Скачать книгу

mense en “radikale” blankes in Suid-Afrika en in die buiteland lyk my lê te veel klem op politieke probleme en die mensonterende gevolge van ’n verdrukkende stelsel, bv. gesinne uitmekaar, marteling van vroue en selfs kinders. (Terloops daar word blykbaar ook talle kinders onder 11 jaar in Suid-Afrika aangehou. Verlede jaar is ’n tweejarige en ’n drie-en-’n-halfjarige kind in aanhouding dood. Mev. Mabata se dogtertjie, twee jaar oud, is saam met haar uitgehonger. “Sy is mos ook ’n kommunis,” was blykbaar die polisieman se woorde. Volgens Amor kan ’n mens inligting hieroor by die British Council in Londen kry.) Die probleem in Suid-Afrika (soos in die buiteland) is wie/wat om te glo. Soms, nee dikwels, lyk dit egter of die buiteland nie so verkeerd is nie? Op die ou end het ons saamgestem dat jy wel ’n hartchirurg kan/moet wees, maar dat jy steeds jou politieke oortuigings moet uitleef. Ons probeer dit tog doen? Ons het net nog baie om te leer. Of moet ons maar eerder heeltemal buite die struggle staan? Wat sou Christus gedoen het? Sy dissipels was dan o.a. ’n seloot en ’n tollenaar?

      Toe kom ons by diensplig uit en by die hele vraag teen wie veg jy. Is die kommunistiese bedreiging rêrig so erg? Is dit nie net baie propaganda nie? Die Suid-Afrikaanse regering se invalle in buurlande, selfs tot in Tanzanië, veroorsaak destabilisering. Ons het ook gesels oor die hele kwessie dat die ANC volgens hulle nie ’n alternatief behalwe geweld het nie. My vraag is of geweld noodwendig bomme op sagte teikens moet insluit.

      Nou wat sê ’n mens van al hierdie dinge? Ek is so bang dat ’n mens kan sê, ag, hulle weet nie wat is die realiteite nie, hulle oorreageer, hulle is eensydig, en dan is dit dalk nié so nie.

      Op die ou end voel ek net: goed! goed! goed! Kom ons hou op praat en raak betrokke by die nood rondom ons, kom ons soek die Here met ons hele hart. Is dit nie Fano-hulle se geheim nie? Of is hulle nou weer nie polities genoeg/werklik betrokke nie?

      Wel, dis amper halfdrie. So, miskien moet ek maar eerder gaan slaap. Ek is nou net so helder wakker.

      Wilhelm

      Al dié min slaap het natuurlik beteken dat my MA-verhandeling nie veel gevorder het nie. Ek was egter nooit spyt daaroor nie, want ek het baie meer by die mense van Mauritsstraat 76 geleer. Die volgende paar briewe lyk miskien op die oog af soos ’n syspoor. Terugskouend besef ek egter al hoe meer hoe belangrik dit was om nie net deur Amor se politiek geskok te word nie, maar om terselfdertyd op ’n persoonlike vlak, vanuit my verhouding met Rudolf, radikaal te begin twyfel oor wat dit beteken om “vir Jesus te stry”.

      Gegewe my destydse ideaal om eendag ’n predikant te word, het dit my tot in my fondamente geskud om te besef hierdie Stryder vir Jesus se selfversekerde en rigiede NGK-verset teen die “vuilheid” van homoseksualiteit is in stryd met die hart van die Christelike evangelie. Dit was asof mure rondom my bereidheid tot onvoorwaardelike naasteliefde afgebreek moes word. Dié traumatiese ervaring het baie bygedra tot die trefkrag van Amor en kie. se kritiek dat ook my politieke huis op sand gebou was. Dit sou egter nog heelwat sloopwerk en rekonstruksie verg voordat ek saam sou begin bou aan Albert Luthuli-hulle se ideaal van ’n tuiste vir almal in Suid-Afrika.

      17 Julie 1986, 15:00

      Liewe Melanie

      Ná nou die aand se politieke gesprek – waarna ek tot so laat gesit en brief skryf en daarna sleg geslaap het – het ek deur ’n snaakse depressiewe tyd gegaan, ek was na binne gekeer, ek wou niks met hulle te doen hê nie. Hulle het my baie geïrriteer. Dan weet ek: Ek is besig om te oorreageer, ek is onbillik in my kritiek op hulle, ek mag nie veroordeel nie. Maar dan vóél ek nie so nie.

      Eintlik wil ek jou vertel van die dinge waaroor ons gesels het: Rudolf het iets gesê oor dat hy ’n homofiel is. Ek wou weet wat die verskil tussen ’n homofiel en ’n homoseksueel is. Toe begin ons sommer bietjie oor die tipe dinge gesels en veral ook oor die invloed wat Aids op dié beweging gehad het.

      31 Julie 1986, 21:30

      Ek het só baie dinge en ervarings hier in my binnekant waaroor ek met jou wil gesels. Ek weet nie eintlik waar om te begin nie.

      Vanaand is ek so 19:30 af dorp toe, want dit was mos weer “koopavond”. Nou ja, toe gaan ek na ’n boekwinkel om na ’n paar teologiese en filosofiese boeke te gaan kyk. Daar was ook ’n hele afdeling oor “sexologie”. Ek het veral na boeke oor homoseksualiteit gesoek. Ek het o.a. ’n boek gesien van ± 50 Rooms-Katolieke nonne se ontboeseminge en stryd as lesbiërs, wat nogal ontstellend was. Toe dink ek sommer weer aan Rudolf en Pieter (sy vriend) wat vannag drieuur wou gaan bad het. Toe besef ek net weer hoe min ek van dié wêreld verstaan.

      Nou ja, wat die politiek betref, dink ek, moet ek eers vir jou van die artikels stuur wat ek gelees het. Ek weet die saak is nie so eenvoudig nie, maar ek het nie altyd antwoorde nie. Dan wonder ek of Fano, en positiewe swart mense soos hy, rêrig weet wat aangaan, bv. in Soweto en ander stede waar die eintlike en relevante politieke onrus is?

      23:55

      Ek voel sommer nou báie beter. Ek het netnou Rudolf by die trap sien opkom toe ek ’n bietjie tee gaan haal het en kry toe skielik die ingewing om vir hom te gaan vra of hy nie lektuur het wat hy vir my sou aanbeveel om te lees nie, want ek wil graag meer uitvind van homofilie. Toe gee hy my ’n paar tydskrifte wat oor homoseksuele onderwerpe handel.

      Dit is so asof ek bevry voel nadat ek met hom gesels het. Ons het toe sommer oor politiek ook gesels en veral daaroor saamgestem dat dit maklik is om Suid-Afrika te kritiseer, maar dat min mense rêrig bereid is om betrokke te raak. Veral Nederland en Engeland het by uitstek ’n baie lelike koloniale verlede en sit nou met skuldkomplekse.

      Die lekkerste was net dat ek uiteindelik met hom gepraat en uitgevra het oor homoseksualiteit. Dat ek opgehou het om te wonder en bang te wees. Ek glo dat ’n mens op ’n manier tog die evangelie aan dié mense moet kan verkondig sonder om te sê dat hulle moet verander, sonder om hulle vir hul sondes te veroordeel.

      Dit is ’n bietjie anders as wat ek nou dink, want dan word dit nie meer normaal om heteroseksueel en abnormaal om homoseksueel te wees nie. Ek weet nie hoe ’n mens verby party Skrifgedeeltes gaan kom nie, maar daar is soveel derduisende mense wat dié seksuele oriëntasie het en nie anders kan/wil wees nie. Gaan dit nie op die ou end oor die kwaliteit van die liefde wat ter sprake is nie, bv. binne ’n homoseksuele huwelik? 1 Kor. 13 sê tog niks van net heteroseksuele seks nie. Is die gedeeltes in die Skrif wat hulle uitspreek teen sodomie nie juis binne die konteks van sondige wellus, sedeloosheid nie en dus nie noodwendig van toepassing op ’n heilige, toegewyde homoseksuele verhouding nie? Wat van ’n mooi, rein homoseksuele verhouding vs. ’n trouelose heteroseksuele verhouding? Is die maatstaf nie meer as blote seksuele oriëntasie nie?

      Dink net hoe moeilik is dit vir homoseksuele mense in ’n samelewing (kerk) wat bevooroordeeld en liefdeloos en onbegrypend is.

      6 Augustus 1986, 22:30

      Amor wou weer vanaand politiek praat. Ek het ongelukkig vir haar vertel dat ek vanmiddag lekker gesels het met ’n Amerikaner uit Chicago wat betrokke is by ’n Katolieke universiteit en verantwoordelik is vir buitelandse beleggings ($400 miljoen!). Toe gaan sy gal af oor al die groot maatskappye wat hul werkers so min betaal en uitbuit. Toe voel ek nie baie lekker nie.

      … Hier word met groot erns oor sanksies gepraat en dit is nie so maklik om die argument teen te gaan nie, veral omdat daar baie blankes is wat rustig in hul weelde voortleef en nie veel “worry” oor die hulpkrete van swart mense nie. Miskien hoor ’n mens hier ook net sekere groepe duidelik.

      Ek wonder hoe dit sou gewees het as ek nie saam met Amor-hulle in die huis was en nie ernstig gekonfronteer is met hul standpunte nie? Radikalisme is net so uitputtend, veral as dit van iemand soos sy met ’n sterk persoonlikheid kom. Dit is net baie moeiliker as wat ek gedink het om met radikale mense te werk. En sy is nie eens swart nie!

      14 Augustus 1986, 17:30

      Terwyl ons netnou buite gesit en eet het, begin Rudolf en Johan weer uitvaar teen die Afrikaner met sy laermentaliteit, sy onvermoë om van ander kulture te leer, sy immoraliteit m.b.t. politiek. Toe raak ek sommer vies en probeer om die ander kant van die saak te stel. Maar dit was so asof ek myself nie lekker in woorde kon uitdruk nie.

      Blykbaar

Скачать книгу