Скачать книгу

skyn warm, maar die wind waai. Oral op die sypaadjies loop mense met handdoeke en strandsakke. “Wil jy uitklim en op die strand gaan stap?” vra Oupa.

      Sy skud haar kop.

      “Dan ry ons sodat ons by Voëleiland kan vertoef.”

      Daar aangekom, bly hulle in die bakkie. Janine het nog nooit soveel seevoëls op een plek bymekaar gesien nie.

      “Meesal witmalgasse en trekduikers,” sê Oupa. “Volgende keer vat Oupa jou na die uitkyktoring sodat jy hulle van naby kan dophou, volgende keer as hier minder vakansiegangers is.”

      “Het julle vir Kallie-hulle raakgeloop?” vra Ouma toe hulle tuiskom.

      “Nie met ’n oog gesien nie.”

      “Julle was skaars weg, toe stop hy en sy spannetjie hier om Janine op te laai.”

      Oupa is verontwaardig. “Kan hulle nie vooraf kennis gee nie?”

      “Seker gedag Janine sit op aandag vir hulle en wag.”

      “Wel, ons was daar en dit wemel van die Transvalers. Ons het in die bakkie gesit en kyk.”

      “Ag nee! Al die moeite vir niks.”

      “Ek vat haar wanneer daar minder gewoel is.”

      “Liefieding, hoe lyk hulle vir jou, so van ver af? Kon jy iets sien?”

      “Ouma, daar’s ontelbaar baie.”

      “Word ook by die dag meer,” sê Oupa. “Party vlieg, maar hulle kom terug, lê eiers, broei nog kleintjies uit. Dis hulle eiland daai, hulle tuiste.”

      Hulle is gelukkig, dink Janine. Niemand sal hulle wegvat en op ’n ander eiland gaan neersit nie.

      “Hulle voel veilig,” sê Ouma, “hulle word nie gesteur nie.”

      Steur? Janine dink sy weet wat dit beteken. Sy wil ook nie “gesteur” word nie. Volgende week moet sy skool toe, na ’n nuwe skool waar sy nie ’n enkele maat het nie en almal vir haar kyk en haar jammer kry.

      Sy wil stry, maar gee eers haar klapperys vir Ouma om tussen hulle twee te deel. Oupa hou nie van soetgoed nie. Sy en Ouma eet alles op. Toe drink sy warm melk en Ouma swart tee.

      “Moet ek Maandag skool toe gaan?”

      “Maandag gaan ek jou inskryf en Dinsdag begin jy by jou nuwe skool.”

      “Ouma, ek wil liewer by die huis bly.”

      “Jy kan nie, dis teen die wet.”

      “Ek’s bang.”

      “Waarvoor? Jy was mos al in die skool.”

      “Nie in hierdie skool nie.”

      “Dis ’n kerkskool, Janine. Die onderwysers en die kinders is almal Christene. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek het vir mevrou Swanepoel gevra om vir jou klavierlesse te gee. Maandag kom sy ook skool toe, spesiaal dat julle saam kan besluit watter dag en tyd.”

      6

      Sy kan nie daarvan wegkom nie. Almal kry haar jammer en sy wil nie meer getroos word nie, sy wil uitgelos wees. Sy moet keer of sy trek ’n lelike gesig vir die skool se sekretaresse, mevrou Steenkamp, wat haar neus sit en blaas: “Verskoon my trane, tannie Lenie, ek is net so verskriklik jammer vir julle.”

      Ouma Leen skuif rond op haar stoel. Dit lyk asof sy lus het om haar handsak te vat en te loop, maar hulle is nou hier.

      Mevrou Steenkamp pak die papiere voor haar reg. “Is dit jou eerste skooldag, Janine’tjie?”

      Agter haar teen die muur, hang ’n houtkruis.

      Janine wil dit nie sien nie. Sy kyk af.

      “In watter klas is jy?”

      “Graad een,” sê ouma Leen.

      Daar sit ’n stinkgogga op mevrou Steenkamp se skoen, ’n groene met plat vlerkies.

      “Watter skool?”

      “Gustav Preller. Hier is die oorplasingsertifikaat.”

      “Dankie. Ek sal die volle naam en geboortedatum op ons vorms oorskryf. Is alles korrek?”

      “Ek het dit gekontroleer.”

      Mevrou Steenkamp haal ’n geel papier uit een van haar laaie. Sy tik met haar pen daarop. “Die faktuur vir die deposito en die kwartaallikse skoolfonds. Tannie kan ons die einde van die maand betaal, Dinsdag die een-en-dertigste. Ek het nou Tannie se adres en telefoonnommer.”

      Mevrou Steenkamp gee die geel faktuur aan. Onder die tafel kruis sy haar bene, die gogga klou vir al wat hy werd is. “Eintlik moet die deposito vandag al in wees.”

      Ouma vou die papier. “Dominee het gesê ons het tyd tot die einde van die maand.”

      “Dis die een-en-dertigste.”

      Ouma Leen se gesig is rooi. “Dankie, ek sal dit aanteken.”

      “Die skool begin agtuur, nie ’n minuut later nie. Sorg dat sy tien voor agt hier is, dan kan sy haar tassie in die gang voor die klaskamer neersit en betyds op die blokke wees vir opening. Sy is in Gerda Schoonraad se klassie. Janine’tjie, het jy gehoor? Juffrou Schoon-raad, kamer een.”

      Mevrou Steenkamp sug asof sy ’n groot taak afgehandel het. Sy plak die vorms opmekaar, skud hulle reg en steek hulle in ’n bruin lêer. Toe spring sy so skielik op dat die gogga skrik en onder die tafel uitvlieg. Hy gaan sit op die rand van mevrou Steenkamp se teekoppie.

      Janine byt haar lip vas. Nie nou lag nie.

      “Is mevrou Swanepoel in haar klaskamer?” vra Ouma.

      “Ja, en sy verwag julle. Janine’tjie, jy gaan baie gelukkig wees. Jy is mos een van liewe Jesus se spesiale kindertjies?”

      “Dankie, Elma, dankie vir jou moeite,” sê Ouma.

      “Totsiens, tannie Lenie. Groete vir oom Koen.”

      “Het jy jou tong ingesluk?” vra Ouma toe hulle in die gang afstap. “Jy kon iets gesê het, totsiens of dankie. Netnou dink sy jy kan nie praat nie.”

      Janine gee nie om wat mevrou Steenkamp dink nie. Sy sal praat as dit nodig is. Hulle loop by kamer een verby. Daar is drie groot syfers op die deur vasgeplak: Een, twee en drie, ’n eendjie, ’n hasie en ’n hondjie.

      Verbeel sy haar of hoor sy klaviermusiek?

      “Dis die klas waar jy môre jou tassie moet los,” sê Ouma onnodig. “Hoor jy ook die klavier?”

      Janine knik en Ouma glimlag. Die musiekkamer is op die hoek langs die trap. Die deur is geel geverf. ’n Blou voëltjie laat musieknote by sy bekkie uitborrel.

      Ouma lees: “Musiek, mevrou Swanepoel.”

      Hulle klop.

      “Binne!” roep sy. Dit kan net sý wees, die tannie wat die orrel speel.

      Sy sit voor die klavier. Haar vingers dans op die note. Haar hare is met ’n strik om haar kop vasgemaak en hang los op haar rug. Haar naels is bloedrooi.

      Sy speel klaar, stop met een kort noot en draai na hulle. “Lenie, goeiemôre! Hoe gaan dit vandag?”

      “Môre, Ciska. Beter, elke dag beter.”

      “Uitstekend. En dit is Janine? Hallo, Janine. Ek hoor jy wil graag klavierlesse neem.”

      “Ja, asseblief.”

      “Het jy al voorheen klavier gespeel?”

      “Ek kan ballet.”

      “Dis goed, dan het jy ritme. Wys my jou handjies.”

      Janine is bly Ouma het haar naels

Скачать книгу