Скачать книгу

Twee maste, ’n skoorsteen en die reddingsbote. Wat dit spesiaal maak, is dat dit die eerste vaartuig is wat met elektrisiteit verlig word, maar daarvoor moet hulle wag tot dit donker is. En selfs dan sal hulle alles nog beter kan sien as hulle op ’n manier aan boord kan kom.

      “Deksels! As daar iemand is wat ’n plan sou maak om ons op die skip te kry, is dit tannie Isabella,” eggo Frans sy ge­dag­tes. “Jou ma kon mos nooit wag om die nuutste danspassies by die passasiers te leer nie.”

      “Ja, sy sê altyd die Kapenaars moenie agter raak met wat in Engeland aangaan …” Leopold kyk met skrefiesoë na Frans. “Jy dink nie regtig my ma gaan gesond word nie, nè?”

      Frans word rooi en vee oor sy nek.

      Leopold spring van die muurtjie af en plant sy hande op sy heupe. “Jou beste maat se ma is besig om dood te gaan en al waaraan jy kan dink, is elektriese gloeilampe.”

      “Dis nie nodig om my kop af te byt nie.” Frans sit sy hand op Leopold se skouer. “As jou ma nie beter word nie, hoef jy ten minste nie oor geld bekommerd te wees nie.”

      “Geld? Is dit al waaraan jy dink? Is dit waarom jy die diamantroof nie uit jou kop kan kry nie? Omdat jy eintlik wens jou pa hét die diamante gegaps?”

      “Deksels, Leopold, ons is vriende. Ek probeer om jou be­ter te laat voel!”

      “Vir jou inligting, dit werk nie!” Leopold klap Frans se hand weg en struikel amper oor ’n net wat op die sand oop­ge­gooi lê. Hy systap ’n smous met ’n bamboesjuk oor sy skou­ers en storm blindelings weg. Frans roep agterna, maar hy hou hom doof.

      Uiteindelik is hy aan die onderpunt van Adderleystraat. Hy is nie lus om stroomop te beur teen die nuuskieriges op pad na die hawegebied nie en besluit om af te draai Groentemarkplein toe. ’n Slukkie van die helder bergwater wat ’n mens daar uit die fontein kan pomp, is net wat hy nodig het om sy kop skoon te kry.

      Die plein was nog altyd een van sy gunstelingplekke. Op warm someraande het hy en sy ma soms hier kom stap en dan het sy hom vertel van die slawe wat vroeër jare hier verkoop is. Het Mieta se voorouers ook hier in kettings gestaan? Hy het nog nooit die moed gehad om te vra nie.

      Teen dié tyd het die son deur die mis gebreek en speel die strale vrolik oor die groenteverkopers se kleurvolle seiltjies. Afgetrokke kyk Leopold na die vars produkte wat daaronder uit­gestal is. Beet. Mielies. Wag ’n bietjie! Hy het mos sy ma se beursie saamgebring. Mieta sal bly wees as hy ’n kooksel groen­bone saamvat huis toe. Maar eers gaan hy sy dors les. Hy loop tot by die fontein en pomp ’n sluk yskoue water in sy mond.

      Die plein is stiller as gewoonlik, seker omdat al wat Kapenaar is vandag in die hawe saamdrom. Links van die Burgerwaghuis staan daar ’n paar waens wat verhuur word en in die skaduwee van die kerktoring bondel ’n groepie mans saam, vakmanne wat hulle dienste aanbied. Leopold herken hier en daar ’n gesig.

      Toe sy ma nog gesond was, het sy hom elke maand hier­heen gestuur om ’n boodskapper te huur. Hoekom weet hy nie. Sy het net gesê die man moet iets belangriks vir haar gaan haal. Noudat hy daaraan dink: sy het die laaste maande be­kommerd gelyk elke keer nadat sy met die boodskapper ge­praat het. Hy moet onthou om haar daaroor uit te vra wanneer sy beter is.

      ’n Skraal figuur tussen die werkers trek Leopold se aan­dag. Dis ’n seun, seker so twee jaar jonger as hy. Die outjie lyk uit plek tussen die manne. Sy klere is verslete, hy is beson­der skraal en speel kop onderstebo met ’n sakkie wat aan ’n toutjie om sy nek hang. Leopold verwonder hom nog aan die vaalblou oë in die bruin gesig toe daar onverwags ’n wit streep om een van die groentewaens verskyn.

      Dis die hond van vroeër. Die brakkie swenk tussen twee klante se bene deur en pyl op die bruin seun af. Toe, net soos sy vroeër met Leopold gedoen het, spring sy teen hom op en lek met haar lang tong oor sy gesig. Die seun lag en probeer haar wegdruk.

      Leopold staan nader om ’n geselsie aan te knoop toe die grys skaduwee langs een van die huise in die man met die land­kaartgesig verander. Die ou man hink tot by die seun en hulle gesels ’n rukkie. Toe sit hy sy arm om die knaap se skouers en hulle stap saam weg, die wit hond stertswaaiend op hulle hakke.

      Net voor hulle by die dwarsstraat afdraai, kyk die boggelrug om. Sy oë ontmoet Leopold s’n en, amper asof hy hom her­ken, gly daar ’n tandlose glimlag oor sy gesig. Toe trek hy sy pet oor sy oë en verdwyn saam met die seun en die hond om die hoek.

       3

      Die kerkklok se gelui ruk Leopold terug na die werklikheid. Dis al twaalfuur! Sê nou sy ma het wakker geword terwyl hy hom staan en verwonder aan ’n boemelaar en sy brak?

      Sweetdruppels pêrel op sy voorkop toe hy uiteindelik by die herfsgoue laning langs die Tuine indraai. Geïrriteerd vee hy dit af. ’n Entjie vorentoe steek hulle nuwe huis se skoorsteen uit en hy loop vinniger.

      “Ek is moeg vir hierdie ou Hollandse huis,” het sy ma so twee jaar gelede gekla toe hulle op die stoep in die skadu van die druiweprieel gesit het. “Dis koud en donker.” Sy het Mieta se tongklik geïgnoreer. “Buitendien, die Victoriaanse boustyl is nou in die mode. Ons hoef mos nie honderd jaar agter te wees met wat in die beskawing aangaan nie.”

      Die fyn porseleingoed het gerinkel soos Mieta die skinkbord op die gestyfde tafeldoek neergeplak het. “Waar sal ons weer so ’n lekker tuin kry? Kyk hoe mooi is die stokrose vanjaar. En die hoenderhok? Ek los nie my kuikens hier nie!”

      “Dink net hoe deftig gaan ons onthaal!” het sy ma gelag.

      Leopold het hom nie veel aan sy ma se planne gesteur nie, maar Mieta het haar kop geskud elke keer wanneer daar ’n nuwe katalogus in die pos gekom het. Omtrent alles wat vir die huis nodig was, kon uit Engeland bestel word. Selfs ’n kaggel. Mieta het haar tong geklap toe sy dit sien. “Nou’s my vuurherd ook nie meer goed genoeg nie,” het sy gebrom, maar Leopold se ma het die beswaar weggewaai.

      Sy het begin hoes kort nadat hulle in die nuwe huis ingetrek het en voor die kaggel vir die eerste winter aangesteek is, was sy in die bed.

      Leopold skud die gedagtes af en loop straatop. Wat? Dis mos Oudok se spaaider wat daar voor hulle huis staan. Hy roep en waai, maar die drywer klap sy sweep en ry weg. Leo­pold se hart trek saam. Dis nie hulle huisdokter se gewone besoektyd nie. Sê nou daar het iets gebeur terwyl hy weg was?

      Hy hardloop die laaste entjie, pluk die tuinhekkie oop, draf verby die roosbome en op met die stoeptrappies. Die swaar kiaatvoordeur swaai oop toe hy die knop draai. In die skemer portaal huiwer hy.

      Iets is nie reg nie.

      Die gordyne voor die vensters in die voorkamer is toege­trek. Die huis ruik na medisyne en hy hoor ’n geluid.

      Tsj-tsj-tsj.

      Hy draai sy kop om te luister. Dit kom van agter, van die kombuis se kant.

      Tsj-tsj-tsj.

      Toe weet hy. Dis die gesis van ’n warm strykyster op klam materiaal. Mieta is besig om te stryk.

       4

      Mieta!” Uitasem steek Leopold op die kombuis se drumpel vas. “My ma …?”

      Mieta kyk op van waar sy by die stryktafel staan. “Dis als reg, Leopoldjie,” troos sy. “Oudok het bloed getrek, sy rus ’n bietjie.” Stadig, amper asof sy iets soek om haar mee besig te hou, sit sy die swaar strykyster eenkant. “Gaan groet eers.” Haar mondhoeke bewe.

      “Mieta?” ’n Donker vrees sypel deur Leopold se lyf. Alles voel klipswaar. Sy voete. Sy bene. Sy hart.

      Mieta antwoord nie. Begin net om die strykkombers op te vou. Oor en oor vou sy dit sonder

Скачать книгу