Скачать книгу

die hoofman. “Sal jy weer op Diamond ry?”

      As antwoord loop Danny beslis na die perd toe en klouter sonder hulp op sy rug.

      “Ons het vriende geword, ek en Diamond,” mompel sy en hou die teuels stewig in haar een hand.

      Teboho Mapha kielie sy perd in die flank. “Hie-ha!” bulder hy en die perd stap vorentoe.

      Danny volg sy voorbeeld. “Hie-ha, Diamond! Nou’s dit ek en jy!”

      Dis ’n baie smal bergpaadjie. Aan die een kant is die duiselingwekkende afgrond. Teboho Mapha het haar aangeraai om Diamond nou te vertrou – sy perde is voetseker en ken die bergroete.

      Sy het die ou man dopgehou en gesien hoe sy lyf ritmies saam met dié van sy perd beweeg, en hom begin naboots. Dit maak sake makliker vir haar agterstewe en sy word nie meer so rondgeskud nie.

      Die Desemberhitte is oorweldigend. Sy het nie sonskerm nie en al wat sy kan doen, is om haar hoed dieper oor haar oë te trek. Sy kyk na die stand van die son, dan na haar horlosie. Dis al ná vyf. Iewers gaan hulle seker plek kry om te oornag.

      Naby die kruin swenk die smal paadjie na regs. Doer voor gewaar Danny nou ’n aantal hutte en buitegeboue.

      “Dis ramotse Bonang, se plek. Hy ken my goed en ons sal daar kan bly vir die nag.”

      Spoedig is hulle in die middel van die gemeenskap, wat laggend en verwelkomend wuif. Die huis met drie pilare moet seker aan die hoofman behoort, raai Danny. Haar vermoede word bevestig toe Teboho voor die veranda halt roep.

      “Wag hier, kaptein.”

      Danny wag tot hy binne is voor sy van Diamond afspring. Sy strek haar bene, wat voel of hulle oor die laaste uur bak getrek het, maar hou die leisels nog stewig vas. Kinders drom om haar saam en praat opgewonde, beduie na haar kop. Sy wens sy kon hulle verstaan. ’n Ouerige vrou kom uit met ’n beker water en twee blikbekers. Sy sit dit op ’n tafeltjie neer.

      Dan verskyn Teboho Mapha en ’n jongerige Sotho-man. Dié skink vir hulle albei water uit die beker, wat hulle met openlike genot drink. Danny, wie se tong aan haar verhemelte kleef, kyk jaloers toe. Die gaasdeur gaan darem weer oop en die ouer vrou kom uit met ’n glas water vir haar.

      “Dankie,” prewel Danny.

      “Come,” sê die vrou voordat sy skerp praat met die kinders en hulle in alle rigtings spat. Danny kyk na haar gids en hy knik sy toestemming. Die vrou neem Diamond se leisels en Danny volg haar. Wat anders kan sy doen? Hier het sy geen gesag nie.

      Die hut waar die ouer vrou haar binnelei, is koel en die reuk van die strooidak is verfrissend. Daar is ’n lendelam wastafel met ’n waskom en lampetbeker, maar sonder water.

      Teboho Mapha praat skielik agter haar. Hy het geruisloos binnegekom met hulle slaapsakke.

      “Hier moet die vroue elke dag by die berg af loop om water te gaan haal. As jy dus water wil hê, gaan jy moet bargain met die hoofvrou.”

      “Hoeveel kos dit?”

      Hy lag. “Geld? Wat moet hulle hier maak met geld? Jy’t nie iets anders nie? Miskien krale?” Hy vat aan sy linkeroor. “Of wat van daai goud aan jou ore?”

      “Nee, nie dit nie!” Danny bedek instinktief die klein oorbelle wat sy sedert haar veertiende verjaardag byna pal dra. ’n Laaste geskenk van haar pa.

      Die ou man haal sy skouers op en die boodskap is duidelik: Bly dan maar dors en stowwerig. Toe onthou Danny van die stringetjie varswaterpêrels wat sy saamgebring het. Nog by Piet Hector gekry, in beter dae. Dié kan gaan.

      “Ek het iets.” Sy hurk by haar slaapsak en woel die gespe los. “Jy sal moet vertaal, Teboho.”

      Hy lyk weer geamuseer. Hierdie mense van die stad wat kom en dink hulle kan alles met geld koop.

      ’n Ligte skemer is besig om oor die berglandskap neer te daal toe Danny by die hut uitkom. Sy voel wonderlik verkwik – sy het skoon gekom met omtrent twee koppies water. Wys jou hoeveel mors ’n mens in die stad.

      Teboho hurk by ’n vuur. Bo die vlamme hang ’n pot waaruit ’n hemelse geur kom.

      “Wat is dit wat daar kook?” wil Danny weet.

      Droogweg merk hy op: “Mens kry nie net een ding vir ’n bargain nie. Die hoofman se vrou het my ’n hoender gegee. Ek wou jou roep, kaptein, sodat jy die nek kan afdraai, maar het toe maar daarteen besluit. Julle stadsjapies ken nie van hoendernekke omdraai nie.”

      Danny onderdruk ’n rilling. “Dankie, Teboho.” Sy hurk langs hom by die vuur. ’n Paar kinders staan skamerig nader, hulle oë gevestig op haar. Sy glimlag, maar hulle hou net aan staar.

      “Is my gesig vuil of iets?” vra sy onderlangs.

      “Gie-gie,” lag haar gids. Hy steek sy hand uit en raak aan haar kop. “Dis hierdie rooi hare van jou. Die kinders hier is nie gewoond aan daardie kleur nie. Hulle sê dis óf die dag se breek óf die son wat ondergaan.”

      “Ek gaan omkap as ek nie binnekort iets eet nie, en daardie heerlike geur help nie.” Danny kom orent en gaan die hut binne, waar sy in die donkerte in haar sak grawe vir haar selfoon. Sy vind dit, kom uit daarmee. Miskien kan sy haar ma in die hande kry.

      “Wil jy bel? Dit sal nie werk nie, kaptein.”

      “Jy bedoel die sein …”

      “Dis die water. Was die foon nie in jou broeksak toe ou Diamond besluit het om jou te bad nie? Gie-gie.”

      Natuurlik! Sy voel soos ’n idioot. Wonderlik. Hier is sy dus iewers in die Malutiberge sonder enige kontak met die buitewêreld, danksy die ellendige Diamond. Sy moet darem toegee dat hy ondanks sy waterkaskenade haar mooi al die pad tot hier gedra het.

      “Weet hulle iets van die bruin SUV?” vra sy.

      Die ou man knik. “Dit was ook hier verby. Oor die berg is net een pad. Perd of four-by-four, almal moet dieselfde pad vat.”

      “Hoe lank terug?”

      Hy hou twee vingers omhoog. “Maar daar was ander ook. Een wat lyk soos ’n army lorry was saam met die bruin SUV hier deur.”

      “Lesotho s’n?”

      Hy haal sy skouers op. “Die vleis is taai. Die vroue het my verneuk – hierdie is ’n ou hoender as jy my vra. Gaan haal die borde, kaptein!”

      Hoofstuk 14

      Anton Vermeer hou net soveel van die jong man as wat hy geweet het hy sal. Dalk nog meer. Gemeng met die fisieke aangetrokkenheid knaag skuldgevoelens aan sy binneste. Wat ’n opdraande stryd het Marx nie vanaf sy kinderdae gehad nie. Daarby moes hy sy droom om dokter te word opoffer. So ’n sensitiewe jong man. Hy praat uitstekend Engels en sy intelligensie blyk uit alles wat hy sê, finansiële struikelblokke ten spyt. Met so iemand aan sy sy sou hy die wêreld kon wys dat die land ná soveel onsuksesvolle pogings tog ’n nuwe era kan binnegaan.

      Marx roer in sy arms en maak sy oë oop. Hy het lang wimpers, merk Anton op en streel oor sy gesig.

      “Sal ek vir ons nog vonkelwyn bestel?”

      “Nee, dankie.” Daar is ’n glimlag in Marx se stem. “Ons gaan nie langer hier in jou suite bly nie. Die res van die aand doen ons wat ek wil. Jy’t belowe.”

      Anton lag goedig. “In jou hande laat ek my aand – en nag. Wat beplan jy?”

      “Opwinding, soos ek gesê het. Trek aan.”

      “Ek hou net nie van klubs nie.”

      “Ek ook nie. Waar ons heen gaan, is dit stil. Net die geluid van water. Miskien ’n verdwaalde nagvoël.” Hy knipoog, staan op en begin sy broek aantrek.

      Anton swaai sy bene van die bed af. Sulke tye is hy bly dat hy sy gewig in toom hou.

      Tien minute later sit hulle in die motor wat Gabriël vir Marx geleen het.

Скачать книгу