Скачать книгу

hom moet sukkel nie.

      Sarel verduidelik sy voorstel nou in eenvoudige taal: Hy voel daar moet net twee manne vir die kapteinskap genomineer word, naamlik Trompie en Ben ou Pen. Hy voel ook daar is niks mee verkeerd as die twee, of vriende van hulle, propaganda maak en stemme werf nie.

      “Solank dit regverdig en op ’n demokratiese wyse geskied.”

      “Daar gaan die ou al weer,” sê Rooie met ’n sug.

      Sarel ignoreer hierdie aanmerking. Hy verduidelik die petisie gepaardgaande met die gratis lekkers laat ’n slegte smaak na, selfs by die ouens wat lekkers gevat en toe geteken het. Volgens hom – en hy sê hy het met baie van die ouens gesels – is hulle nou spyt hulle het dit gedoen.

      “Maar hulle het die lekkers klaar geëet,” brom Gerrit.

      Trompie voel nou beter. Dit lyk mos of van die ouens wat die petisie geteken het vir hom gaan stem.

      Sarel verduidelik sy plan. Hy sê Gerrit moet grootmoedig wees en die lys vernietig. Hy moet vir die seuns wat dit geteken het, sê daar rus geen verpligting meer op hulle nie. Dan moet hy die stryd namens Ben ou Pen op ’n regverdige en demokratiese manier aanpak. En Trompie moet dieselfde doen. “Dit is dan ’n behoorlike en regverdige verkiesing,” sê Sarel.

      “Hoe pak ons die stryd aan?” vra Trompie.

      “Jy of jou verkiesingsbeamptes kan vergaderings belê, oral plakkate opsit en enige ander geoorloofde middele aanwend om die ouens te oorreed om vir jou te stem. Gerrit kan natuurlik dieselfde vir Ben ou Pen doen.”

      Daar heers ’n paar oomblikke lank stilte in die kamer. Almal dink na oor Sarel se voorstel. Hulle hou van die idee om ’n verkiesing te hou. Dit behoort mos groot pret te wees.

      “Dit lyk vir my orraait,” sê Trompie uiteindelik. “Hoe voel dié ou daaroor?” Hy wys met ’n vuil wysvinger na Gerrit.

      “Dié ou” is nog besig om te dink hoe hy oor die storie voel. Sy voorkop is geplooi. Sy twee trawante hou hom dop. Maak nie saak hoe hy oor die besigheid voel nie – hulle sal dieselfde voel. Sy pa is mos die eienaar van die lekkergoedwinkel.

      Gerrit voel nie meer so gelukkig oor die petisie nie. ’n Hele paar kinders het ook al vir hom gesê hulle is nou spyt hulle het dit geteken. Hulle voel dit is onregverdig om Trompie só in die rug te steek.

      Dit laat Gerrit dink sy taktiek was miskien verkeerd. Miskien gaan ouens wat nie vir Trompie sou gestem het nie nou vir hom stem, net omdat hulle voel die petisie saam met die gratis lekkers is nie ’n regverdige manier om teen die ou te baklei nie.

      Gerrit besluit dit sal die beste wees as hy Sarel se voorstel aanvaar. Daar is mos heelwat ouens wat dink Trompie is te selfsugtig op die rugbyveld om ’n goeie kaptein te wees. Met goeie propaganda kan hy nog baie ander ouens ook daarvan oortuig.

      “Reg,” sê Gerrit, “ek sal saamspeel.”

      “Reg,” sê sy twee handlangers feitlik gelyktydig.

      “Nou gee die petisie hier.” Trompie steek sy hand uit.

      “Nee,” sê Gerrit. “Ek sal die lys self tot niet maak. Dis nie nodig dat jy dit sien nie.”

      Trompie wil baie graag weet wie almal die lys geteken het, maar Sarel – en hy is mos die voorsitter – stem saam met Gerrit. Hy dink dit is beter dat Trompie nie die petisie sien nie.

      “Gee dit vir my,” sê hy vir Gerrit, “ek sal dit vernietig.”

      Gerrit gee die lys vir Sarel. Trompie kyk met groot oë, maar Sarel hou dit sodat hy die name nie kan lees en selfs nie eens kan uitmaak hoeveel daar min of meer op die lys is nie.

      Sarel skeur die papier in fyn stukkies op en gooi dit in Rooie se vullisdrom.

      En só begin die groot verkiesingsveldtog.

      Trompie en sy vriende bespreek hul plan van aksie. Rooie, Blikkies en Dawie is natuurlik Trompie se verkiesingsagente. Hulle moet ’n paar ander kinders ompraat om ook te help. Katrien is byvoorbeeld kunstig en skryf baie mooi netjies. Sy moet vir die plakkate verantwoordelik wees.

      Laat dié middag stap Trompie gou na Katrien toe. Sy woon mos net langsaan hom.

      Sy sit op die stoep agter ’n prieel en geskiedenis leer. Toe sy die hekkie hoor oopgaan, kyk sy op en sien Trompie met die tuinpaadjie opgestap kom.

      Hy lyk presies soos die Kwaggabergers hom ken: sy sokkies lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy pet sit windmakerig skeef. Sy hande is diep in sy broeksakke en sy regterskoen se punt is ingeduik omdat hy gedurig na klippe, graspolle en blikke loop en skop.

      Naby die stoep hang daar ’n groot dahlia-blom effens oor die tuinpaadjie. Trompie gaan staan en bekyk dit aandagtig. Die versoeking is groot om los te trek en die blom te skop dat dit hoog oor die huis trek. Hy is mos ’n baasskopper.

      Trompie kyk versigtig rond. Hy sien nie dat Katrien vir hom sit en loer nie. Daar is ’n glimlag om haar mondhoeke. Dit is amper of Katrien Trompie se gedagtes kan lees. Sy weet hy gaan nou lostrek en daardie blom skop. Sy sit oorgehaal om hom skrik te maak.

      Die Boksombende se Grootkaptein is seker daar is niemand in die tuin en ook niemand wat hom deur die huis se vensters dophou nie. Hy stap ’n paar treë agteruit en druk dan sy pet styf op sy kop vas. Sy plan is om vinnig te hardloop en dan los te trek. Hy begin net mooi hardloop toe Katrien met ’n growwe stem sê: “Haai! Wat maak jy daar?”

      Trompie se regtervoet het reeds teruggeswaai om te skop toe hy die stem hoor. Hy skrik so groot dat sy voet net daar in die lug bly hang. Trompie kyk verskrik rond. Hy kan nie uitmaak wie se stem dit is of waar dit vandaan kom nie.

      Hy staan nog ’n paar oomblikke so roerloos met sy voet in die lug. Dan gryns hy verleë, sit die voet op die grond neer en vra: “Wie’t gepraat?”

      Katrien sit roerloos agter die prieel. Sy byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie.

      “Wie het gepraat?” vra Trompie nou harder. Hy draai sy kop effens skuins om beter te kan hoor as die persoon weer praat. Hy hoor egter net die voëltjies wat in die bome tjirp.

      “Dis iemand wat probeer snaaks wees,” mompel Trompie en stap gou nader. Hy vermy die groot dahlia wat oor die tuinpaadjie hang en voel lelik ongemaklik. Wie kan dit wees wat op hom geskree het?

      Toe Trompie by die stoeptrap opkom, bars Katrien uit van die lag. So dit was sy wat haar stem grof gemaak en vir hom geskree het. Hy stap vererg tot by haar.

      Maar wanneer hy naby die laggende sproetgesigmeisie met die twee lang vlegsels kom, bedink Trompie hom. Dit help nie hy is vies omdat sy hom laat skrik het nie. Hy moet gaaf en vriendelik wees. Hy wil mos hê sy moet vir hom ’n guns doen.

      “Hallo, Katrientjie,” sê hy vriendelik.

      “Hallo, Trompie,” sê sy laggend. “Jy’t lekker groot geskrik, nè?”

      “Nee wat, nie eintlik nie,” antwoord hy gemaak ongeërg. “Ek het mos geweet dis jy wat hier agter die prieel sit.”

      “Jy het nie!” Katrien bars weer uit van die lag. “Jy het jou boeglam geskrik.”

      Trompie wil-wil hom weer vererg, maar hy dink aan die groot guns wat hy haar wil vra. Sy moet die plakkate vir die verkiesingsveldtog maak.

      Hy lag nou maar noodgedwonge saam met die lawwe meisiekind.

      “Wil jy nie sit nie?” vra Katrien uiteindelik. Sy wonder wat Trompie wil hê. Hy kom mos gewoonlik net kuier as hy wil hê sy moet hom met sy skoolwerk help.

      “Dankie, Katrientjie.” Trompie kom sit op die tuinstoel langs hare. Sy kyk hom agterdogtig aan. Hy noem haar mos nooit voor ander “Katrientjie” nie – dit is altyd net wanneer hulle alleen is en hy iets van haar wil hê.

      “Wat leer jy, Katrientjie?” vra Trompie kamtig belangstellend.

      “Geskiedenis

Скачать книгу