ТОП просматриваемых книг сайта:
Die koning se wingerd. F. A. Venter
Читать онлайн.Название Die koning se wingerd
Год выпуска 0
isbn 9780796320759
Автор произведения F. A. Venter
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
“Ek verstaan nie jou teësin nie,” vervolg Isebel. “Jy’t netnou nog gesê as jy Nabot se seun vang, sleep jy hom agter jou perd deur Samaria. Waarom? Omdat hy gesondig het teen die troon van Israel. Voorwaar, as die jong man een maal teen die troon gesondig het, het die profete honderdvoudig teen die troon gesondig.”
Wat sy sê, kan hy nie weerspreek nie, en tog … Hy duisel, gryp sy drinkbeker en drink dit leeg. Die profete ís skuldig aan aanhitsing, maar wat sy vra, stuit hom teen die bors. Dit is iets waarmee hy nie in sy hart kan vrede maak nie. Sy gemoed is heeltemal leeg en hy kan aan niks meer dink om teë te werp nie.
Hy het Isebel nie eens hoor nader kom nie. Eers toe sy langs hom staan, skrik hy op. “Hoofman Jehu, ek voorsien dat as jy hierdie taak goed uitvoer, jy hoof gaan word van die strydwaens. Sal jy daarvan hou? Ek is seker koning Agab sal jou wil beloon.”
“Ek sal daarvan hou, Majesteit,” sê Jehu toe hy opstaan. “Maar dis ’n duur prys om te betaal.”
“Ek weet, ek weet. Ons moet maar almal soms ’n prys betaal, Jehu. Nie een van ons kom sonder ’n letsel los nie. Het jy dan vergeet van jul koning Dawid?”
Verbasend, dié mens wat so alles van Israel weet, dink hy. Gaan sy nie aan Agab se sy ’n rigter van Israel word nie?
“Jy moet ver vooruit kyk, Jehu. Leërhoof Joël is oud en sieklik …”
Joël – oud en sonder drif, amper ’n strooipop. Eintlik ’n gevaar vir Israel, dit weet Jehu. Isebel het ’n visioen in hom opgetower. Die spanning verslap, die twyfel sak weg.
“Ek sal nou met Bidkar gaan praat,” sê Jehu. Sy stem klink vir hom soos dié van ’n vreemdeling. Hy buig en stap na die deur. Net toe hy wil uitgaan, praat Isebel weer.
“Dankie, hoofman Jehu. Ek sal jou trou nie vergeet nie. En laat dit maar tussen ons bly; ek wil nie hê koning Agab moet regstreeks betrokke raak nie.”
“Ek verstaan, U Majesteit.”
Toe stap hy uit in die skemer gang, want hulle het nog nie die muurfakkels aangesteek nie. “Hoof van die strydwaens,” weerklink dit in Jehu se binneste. “Hoof van die leër …”
Isebel gaan sit weer by die tafel, verlustig haar in die oorwinning. Soos sy die trotse Jehu onderwerp het, so sal sy nog die hele Israel aan haar wil onderwerp.
Sy moet net haar lied reg kies, met die f luit vooruit loop en Israel sal volg.
Toe stap sy uit om ’n slag by Omri se siekekamer te gaan inloer.
6
In die warm aandwind rus die boer Nabot en sy huisgesin op hul biesiematte op die dak van hul huis by Jisreël. Omdat dit so warm is, het hulle die aandete hier genuttig – roosterkoek, bokmelkkaas, olywe, dadels en granate – en deurentyd oor die gebeurtenisse in Samaria gepraat; nie hard of opgewonde nie, half f luisterend soms, asof bloot praat ’n oortreding is.
Nou praat hulle nie meer nie. Hulle lê en sit net daar en wag, elkeen met ’n eie angs, luister asof hulle verwag dat die wind iets na hulle toe sal bring.
Nabot, gehard van ’n leeftyd se werk en swoeg, kyk oor die lae muurtjie na die vuur by die kafkleihuisie van sy opsigter, die Kanaäniet Sabad, en sy gesin. Hy wonder of hy nie gelukkiger sou wees as hy soos Sabad tevrede kon wees met die klein gawes van elke dag nie. Goeie, getroue, onderdanige Sabad. Nabot ruik die geur van vlas wat nog laas hier op die dak gedroog is, hoor die ruising van sy olyfboord, maar dit streel hom nie. Hy sit hier met angs en teenkanting waarvan hy nie ontslae kan raak nie. Hoe kan hy hom tog teen Agab verset?
Hy staan ongeduldig op, soek in die leë donker.
“Vanjaar het ons droogte,” sê Nabot om sy aandag en dié van die ander weg te lei van die wag hier op die dak.
“Die reën sal nog kom, Vader,” verseker sy oudste hom. Bloot Joag se stem laat Nabot rustiger voel hier by sy kinders Sagaria en Amasa, en sy dogters, Abia, Jerusa en Migaja. Wie is hy om te vrees en te kla as vader Jakob ook ’n geliefde seun moes afgee? Maar ai, Johanan … Dié is so na aan sy hart.
“Waar’s Moeder?” vra hy skielik. Hy het nie eens agtergekom dat Josabat wie weet hoe lank nou al, sonder om te eet, met die trap afgeklim het ondertoe en in die voordeur gaan sit het nie.
Josabat se oë het aan die donker gewoond geraak, en sy soek voortdurend oor die werf tot by die donker kolle waar die parskuipe en die olyfpers onder afdakke staan, verder tot waar die veekrale moet wees. Sy luister die donker in, probeer selfs deur die suising van die wind hoor of sy nie ’n klippie hoor spat of ’n takkie hoor breek of ’n voet hoor sleep nie.
Die nag vorder oor die hoogland, oor die vallei van Jisreël, ooswaarts oor die bergstreek van die See van Kinneret en oor Nabot se opstal. Ook Sabad se vuur is nou dood, en daar is nêrens meer lig nie, sodat dié op die dak ook padgee om te gaan slaap.
“Kom slaap nou, Josabat,” sê Nabot toe hy onder kom. “Jy kan nie weer die hele nag wakker bly nie.”
Sy antwoord hom nie en hy weet dat hy maar alleen kan gaan slaap.
Teen die kosyn geleun, haar hande slap in haar skoot, bly sy sit.
Die aandster is later onder en nog sit sy. Dit moet al lank ná middernag wees, maar steeds wag sy.
En tog, al is sy waaksaam, laat die beweging hier vlak by haar haar skrik.
“Wie’s daar? Johanan?” roep sy gedemp.
“Moeder?”
Josabat spring op en struikel teen Johanan vas. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy ontsteld. “Hulle soek na jou. Kom in, kom in …” En sy trek hom die huis binne.
In ’n ommesientjie is almal wakker en in die lig van ’n olielamp wat iemand opgesteek het, swerm hulle om hom. Sagaria maak gou al die luike toe. Hulle raak aan Johanan, hou hom vas, vat aan sy gehawende klere.
Telkens waarsku die senuweeagtige Josabat as iemand te hard praat of lag.
“Waar het jy heeltyd gedwaal?” vra Nabot. “Jehu se ruiters was ’n paar dae gelede al hier om na jou te soek.”
“Ek het snags gevlug en bedags weggekruip, Vader,” antwoord Johanan. “Ek het maar stadig gekom, met ’n ompad, want ek het geweet hulle sal hier kom soek. ’n Paar keer het die ruiters byna bo-oor my gery.”
“En byna dood van honger en dors,” sê Josabat.
“Ek is honger en dors, Moeder. Vandat ek nou die nag uit Samaria gevlug het, het ek maar min geëet. Ek het maar van veldkos gelewe; was bang as ek by ’n plek aanloop, sal hulle my herken.”
Hulle kyk hoe hy die klein kruikie met lang, gulsige hale leeg drink terwyl Josabat en die dogters rondspring om kos reg te kry.
“Waarom het jy dan weggeloop, seun?” vra Nabot. “Ek het by die ruiters probeer vis, maar hulle wou nie praat nie.”
Johanan het by die tafel gaan sit, speel met die waterkruik in sy hande, nadenkend. “Ek sien nie kans om klip te kap vir die Baältempel wat die koning wil bou nie, Vader.”
Nabot kom staan langs Johanan, vryf sy hare nog meer deurmekaar. “Jy’t reg gemaak, seun. Jy’t jou soos ’n man gedra – ja, soos ’n man! Ons is trots op jou.” Hy gaan sit met ’n glimlag teenoor Johanan. Maar dan verdwyn die glimlag. “Ja’k, ons het gehoor van die tempel, van die oploop en alles. Dis ’n gruwel. Agab loop sommer uit die staanspoor verkeerd.”
Abia bring ’n bak water sodat Johanan sy gesig kan was. Dis vaal van die stof wat aan die ou sweet kleef. Jerusa trek sy skoene uit en Migaja verwyder sy stowwerige bokleed.
“Ons is bly om jou te sien, maar jy moes nie hierheen gekom het nie,” sê Nabot kopskuddend. “Hulle sal jou beslis weer hier kom soek.”
Toe stuur hy die teësinnige Joag, Sagaria en Amasa buitetoe om op verskillende plekke te gaan wag hou.