Скачать книгу

      Chris Barnard

      Mahala

      Tafelberg

      Vir Elsa en Klaas

      Voorwoord

      Met die verskyning van Chris Barnard se Mahala in 1971 is dit onder meer begroet as een van die mees fassinerende (E.H. Raidt) en vreemdste (Rob Antonissen) romans in Afrikaans. Na meer as drie dekades bly dit fassineer, maar betekenisvoller is dat dit ’n vreemde boek bly. En bes moontlik is klassieke werke juis dié wat nie hul vreemdheid – hul andersheid – met verloop van tyd prysgee nie.

      Maar waarin setel Mahala se vreemdheid? Westerse mistifiserings van Afrika het intussen verdag geword, maar gaan dit hier oor die mistieke vreemdheid van Afrika of gaan dit om die verbluffende wyse waarop die leser deur die roman vervreem word van alle geykthede sodat die ganse romanwêreld as immer vreemd, immer nuut en as ’n voortdurende ontdekking ervaar word? Afrika is weliswaar hier ’n vreemde, misterieuse en angswekkende ruimte, maar daar is weinig vertellings in Afrikaans wat so tuis is in Afrika soos Barnard se Mahala. Hierdie tuisheid in Afrika kry sy lê in die manier waarop die teks heeltyd van verwondering oor elke klein besonderheid van die omgewing getuig, in die manier waarop die verwondering in taal gestalte kry – taal wat onder jou vel klop soos die getjok van ’n rivierboot se enjin iewers onder die oppervlak van die water. Maar hierdie tuisheid van die taal in ’n bepaalde ruimte praat dan juis van die wesenlike ontuisheid van die mens, en in hierdie paradoks lê ’n groot deel van Mahala se krag. Soos die lug in die gramadoelas iewers in Mosambiek deurtrek word met die reuk van “bruin mangoblomme en die soet stank van broeiende palmblare”, so deurtrek eksistensiële angs die vertelling.

      Mahala is een van die merkwaardigste eksistensiële romans in Afrikaans, maar dit het niks van die onwennigheid wat dié soort vertelling dikwels het weens sy protagonis se daadlose ontuisheid in eie wêreld en eie vel nie. Barnard maak sy protagonis se beklemming aangrypend deur die leser aan die speur te hou na sowel die oorsprong as die uiteinde van Max Delport se angs, en hierdie speurtog word ’n indompeling in ’n toestand waarin alle opvattings omtrent oorsprong en gevolg radikaal geproblematiseer word, onder meer deur die volgehoue gebruik van die het-ge-verledetydsvorm waarin die onderskeid tussen ’n verre en meer onlangse verlede vervaag en bykans naatloos versmelt in Delport se angsbenewelde perspektief. Wat lê ten grondslag van Delport se angs? Waaraan is hy skuldig?

      Generasies lesers onthou dié toneel naby Mahala se einde: “Daar was ’n ronde gaatjie in die sifdraad van An se deur, een meter van die vloer af, en ’n gaatjie in die skewe muskietnet, en in lyn met dié twee gaatjies ’n rooi plek op haar bors …”

      Die gaatjie ken die leser in hierdie stadium al uit Delport se herinneringsvlugte, maar hoe pas dit in die tydsverloop in? Is dit die begin of die einde? Bestaan die kind wat voortdurend skugter buite die huis tussen die skadu’s in koes werklik?

      Vir die mens se eksistensiële geworpenheid, sy losdrywendheid, is die rivierboot Mahala in die roman by uitstek die simbool. In ’n stadium merk Delport die weerkaatste letters van die boot se naam rimpelend op die rivierwater en herinner hom die kaptein, Rodrigue, se verklaring van die naam: “Dis ’n onverstaanbare woord. Dis soos lewe. Dis soos ’n hele wêreld. Om die horison te wil inhaal – om te voet vir die son te wil vlug – om die goeie te wil doen en die kwade te … Dis so iets.”

      Per slot van rekening gaan Barnard se roman nie oor die besonderhede van Delport se skuld nie, maar oor ’n ervaar van die lewe as ’n onbegrypbare misstap waaraan jy per definisie aandadig is. En selde word die argument oortuigender gevoer.

      FRANCOIS SMITH

      Kaapstad, 2006

      1

      Vrees was al so deel van hom dat hy dit nie meer as vrees herken het nie. Dit was in sy versigtige, byna sluipende manier van stap; in sy onrustige, wantrouende oë; in sy buitengewoon sagte stem; in sy soms stamelende manier van praat.

      Hy het homself selde nog herinner dat hy versigtig moet wees, sy oë moet oophou. Dit was al vir hom normaal dat hy nie graag vreemdes ontmoet nie, dat hy net Caipemba toe gaan as dit noodsaaklik is. Die lawaai en ligsinnigheid van kroeë het hom geïrriteer. Vreemdes het hom verveel. Mense het hom uitgeput. Maar hy het nie een van hierdie dinge meer met vrees in verband gebring nie.

      Daarom het hy nie die middag aan Ritter gedink toe die meisie skielik met hom praat nie. Hy het net geweet hy wil haar afgeskud kry; want ’n mens, het hy gedink – enige mens – moet versigtig wees vir ’n meisie wat jou op straat voorkeer. Al lyk sy skaars sestien. Al lyk sy onskuldig en baie onseker van haarself.

      Hy was voor sy skaduwee uit op pad terug rivier toe. Die boot sou oor ’n kwartier vertrek. Die middag was skerp en warm en sy hemp het nat aan sy rug gekleef. Toe sien hy haar van ’n winkelstoep afspring en tussen die vlieë en die swartes se vrugtemandjies deur vóór hom ingestap kom. Sy was skraal en effens kort, ’n bietjie verwese in haar beswete rok. Haar skouers was kaal en bruin van die son en haar kortgeknipte hare met ’n lint vas agter haar kop.

      “Senhor,” het sy gesê, “weet jy wanneer vertrek die boot?”

      “Die posboot?” het hy gevra en gaan staan.

      “Faz favor.”

      “Oor ’n kwartier.”

      ’n Oomblik het albei van hulle na die boot gekyk waar dit ’n honderd tree verder agter die groen en trillende sinkgeboutjies teen die oewer lê. Toe vra sy, sonder om na hom te kyk: “Weet jy hoeveel dit kos?”

      “Tot waar?”

      “Tot by die derde halte.”

      Eers tóé het hy geskrik. En die skrik het hom geïrriteerd bewus gemaak van die vlieë om sy warm gesig en van die stekende son. Hy wou haar afskud en op die boot kom en iewers agter die gaas onder die dek in die koelte sitplek kry.

      “Vier-en-twintig eskudo’s,” het hy gesê en begin stap.

      “Senhor,” het sy dringend agter hom aan gesê. “Faz favor …”

      Hy het gaan staan, maar nie na haar gekyk nie.

      Die derde halte was sý halte. En net hy het ooit daar afgeklim. Net hy en soms, baie selde, iemand van die koffieplaas. Maar sy was vreemd.

      Sy het weer langs hom gestaan en hy kon sien hoe sy ’n sakdoek voor by haar rok uithaal en na hom toe uithou. “My geld was hierin. Ek het dit verloor.”

      Hy was moeg en daar was vlieë in die son by haar gesig. Daar was oral vlieë. Die middag was ’n trae en eentonige gezoem van vlieë en bye en die lug het geruik na bruin mangoblomme en die soet stank van broeiende palmblare.

      Sy had ’n swart leersak by haar. Dit het by haar heup gehang aan ’n band skuins oor haar skouer. Die band het ’n keep tussen haar klein, ronde borsies deur gesny, van links na regs. Sy het haar hand in die sak gesteek en ’n oomblik daarin rondgekrap. “Ek het nie veel hier nie, senhor,” het sy gesê, “maar as u my help, kan u die sak kry. Dis ’n nuwe sak. Ek sal die goed uithaal.”

      Rodrigue het in die koelte van die loopplank gestaan, besig om met ’n vuurhoutjie tussen sy swartgevlekte tande te krap. Hy het geknik toe hy hulle sien aankom, maar sy oë het na die meisie toe beweeg en daar gebly.

      “Ek betaal vir ons albei, Rodrigue,” het Delport gesê.

      Die meisie se sak het ’n bietjie selfbewus langs haar knie geswaai terwyl hy die geld uittel.

      Hy het gehoop sy sal op ’n ander plek gaan sit, maar sy het hom tot agter in die hoek gevolg en langs hom teen die sifdraad gaan sit, haar sak op haar skoot. Sy was nat van die sweet en daar was groot vlekke onder haar arms.

      Die koelte was goed. Maar buite het die ilalas teen die grys lug getril en Delport het sy oë toegemaak en geluister na die trossies eende se lawaai op die bodek en na die swartes wat luidrugtig buite in die wit hitte praat en na Rodrigue wat lui staan en kleingeld uittel. Op die gaasdek was dit koeler en hy het die boot effens voel wieg in die stroom, en iewers het die ankertou gekraak en hy was bly om te weet die dag is verby. Hy sou kon sit en slaap tot by die derde halte en dan sou die son reeds onder

Скачать книгу