Скачать книгу

mnr Hugo hier skoolhoof geword het, was dit soos ’n inspuiting vir die skool. Toe ek nog in die babaklas hier was, het ek die juffrouens oor en oor dieselfde goed hoor sê, sodat ons dit moes leer, maar party kinders het nooit van een tot tien leer tel of ’n mes en vurk reg leer vashou nie.

      Daar was kinders wat by ’n muur gaan sit en hulle koppe daarteen gestamp het. Die juffrouens en klashulpe het hulle daar weggeneem, dan gaan hulle terug en doen dit weer. Ek het dit gaan uittoets en dit was nogal lekker. Toe ek dit ná skool by die huis begin doen, het my ma later met my begin raas. Ek het dit stilletjies by ander mure gaan doen en my ma het ander planne begin maak.

      Toe trek my ma my aan soos ’n prinses en maak vir my bokstertjie-hare en vat my na Martie du Plessis toe, waar kinders ’n normale IK moet hê en net ander uitdagings soos disleksie of iets wat met hulle liggame verkeerd is, moet leer hanteer. “Ons kind,” het sy in die kantoor gepleit, “kort meer stimulering. Ons sal ons deel doen. Asseblief …”

      Die antwoord was nee. Die gewone kurrikulum is bo die vuurmaakplek van kinders met Downsindroom. Die leerlinge aan hierdie skool is nie intellektueel gestremd nie; hulle het slegs spesiale behoeftes. ’n Kind soos ek, moes my ma hoor, sou die skool ’n slegte naam gee.

      My ma het haar nie laat afskrik nie. “Shéri het spesiale behoeftes,” het sy gesê. “Waar sy nou is, kan daar nie in haar behoeftes voorsien word nie.” Die woord opgee bestaan nie in my ma se kop of woordeskat nie.

      Op ’n dag, ná baie gebede in ons huis, het die skoolhoof my ma sowaar weer oor my gebel. Sy het my weer soontoe gevat en niks aan my hare of skoene of rokkie gedoen nie. Ek het Downsindromerig gelyk. Sy het vir mnr Hugo, wat toe die onderhoof daar was, gesê sy sal probeer sorg dat ek doen wat normale kinders doen.

      “Ons multidissiplinêre span het ingewillig om haar te toets,” het die skoolhoof gesê.

      My ma wou weet of sy moes bly, dan sal sy verlof by die werk insit.

      “Nee wat,” het mnr Hugo met ’n groot glimlag gesê. “Shéri gaan drie dae lank op haar eie by die juffrouens, die arbeidsterapeut, fisioterapeut, ons skoolsielkundige en die maatjies van haar ouderdom kuier. Julle kan haar net kom aflaai. Moenie vergeet om vir haar iets lekkers vir pouse in te pak nie.”

      Hulle het vir my ma gesê hulle gaan IK- en kognitiewe toetse doen. En kyk of ek emosioneel regkom.

      Ek kon nie genoeg van die toetse kry nie. Daar was legkaarte en blokkies om te pak, allerhande goed om te tel, vormpies om uit te ken: driehoeke, vierkante, sirkels. Ek moes inkleur en sinne voltooi. Niemand het enigiets oor en oor bly sê nie.

      Die kinders in daardie skool het gewérk. Ek het klasgroepe hoor sing en kinders in rye van die een klaskamer na die ander sien loop en ry. Ek het getel en geteken en gepraat en die tyd het heeltemal te vinnig verbygegaan.

      Daardie skool was mý soort plek. Pouse was wonderlik. Die juffrouens het my by maatjies laat sit. En ja, ek hét gekyk wat hulle in hulle kosblikke het. Daar was grondboontjiebotter- en kaastoebroodjies, drinkjoghurt, hoenderboudjies, boksies vrugtesap, pakkies tjips, pienk en groen fizzers, selfs gaskoeldrank. Daar was ’n toebroodjie, ’n vrug en ’n vrugtesappie in my kosblik. Geen lekkers of tjips nie.

      My ma was elke dag bekommerd of ek my nie dalk swak gedra het nie.

      Toe al die toetse verby en my uitslae verwerk was, het my ma en pa die nuus gekry dat ek as leerling van Martie du Plessis aanvaar is, as deel van die kleutergroep.

      “Julle dogtertjie het gewerk asof haar lewe daarvan afhang,” het een van die juffrouens glo vir my pa-hulle gesê. “Sy het haarself hier ingewerk!”

      Eintlik het ek dit net geniet. Ek het eers later begin verstaan dat ek oral en altyd sou moes werk asof my lewe daarvan afhang. Dat ek eintlik net een uit elke tien keer kan sê: “Ag, dis maklik!”

      Wanneer ek kinders nou as onderwysassistent met skryf en lees help, weet en verstaan ek dat niks vir hulle maklik voel nie. Maar ons hou aan. Ek moet, en hulle moet. Want as ’n mens stadig is, moet jy alles insit. Jy moet aanhou en aanhou, totdat mense glo jy het ook ’n plek waar jy iets vir ander mense beteken. Jy moet harder werk as ander, en jy mag nie moed verloor nie.

      Wanneer die kinders leer hoe om ’n potlood reg vas te hou, sien ek hoe hard hulle moet werk, hoe hulle ook maar partykeer moed verloor. Maar ons mag nie tevrede raak met tweede beste of amper reg nie. Ons moet aanhou, totdat hulle dit regkry.

      Dit is wat my ma van my verwag het, sodat ek in Martie du Plessis kon skoolgaan. Sy het my soms help aantrek vir skool, want ek kon so draai. Die bussie het my so teen kwart oor ses kom oplaai, dan was my pa nog lekker in die bed. Ek moet soet wees, netjies en regop by my klas instap, my juffrou groet en my tekenprente mooi klaarmaak, het my ma gesê.

      My ma het ’n lang rits reëls gemaak. Ek mag nooit vir ander kinders lekkers of koekies vra nie en beslis nooit enigiets uit iemand anders se kosblik haal nie. Al was ek hóé lus daarvoor, al het niemand gekyk nie, al het my mond gewater. Ek moes pouse my eie toebroodjies en vrugte eet.

      My wit sandaaltjies mag nooit êrens bly lê het nie; ek moes mense in die oë kyk en vir my onderwyseres luister vandat ek by die klaskamerdeur inkom totdat ek weer daar uitgaan.

      By die huis, aan ons eie etenstafel, moes ek leer kyk of iemand anders aan tafel iets nodig het: sout, suiker, melk, slaai. Gewone, opgevoede kinders is bedagsaam en gedissiplineerd, het my ma en my pa gesê.

      Ek was mal oor my juffrou en my klasmaatjies: die seuntjie met die bril wat soos my pa se verkyker gelyk het, die seuntjie wat nie kon stilsit nie, die maatjie wat amper blind was, die dogtertjies wat so mooi aangetrek het. Daar was vier maatjies in rolstoele. Een van hulle het altyd rooi skoentjies aangehad. My juffrou Hester het vrolik gepraat, in Suid-Sotho ook.

      Daar was boeke oor motors en diere en Otto die hondjie in my klas, ’n groot pop wie se hare ons kon kam, ’n werkbank met hamers en ander gereedskap, ’n speel-strykplank en pophuis. Buite was daar brûe van buitebande waar ’n mens een-een oor riviere vol krokodille kon loop. Of sommer net in ’n ry kon loop, want die krokodille was speel-speel.

      My juffrou het gesê sy is so trots op my toe ek die eerste kleuter-straatmyl in die wêreld op 11 April 1986 voltooi het. Ek was vier jaar oud. Sy het gevra hoe ek dit reggekry het, want ’n straatmyl is ver. Ek het vir haar gesê ek het net aangehou, dis al. En ek het my nuwe wit tekkies aangehad.

      Dit is die Here se storie en ek is daarin

      Ek was 31 jaar oud toe ek begin dink het dat ek my lewensverhaal moet skryf. Daar het so baie in my lewe gebeur.

      Ek onthou die dag toe groot seuns wat saam in die skoolbus gery het, vir my gevra het of ek ooit vinnig kan hardloop. Natuurlik wou ek hulle oortuig dat ek nes hulle kan hardloop. Toe die bus stilhou, het ek uitgeklim en huis toe gehardloop. Ek het my knieë flenters geval. Ek wou nie omkyk nie; ek het te veel gehuil. Ek dink ek het die seuns hoor lag en lag.

      Omtrent ’n jaar later wou ek die 400 meter vir die Rooispan van ons skool hardloop. Ek het laaste gekom, maar die juffrou het oor die luidspreker gesê: “Al die Rooispanmaatjies moet nou eers saam met Shéri gaan klaarmaak.” En almal het die laaste rondte saam kom hardloop. Die seuns ook.

      Maar toe ek 31 jaar oud was, het ek ook gedink hoe ek vir Oprah ontmoet het. Dit was in 2011 toe prof Jonathan Jansen, destyds rektor van die Universiteit van die Vrystaat, my as eregas genooi het om Oprah Winfrey te ontmoet toe sy ’n eredoktorsgraad van die universiteit gekry het.

      En hoe dit vir my was om as onderwysassistent opgelei te word.

      Toe ek 31 jaar oud was, het ek gedink ek moet by my geboorte begin en alles wat met my gebeur het, neerskryf. Want dit is ’n storie. Dit is die Here se storie en ek is daarin.

      Ek het my ma se dagboeke geleen en oor my geboorte gaan lees. Ek het albums gekyk en my ma uitgevra.

      So het my lewe begin:

      Toe

Скачать книгу