Скачать книгу

my ma, Onthou jy nie? Pa het gesê ons kan dit maar bestel.

      Ek haal die bruinpapier versigtig af, nie ’n skeurtjie nie, ek gaan dit bêre. Ek rol die tydskrif oop. Daar is ’n sagte geluid en die varing in die gang beweeg, dis die Groot Grys wat vlieg, eers tot teen die voordeur en toe terug tot in my tas.

      Dis anders as toe die klavier verskyn het, daardie oomblik was ’n draai na ’n nuwe drumpel, wat ek nou vashou, is ’n luukse, ons leef eenvoudig, ’n ding met jou naam op, iets wat afgelewer word sodat jou grys kan vlug, is byna onwerklik.

      Bollie was ’n tydskrif vir kinders, vol strokiesverhale, onder andere die avonture van ’n konynfamilie met Bollie as hoofkarakter. Ek het elke woord en prent verslind, ek kon ná die tyd nie een verhaal onthou nie, my vreugde was die papier, die kleure, hoe Bollie en sy lewe geteken is, hoe die ink geblink het op die bladsye, hoe die papier gekraak het, hoe iets ruik wanneer dit splinternuut is, wanneer dit verpak is voordat dit op ’n winkelrak kon lê of sorgeloos hanteer word. Weer en weer is Bollie afgelewer, ’n hele middag en ’n hele aand sonder grys. Ek het dit soos juwele opgepas, weggesteek voordat my boetie dit kon verrinneweer, oor en oor deurgeblaai, my verbeel ek woon in ’n plek waar etenstafels lyk soos dié van ’n heldergeklede konynfamilie, waar koeke en poedings so groot is soos die gaste, waar rosyne uit brode peul en rook trek uit bekers warm sjokolade. Tot vandag toe word dit in ons gesin gebruik as beskrywings: Bollieboekkoekies, Bollieboekbrode, Bollieboektorings.

      Later was daar nog tydskrifte, Patrys, Tina, Panorama. Patrys was vol aktiwiteite, feite en uitknipdinge, dit sou my hart breek om een van my kosbaarhede op te knip, ek het net geknip wanneer my ma klaar was met haar tydskrifte. Tina was eksklusief vir tienermeisies en vir my, hóé dit in ons huis beland het, hóé my pa dit toegelaat het, weet ek nie. Die Panorama was ’n groot tydskrif met duursame papier, volbladfoto’s van die natuur – waarin ek geensins belanggestel het nie – en artikels in ’n taal wat geen kind kon boei nie, maar dit is afgelewer in ’n groot koevert sonder enige voue en dit het geruik soos belofte, nuut en geheimsinnig. Ek het dit hanteer asof dit ’n boodskap was uit ’n verre sfeer, ’n dokument vir die adel.

      Die Groot Grys sou vir altyd by my bly en later sou ek slimmer word en vele ontsnappings prakseer, maar daar in die dorpie van vroeë skooljare en ontelbare gewaarwordinge was papier my eerste weelde en gereelde redding. Op tydskrifdae kon die klippe en riete weet, hier is dit BAIE LEKKER.

      Papier is die draer van boodskappe, die herder van die aarde se grootste verhale, die bewys van kunstenaars se onsterflikheid, iewers word huise daaruit gemaak, orals word daaruit geëet, iewers word dit gedra as klere, dit bring verjaarsdagwense en Kersfeesgroete, dit waai mense koel, dit is die bewys dat jy geslaag het, dit omvou geskenke.

      Ná die eerste tydskrifte volg daar vele koeverte, ek het gesweef wanneer ek presteer het, gegil wanneer ek iets gewen het, geskrik as ek teleurgestel het, gewalg toe ek my eerste oproepinstruksies vir diensplig ontvang het. Later was daar wrede papiere, die wegwys van liefde, giftige koerantresensies, aanmanings vir studieskuld.

      Vir eers was dit net vreugde. En toe, kort ná die eerste Bollie, verander my en my pa se lewens.

      Ek verjaar. My ma maak ’n koek, dis ’n lokomotief uit sjokolade, ek kan nie my oë glo nie, hoe het Ma hierdie hele ding gemaak? Oupa en Ouma daag op uit Wellington. Dis een van die beste dae ooit. Maatjies daag op. Wie’t hulle genooi? (’n Bietjie grys ontsnap uit my tas.) Ma sit die koek neer en almal sing. Ek wil die skoorsteen eet. Ek breek dit af, dis ’n leë toiletrol met versiersuiker. (Nog grys.) Ek besluit ek sal die kajuit eet. Dis ’n leë tissue-doos. (Baie grys!) Uiteindelik is daar iets om te eet, die sjokolade-rol in die middel, maar ek is nie meer lus nie. My pa gee my geskenk, dis ’n rugbybal, splinternuut en ligbruin, uit leer of plastiek, ek maak my oë toe en wens, ek maak my oë oop, dis nie ’n paaseier nie, steeds ’n bal. Ek laat dit lê. Ouma gee haar geskenk. Dis toegedraai in Kersfeespapier. (Die grys raak minder.) Ek maak dit oop. Dis ’n papierpop, ’n meisie met velle en velle klere wat jy kan uitknip, met klein strokies wat om haar lyf vou en die klere laat bly kleef. Sy kan ’n prinses wees, ’n skooljuffrou, ’n polisievrou, ’n dame met haar eie winkel.

      Een ding van Ouma – sy kon inkopies doen soos geen ander. Sy het gereeld groot bruin papiersakke by haar kombuis ingesleep en begin uitpak. Twintig dose kanariesaad. Dertig bottels hoesstroop. Veertig pakkies oranje haarkleursel.

      Oupa: Wat maak jy met die saad? Wie het budjies?

      Ouma: Dit was op uitverkoping, dis mos simpel om so ’n bargain daar te los.

      Oupa: En die stroop? Wie hoes?

      Ouma: Jy! Binnekort!

      Oupa: Nee magtag, Ouma, en die kleursel?

      Ouma: Ben, daai apteek maak toe, die goed is afgemerk, as die verkeerde vrou dit in die hande kry, gaan sy haarself bespotlik maak, ek moes dit vat.

      Ouma was beslis iewers in ’n winkel, het moontlik met ’n vragmotortjie of ’n stel boublokkies gestaan en toe gesien die papierpoppe is baie goedkoper. Dis al. Maar dit verskuif my werklikheid so vinnig soos wat jy ’n skêr uit ’n laai kan haal. My prinses verander van gedaante binne minute, sy beweeg tussen wêrelde. Die maatjies verdwyn, Ouma-hulle vertrek, Ma was skottelgoed, Pa bad my boetie, ek is in my kamer, die deur is toe, die grys is weg, ek knip ’n bloes. Ek droom nie van ’n vlegsel oor my rug of ’n rok oor my lyf nie, ek wil nie ’n meisie wees nie, ek het bloot werk om te doen, ek trek my prinses aan en ek hoor hoe sy praat, sy sê die vreemdste ding: Eendag kan jy net so vinnig van klere verander.

      Wanneer? vra ek.

      My pa maak die deur oop. Ek kyk nie op nie. Hy maak die kas oop en sit die rugbybal onder by my skoene. Hy sê niks, hy maak net die deur agter hom toe. En hy het dit weer gedoen, elke keer as ek sy hart breek.

      ’n Tafel vir Prentjie

      Iewers naby die kerk het die hoofstraat se teer verdwyn en daar waar gruis in grond verander het, het hulle op ’n ry gesit: kerk, skool, tennisbane, koshuis. In hierdie koshuis het my ma ’n paar keer per week gewerk, sy moes toesig hou totdat die son begin sak. Op hierdie dae moes ek ná skool my tyd daar deurbring, ek het geen idee waar my boetie was nie.

      ’n Paar jaar gelede het ek die dorp vir die eerste keer besoek nadat ek op die ouderdom van nege daar weg is. Ek is genooi om ’n vertoning in die kerksaal te lewer, hierdie saal was altyd ’n reusegebou waar al die dorp se planne begin het of beëindig is, ek was geskok om met my terugkeer te sien hoe klein en beknop hierdie saaltjie inderdaad was. Dit het al ’n paar keer gebeur: kindergeboue wat met die jare só gekrimp het dat dit tydens ’n herbesoek meestal onherkenbaar en altyd erg teleurstellend was. Dit sou dus ook die geval wees met die koshuis, maar vir die doel van hierdie verhaal hou ek hom in sy oorspronklike vorm, lank, bleek en verdoemend.

      Die inwoners het bestaan uit plaaskinders – die nasate van voorspoedige én sukkelende boere – wat almal Vrydagmiddae terug is huis toe, stadskinders wat hierheen gestuur is om uit die moeilikheid te bly en ’n paar dorpskinders uit families té ellendig vir enige vooruitsigte. ’n Paar moes naweke en selfs vakansies hier bly. En wanneer my ma op diens was, het ek gedwaal, middag na middag.

      Die jongste kinders het buite gespeel, die res moes huiswerk doen in die eetsaal, ek was ook nog te jonk vir rêrige huiswerk en het gedwaal. Die voordeur het oopgemaak in ’n klein portaal en daarna kon jy links of regs draai in ’n lang gang met bleek, blink vloere en, aan weerskante, baie deure. Daar was ’n vergete sitkamer, ’n kantoor, slaapkamers vir personeel, slaapkamers en slaapsale vir skoliere (ek weet nie hoe dit bepaal is wie in sale slaap en wie in kamers nie), badkamers en die eetsaal. Aan die einde van die gang, beide kante, was daar skerp draaie na nog kamers en die agterste lang vleuel wat bestaan het uit waskamers, stoorkamers en die kombuis, uit die lug dus ’n perfekte 8.

      Hier was geen plesier nie, dalk vir ander, maar ek kon niks opspoor nie, nie ’n enkele mooi ding nie, geen geheimsinnige hoekies of dansende skaduwees, net leë mure, kamers en kinders. En Die Reuk. Daar was ’n onmiskenbare reuk wat nie vir ’n oomblik wou wyk nie, nie die van skoonmaakgoed wat steeds so gewild is in blink gange nie, nie die van hoenderpastei wat

Скачать книгу