ТОП просматриваемых книг сайта:
Stories van Rivierplaas. Alba Bouwer
Читать онлайн.Название Stories van Rivierplaas
Год выпуска 0
isbn 9780624078111
Автор произведения Alba Bouwer
Жанр Учебная литература
Серия Rivierplaas-boeke
Издательство Ingram
Daardie nes by die stal is die tweede laaste nes. Die heel laaste nes, die een wat Alie aspris vir heel laaste bêre, is die nes in die holtetjie van die agterste kraalmuur. Ai, dis ’n lekker nes, al is daar byna nooit meer ’n eier in nie. Teen die tyd dat Alie daar kom, is ou Hoppies net besig om te melk, en Diek en Sammie, Hoppies se twee kinders, help die kalwers uit die kalwerhok uitjaag. Dan sit Alie die mandjie eiers langs die kraalmuur neer en klim op die muur, net by die plek waar Hoppies vir haar die groot plat klip gerol het om mee op te klim. Net soos haar wit koppie oor die kraalmuur kom, maak Diek so ’n ekstra klap met sy voorslagsweep bo-oor die arme kalwers in die hok, en dis net so goed soos wanneer Lulu sal sê: “Whê!” So is daardie klap, want Alie het al so baie geprobeer, maar sy kan daardie klap nie regkry nie. Dis te mooi as Hoppies so maklik op sy hurke sit onder ’n koei en hy melk sulke lang trekke dat die melk so sjor-sjor in die emmer opskuim, en tussenin sê hy kort-kort: “Soeka,” as die koei met haar stert waai en hom so deur die gesig vee. Sommerso sjor-sjor is sy emmer vol, dan rek hy hom regop, klap die koei op die rug en sê: “Tanki!” Dan klap Diek met sy sweep oor die kalwers, en Sammie keer die regte kalf uit met ’n groot geskree en gespring in die rondte. En as die kalf nog so ’n paar keer agteropskop soos hy na sy ma toe hardloop, dan hurk Hoppies al weer by die volgende koei.
Op ’n aand het Alie darem te lus gekry om net soos Hoppies te gaan hurk en sjor-sjor te melk. Sy moes mooi soebat, want Hoppies pruim nie soos ou Jantjies nie en jy kan hom nie ompraat met ’n pruimpie nie. Op die ou end het hy darem maar sy spanriem neergegooi en Alie van die muur afgetel. Toe moes sy gaan sit onder Kortkop, want sy is mak, het Hoppies gesê. Die hurk was maklik genoeg, maar toe sy so aan die spene trek, het daar g’n druppel melk gekom nie, nie eens ’n ou kolletjie nie. Diek het skoon vergeet om sweep te klap, en Sammie het die kalwers skoon gelos en met ’n mond vol blinkwit tande kom staan en lag. Toe het Hoppies sy kop geskud en gesê: “Nonwe Alie, sos jou arm hy’s dek jy sal banja moi mellek. Jou arm hy’s nog den.”
Maar toe het die moeilikheid gekom, want net toe Alie ewe bek-af omdraai om weer oor die muur te gaan klim, het ’n jong koeitjie wat die vorige nag gekalf het, haar geskraap. Hoppies het geskree, Diek het met die sweep geklap, Sammie het op en af gespring en Alie het genael en soos ’n kousbandslangetjie oor die hoë kraalmuur geseil, sommer bo-oor geseil en anderkant afgeval soos ’n ou ryp vy van ’n tak af, en so waarlik, binne-in die mandjie eiers wat anderkant op die grond staan! Sjoe, die deftige wit hoenders se eiers, die koekoeke se eiers, die ou swart henne se eiers, die rooibont hennetjies se eiers, die kapokkies se klein eiertjies, almal was stukkend, en almal se geel het strepe-strepe oor Alie se wit kop en oor haar rokkie geloop. Sammie en Diek het oor die kraalmuur gehang en ou Hoppieshet bo-oor gekyk en gesê: “Jôna whê!”
Alie het toe maar die biesieroeimandjie met die lang geel eiertoue wat daar uittap, opgetel en aangestap huis toe. Haar bene was nerfaf en haar arms was nerfaf en haar gesiggie was nat van die huil, en wat nie nerfaf en vol huil was nie, was vol eiergeel.
Ou-Melitie het haar voor die agterdeur gekry, haar opgetel en net so in Hennie se sinkbad vol water voor die kombuisstoof getel en begin skrop terwyl sy aanhou sê: “Jôna whê!”Toe tant Lenie uit die kamer kom waar sy Hennie in die bed gesit het, was Alie skoon, haar klere was uitgewas en die biesieroei-mandjie was wit geskrop, maar daar was nie een eier om in die kassie in die rondawel te gaan uittel nie. Tant Lenie het baie hard gepraat oor dogtertjies wat oor kraalmure klim en nie dames is nie en oor ’n koei wat oorlede Oupa geskep en bo-oor ’n kraalhek gegooi het dat hy flou anderkant val. En Alie het saggies gevat oor die dik salf wat ou-Melitie aan die stukkende bene gesmeer het en gewonder wat ’n mens moet maak om jou arms so dik soos Hoppies s’n te kry sodat jy ook sjor-sjor kan melk.
Voete was voor die stoof
AS DIE son op Rivierplaas ondergaan, moet Alie klaar wees met eiers uithaal, en ou-Melitie moet klaar wees met hoenders kos gee, en tant Lenie moet klaar wees met Hennie se bad. Dan gooi ou-Melitie ’n paar hande vol mieliestronke op die kombuisvuur in die swart stoof, steek ’n dik stuk doringhout bo-op in en sleep die klein sinkbadjie en die kombuisbankie tot voor die stoof. Alie staan eenkant en kyk hoe ou-Melitie se sisrok met sulke kort draaitjies om haar swaai en hoe sy die water uit die Piet-fluit-ketel met so ’n lang blink boog in die badjie gooi.
“Sj-ô-r, sjips,” sê die straal water as ou-Melitie die ketel skielik weer oplig bokant die badjie en dit dan so klinks! op die stoof neersit. Dan skep sy ’n groot beker koue water met die stroopblik-beker uit die blink emmer op die pottebank en gooi dit met ’n harde ghoemps! by die warm water. Maar die mooiste is die trienge-rieng wat ou-Melitie se drie koperdraad-armbande maak as sy haar lang maer hand vinnig deur die water in die badjie trek om te voel of dit warm of koud genoeg is. Elke aand wag Alie dat ou-Melitie nog ’n bietjie koue water of nog ’n bietjie warm water moet bygooi, maar dit kom nooit nie. As ou-Melitie se armbandjies klaar gesê het: “Trienge-rieng”, dan lig sy haar vinnig op, en haar blou sisrok maak ’n laaste draaitjie soos dit om haar enkels swaai: “Pakisa, nonwe Alie.”
Dan swaai Alie die ou bont strepieshanddoek hoog deur die lug en steek haar hand met die sepie op reg voor haar uit en sê: “Koningin van Skeba, mooiste vrou op Rivierplaas, ek bring vir jou my nederige gawe.” So van die “nederige gawe” het oom Jan gepraat toe hy laas vir die dominee se kollekte sy vetste hamel gegee het, en Alie het gedink dit klink so spoggerig om so te sê. Ou-Melitie plooi nie eens haar voorkop nie, sy vat net ’n slag vinnig aan haar kopdoek, net daar waar sy die klein plat blikkie snuif bêre, en sê weer: “Pakisa, nonwe Alie.”
“Ag nee, ou-Melitie, jy moet sê: ‘Buig laer, slaaf. Kus die stof van my voete af, dan sal ek jou nederige gawe aanneem.’ Dan sal ek verder sê: ‘Grote Koningin, heerser van Rivierplaas, ek aanbid die grond waarop jy wandel’.” Lulu se oudste suster het ’n boek met ’n prent in, en die man in die prent sê vir ’n maer meisietjie: “Ek aanbid die grond waarop jy wandel.”
“Nonwe Alie, pakisa. Die mevrou sy kom nou.”
Nou rol Alie die handdoek in ’n lang rolletjie en skiet dit in ou-Melitie se arms: “Ou-Melitie, jy laat nou kind doop en ek is die dominee. Staan nou mooi stil en knik net elke keer jou kop so af. Nou sal ek sê: ‘Aangezien de zijnde van zonde en geboren-ontvangen hiermede betuigen te dopen en dezulken’ …”
Nou maak ou-Melitie se rok ’n dubbele bogie om haar enkels soos sy vorentoe staan: “Nonwe Alie, sos jy kom set nie nou nie, meneer Jaan hy sal kom en jy sal hom self was darrie voet, elleke aand.”
Dan sê Alie se voete sommerso “ghomps-ghomps” soos sy hulle vinnig in die water sit en dan domps! op die bankie neerval. Oom Jan het lank, lank, lankal gesê: “Alie, jy is nou te groot vir die voetewassery. Ou-Melitie kan nie nou meer jou voete saans was nie, jy moet dit self doen.”
Tant Lenie was gelukkig by en sy het gou gesê: “Ag, Pa, as ou-Melitie dit doen, kom almal tog saans gouer klaar. Alie het nie end met speel as sy self ’n ding moet doen nie.”
Hierdie voetewassery saans in die sinkbadjie voor die stoof is so lekker soos ’n hele middag se speel. As Alie eers sit, maak die water sulke ronde warm kringetjies om haar bene en oor haar voete. Dan smeer ou-Melitie die waslap met sulke lang hale so sjlap-sjlap, en haar koperarmbande trienge-rieng, trienge-rieng aanmekaar. Eers die linkervoet – op, op, totdat ou-Melitie die hak mooi op haar linkerhand kan hou. Dan was sy met lekker lang hale trienge-rienge op en af teen die been en mooi sag oor die kolle waar dit nog dun is van die val van die kraalmuur af. Ou-Melitie was nooit hard oor seer kolle soos Emily, Hoppies se vrou, nie. En ou-Melitie onthou elke seerplek en sy vra altyd as daar ’n nuwe seer kol by is.
“Jôna whê, hierie roi streep, gastraand sy was nie so nie, nonwe Alie. Waar kom sy