Скачать книгу

sê vir julle,” gaan Dawie voort, “ek wil nie hê ons moet ontbind nie. Ek is dié kwartaal in die koshuis, maar oor drie maande is ek mos weer by julle.”

      Dawie het sag en vertroulik gepraat, maar nou gooi hy sy arms skielik in die lug en skree hard: “Lank lewe die Boksombende!”

      Die ander drie wip soos hulle skrik. Blikkies val amper van sy kissie af. Boesman gee ’n tjankblaf en spring op.

      Almal sit weer. Boesman draai ’n paar keer in die rondte en dan plof hy ook weer op sy plek neer.

      Blikkies staan op. Hy spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit.

      “Ek gaan nie baie sê nie,” begin Blikkies, “want Dawie en Rooie het klaar gesê wat ek wil sê. Ek wil net sê dis nonsens. Dis wat ek wil sê. Dis nonsens om eers daaraan te dink of daaroor te praat om ons bende te los. Dis al wat ek wil sê.” Blikkies gaan sit. Hy het sy sê gesê. Hy pluk ’n vars grashalmpie uit en begin kou.

      Trompie staan op. Hy maak keel skoon. Dan sê hy: “Manne van die Boksombende, ek vereenselwig my volkome met die menings wat hier uitgespreek is.”

      “Jissie!” sê Dawie verbaas. “Het jy ’n woordeboek ingesluk?”

      “Ek herhaal,” gaan Trompie hoogdrawend voort, “ek vereenselwig my volkome met julle menings. Ek glo ook die Boksombende moet voortbestaan. Ek het die saak net aangeroer omdat die hoof vanoggend daaroor gepraat het. En natuurlik ook omdat Dawie dié kwartaal in die koshuis is en Katrien haar geld wil hê. Maar nou is die groot oomblik hier. Ons moet stem of die Boksombende ontbind gaan word of nie …”

      “Maar dis mos onnodig,” brom Rooie. “Ons het dan almal …”

      “Alles moet streng volgens prosedure geskied,” val Trompie hom in die rede en haal die sakboekie en potlood weer uit sy sak. Hy lek aan die potloodpunt. Dan sê hy: “Dié wat stem dat die Boksombende nié ontbind word nie – steek op julle hande!”

      Almal se hande vlieg op. Trompie s’n ook. Hy tel versigtig. Vier stem dat die bende nie ontbind moet word nie. Trompie skryf die getal 4 in sy boekie neer.

      “En wie stem dat die bende ontbind moet word?” Nie een hand gaan op nie.

      “Nes ek verwag het,” sê Trompie. Hy lek die potlood se punt weer en skryf ’n 0 in sy boekie.

      So ja, nou het alles mos volgens prosedure geskied. Trompie is verlig en tevrede. Die Boksombende bly voortbestaan.

      “Wat van Katrien se geld?” vra Dawie toe hulle opstaan.

      Trompie meen sy moet dit terugkry.

      “Hoekom?” wil Rooie weet.

      “Omdat dit die regte en eerlike ding is om te doen,” snou Trompie hom toe.

      “En waar kry ons die geld vandaan?” wil Blikkies weet.

      Ja-nee, dit is nogal ’n probleem. Geld is maar ’n skaars artikel by die Boksombende.

      Die seuns dink hieroor na. Dan sê Dawie: “Ek sal julle sê wat ons doen. Trompie is mos ’n gewilde ou onder die meisies. Hy het Lucille skoolfunksie toe gevat. Hy kan Katrien so ’n bietjie vlei en vir haar ogies maak en vertel hoe verkeerd sy is om te dink ons skuld haar geld. As sy sien hy neem notisie van haar, sal sy gou van daai paar rand vergeet.”

      “Ek weet nie so mooi nie,” sê Trompie, “maar ek kan probeer.” Dan voeg hy kastig nederig by: “Ek dink Katrien hou nogal van my, julle weet.”

      “Ha, Trompie die groot hartedief,” sê Blikkies spottend.

      Trompie skud net sy skouers. Hy kan dit mos nie help as die meisies van hom hou nie.

      Trompie, Rooie en Blikkies lê oop na die dam in die kloof toe. Hulle gaan nou in die water baljaar. Dawie stap mismoedig terug koshuis toe. Daar is nie vir hom tyd om te gaan swem nie.

krag.jpg

      3

      Trompie die student

      Toe Trompie later die middag van die dam af terugkom, sien hy vir Katrien op ’n bankie in die bure se tuin sit. Hy besluit dat dit nou sy kans is om met haar oor die geld te praat.

      Trompie vee sy kuif reg. So ja, nou lyk hy mooi netjies. Hy glimlag en wys sy tande. Hy is mos ’n vriendelike ou. Hy kyk na Katrien oor die muurtjie. Sy sit en boek lees.

      Hy kug beleefd. Sy kyk op en frons.

      “Ja?” Haar stem is kil.

      Trompie glimlag ekstra breed.

      “Haai, Katrien. Ek kom maar net hallo sê.”

      “Wel, nou hét jy! Wat wil jy nóg hê?”

      Trompie sluk. Die meisiekind verbaas hom. Sy het baie verander. Sy was vroeër altyd baie gaaf en het hom gereeld met sy huiswerk gehelp.

      “Ek wil eintlik niks hê nie,” sê Trompie effens vies, maar dan dink hy aan die geld en glimlag weer. Belangstellend vra hy: “Wat doen jy, Katrientjie?”

      “Kan jy nie sien ek lees nie?”

      “Ja, maar ek het maar net gewonder, dis al.”

      “Wel, nou weet jy.” Katrien tel haar boek beslis op en begin weer lees.

      Trompie leun verder oor die muurtjie. Dit lyk of sy oordrewe poging om vriendelik te wees nie veel vrugte afgewerp het nie. Sy neem glad nie notisie van hom nie.

      Hy besluit hy moet weer probeer. Hy kan mos nie aan sy drie maats terugrapporteer en sê hy kon nie met Katrien oor die geld gesels omdat sy geweier het om hom ’n kans te gee nie! Nee, dit sal ’n skande wees. Hulle dink mos hy is ’n haan onder die henne. Hulle verwag groot dinge van hom.

      Trompie vee sy kuif weer uit sy oë. Hy sien sy hemp hang by sy broek uit en druk dit vinnig in. Hy glimlag soos daardie held in verlede week se fliek geglimlag het toe hy liefdevol na die beeldskone heldin gekyk het. Hy dink hy lyk nogal baie soos daardie held. Katrien is ongelukkig nie beeldskoon nie en ook nie ’n heldin nie, maar hy moet maar weer probeer – geld is ’n skaars ding.

      “Katrientjie,” sê hy en probeer sy stem so grof soos daardie filmster s’n maak. Hy is seker hy lyk nou ook so romanties soos daardie held toe hy na die heldin gekyk het. Met hierdie uitdrukking op sy gesig wil hy Katrien goed laat verstaan dat hy wat Trompie is, ’n baie romantiese figuur is. Hy wil ook vir haar wys hy is ’n sterk man, ’n vasberade man, ’n man wat onheil en gevare sal trotseer ter wille van die vrou wat hy so liefdevol aankyk.

      “Ja?” sê sy. Katrien leun vorentoe om hom van nader te bekyk. “Wat makeer jou?” vra sy. “Voel jy siek?”

      “Nee,” sê Trompie nors. “Hoekom vra jy?”

      “Omdat jy so ’n lelike gesig trek.”

      Trompie skop vererg na ’n graspol. Meisies! Hulle is onverstaanbare goed. Hy kyk na Katrien met ’n sagte glans in sy oë en ’n soet glimlag om sy mondhoeke. Sy hele gesig spreek van liefde – groot, innige liefde – en wat doen sy? Sy vra hom of hy siek voel!

      Trompie besluit hierdie soetsappige stories is net tydmors. Hy gaan nou sommer reguit sy sê sê! Hulle gaan haar nie die geld terugbetaal nie. Hulle kan nie, want hulle het niks om haar mee te betaal nie – en wat gaan sy daaraan doen?

      Hy spring ligvoets oor die muurtjie en kom sit op die bankie langs die meisie.

      “Ek kan nie onthou dat ek jou genooi het om hier te kom sit nie,” sê sy uit die hoogte.

      “Ek kan dit ook nie onthou nie,” sê Trompie vies, “maar ek sit nou hier. En wat daarvan?”

      “Ek gaan my ma roep dat sy jou uit ons tuin

Скачать книгу