ТОП просматриваемых книг сайта:
Skepelinge. Karel Schoeman
Читать онлайн.Название Skepelinge
Год выпуска 0
isbn 9780798176118
Автор произведения Karel Schoeman
Издательство Ingram
UITVAART
Met die uitvaart het koopvaardy- en ander uitseilende skepe, waaronder ook dié van die VOC, gewoonlik op mekaar gewag en dan in ’n groot gesamentlike vloot vertrek. Toe die Engelse in 1666, gedurende die Tweede Anglo-Nederlandse Oorlog, ’n aanval op Texel loods, was dit dus vir hulle moontlik om 150 skepe met ’n enkele slag aan die brand te steek en te vernietig, en ook die kusstadjie West-Terschelling af te brand. Die houtskepe het natuurlik maklik gebrand.
Die Duitser Elias Hesse op die Sumatra het, so skryf hy, saam met 40 ander skepe, ‘waarvan geeneen behalwe ons s’n na Oos-Indië op pad was nie, die wydberoemde Holland verlaat en uit Texels Diep in die woeste wilde see onder seil gegaan’. David Tappe op die Elburg het in ’n vloot van 130 skepe vertrek, en die Drie Papegaaien was met die uitvaart vergesel van tientalle ander skepe, wat naas vyf Oosindiëvaarders ook vaartuie ingesluit het op pad na Sint Eustatius in die Karibiese gebied, Smirna in die Middellandse See, en Bordeaux. J.W. Vogel op die Hollandse Tuin het dit oor ‘98 groot en middelgroot skepe, vir ’n deel op pad na Smirna, Spanje en Portugal en deels na ander plekke, en werklik pragtig om te aanskou’.
Van sy tweede reis na die Ooste, op die Hof van Ilpendam, teken eerwaarde Valentijn aan: ‘Wy zeilden uit met een vloot van 9 Oost-Indische en 15 oorlogs-schepen van ’t land. Ook was er een fraey getal Curaçao- en Guineesvaarders die met ons zeilden. Wij telden 81 schepen in ’t vaarwater.’ Indrukwekkend moet ook die vertrek van die Berkel gewees het saam met ‘omtrent 180 zeylen’, waarvan 150 Groenlandvaarders was op pad om aan die jaarlikse walvisvangs deel te neem.
‘Die 13de Januarie om elfuur het die wind verander,’ skryf Christoph Schweizer op die Azië, admiraalskip in ’n vloot van vyf vaartuie, waarop daar 150 soldate, 93 matrose en 9 skeepsjongens was,
en op besonder gerieflike wyse uit die suidooste begin waai. Daarop is ’n kanonskoot van ons admiraalskip afgevuur, waarna alle ander skepe in die vloot hulle moet reguleer. Dit was die teken dat elke skip sy anker moes opwen en gereedmaak om te vertrek.
Die 14de vroeg het eers die Admiraal uitgeseil, in die oggend, met vlae en wimpels aan die groot mas; daarna het die Vise-Admiraal met ’n vlag aan die fokmas voor op die skip, vervolgens die Skout-by-Nag met ’n vlag aan die agterste of besaansmas, en eindelik die orige skepe, van die Hollandse kus in die Noordsee uitgevaar.67
En Nicolaus de Graaff op die Makassar:
Van Texel het ons op 13 Januarie met ’n goeie wind in see geloop, newens verskeie ander skepe, soos die Azië, Sticht van Utrecht, ’n fluit en ’n hoeker vir die Kamer Amsterdam, en die skip Den Briel vir die Kamer Hoorn. Op die 15de het ons die Hoofde bereik, maar moes deur teëwind in Duins skuiling soek, waar ons die skepe Tidore, Kortgene, die jag Muiderberg, die fluit De Stad Grave en ’n hoeker gevind het wat vir Oos-Indië bestem was, asook ’n groot vloot koopvaardyskepe en ’n aantal konvooiskepe.
Die volgende dag, die 16de, die wind oos lopende, het ons opnuut uitgeseil en saam met die hele vloot ons koers langs die Kanaal opgestel en dit voorspoedig deurgeseil, waarna die meeste skepe bestem vir Portugal, Spanje, Italië en Smirna ons verlaat het, benewens die konvooiskepe, sodat 10 Oosindië- en 6 Guinee- en Wesindiëvaarders agtergebly het, dog eerlank is ook óns van mekaar verstrooi.68
Ander skepe van die VOC het van die Goereese Gat in die provinsie Holland uitgeseil.
Skepe van die Kamer Zeeland het van Rammekens in daardie provinsie vertrek, en volgens Johann von der Behr was die Oranje deel van ’n vloot van 500. Die Vlaming Reynier Adriaensen het op die Huis te Merwede uitgeseil, ‘onder die losbrand van die growwe kanonne deur ’n vloot van 60 skepe wat almal voor Vlissingen gelê het, en óns ook met hul kanonne begroet het. Hier het ons volk begin roep, Adieu, adieu, het Vaderlandt!’
Ook die Ouwerkerk het van Rammekens vertrek, met J.S. Stavorinus as skipper.
Op 9 Maart 1774, toe die wind na die ONO omgeswaai het, het ek om seweuur in die oggend met die Onderkoopman Van der Stengh en die Onder-Ekwipasiemeester Duifvoet van Middelburg vertrek na Rammekens, waar die skip Ouwerkerk geanker was.
Sodra ons aan boord gekom het, het ons die loods en skipper van die Kompanjie se loodshoeker by ons laat kom; aangesien hulle die omstandighede gunstig gevind het vir vertrek, het ons om tienuur die slippe losgelaat en ons onder seil begewe.69
Daar bestaan noukeuriger besonderhede van die vertrek vanuit Middelburg van die Enigheid, ’n skip van die Middelburgsche Commercie Compagnie, wat die slawehandel bedryf het. Op 30 Augustus 1761 het die sogenaamde sjouwers of lasdraers begin met die laai van die skip, wat aanvanklik nog in die hawe van Middelburg gelê het, op 1 September is daar begin met die ‘optrommeling’ van die bemanning in die strate van Middelburg en Vlissingen, op 7 September het die voltallige bemanning aangemonster, op 26 September is die laai van die skip voltooi, en op 1 Oktober het die Enigheid van Rammekens uitgeseil, soos in die logboek van die opperstuurman vasgelê.
’s Morgens, de windt ZZO, ook WZO en weer OZO, slappe coelte [wind], met den dag ligten wij het dagelijks anker en cregen de loodts aan boord, zetten de boot in om 9 uuren, ligten het tuijanker en gaan onder zeijl, om 10 uuren passeerden Vlissingen, deden 5 schooten, en om 11 uuren kwaamen weer ten anker bij Dishoek, door windstilte en omdat wij in die vloedt niet konden opzeijlen, voorts namiddag, de windt ZW tot N labbercoelte [flou wind], en ’s nagts goedt weer tot ’s morgens.70
En so, soos J.F. Müller skryf, ‘het ons uitgeseil in die geweldige middernagtelike wêreldsee, die Noordsee of Mare Germanicum’; ‘Om onder des hemels milden zegen,’ soos die digterlike chirurgyn Abraham Bogaert dit geformuleer het; ‘door den grooten oceaan de reize naer den zuideruithoek van Afrika te aanvaarden, alomme in onze vaart bejegent door gunstige winden en makke waterbaaren [golwe].’
Nu ’t mutsjen af, en ’t vaderland,
Al juichend, eens gegroet.
Matroos! vlieg zingend in het want,
en schuifel met den hoed …71
GEBED
Behoedt ons, o barmhertige Vader, op dese onse reyse genadelijck voor alle quaedt ende ongeluck, voor blinde sanden, rotsen ende klippen, voor verschrikkelijke onweders ende tempeesten. Bewaert ons oock verder door uwe genade voor roofachtige ende bose menschen die haer geluck ende goedt stellen in haer evennaestens verderf en quaedt, als oock voor droevige schipbreuk ende ondergang met lijf en goedt; opdat wy, een gezegende ende behoudene reyse gedaen hebbende, met vreugde ende blijdschap tot het lieve Vaderlandt, tot vrienden ende maegen [verwante] als tot de aangename haven der begeerte mogen wederkeeren.72
Met die uitseil is Nederlandse skepe dikwels gou reeds deur stormweer oorweldig. Veral wanneer dit, gewoonlik in oorlogstyd, nodig was om met ’n ompad agter Skotland en Ierland om uit te reis, het die opseilendes met stormagtige weer en intense koue te make gekry: De Graaff het as chirurgyn aangeteken dat ‘veel van ons volk siek wierd, en ook enige gestorven zijn door de grote koude en ongemakken die wy aldaar hebben geleden’.
‘Het regende constant,’ het die skeepschirurgyn Ferdinand Dejean oor die vertrek van die Drie Papegaaien in die Europese somer onthou,
en de koude was fel, wat ons veel zieken onder de equipage [bemanning] opleverden; waarvan een deel losbollen waren, en een deel jong mannen die door hun misère verplicht waren geweest deze laatste uitweg te kiezen. Het was voor ons allemaal, een paar officieren en matrozen uitgezonderd, de eerste keer dat zij met een zo verpletterend element als de zee in aanraking kwamen. Het grootste deel ervoer dus weldra de onaangenaamheden van het ondernemen van zulke reizen in een voor hen zo trieste situatie.73
‘Wat vir ’n domheid het ons begaan?’ het die Duitser Jänzsch se vriend retories uitgeroep. ‘Inderdaad, was my antwoord; dommer kon dit nie gewees het nie.’ ‘Uit wanhoop het vele van