Скачать книгу

vra hy. Vir wat trek Noah vandag sy mond so styf?

      “Hy’s in ’n band. Die aand by Aandklas, toe jy nie kon gaan nie. Dis waar ek hom gesien het.”

      “Mmph,” is al wat hy grom. “Is dit hoekom jou hare vandag anders lyk? Vir hom?”

      Ek frons. Dis ’n vreemde vraag. “Dalk.” Meer as dit sê ek nie. “Iets fout daarmee?” Ek dra my hare vandag in groot los krulle wat in ’n poniestert vasgemaak is. Vir ingeval Liam dalk vandag hier by ons skool ingestap kom. Simpel. Ek weet.

      Ek voel aan my ponie, maar alles is presies waar dit vanoggend was.

      Noah maak keel skoon. “Nee, dis net anders as gewoonlik.”

      Ek kyk deur die ruit in die kantspieël en vryf deur my kuif. Noah sit die radio aan en draai die volume harder. Een of ander klassieke musiek.

      “Wanneer deel ons die goeie nuus met jou ma-hulle?” vra Noah toe ons by Val de Vie se sekuriteitshek stilhou.

      “So gou moontlik, sommer vanaand. Jy kan by ons kom eet. Dan kan ons ook saam begin leer vir Chemie.” Noah se blou oë flits vir ’n oomblik weer na my voor hy skielik wegkyk. ’n Mens sou dink ek het iets verkeerds gedoen.

      “Cool,” sê hy toe ons halftwaalf voor my huis stilhou.

      “Ons moet net nie te laat opbly nie. Ek wil vroeg balletoefening toe gaan. Sommer ’n dubbele klas bywoon.”

      Noah knik net.

      “Is jy oukei?” vra ek nou regtig bekommerd.

      “Ja, natuurlik. Hoekom vra jy?”

      “Nee, dis sommer niks. Seker my verbeelding.” Dalk is dit iets oor sy ma wat hy nie sê nie, maar ek glo nie. Ons deel alles. Ek sal net vanaand aan hom moet karring tot ek uitvind wie die gelukkige meisie is wat my pel se hart gesteel het.

      Noah

      Ná skool, toe ek by die huis kom, val ek agteroor op my bed, wikkel my das los en gooi dit op die vloer. Wat ’n dag.

      In ’n perfekte wêreld sou ek vir Sophia sê sy’s die meisie op wie ek verlief is. Dan sou ek my hande in haar bos swart hare druk. Haar nader trek en soen soos ek haar graag wil soen. Sy sal haar oë toemaak en die prikkel van my lippe op hare net soveel geniet soos ek. Ek sal haar soet reuk inasem voordat ons al twee uiteindelik wegtrek. Maar nee, ek is ’n ruggraatlose mollusk wat nooit uit sy verdomde dop sal kan kruip nie.

      “Moeilike dag?” Ma se stem klink hees. Asof sy elke dag twee pakke Texan rook. Ek spring op. Sy leun teen die deurkosyn. Haar vel is bleekwit. Onder haar oë is swart kringe soos ’n soldaat se camouflage. Sy trek die kamerjas stywer oor haar bors.

      Voor Ma vroeër vanjaar met servikskanker gediagnoseer is, het haar lang blonde hare tot in die middel van haar rug gehang. Op ’n stadium is haar kanker aggressief behandel met chemo en bestraling en haar hare het geleidelik begin uitval.

      Pa kon nie cope nie. Om haar so te sien het ons al twee gebreek. Vir weke was ons almal baie depressief oor die moontlikheid dat sy kan doodgaan, totdat sy ons op ’n dag mooi vertel het sy’s nog nie dood nie en vir haar onthalwe beter ons almal bykom.

      “Sorry, Ma. Ek het vergeet om te kom groet.” Ek gee haar ’n soen op haar wang en druk my gesig teen hare. Dit voel normaal. Dis my manier om te weet of sy koorsig is sonder om te veel te fuss. Sy haat dit.

      “Dis oukei. Is dit die vraestel wat jou so omgekrap het?” Ma kyk bekommerd na my.

      “Nee wat, die vraestel was makliker as wat ek gedink het.” Ek help Ma om op my bed te sit.

      “Nou wat dan?”

      Liefde, wil ek vir haar sê. Om meer spesifiek te wees, Soph. Maar ek pers eerder my lippe saam asof ek nooit die geheim sal weggee nie.

      Sy glimlag en vir ’n sekonde verhelder haar oë. “Pleks sê jy net vir Phi.”

      Ek trek my asem in. Phi is my ma se troetelnaam vir Sophia.

      “Pleks sê ek vir Phi wat, Ma?” Ek vernou my oë.

      “Komaan, Noah. Op jou ouderdom is daar net drie goed wat ’n mens so bekaf maak. Vriendskap, liefde of skool. En in jou geval is Phi betrokke by twee opsies. Daar’s niks fout met julle vriendskap nie, so ek dink jy’s verlief op haar.” Ma haal haar skouers traak-my-nieagtig op asof dit doodnormaal is. “Vertel haar net.”

      “Waar kom Ma nou daaraan?”

      “Jy’s ’n ou en sy’s ’n mooi meisie. Julle spandeer heeltemal te veel tyd saam. Soos hulle sê: It was bound to happen. Buitendien, ek hou al lank duim vas.”

      My foon vibreer in my broeksak. Ek haal dit uit. Dis Sophia.

      Lus om saam studio toe te kom?

      Ma glimlag. “Phi?” vra sy.

      Ek knik. Wat sê ek nou vir Ma? ’n Mens praat mos nie met jou ma oor sulke goed nie. Maar wat as ek dalk nooit die kans kry om die tipe goed met haar te deel nie?

      Ek tik vir Soph: Sure, sien nou.

      Ek kyk vir ’n oomblik ernstig na Ma. Sy’s reg en sy weet dit.

      “Wel, ek’s nie haar tipe nie.” Ek skud my kop. “Ek het soos ’n idioot haar eksamensak vanoggend ná skool gedra, die een met die moerse pienk tossel. Sy en die ander kinders het gedink ek’s mal.”

      Ma se lyf ruk soos sy lag.

      “Dis nie snaaks nie.” Nou lag ek ook. “Ek het seker so stupid gelyk.”

      “Jy moet net vir haar wys jy is haar tipe,” sê Ma asof dit die maklikste ding op aarde is om te doen.

      “Hoe?” vra ek. Dalk het Ma beter raad as Google.

      Ma beduie met haar kop na my lessenaar. “Miskien moet jy vir haar een van daardie liedjies sing wat jy geskryf het.”

      Ja, right. Ek sing nie eens in die stort nie. Sophia weet ook nie ek kan goed kitaar speel nie. Ek wou net iets oor myself vir myself hou. Ek sal nooit die guts hê om voor Sophia te sing nie. Wat nog vir haar te sing oor hoe ek voel.

      “Maar … hoe weet Ma daarvan?”

      “Ek het nie gesnuffel nie. Jy het verlede week die boek op jou bedkassie vergeet.”

      Ná ’n dag soos vandag, agter ’n toe deur, vat ek soms Pa se Gibson en skryf ’n song of twee oor hoe die lewe suck. En deesdae suck dit nogal baie.

      “Sophia Maria, is jy al weer hier?” vra Soph se dansonderwyseres toe ons eenuur die ateljee in Stellenbosch binnestap. “Hallo, Noah. Sleep sy jou al weer saam?”

      “Hi, Juffrou. Jip, ons is mos onafskeidbaar.”

      “Ek wil my pas de bourree kom oefen voor die middagklasse begin,” verduidelik Sophia. “Dis nog nie perfek nie.”

      “Dit het gister vir my perfek gelyk, maar as jy moet …” Juffrou Isabel haal haar skouers op. “Die plek is joune, ek gaan gou iets kry om te eet.”

      Sy verdwyn by ’n sydeur uit. Toe tref dit my ek en Sophia is alleen in hierdie groot gebou. Ons was al so baie alleen hier, maar nou voel dit skielik of hier vandag nie genoeg suurstof in die plek is nie.

      Sophia stap na die agterkant van die groot vertrek. Al die mure het spieëls en die houtvloere is blink gepoleer. Sy buk en trek haar sweetpakbroek af nadat sy haar trui oor haar kop gepluk het. Haar bewegings laat elke sel in my lyf skielik regop sit en notas vat.

      Ek kreun in my kop. Sy het ’n klein swart leotard aan met ’n sagtepienk lyfkous. Ek stap stadig nader en vryf oor my nek. Hoekom het ek gedink dis ’n goeie idee om saam te kom?

      Toe ek langs haar buk, raak my vingers besig met my viooltas se gespes. Beter so. Ek gaan sit kruisbeen langs haar. Sophia is besig om wit pleisters om haar tone te draai. Ek pluk-pluk speels aan die vioolsnare,

Скачать книгу