Скачать книгу

die laaste barensnood en kindergeboorte – is soos ’n rukwind in die tent. Die kind swaai om na haar toe. Sy praat sagter, soos wat kinders met kruppel lammers praat: “Jy het van ’n donkie afgeval.”

      Asof sy dit nie weet nie.

      “My suster sal ’n klip van die kole af bring.”

      Die sussie, seker so veertien jaar oud en swanger, daag op asof sy geroep is. Sy hou vuil lappe met ’n groot, plat klip daarop na ’n ouerige vrou toe uit. Die vrou vou dit in die lappe toe, frons en sit die bondel op die tentvloer neer.

      “Dis nog te warm,” verduidelik die kind uit haar eie.

      Twee vroue vat Sara aan die nek en heup, rol haar stadig om.

      Sy kerm; sy hoor haar eie gekerm. Hulle laat haar terugrol en haar skouer rus op die warm, toegedraaide klip.

      O, Adonai, dit help.

      “Wat is jou naam nou weer?” vra sy vir die kind.

      “Abi-Yatum,” kry Sara die antwoord saam met die reuk van ’n verrotte tandjie iewers in haar mond.

      HOOFSTUK 2

      Hier naby, naby die plek waar mense die waarsêers raadpleeg, het Mamre en sy broers vir jou gevra: “Wat moet jy prysgee, Abraham? Waarsonder is jy wanneer jy van jou god af wegdraai?” “Myself,” het jy geantwoord. “Alles van my.” Nou, byna vyftig jaar later, op die twintigste dag van Lente, is ek vroualleen hier by Hebron. Ek wou nie alles van my prysgee nie. Julle, my Abraham en Isak, is my alles. Ek wou soek totdat ek julle weer vind. Maar El Shaddai het my gister op die karavaanpad neergevel.

      Eers was daar die loeiende wind wat haar en die twee seuns die hele middag geteister het en hulle telkens met donkie en al uit die bergpas wou slinger. Toe die eerste skudding, soos ’n rilling in jou liggaam. Het ek so pas erg geril? Is ek besig om siek te word? Of verbeel ek my? Is ek net totaal uitgeput?

      Nog ’n rilling. Dit is óm my, nie ín my nie. Ek het al so baie rillings in my liggaam ervaar vandat die Apiru die nuus by Berseba aangebring het. Maar hierdie een is van buite, van onder, van oral. Van bo. Só onstuitbaar en groter moes die skudding by Moria op die veertiende dag van Lente gewees het.

      “Ons gode sal hulle nie laat verslaan nie,” het die Apiru eers vir die veewagters en toe vir Rahel-van-Eliëser gesê. “Ons gode sal aanhou om die aarde te skud soos dit by daardie berg geskud het. Ja. Die gode van Kanaän weet hoe julle meneer Abraham hulle haat. Ja.”

      Onverskrokke, getroue Rahel.

      “Tannie Rahel ís mos die goedste van die almalste vir jou, Eema?” Isak op drie, toe hy gesien het wat ’n kind van drie nie behoort te sien nie. Sara het gehuil omdat Abraham die vorige nag teen haar lyf oor dood gehuil het. Dooie veld. Brandmaer ooie wat op wankelrige bene oor dooie lammers staan en weeklaag. Dooie hemele. Dooie kyk in die oë van die veewagters. Twee jong veewagterseuns met oë vir dieselfde veewagtersdogter, twee seuns in dieselfde nawûm – Abraham se veewagterskamp by Berseba – vasgekeer, en geeneen kan sy begeerte na die dogter prysgee nie. Twee vasgekeerde byna-manne wat mekaar bestorm soos bokramme mekaar bestorm. Twee seuns van twee ouerpare, en die een wurg en skop die ander een dood.

      ’n Ouerpaar, nawûm-mense wie se name nooit soos dié van konings of van Melgisedek, die priester van die Allerhoogste God, in Salem tussen mense genoem sou word nie, draai hulle seun in doeke toe en kap, grawe, kap, grawe ’n graf in die aarde wat hom nie wil laat oopkap nie. Nie vir putte en die versteekte waters van ou riviere wat voor die tyd van Noag in dié gebied was nie. Nie vir die aanplant van bome nie. Nie vir dooies nie. Die naamlose mense van die veewagterskamp ween, die hemele kyk traanloos, reënloos, toe.

      Toe die seun ingespit is, vlug die veewagtersdogter van die oorwinnaar af weg. Daardie nag huil Abraham teen haar lyf soos wat die hemele eerder moes gehuil het.

      Die volgende dag huil Sara by Rahel-van-Eliëser. En al wat Rahel doen, is om saam met haar te huil, kop onderstebo asof hulle, sonder om aan mekaar te raak, steeds oorkant mekaar by die graf van die ingespitte byna-man staan.

      “Hoekom huil Eema, hoekom huil tannie Rahel?”

      Isak was so ontsteld.

      “Tannie Rahel huil sommer saam met Eema oor grootmensgoed.”

      Hy het van die een na die ander gekyk en nie verder uitgevra nie. Die vorige dag reeds het Sara die onskuld uit sy ogies sien wyk. Sy het Ismael gevra om hom by die tent besig te hou, maar terwyl sy staan en staar hoe sy pa en broers die skaapwagterseun se liggaam met growwe woestynsand toegooi, het sy Isak se arms onverwags om haar bobene gevoel: “Eema? Hoekom maak hulle só?”

      Hy het geskree, en Rahel het hom aan die arm gevat, na haar toe getrek en haar hand ferm op sy mond gedruk. “Sjuut. Jy kan nou-nou hartseer wees. Mens raas nie hier nie.”

      Hy het opgekyk. My kind se oë het die dood van ’n mens gesien het Sara gedink. Nou weet hy.

      “Alles maak klaar met leef,” het Rahel op pad terug vir hom gesê. “Veldappeltjies, wurms, motte, voëls, slange, torre, diere. Jy weet mos.”

      “Ek wil nie klaarmaak met leef nie!”

      “O, jý, jy het nog baie lewe oor, klein-Meneer Isak. Jy kry dan nou eers spiere! Laat ek voel daar aan jou boarm?”

      Hy het vuiste gemaak, kleinseuntjiespiertjies gebult met waterige snot en nat trane wat in die wrede sonlig op sy gesig blink.

      Rahel het gevoel en geknik. “Mooi. Regtig mooi. Dis van al die hout wat jy vir my aandra, nè?”

      Sara het hom tent toe gevat en die stof van sy gesig afgewas, net met ’n paar vingerpunte water – selfs daarvoor was daar skaars water oor. Maar hy was getroos. Rahel het hom vertroos.

      Rahel, die moederdier vir haar en Isak. Die suster, die ouma in ma Lahazib se plek, die leeuwyfie. Rahel het die Apiru op die sewentiende dag van Lente soos ’n leeuwyfie tegemoetgestap, hulle gesmaal oor die God van Abraham aangehoor en hulle glo geantwoord: “Sê wat julle wil. Ons weet wat ons weet. Maar dit is nie waarom julle hier is nie. Sê wat julle wil sê. Wat kom julle hier sê, behalwe dat die aarde op die veertiende dag van Lente by Moria geskud het?”

      Gister – vyf dae ná die veertiende dag van Lente1 – het dit ook hier by Hebron gebeur, Rahel, dink sy. Was dit gister? Dit is nie die gode van die Kanaäniete wat hier aan die bergpas bo Kirjat-Arba2 ruk nie, het Sara net voor die val gedink. Dalk is dit ek. Dalk is dit my hart. Of is ek daar waar verwilderde oumense drogbeelde sien?

      Die bergpad voor haar het gekink en gekrul soos ’n slang waarvan Rahel-van-Eliëser die kop pas verbrysel het. Die rotse bokant die bergpas het gebewe.

      My oë sien al heeldag lank nie helder nie, het Sara gedink. Alles is al heeldag lank vol rukkings: ’n wiebelrige landskap van diepe ontsteltenis. Ek veg vir asem; ek hoes my asem al heeldag uit. My siekte kry nou die oorhand oor my.

      Maar die skuddings in die bergpas het erger geword, asof dit sedert die veertiende dag van Lente ’n ondergrondse weg van Moria af oopgebreek het. Asof dit op ’n draai in die bergpas naby Kirjat-Arba uit die dieptes opgekom het. Reg voor haar het dit gelyk of ’n reusemol die grond van onder af opstoot. Daar was ’n uitstulping, ’n bars dwars oor die bergpad, vlak voor die hoewe van haar rydier. Maar die skudding was nie net van onder nie, dit was oral: in die berg, in die lug.

      Toe die aardbewing Ur in die derde jaar van haar en Abraham se huwelik getref het, het almal van die Leviatan gepraat, ’n watermonster wat uit die see gekom en in die Eufraat beland het. Dit is hy, het die mense van Ur gesê. Die Leviatan soek sy pad terug na die see toe.

      Die skudding in die hoë rante bokant Hebron was skrikwekkender as dié van die Leviatan. Wat is hier in die rante? Vir wie kan die doderyk nie meer gevange hou nie?

      In een oomblik het sy van dié aardbewing in Ur-Ma onthou. Die tyd tussen die verre verlede en die dag waarin jy jou bevind, kan immers plotseling uitgeslaan word, soos ’n kleimuur in ’n oogwink met swaar hamers te pletter geslaan kan word. Destyds, in Ur-Ma,

Скачать книгу