Скачать книгу

’n klomp rokke neer en trek die deur net betyds toe wanneer die voordeur oopgaan en Ou Nukke inkom.

      Die onderwyseres kyk oor haar knypbrilletjie na die vertrek. Dan gaan sit sy in ’n groot leunstoel. Saartjie hoor haar duidelik by haarself mompel: “Ek is vanaand te moeg om te gaan eet.”

      Saartjie voel yskoud. Sy staan heel agter in die kas met die klomp rokke voor haar. Dit is sowaar nou al die tweede keer, en dit op dieselfde dag, dat sy in so ’n benarde posisie is! Hoe op aarde sal sy ooit hier uitkom as Ou Nukke nie gaan eet nie?

      Dit is roerloos stil in die vertrek. Saartjie wonder wat Ou Nukke nou doen. Sy wonder of sy dit kan waag om die rokke voor haar weg te skuif en die deur effens oop te maak en te probeer uitloer. Sê nou een van die rokke val van ’n hanger af?

      ’n Hele paar minute lank staan Saartjie roerloos stil. Dit voel vir haar soos ure. Sy móét eenvoudig sien wat aangaan. Sy kan mos nie die hele nag hier in die klerekas deurbring nie!

      Sy druk eers weer die kussing wat afgesak het tot onder haar ken. Dan hou sy die pet op haar kop met die een hand vas en met die ander hand stoot sy die rokke voor haar weg.

      Saggies stoot sy die deur op ’n skrefie oop en loer met haar een oog uit. Sy sien Ou Nukke in die leunstoel sit. Maar dan staan die juffrou skielik op! Saartjie gee vinnig ’n tree terug en koes agter die rokke in.

      Sy hoor Ou Nukke in die woonstel rondstap – en dan kom die voetstappe klerekas toe!

      Omdat sy so alleen woon, praat die onderwyseres baie met haarself. Saartjie hoor haar sê: “Ek dink ek moet vir Gaby Marks my nuwe hoed gaan wys.”

      Juffrou Marks (Saartjie se musiekonderwyseres) is ook ’n oujongnooi en sy bly in ’n huis langsaan Ou Nukke se woonstelgebou.

      Saartjie voel verlam toe die kasdeure oopgemaak word.

      Sy knyp haar oë styf toe. Al het sy hulle ook oopgemaak, sou sy niks kon sien nie, want die pet het al weer oor haar gesig geval. Saartjie byt op haar onderlip. Sy haal amper nie asem nie. Sy verwag dat die onderwyseres haar enige oomblik daar gaan uitpluk.

      Maar Ou Nukke merk nie onraad nie. Sy haal ’n boks van ’n rak af en beweeg dan weer weg.

      Sag blaas Saartjie haar asem uit. Dan lig sy die pet van haar gesig af en vee onwillekeurig met die agterkant van haar hand oor haar voorkop.

      Juffrou Necker het die kasdeur laat oopstaan en as sy haar kop net effens draai en die pet vashou sodat hy nie oor haar oë val nie, kan Saartjie tussen ’n paar rokke deur sien. Sy kan haar oë nie glo nie. Wie kon dink die benerige oujongnooi met die grys toutjieshare kan so ydel wees?

      Die onderwyseres het ’n koddige maar interessante hoedjie uit die boks gehaal – ’n gryse met ’n groot peer aan die een kant en ’n tros druiwe aan die ander kant.

      Saartjie loer doodstil hoe die juffrou met die hoed op haar kop voor die spieël staan en poseer. Sy byt op haar onderlip om nie te lag nie toe sien sy hoe Ou Nukke vorentoe stap en dan weer agtertoe, en haar kop agteroor gooi sodat sy beter kan sien hoe sy met die hoed op lyk. Sy swaai selfs ook haar heupe terwyl sy haarself heeltyd in die spieël dophou.

      Maar die hoed is blykbaar nie na die juffrou se sin nie, want sy sit dit ’n bietjie skewer. Sy glimlag en dit lyk of sy nou meer tevrede is. Sy maak weer waggelend ’n paar passies voor die spieël. Saartjie druk die punt van ’n gordel, wat aan ’n rok voor haar hang, in haar mond om te keer dat sy hardop lag.

      “Miskien moet ek nie vir Gaby my hoed wys nie,” hoor Saartjie Ou Nukke met haarself praat. “Sy kan soms so katterig wees.”

      Die onderwyseres se benerige vingers streel oor die hoed. “Ek sal dit net vakansietye dra.” Sy sit die hoedjie op die boks neer en dan kyk sy na die stapel boeke.

      “Die opstelle kan wag tot later,” hoor Saartjie haar sê. “Ek gaan eers ’n bietjie by Gaby gesels.”

      Saartjie trek haar kop vinnig terug agter die rokke in. Met die verbystap klap Ou Nukke die kasdeur toe. Haar hart is in haar keel. Sê nou die juffrou sluit die kasdeur?

      Dan hoor sy die woonstel se deur oop- en toegaan, maar nie die geluid van ’n sleutel in ’n slot nie. Dit is nou stil.

      Saartjie slaak ’n sug van verligting. Sy moet nou dadelik hier wegkom!

      Sy stoot die rokke vinnig voor haar weg en klim uit die kas. Met haar een hand hou sy die pet vas en met die ander een stoot sy haar “maag” wat nou tot amper op haar knieë afgesak het, weer tot onder haar ken op.

      Toe sy versigtig en op haar tone deur toe stap, sien sy die hoed op die boks. Sy moet die ding darem eers gou van nader bekyk. Daar is nou mos geen gevaar nie. Ou Nukke sal lank by juffrou Marks sit en gesels.

      Saartjie kyk na die hoedjie. Sy het nog nooit in haar lewe so ’n koddige ding gesien nie. Sy wil sien hoe lyk dit op haar kop.

      Sy gooi die groot pet op die tafel neer en sit die hoed op haar donker krulhare. Sy besluit dadelik dit pas haar beter as vir Ou Nukke. Sy glimlag, knipoog vir haarself in die spieël en swaai haar kop sodat sy kan sien hoe die veer tussen die peer en die druiwe swaai. Saartjie stap op en af voor die spieël met so ’n swaaistappie soos sy vir Ou Nukke gesien doen het. Dit lyk egter nie baie goed nie, want die kussing bly afskuif.

      Nou probeer Saartjie die hoed op verskillende maniere op haar kop sit om te sien watter een haar die beste pas.

      Terwyl sy so voor die spieël paradeer, staan Anna buite op haar pos en kyk met verskrikte oë na juffrou Necker.

      Die onderwyseres het ’n paar oomblikke gelede by die gebou se ingang uitgekom. Sy het ’n paar treë gestap en toe gaan staan. Anna verstaan glad nie wat aangaan nie.

      Ou Nukke staan en dink. Hoekom sal sy die pragtige hoed wat haar so goed pas en soveel kos nie vir Gaby Marks wys nie? As sy katterig daaroor is, sal dit net wees omdat sy jaloers is. Sy sal die hoed vir die musiekjuffrou gaan wys! Sy swaai vinnig om en stap weer by die woonstelgebou in.

      Anna is verslae. Wat moet sy doen? Sy en Saartjie het afgespreek sy moet fluit as Ou Nukke van ete af terugkom en Ou Nukke kom mos nie nou van ete af terug nie. Sy het by die gebou uitgekom en nou weer ingegaan. Anna is baie bekommerd. Sy weet nie wat om te dink nie. Waar is haar vriendin?

      Saartjie is nog steeds voor die spieël. Sy het die hoed nou agterstevoor op en sy dink die ding lyk baie beter met die agterkant voor en die voorkant agter. Sy knipoog vir haarself in die spieël en glimlag vriendelik en maak elegante buiginkies met haar kop soos sy dink die elegante dames wat sulke hoede dra hul vriende sal groet – en toe hoor sy Ou Nukke se voetstappe vinnig in die gang afkom.

      Saartjie staan verskrik. Daar flits net een gedagte deur haar kop: nie weer nie! Sy gaan sowaar nie weer in die klerekas spring nie. Sy moes dit vandag al twee keer doen!

      Saartjie is só lam geskrik dat sy glad nie kan roer nie. Toe die voetstappe feitlik by die deur is, kom sy eers tot verhaal en in beweging. Sy gooi die juffrou se hoed op die tafel neer, gryp die pet en sit dit op haar kop terwyl sy venster toe hardloop. Maar die ding sak oor haar oë af en sy loop haar hard teen die vensterbank vas!

      Die deur gaan oop en sy swaai verwilderd om. Die groot baadjie se kraag is tot onder haar oë opgeslaan en Saartjie skuif die pet nou tot net bokant hulle op sodat daar niks van haar gesig uitsteek nie behalwe twee verskrikte oë. Sy loer na Ou Nukke.

      Die onderwyseres staan sprakeloos in die deur en staar na die gedaante met die groot pet en die geweldige borskas. Haar mond is oop en sy gaap soos ’n vis op droë grond na asem. Sy het duidelik net so groot soos Saartjie geskrik.

      Saartjie kry eerste beheer oor haar stembande en bulder met ’n growwe stem: “Hiert!”

      Toe niks gebeur nie en Ou Nukke nog steeds staan en gaap, begin Saartjie soos ’n hond blaf. Hoekom sy dit doen, weet sy nie – maar sy moet íéts doen!

      Die vreemde gedaante blaf briesend en spring op.

      Hierdie

Скачать книгу