Скачать книгу

ook Israeliete. Nadat die klomp jong profete die middag saam met die opstandiges van die stadspoort weggedryf is na die klipgroef het hulle al hardlopende en skreeuende die werkers gemaan om nie aan ’n tempel vir Baäl te help werk nie, het hoofman Jehu se soldate hulle kom gryp en hulle weggesleep. Maar hy het met sy oë gesien hoedat talle Israeliete die profete rondstamp, rondpluk, en vir hulle skreeu: “Weg hier, julle mal deugniete!” Vir hulle lag en selfs na hulle spuug.

      Hy praat driftig in die donker. “Baäl is ’n nietige afgod sonder lewe, sonder mag, net ’n doofstom beeld.”

      Asof Sihon Johanan se vertwyfeling aanvoel, antwoord hy voldaan: “Koning Omri dink nie so nie. Prins Agab dink nie so nie. Die duisende Israeliete wat Baäl aanbid, dink nie so nie.”

      Johanan loop sommer dieper die donker in, maar Sihon se woorde agtervolg hom. “Jy sal moet verander, Johanan, want Israel is aan ’t verander. Luister hoe juig hulle vir Agab en prinses Isebel. Sy is die nuwe bondgenoot van Baäl en ons Kanaäniete. Israel is besig om hom los te wikkel uit sy stywe kokon. Deur vir ons ’n eie tempel te gee erken Israel dat hy nie alleen in Kanaän woon nie. En die dag wanneer daardie tempel klaar is, sal ons Kanaäniete weet dat ons ons eerste stukkie vryheid ontvang het.”

      Johanan draai om vuur toe, kom hurk daar.

      “Vryheid, vryheid, vryheid!” bars hy uit. “Wat kerm jy vanaand so skielik oor vryheid? Jy kan loop waar jy wil, jy kan werk waar jy wil, jy kan ’n grofsmid word as jy wil, of leerlooier, of koopman, of soldaat. Waaroor kwel jy jou dan? Daar is Kanaäniete wat hoog staan in Israel. Is Bidkar nie Jehu se adjudant nie?”

      Sihon peusel aan ’n korsie brood. Toe hy praat, sny sy woorde deur Johanan: “Kan Bidkar koning van Israel word? Nee, want hy’s ’n Kanaäniet. Kan hy hoof van die paleis word, hoof van die stad, hoof van die leër? Nee. Kan ek, Sihon, ’n stukkie grond besit? Nee, want ryk Israeliete besit al die grond.” Hy kyk seëvierend na Johanan, maar huiwer voordat hy weer praat. “Kan ek met een van jou susters trou?”

      Die vraag hang nog tussen hulle al het sy woorde reeds op die aandwind verdwyn.

      “Kan ek?”

      “Wat my betref, kan jy – as jy haar liefhet en vir haar kan sorg. Maar nie as jy net iets wil bewys nie.”

      Sihon glimlag sinies. “Ek wonder darem … Jou hart klop anders. Jy is verdraagsaam. Maar meneer Nabot – wat sal hý sê?”

      “Hy sal weier, want hy glo die Here wil sy volk suiwer hou.”

      “Suiwer Israel,” sê Sihon neerhalend. “Net Israel is rein, net Israel se of ferrook trek regop tot in die hemel. Heeldag loop julle met basuine agter jul Here aan, bo-oor dié wat nie tot julle behoort nie.”

      Sihon is nie meer Sihon nie, dink Johanan skielik ontnugter. Nie meer die sagsinnige, lydsame, geduldige, byna weerlose mens wat hy geken het nie. Iets het vandag in hom verander.

      “Waarom praat jy vanaand só?” vra Johanan naderhand. “Was my pa dan nie nog altyd goed vir jou en jou mense nie? Het jou pa dan nie by my pa oud geword nie?”

      “Goed, ja, soos ’n mens vir ’n hond goed is,” antwoord Sihon. “Jy maak ’n hond aan ’n lang riem vas en voer hom afgeroomde melk, broodkorsies en bene. Hy kan rondloop waar hy wil – totdat die riem styf trek. So is dit met ons Kanaäniete in ons erf land. Ons moet maar altyd buite Israel se tente sit en wag op gunste en gawes, maar vanaand gee ek nie om om nog te wag nie. Vandag het ons ’n tempel gekry. Dit is ’n begin … En Isebel sal vir ons die pad verder oopmaak. Ek kan dit voel.”

      “Wil jy jou verlore Kanaän herower?” vra Johanan, en Sihon is verbaas om sy bedrukte vriend te sien glimlag.

      “Nie herower nie; hom net met jou deel, hom saam met jou besit. Ek wil nie meer jou houtkapper en jou waterdraer wees nie; nie meer jou hond aan ’n riem nie. Ek wil voel my siel is vry en die land behoort ook aan my.”

      Johanan soek weer na die galge teen die hang, maar hulle is onsigbaar. In die dowwe sterlig gewaar hy vae beweging. Seker Jehu se brandwagte wat moet keer dat niemand vannag hier uitkom nie.

      “Ek het so baie gepraat en jou uitgedaag, en jy stry omtrent nie eens met my nie,” sê Sihon meewarig.

      Johanan staan moeisaam op en kyk weer in die rigting van die stadspoort waar die menigte feesgangers steeds rumoer. “Ek ken Israel se tekortkomings,” sê hy. “Hul gemaksug, hul hebsug, hul verwaandheid, hul ongeregtigheid teenoor ander soms, hul sondige rykdom, hul onverdraagsaamheid. Ek hoef nie met jou daaroor te stry nie. Maar God is my God en Israel is my volk, met sy letsels en al.”

      “Ek weet … ek weet. Ek ken jou hart. Daarom is jy my vriend. Daarom het ek my hart uitgepraat teenoor jou. Dit troos, al weet ek dat niks miskien sal verander nie.”

      “Ek moes vir die Here getuig het,” sê Johanan by die dooie vuur. “Ek moes saamgegaan het na die poort. Hy wat nie die moed het om te getuig nie, is net so sleg soos ’n heiden.”

      Dit knaag aan hom, daarom het hy nou weer daaroor gepraat, dink Sihon. Om met hom daaroor te stry, sal niks baat nie. Daarom sê hy gemoedelik: “Kom ons gaan slaap. Al die vure is al dood. En môre vier Samaria fees.”

      Sihon gaan die hut binne en Johanan volg hom talmend. Hulle gaan lê op hul biesiematte en trek hulle toe met hul karosse, want ’n ontydige koue slaan uit die grond op.

      4

      In die pragtige troonsaal van die paleis van Samaria het die konings van Juda, Edom, Sidon, Tirus en van die onderhorige Moab tesame met die leiers en maghebbers uit al die streke van Israel byeengekom vir Agab en Isebel se troue.

      Die aankoms van elke koning is met basuingeskal aangekondig en tussendeur het Fenisiese musikante op hul siters, harpe en tamboeryne strelende en stemmige musiek gespeel.

      Hulle het koning Omri op ’n baar binnegebring en hom voor sy troon op die voetstuk neergesit. Toe die basuine sy binnekoms aankondig, het almal opgestaan om hulde aan dié moedige man te betoon.

      Die koning het egter nie die middelpunt van die aandag gebly nie. Al die koppe het na Isebel gedraai omdat sy die hele byeenkoms met haar skoonheid oorweldig het. Toe sy in die deur verskyn in haar lang wit gewaad van Tirreense sy, met die klein goue kroon op die hoë koperige haretooi, en net die groot donker oë sigbaar bo die fyn kantsluier, het selfs die musiek opgehou terwyl sy aan haar vader se arm statig tot voor koning Omri se baar gestap het waar Agab, donker en rysig, op haar gewag het.

      Ter wille van koning Omri was dit ’n kort plegtigheid. Nadat die egband gelê is, het hulle die koning se seremoniële swaard aan hom gegee. Hy het dit met bewende hande na Agab uitgehou.

      “Agab van Samaria, ek verklaar jou tot koning van Israel,” het Omri verbasend duidelik gesê.

      ’n Howeling het die swaard vir Agab aangegord. Agab het sy vader se koue hand ’n oomblik in al twee sy hande vasgedruk. Daarna het Isebel nader gekom, en Omri het haar wang vlugtig aangeraak. “Wees vir Israel ’n vorstin,” het hy gesê. Daarna het al die konings gekom en sy hand gedruk. Ook die vernaamste leiers.

      Toe was die plegtigheid afgehandel. Hulle het koning Omri na sy kamer teruggeneem. Die ander het agter hom aan die troonsaal verlaat om die huwelik van koning Agab en koningin Isebel te vier, die dag te deel met die menigte wat wagtend voor die paleis saamgedrom het.

      Agab en Isebel het in die paleispoort voor die juigende menigte verskyn. Die toejuiging het Agab opgebeur ná die probleme van die vorige dag. Hy het hom verstom oor die skare voor die paleis.

      Hulle het uit die uithoeke van die ryk gekom, het Amon, die stadshoof, vertel. So groot het die gedrang binne die mure van die stad geword dat baie mense hul bokveltente en matjiesgoedbeskuttings buite die mure moes opslaan.

      “Sorg dat niks hulle ontbreek nie, Amon,” het Agab beveel. “Ek wil hê hulle moet feesvier.”

      Samaria hét feesgevier. Op veel groter skaal as selfs die vorige dag. Daar is gebraai, gebak, geskink, gesing, musiek gemaak, gedans

Скачать книгу