerige informante was alles deel van sy werk. Vir hom en sy kollegas het die adrenalien van klappende skote later soos 'n dwelm geword.
Maar om jou lewe elke dag op die spel te plaas, eis sy tol. Miller het later ook telling verloor van hoeveel misdadigers hy in die uitvoering van sy pligte doodgeskiet het.
'n Ware verhaal oor die strewe na geregtigheid en hoe dit dikwels tot 'n ongemaklike dans met die donker kant lei.

Аннотация

Die Anglo-Boereoorlog het nie net helde opgelewer nie. In dié stryd het broer teen broer ook teen mekaar te staan gekom. Duisende republikeinse burgers het as joiners by die Britse magte aangesluit, terwyl ander weer inligting oor die Boeremagte aan die vyand verskaf het. Die straf vir hul verraad? Die dood. In Boereverraaier word dié teregstellings dramaties herskep met aanhalings uit dagboeke en veldverslae. Daar is tragiese verhale soos dié van vier broers van Wakkerstroom wat almal op een dag gefusilleer is en kommandolede wat van hul voormalige makkers moes teregstel. Albert Blake het argiewe gefynkam, vergete grafstene gevind en die nageslag van tereggesteldes opgespoor. Hy het selfs afgekom op teregstellings wat nooit vantevore opgeteken is nie. Hy ontbloot hoe Boereverraad gedurende die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme onder die mat gevee is, maar ook hoe dit nog tot in die 20ste eeu by die Afrikaner gespook het.