Скачать книгу

voete, skaam vir sy part.

      Boet se naam word nie genoem nie. Tot ek eendag aan die etenstafel reguit na oom Isaac kyk wat kop onderstebo aan sy kos peusel. “Oom Isaac,” vra ek. Hy kyk op, hy’t geweet my vraag kom. “Wat het gebeur, oom?”

      Hy neem my na die slagplek. Daar, oor ’n draad om winddroog te word, en ingesout, hang ’n skaapvel.

      “Sy was een van die bestes,” sê hy, “een van my suiwerste ooie.” Hy vat-vat aan die vel. “Maar sy’t skeef geteel; drie seisoene agter mekaar was haar lammers gebreklik. Snaaks, nè, hoe die bloed werk.”

      En toe, met sy stem hees en sy oë op die grond, begin hy vertel.

      In die middel van daardie nag skrik ek in die gastekamer wakker, natgesweet. Ek sit regop in die bed, die grys vorms van meubels om my. Ek het ’n nagmerrie gehad:

      Ons wandeling word ’n begeleide toer. Oom Isaac is koorsagtig; sy hande bewe effens. Hy sluit die trofeë-kamer se deur oop. Sertifikate van ramskoue oor die hele land hang teen die mure. Foto’s van kampioenramme, wolveilings. ’n Telerskonferensie in Australië; oom Isaac as jong man langs oupa Johann, uitgevat in die modes van die tyd.

      “Kyk, kyk,” beduie oom Isaac. “Jou oupa op die ramveiling in Bloemfontein. Kyk, grootvader Johann tydens die wolontploffing toe Zuurpoort se wolpryse ’n wêreldrekord, Jac, ’n wêreldrekord, geslaan het. Alles moes gaan vir belasting, omtrent alles.”

      En in die hoek, op ’n pedestaal, opgestop, met net die kil glasoë wat die afwesigheid van lewe verraai, staan die oervader van die Zuurpoort-stoet.

      Een van Australië se topramme, ingevoer deur my voorvader, en by sy dood opgestop en gemonteer.

      Later wil ek uitbreek, die stoet druk my vas.

      Maar ek moet op die veranda gaan tee drink, saam met oom Isaac, oorlede Tante, oupa Johann, ouma Magtilt, grootvader Isaac, oumagrootjie Margaretha.

      Die ram kom op die voorstoep se trap staan, sy volmaakte kop hooghartig en sy oë gerig op die binnemeid wat met haar wit kappie tee bedien aan die familie op die veranda.

      “Waar bly Boet dan?” wil Tante weet.

      “Ek hoor iemand kom,” sê ouma Magtilt. “Dis seker hy.”

      Maar net ek kan, van waar ek sit, sien dat die voeteval nie dié van Boet was nie, maar die tred van die oerram van die stoet. Die ram se geel oë kyk wellustiglik na die bediende se bene, en toe sy met die leë skinkbord na binne gaan, snork hy en volg haar met gesperde neusgate, Zuurpoort se opstal binne.

      Ek maak verskoning en gaan binnetoe. Toe staan ek voor die hemelbed – en sien die bediende se verskrikte gesig.

      Ek probeer die droom afskud, sien ’n skrefie lig onder my kamerdeur. Ek stoot my deur oop. Dis die kombuislig wat brand.

      In die kombuis brul die stoof soos hy brand. Binne die oop hek is die potyster rooi verhit.

      “Oom Isaac?” vra ek.

      “Gaan slaap, Jac.” Stoom slaan op uit drie ketels op die houtstoof.

      Oom Isaac staan moeg by die stoof, stoppels op sy wange.

      Ek onthou hoe hy gepraat het, by die ingesoute skaapvel oor die draad.

      “Ek sal koffie maak,” sê ek. Sy oë brand ’n oomblik in myne. Hulle is onverwags blou. Hoe moes sy voorgeslagte nie met hom gepraat het die afgelope tyd nie?

      Hy gaan met ’n skottel warm water na die agterdeur; een van die plaaswerkers verskyn in die lig en neem die skottel by hom.

      Ek haal twee bekers van die rak af, gooi moer in die pot, kookwater daarby, en vieruur die môre in Zuurpoort se opstal, terwyl ons aan ons bekers suig, wag ek en oom Isaac, onderskeidelik agt en sewe geslagte verwyder van die stamvader, om te sien of die kind se oë blou gaan wees of nie.

      Treine

      Stasiemeester Ferreira kom uit die kleinhuisie waar hy gesit en peins het, met ’n wit stafie son wat deur ’n gaatjie in die sinkdeur val en deur die skemerte boor verby sy kop. As hy, waar hy sit, sy kop net effe kantel, skiet daardie straal son hom vol in die gesig, en dan is dit asof hy wakker word uit die hitte, en dan dink hy weer, agter die sinkdeur, tussen die morrende brommers, aan die stasie, die spoorstawe na weerskante, en sy kind en vrou.

      Nou trek hy die sinkdeur agter hom toe, voel-voel aan sy gulp, en knipper sy oë teen die ongenadige son.

      Agter die halte, dwars, lê ’n yl bergreeks, parallel met die glimmende spoorstawe wat weerskante wég van die stasiegebou pyl. Dit is harde Karoo, die yl berg is bruin en skurf, en soms in die skemer lyk dit soos een van die groot diere wat eeue gelede in dié wêreld deur moerasse geploeter het.

      Al groenigheid voor sy oë is ’n klossie peperbome met grondwalletjies om hul stamme. As die treine stil is, soos nou, kom hy uit die gebou, en dra na elke boom een gieter water. Die water sprinkel blink uit die tuit en word byna dadelik deur die grond opgesuig.

      Daar’s fout met sy vrou, tob hy terwyl hy die laaste druppels uit die tuit skud. Saans as hy van diens af kom, en met die gruispaadjie opstap na die voordeur, speel die kind in die stof langs die tuinpaadjie. Die kind het ’n paar karretjies, wat hy eindeloos rondstoot in die stof. As hy die tuinhekkie hoor en opkyk en sy pa sien, flikker daar ’n effense belangstelling in sy oë.

      Maar dan speel hy weer, stoot stofpaadjies met die handpalm, of sit by die leë visdammetjie en staar na die geroeste blikke en glasstukke op die bodem.

      Dit is die kind. Effens agter in die verstand, het die skool geskryf, en die kind oorgesit na die klas wat met hul hande werk, mandjies vleg en in die tuin skoffel.

      Dis tóé dat die vrou begin stil raak het. Of het hy dit toe maar net eers opgelet? Sy het altyd gekla oor die alleenheid – dit is ’n wye wêreld – as hy wegstap stasie toe in die oggend, en die skoolbus voor hul huis stilhou vir die kind. En die gesukkel met die tuin. Al wat wou groei, was malvas en vygies, en as ’n droogte kom, het selfs dié gevrek.

      En sy het begin drink. Saans as hy huis toe kom, was daar eers net ’n ligte surigheid op haar asem. Later meer. Een aand was die kind nie langs die tuinpaadjie nie. Die huis was leeg en die deure en vensters het oopgestaan. Hy het hul spore gevat; sy het met die kind die veld ingeloop. Hy het hulle gekry in ’n sandlopie waar sy met haar rug teen die wal sit en huil en die kind aan haar een arm hang en trek en sê: “Aag kom nou, Ma, aag kom nou, Ma . . .”

      Dis so in die middel van niks, het sy gesê. Net die treine kom verby, vol blink karre van General Motors wat van PE af binneland toe gevat word. Rooies en geles en groenes, en ook die kind staan oopmond as die trokke met die stringe nuwe karre verbykom.

      “Waarheen gaan die karre alles?” vra sy vrou altyd. Maar hy weet sy wil nie antwoord hê nie. Wat sy wil sê, is: “Kom ons gaan ook na die stad, of na ’n dorp . . .” Hier is vlieë en die huis is elfuur al weer vol stof nadat jy nege-uur uitgevee het; die stof kruip oor die drumpel, sypel deur die gaasdeur tot in die matte en komberse en matrasse.

      En dan kom die passasierstreine verby, snags, met hul verligte kompartemente en die mense wat binne-in op pad is, net iewers heen, neul sy altyd.

      Net iewers heen.

      Om halfses gee stasiemeester Ferreira oor aan die nagmeester, wat die twintig myl van die dorp kom. Met sy trommeltjie stap hy huis toe, die son sit al skuins en hy loop en dink hoeveel treine het deur sy sinjale gegaan daardie dag.

      Hy stap verby die kind in die tuinpaadjie. Die kind brom oor sy karretjies. Eenmaal het hy vir die kind ’n klein lokomotief gekoop. Dit het weggeraak en later het hy dit in die hoenderhok sien lê.

      Hy klap die gaasdeur agter hom toe, en die klossie vlieë draai om sy ore en gaan sit dan weer op die gaas.

      Hy roep na sy vrou. Sy antwoord nie. Hy stap slaapkamer toe. Sy sit op die bed en kyk hoe hy sy trommel neersit en sy swart baadjie uittrek en sy keps ophang agter die deur.

      “Naand,”

Скачать книгу