Скачать книгу

VERKOOP NIE! MOENIE JOU STEM VIR LEKKERS VERRUIL NIE! STEM VIR TROMPIE!!

      Blikkies het nou ook iets neergeskryf, maar dit is effens beledigend. Hulle besluit hulle sal dit net gebruik as Gerrit ouens weer met lekkers probeer omkoop. Blikkies se bydrae is:

      WIE LEI BEN AAN SY NEUS? GERRIT DIE GESLEPE BEES!

      Ná ’n halfuur moet Rooie, Blikkies en Dawie verdamp. Die vier vriende is hoog in hul noppies. Hulle het baie uitgerig. Môre begin hulle met die groot veldtog!

      4

      Die verkiesingsveldtog

      Die volgende oggend begin die verkiesingsveldtog. Dit lyk of Gerrit en sy vriende die vorige aand sommer baie hard gewerk het. Hulle het al klaar plakkate en plak dit oral op die skool se kennisgewingborde en teen die hekke. Dit sê:

      STEM VIR BEN OU PEN!

      DIE BESTE KAPTEIN TER WÊRELD!!

      Gerrit-hulle het nie juis veel oorspronklikheid aan die dag gelê nie. Al hul plakkate is eenders en sê dieselfde ding.

      Gedurende pouses en selfs in die klasse word daar deur middel van briefies propaganda vir die twee aspirantkapteins gemaak. Trompie se vriende vertel vir almal hoe ’n goeie ou hy is en hoe ’n goeie kaptein hy sal wees, terwyl Ben ou Pen se vriende onder leiding van Gerrit weer vir almal beduie hoe ’n goeie ou Ben is en hoe ’n goeie kaptein hý sal wees.

      Katrien en ’n paar van haar vriendinne maak dié middag die plakkate vir Trompie se veldtog. Die Boksombende gaan plak dit oral in die dorp en by die skool op. Op die meeste plakkate staan daar net:

      HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!

      Die seuns dink dit is ’n treffende slagspreuk. Dit rym mooi en almal sal aanhoudend sê: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Hulle is heeltemal reg. Hierdie eenvoudige slagspreuk vind groot inslag by die Kwaggabergers. Selfs grootmense hou daarvan en herhaal die rympie onwillekeurig: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie is goeie organiseerders. Hulle oorreed baie ander kinders om te help met die huisbesoek. Hulle span selfs van die laerskooloutjies in.

      Omdat Trompie hom eenkeer gehelp het toe hy hoog in ’n boom vasgesit het, besluit die onverskrokke Dirkie van Gas (almal op Kwaggaberg noem hom Asjas) om Trompie met sy veldtog te help. Asjas is ’n astrante elfjarige mannetjie. Hy en sy maats gaan doen namens Trompie huisbesoek by ouens wat in die hoërskool is en vir die ondersestienspan gaan speel.

      Trompie kan Asjas se geesdrif nie demp nie. Hy hoop maar net die outjie en sy wilde maats doen sy saak nie meer skade as goed aan nie.

      Asjas se gretigheid om te help laat Trompie aan ’n skitterende plan dink. Die outjie moet sewe-en-twintig ander seuns van sy ouderdom inspan en elkeen moet ’n plakkaat om sy nek hang. Daar moet op elke plakkaat net een letter wees en saam moet dit dan Trompie se slagspreuk spel: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Trompie tref die reëlings met Asjas en sy maats. Katrien en haar vriende skryf die letters netjies op karton. Hulle bind ook toue daaraan vas sodat die outjies dit om hul nekke kan hang.

      Die laerskool sluit ’n halfuur vroeër as die hoërskool. Die dag voor die kaptein gekies gaan word, marsjeer Asjas en sy sewe-en-twintig manne na die hoërskool toe en neem stelling in voor die groot hekke waar die kinders gaan uitborrel sodra die klok lui.

      Asjas beduie vir sy maats hoe hulle moet staan. Hulle staan mooi in ’n ry voor die hekke. Asjas is aan die punt. Hy is die “H” van “Hompie”. Hy verduidelik dat die ouens met niemand moet praat nie. Hulle moet kiertsregop staan en net stip voor hulle kyk. Die seuns is almal min of meer ewe groot en die plakkate hang mooi gelyk. Almal sal die sin duidelik kan lees.

      Ongelukkig is Asjas – hoewel hy dit nie weet nie, en al sou hy dit ook weet, sou hy dit nooit erken nie – nie juis ’n kenner op die gebied van spel nie. Soos hy sy maats rangskik, is “Hompie Kedompie” nou “Hopmie Kepomdie”. Selfs “Trompie” is verkeerd gespel. Asjas het die “o” voor die “r” geplaas sodat die onder-16’s nie vir Trompie moet stem nie, maar vir “Tormpie”.

      Gelukkig is Trompie en sy vriende van die eerstes wat uitkom toe die klok lui. Hulle wil mos sien watter uitwerking hierdie agt-en-twintig laerskooloutjies op die leerders gaan hê.

      “Gou!” gil Trompie toe hy sien hoe verkeerd die woorde gespel is. “Maak reg die spelfoute!”

      Die Boksombende gryp en pluk outjies uit die ry en druk hulle op die regte plekke in. Uiteindelik staan die spulletjie ordentlik. Daar is nie nou meer spelfoute nie. Die eerste klomp leerders wat by die hekke uitgeborrel het, lees wat daar staan:

      HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!

      Die hoërskoolkinders kyk almal na die outjies wat so ernstig voor hulle uitstaar. Almal lag en geniet dit en stem saam – dit is nou regtig oorspronklik. Selfs die onderwysers wat by die hekke uitstap, lees eers gou wat die letters spel.

      Baie seuns wat nie lekkers by Gerrit gekry het of nie weet Trompie is ’n selfsugtige rugbyspeler of nie eintlik vir Ben ou Pen ken nie, besluit hulle gaan vir Trompie stem. Hulle kan die oulike Hompie Kedompie-rympie eenvoudig nie uit hul gedagtes kry nie.

      Dié middag neem Asjas se span ook voor die poskantoor stelling in. Trompie is daar om te sorg dat elkeen op sy regte plek staan en daar nie weer spelfoute is nie. Baie grootmense kyk glimlaggend na die sedige outjies en sê dan met ’n effense kopskud: “Ai, dié Trompie darem!”

      Gerrit en ’n paar van sy vriende stap daar verby. Hulle ignoreer Asjas se manne wat so netjies in gelid staan heeltemal.

      Trompie se veldtog is baie meer geslaagd as Gerrit s’n, maar die feit bly staan – Gerrit se pa is die eienaar van die lekkergoedwinkel. Gerrit het vir baie ouens lekkers gegee sodat hulle vir sy kandidaat, Ben ou Pen, moet stem. Daarom plak Trompie-hulle toe die plakkaat wat die seuns waarsku om hul geboortereg nie vir ’n bord lensiesop te verkoop nie by die skool op.

      Die skoolhoof hou hierdie verkiesingsveldtog glimlaggend dop en verbied dit nie. Hy dink dit is goed vir die seuns om so iets op eie inisiatief te reël.

      Uiteindelik breek die groot verkiesingsdag aan. Met lang pouse vergader die onder-16’s in die saal.

      Sarel Marais – die verkiesingsveldtog was mos sy idee – het vooraf toestemming by die hoof gevra en verduidelik dat die kandidate vir die kapteinskap die stemgeregtigdes eers wil toespreek. Die hoof het ingestem en die oggend selfs afgekondig dat al die onder-16-rugbyspelers met eerste en tweede pouse in die saal moet vergader.

      Teen eerste pouse storm al die onder-16’s by die saal in. Trompie, Gerrit, Ben ou Pen en Sarel sit sedig op die verhoog. Sarel is voorsitter. Hy het homself aangestel.

      Toe almal sit, staan Sarel op en lig sy hand. Dan sê hy hard: “Stilte, asseblief!”

      Die gezoem van stemme bedaar en die seuns word stil. Daar is tussen negentig en honderd ouens en hulle is almal onder-16-rugbyspelers.

      “Ons vergader vanoggend hier,” begin Sarel sy toespraak, “om na die twee kandidate vir die kapteinskap te luister. Soos julle weet, is pouses maar van korte duur, so hulle mag nie te lank praat nie. Indien die tyd dit toelaat, sal daar ook geleentheid wees om vrae aan die kandidate te stel.”

      Sarel se kort inleidende toesprakie word hard toegejuig. Hy draai na Ben toe en sê: “Die eerste spreker is Ben ou Pen.”

      “Haai, Ben!” skree ’n klomp van sy vriende en baie van hulle klap hande.

      Ben ou Pen verstaan die kuns om ’n bal blitsvinnig uit die oond te haak, maar hy is nie ’n spreker nie.

      Hy sê stamelend: “Ek wil net sê julle sal

Скачать книгу