ТОП просматриваемых книг сайта:
Shéri. Shéri Brynard
Читать онлайн.Название Shéri
Год выпуска 0
isbn 9780796320315
Автор произведения Shéri Brynard
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Die swangerskap het goed verloop. Die opvallendste van die laaste deel was dat ek so min beweeg het. Blykbaar is dit een van die tekens van Downsindroom.
Tydens haar swangerskap het iemand van die Departement Genetika aan die Universiteit van die Vrystaat met my ma se biologie-leerders by Oranje Meisieskool kom praat. Die dosent het vir hulle verduidelik hoe dit gebeur dat kindertjies soms met afwykings gebore word.
Toe my ma later vir die dosent sê sy is swanger, het sy gesê dat sy so ’n praatjie nooit voor ’n swanger vrou sou gee nie. My ma het net gelag en gesê dit sal haar nie oorkom nie, en indien dit wel gebeur, sal sy dit dan hanteer. Sy gaan nie onnodig bang wees daarvoor nie.
Nog iets in my ma se dagboek was vir my besonder interessant. In Duitsland het dokters agtergekom dat die meeste vroue met Downsindroom-babas erg verkoue was toe hulle swanger geword het. My ma het teruggedink, en sy kon onthou, sy wás vreeslik verkoue in die tyd toe sy swanger geraak het. Sy het nie eens gaan werk nie, iets wat sy nie sommer maklik doen nie.
Van ongeveer die vierde maand het sy gereeld ginekoloog toe gegaan. Hy het elke keer ’n sonar geneem en nooit enige fout gesien nie. Die koppies van babas met Downsindroom is kleiner as normale kinders s’n, maar my kop se omtrek was so dat ek net sowel ’n normale kind met ’n redelik klein koppie kon wees. Die dikte van my nekvel het ook nie van die normale afgewyk nie.
Die verwagte datum was 20 Maart, maar my ma het vas geglo dat ek vroeg sou kom. Sy het my 14 Maart al verwag. Sy het ook geglo dit sal ’n maklike geboorte wees. My ma is altyd so positief oor alles. Sy het jare later ook gedink ons sou my pa kry toe hy by die Augrabies-waterval weggeraak het.
My ma skryf dat sy op Sondag 14 Maart gehoop het iets gaan gebeur. Die aand elfuur het sy ’n ligte kramp gekry. Sy was so opgewonde dat die buurvrou haar glo kon hoor lag. Sy is uiteindelik ongeveer kwart voor twee hospitaal toe en ek is ’n uur later gebore.
Sy het my hoor huil en was heeltemal tevrede dat ek honderd persent is. Die dokter het my vir haar aangegee om ’n rukkie vas te hou en my daarna in ’n broeikas gesit. Daar kon my ma en pa my mooi bekyk. Die suster het glo nogal gesê my oë lyk nes my ma s’n. My ma het groot ronde oë.
Die res van die nag het my ma wakker gelê en alles herleef. Sy skryf sy kon nie wag om my ouma, haar ma, die volgende oggend te sien nie. Ek was my ouma se eerste kleinkind en het ook haar name gekry. Onder my bedjie was die volgende geskryf:
Naam: Shéri Alida
Gewig: 2,9 kg
Lengte: 47 cm
Geboortedag: Maandag
Tyd: 02:52
Datum: 15 Maart 1982
Plek: Universitas Hospitaal, Bloemfontein
Dokter: Dr Wim Brummer
Ongeveer agtuur die volgende oggend het my ouma gekom en daarna die pediater, dr Wilhelm Karshagen. Hy is as roetine aangestel om die kindertjies wat deur ginekoloë in die lewe gehelp is, te ondersoek. Hy het vir my ma gesê daar is fout, want ek is baie slap. Hulle het bloed weggestuur vir toetse. Die ginekoloog was ook bekommerd.
Ongeveer elfuur die oggend het my pa kom kuier. My ma het hom dadelik vertel daar is fout. Toe sê hy vir haar dat hy die trekke van Downsindroom dadelik gesien het, maar gehoop het hy is verkeerd. Die aand het dr Karshagen, wat later ’n huisvriend geword het, en dr Brummer, wat steeds my en my ma se ginekoloog is, die slegte nuus amptelik kom oordra.
My pa en ma was hartseer, maar nooit verbitterd nie. Hulle het nooit vrae gevra nie.
My ma skryf die hospitaalpersoneel was wonderlik. Sy het nooit gevoel sy is anders nie, net miskien ’n bietjie spesiaal met ’n spesiale dogtertjie. Ék was egter anders: al die ander vrouens in die kraamsaal het gewone babas gehad.
My ma sê sy het nog nooit soveel liefde ervaar nie, van vriende, familie, bekendes en onbekendes. Sy het 42 ruikers ontvang. Die mense het gedoen, gegee, gebid, en alles het die seer in wonderlike dankbaarheid verander.
My ma het destyds geskryf hulle was dadelik so lief vir my. Dit was ’n skok, maar hulle het my nooit, vir geen oomblik, verwerp nie. My ma en pa het my aanvaar soos ek is, en liefgekry soos ek is.
Toe my ma en pa my ouma en oupa vertel, het my ma die seer in my ouma se oë gesien, en my oupa se oë het geblink. My ouma was gou vir my so lief; liewer, dink ek, as vir enige ander mens op aarde.
Ek was glo ’n soet en dierbare baba. Hoewel babas met Downsindroom nie baie huil nie, het ek soms hartroerend gehuil, veral as my ma nie gou genoeg by was met die voedings nie. Kos was toe al vir my belangrik!
My ma was gelukkig om my tot op meer as ’n jaar te kon borsvoed.
My gewigstoename was bevredigend, maar ek was ’n fyn ou dingetjie. My kopomtrek was met geboorte 32 cm en dit het gou toegeneem tot 37 cm. Ook my lengte was nes dié van ’n normale baba. Ek was gou nie meer baie pap nie en het ook gou met my oë begin reageer.
My gestremdheid het vir ’n paar snaakse voorvalle gesorg. ’n Dierbare vriend van my pa het aanmekaar deurmekaargeraak met mongooltjies en moroontjies, wat baie dommer is as ons. Toe ek gebore is, is “mongool” en “mongolisme” nog algemeen gebruik. Dit het sedertdien erg onaanvaarbaar geword, omdat mense meen dit skep ’n verkeerde beeld van mense met Downsindroom.
Op ’n keer moes my ma vir ’n vrou verduidelik dat sy nie na ’n kombuistee toe kon gaan nie omdat ek vroeër as die verwagte datum gebore is. Toe sy vra of alles goed gegaan het, het my ma gesê iets is nie lekker met die baba nie. Die vrou antwoord toe dat die mediese wetenskap al so ver gevorder het dat my ma nie bekommerd hoef te wees nie; sy moet net dankbaar wees dis nie ’n mongooltjie nie!
Die wêreld verander nie omdat ’n mens se lewe verander nie, sê my ma. Die son kom nog steeds op, die karre ry nog altyd. Niks verander nie, al verander alles in ’n mens se hele lewe.
Met ons verblyf in die hospitaal het dit verder goed gegaan, al het ek geelsug ontwikkel. My telling was die hoogste in die hele baba-afdeling. Eers was my ma trots op my hoë telling, totdat sy gehoor het dis eintlik nie so goed nie; ek was die siekste!
Toe ek huis toe kon gaan, was dit glo ’n fees. Daarvoor het my pa gesorg. Hy het die hele voorportaal vir ons tuiskoms versier. En vir ons ’n piekniek reggekry, want hy het gedink ons moet ons gesinslewe met ’n piekniek in ons eie huis begin. Ek moes op ’n kombersie by hom en my ma lê, sodat ek gewoond kon raak aan piekniek hou.
Ons buurvrou in daardie stadium, Marlene Sonnekus, het tien dae ná my geboorte ’n seuntjie gekry. My ma vertel dit was vir haar wonderlik om hom te sien ontwikkel. Hy was natuurlik baie sterker as ek, en hy het ook gou begin lag. My ma kon gou sien as ek van iets hou, maar daar was nog geen laggie nie.
Een Sondagaand, toe ek elf en ’n half weke oud was, het my ma my gevoed en regop gehou sodat my windjies kon uitkom, maar ek het gewoel en gestoei en, skryf my ma, sy het bitter onbeholpe gevoel.
My pa was kerk toe en sy was doodseker dat hy my maklik rustig sou kon maak. Hy was glo so oulik met my. Toe my ma my op die bed neersit om my doek om te ruil, sien sy ’n duidelike glimlag, met twee pragtige dimples. Sy kon dit nie glo nie. En toe sien sy my pa het pas in die kamer ingekom. Ek het gelag omdat ek so bly was om hom te sien! Van toe af het ek gereeld gelag.
Die mense wat my help word het wie ek is
Dit is ’n gelukkige oomblik. Nou kan ek uiteindelik vir almal vertel van die mense wat my help word het wie ek is.
Dalk moet ek een van die swaarste dele eerste vertel, die storie van juffrou Susan Hattingh, my klavieronderwyseres. My ma en juffrou Susan se man het saam klas gegee by die Bloemfonteinse Onderwyskollege nadat my ma weg is by die skool. Juffrou Susan het vir my sussie Marisa en ook vir Zettie, die jongste, klavierles gegee. Ek het baie keer by