Аннотация

Eugène Marais-prys (2007), Ingrid Jonker-prys (2007), Universiteit van Johannesburg-debuutprys (2007). In die buitenste ruimte handel oor gedigte wat o.a. inspeel op ‘n verblyf in Duitsland en die mooi komiekstrip-buiteblad van Karlien de Villiers vang iets van die vervreemding van die gedigte op. Die titel speel eweneens in op Jacques Derrida, die dekontruksie-filosoof, se siening van teks: dat daar geen buite-teks bestaan nie en elke gedig van Danie Marais praat met ‘n bekende popliedjie, herinnering, liefdesvers, motto sodat die vers inspeel, uitspeel op soveel assosiasies.

Аннотация

Hoe hou ’n mens kop in die 21ste-eeuse virtuele warboel? In hierdie versameling rubrieke, essays en heildronke tuur die bekroonde digter en joernalis Danie Marais diep in die braaivleisvuur van ’n waansinnige wêreld. En hy wonder met speelse erns en entoesiasme wat geword het van rock ’n’ roll en sy generasie X. Hy mik hoog, hy buk laag, en hy dink weer: oor boeke, oor flieks, oor Springsteen, Darth Vader, die Stones, die Simpsons, en oor randfigure – van die Anglo-Boereoorlog se agterryers tot The Big Lebowski en Peter Blum. Genoeg om jou met ’n verwonderde glimlag te laat.

Аннотация

Danie Marais se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is ’n mymerende, soms prewelende, plek-plek tierende besinning oor die Suid-Afrikaanse middelklas-weergawe van die menslike toestand. Dit gaan oor die “roaring 40s” en die eerste onheilspellende tekens van middeljarigheid, oor egskeiding, enkelvaderskap, ontnugtering, ’n geliefde ma wat by die dood omdraai en die skrikwekkende relevansie van gruwelrolprente en popkultuur. Die geweld van die liefde en die verraderlike lugspieëlings van die digkuns is deurlopende temas. Solank verlange die sweep swaai is die woorde van iemand wat sy vertroue in die woordkuns verloor het, maar aanhou skryf omdat dit die enigste vorm van psigiese selfverdediging is wat hy min of meer verstaan. Dis die steierende gedagtes van ’n man wat dronkgeslaan word deur sy eie alledaagse stories uit ’n lewe wat al sy pogings tot begrip en filosofiese beskouing uitdaag en ondergrawe.

Аннотация

Waar sy debuut hoofsaaklik handel oor die verbrokkeling van ’n huwelik in Duitsland – sy “break-up album” – is Al is die maan ’n misverstand ’n tuiskoms, nie net op eie bodem nie, maar ook in ’n nuwe verhouding. Tog is Marais se poësie allermins geluksalig – verlorendheid is steeds die gevoel wat sy digterlike instink onderlê. Hier is praatverse, verse wat doelbewus ingeskryf is teen die gedrae en verhewe metriese trant wat tradisioneel die Afrikaanse poësie kenmerk. Soos die poësie van Raymond Carver is dit verse wat klink soos ’n intieme gesprek, verse wat die indruk laat dat dit omgee vir almal van ons se verlangens en verlorenthede. Die subtiele krag van Marais se poësie lê in die wyse waarop dit as’t ware die leser se vinger neem om die teksture van gevoel na te trek. Met sy debuut het hy die onweerstaanbaarheid van hierdie tegniek gevestig en in sy tweede bundel voer hy dit tot nog oorrompelender uiterstes.