Скачать книгу

gaan jy?” vra ek, te bang om die antwoord te hoor.

      “Die eerste twee weke in Julie.”

      “Dis oor drie weke.”

      “Ek weet nog nie of ek definitief gaan nie, ek moet nog my ma-hulle sê. Jy weet hoe is sy. En ek sal moet aansoek doen vir ’n noodvisum.”

      Sophia se ma beter haar net toelaat. Maar as tannie Lien haar sin kry, sal Sophia eendag ’n dokter word.

      “Wil jy nie maar by wees as ek hulle vra nie? Jy weet, safety in numbers. Dit sal dalk help dat my ma nie haar toys uit die kruiwa gooi nie. Dalk oorreed jou charming persoonlikheid hulle.” Haar groen oë pleit by my.

      “Sure. Ek sal jou hand kom vashou.”

      “Dankie, Noah. Jy’s die beste pel,” sê sy en stamp my teen die skouer. Pel. Hoekom haat ek die laaste paar maande daardie woord? Sophia trek met ’n spoed weg, met my agterna. “Laaste by die stalle is ’n buckethead!”

      Ons draf deur die fynbos op die paadjie wat al langs die rivier verby die wingerde kronkel. ’n Skielike gil laat my opkyk. Dis Soph. Voor haar is ’n karamelkleurige perd. Die dier lig sy pote en Sophia gee vinnig ’n tree agteruit. Reg teen my vas. Ek vou my hande om haar bo-arms om te keer dat sy nie val nie. Sy sit haar hand teen haar bors.

      “Flippit,” sê sy.

      “Is jy oukei?” vra ek.

      Sy sluk hard. “Ek het net baie groot geskrik. Dis al. Ek’s oukei.”

      “Hokaai,” sê die ou op die perd en trek die toom stywer. Die perd laat sak sy voorpote en skud sy kop. “Jammer, julle. Hy’t net geskrik.”

      Sophia staan nou met haar hande op haar knieë om haar asem terug te kry. Sonder dat ek dink, vryf ek oor haar rug.

      “Hy het geskrik?” vra ek moerig. “Ons het geskrik.” Dammit, die perd kon in ’n oogwink vir Soph raakgetrap het.

      Die ou op die perd se rug skuif sy Aviators oor sy koperkleurige hare. Hy het ’n stywe swart broek aan. Die hempskraag is effens opgeslaan. Nes ’n polospeler. Dis seker wat hy is. Hy lyk ’n bietjie soos prins Harry, en skielik bars die gedagte soos ’n atoombom in my kop. Ek hoop nie Sophia sien ook die ooreenkoms nie.

      “Ek’s regtig jammer,” sê hy. Die perd kou aan ’n grashalm wat langs die paadjie groei.

      “Wel, hierdie is ’n voetpad, dis nie vir perde nie,” sê ek steeds vies.

      “Ek sê mos sorry.” Die ou skud sy kop effens nukkerig, nes sy perd. “Sê asseblief vir my hierdie is nie jou ou nie?” Hy gluur na my voor hy na Sophia kyk en glimlag.

      “Natuurlik nie,” sug sy. Sy steek sowaar haar hand uit en vryf die perd se kop. Verdomp.

      “Dis my pel, Noah, en ek is Sophia.”

      Die ou hou sy hand vir Soph. Sy vat dit sowaar.

      “Hi,” sê sy en gee ’n senuweeagtige laggie. Dit kan nie goed wees nie. Soph is nooit op haar senuwees as dit by ouens kom nie.

      “Hi. Ek is …” As die ou sê Harry, gaan ek net hier ’n kat skiet. “Liam.” Dankie tog. “En dié is my goeie vriend, Chewbacca.”

      Ek sien hoe Sophia se oë ophelder. Dit lyk skoon lemmetjiegroen van waar ek staan.

      “Wat ’n cool naam. Ek’s mal oor Star Wars,” glimlag sy.

      “Ek ook,” sê Liam. “Chewbacca is my favourite karakter. Wie’s joune?” Vir ’n oomblik kyk hy stip na haar.

      “Rey,” sê sy. Liam knik en kyk nie weg nie.

      “En ek’s mal oor R2-D2,” chip ek vinnig in. “Kom, Sophia. Jou ma gaan bekommerd raak en ons moet nog gaan Fisies leer.”

      Ek vat haar aan die hand toe sy net bly staan. En sy skrik wakker asof sy in ’n trans was. Dis nie cool nie.

      “Ons moet gaan,” sê sy. Ek begin solank draf, maar draai om toe ek agterkom sy staan nog.

      “In watter skool is jy?” vra Liam vir Sophia.

      “Paarl Gimnasium.” Sy draai om en draf agteruit om seker nog ’n kyk van die ou in te kry. Blikskottel. Dis ’n gemors.

      “Baai, Sophia!” roep Liam toe hy met die sonsondergang begin weggalop.

      “Sjoe, hy lyk nes prins Harry. Het jy hom al voorheen hier rond gesien?” vra sy toe sy weer langs my inval. Groot gemors.

      “Nee, nog nooit gesien nie.” Ek sluk harder as wat ek moet.

      Ek sal net vir Sophia moet sê hoe ek oor haar voel voordat sy weggaan, en voordat sy weer vir Liam raakloop. Dis te sê as ek die moed bymekaar kan skraap.

      Sophia

      “Wat maak jy?” vra ek skoon verward toe ek en Noah gelyktydig aan my sak se band vat. Ons het nou net Fisies geskryf. Hy raap my sak op en gooi dit oor sy skouer. Ek kyk senuweeagtig rond. Wat sal die ander kinders sê?

      Noah is weird vandag. Vanoggend toe ek by die huis uitstap, het hy eienaardig na my gekyk. Dit het gevoel of daardie somersdagblou oë my vaspen. Ek het gedink hy kyk seker vir iets agter my, maar daar was niks.

      “Ek dra jou sak,” sê hy en bly stap. Hy lyk belaglik met my swart en pienk skouersak van Pick Pocket met die groot pienk tossel op.

      “Ek kan dit sien, maar hoekom? Dis mos nie swaar nie,” sê ek benoud. Noah gee lang treë en ek sukkel om by te bly.

      “Dalk voel ek net heldhaftig, oukei?” Sy woorde laat my stop. “Sien dit as my goeie daad vir die dag.”

      “Heldhaftig?”

      “Ja, Soph, daai ding wat ’n ware gentleman doen.” Ek bars uit van die lag. Noah is ’n geek, nie ’n gentleman nie.

      Toe tref dit my! Noah is verlief. Dis al wat die skielike aanval van mooi maniere kon veroorsaak.

      Hy bly net woordeloos loop en kyk nie eens om nie.

      Dit moes seker een of ander tyd gebeur het.

      “Dink jy nie as jy ’n meisie wil beïndruk, moet jy eerder háár sak dra nie?” vra ek. Ek stamp hom met my skouer toe ek hom uiteindelik inhaal. Noah klem sy kake opmekaar en kyk na my. “Uit daarmee! Wie’s sy?” karring ek opgewonde. “Is dit Leonora?” vra ek gretig. Ek het al gesien hoe sy na hom sit en staar in Wiskunde.

      Hy brom net iets en skuif sy bril hoër op teen sy neus. Ek kan nie uitmaak wat hy sê nie.

      Op pad na sy kar staar die kinders ons behoorlik aan. Ek kan net dink hoe ons vir hulle moet lyk.

      By Noah se nuwe swart Jeep Renegade stop hy. Dit was sy geskenk omdat hy uiteindelik sy lisensie gekry het. Dis glo een van die veiligste karre op die mark volgens sy pa. Noah is immers hulle enigste kind.

      Hy hou my sak vir my.

      Ons vingers raak vlugtig aan mekaar toe ek dit by hom vat. Hy pluk sy hand weg asof sy vingers aan ’n vlam geraak het. Ek byt nie, wil ek vir hom sê, maar los dit eerder. Skielik voel my lippe droog. Ek lek vinnig daaroor toe ek inklim. My arme pel het die skoot omtrent hoog deur, hy’s skoon jumpy.

      In die kar maak Noah asof niks gebeur het nie.

      “Hoe’t jy geskryf?” vra hy onskuldig. Ek sug. Gaan hy nou sowaar my vraag ignoreer?

      “Ek weet nie, die vraag oor stroombane het my ’n bietjie gewen.” Wat ek nie vir Noah sê nie, is dat ek oor Liam gesit en dagdroom het. Toe onthou ek opgewonde waar ek al daardie koperkleurige hare gesien het. Dit was die aand by Aandklas saam met Lisa en Estian. Liam is die hoofsanger van die band wat vir Spoegwolf geopen het. Hulle naam is op die punt van my tong, maar ek kan nie onthou nie. As Noah daardie aand saam was, sou hy nou geweet het, maar dit was toe sy ma so siek was. Hulle liedjies was so cool. Ek is seker Noah sou ook daarvan gehou het.

Скачать книгу