Скачать книгу

ction>

      

      Cecilia Steyn

      Hartsnaar

      TIENERHARTE 4

      Human & Rousseau

      “Don’t only practise your art,

      but force your way into its secrets.”

      Ludwig van Beethoven

      Vir Fanie, omdat jy my die vreugde

      van stories skryf help ontdek het.

      — C. S.

      Sophia

      Donderdagmiddag ná ballet kuier ek by Lisa en Estian in Stellenbosch. Lisa wil verstellings aan my rok vir die matriekafskeid maak. Maar hier in Estian se kamer dans my

      gedagtes heeltyd terug na my foon op sy silwer bedkassie.

      Vanoggend was die e-pos in my inboks – soos ’n teken. Ek voel soos die ballerina in Ouma se juwelierskissie wat sy altyd vir my opgewen het. My gedagtes pirouette in die rondte teen ’n mal tempo. Maar ek kan nog nie die goeie nuus met iemand deel nie. As my ma dit by iemand anders moet hoor, sal sy my nooit vergewe nie.

      “Jy moet sê as dit te styf sit.” Lisa se stem laat my ruk. Deesdae skrik ek vir alles. Sy vat nog ’n kopspeld en pers dit tussen haar lippe. Die materiaal span om my middel.

      “Nee, dis reg, dankie.”

      Lisa steek nog kopspelde aan die rok se rugkant vas. “Jy moet net nie nog gewig verloor nie,” sê sy kwaai.

      “Ek sal nie. Dit was net ’n paar kilo’s.” Ek vermoed dis omdat ek deesdae ekstra hard oefen. Soms twee klasse op ’n dag.

      Lisa lig die lae vleeskleurige tulle tot bo my knie. “Hou gou so,” sê sy en staan ’n paar treë weg. Ek sien hoe flits haar oë na my voete voor sy weer wegkyk. Ek wil amper lag. My regtergroottoonnael is blouswart. Meeste van my tone het eelte en party van hulle pryk met bebloede pleisters ná vandag se oefening.

      “Ek gaan toe skoene dra,” keer ek voordat sy oor my voete ook raas.

      “Elke sport het sy beserings,” sê sy.

      Sy’s reg. Dansers het die lelikste voete. Met haar kop gekantel en hand onder die ken bekyk sy die rok. Lisa se lang blonde hare hang oor een skouer. Ek kan sien hoekom Estian so mal is oor haar. Haar blou oë vernou soos sy in haar kop planne maak met die rok.

      “Jy’t sulke mooi bene. Ek dink jy moet daarmee spog,” sê sy en beaam haar opmerking met ’n kopknik. “Net voor, ons hou dit steeds effens langer agter.”

      “Alles wat belangrik is beter toe wees!” roep Estian van buite die kamer. Gaan hy nou die hele middag voor die deur wag? “Noah sal met my te doen kry as hy verkeerde idees kry.”

      “Ja, ja,” sê Lisa. Ek en sy lag. Arme Noah. Estian is nou sommer simpel, hy weet tog Noah is soos ’n broer vir my. Ek dink dis cool om saam met my beste pel matriekafskeid toe te gaan. Anton Payne het my gevra, maar ek het vir hom gesê ek gaan saam met Noah.

      Vir Noah het ek ingelig hy sal net my date móét wees. Dis tog nie asof hy ’n meisie het nie. En hy’s so skaam. Ons ken mekaar al vandat ons babas was en doen alles saam. So hoekom nie ook saam matriekafskeid toe gaan nie?

      Noah is ’n regte geek. Hy toor met rekenaars. Die rekenaarspeletjie WoW laat hom regop sit en gee hom natgeswete palms soos wat meisies vir ouens gee. Maar Noah is nie gepla oor meisies nie … ten minste, ek glo nie hy is nie. So Estian kan ophou worry.

      Maar eendag sal Noah wel ’n meisie baie gelukkig maak. Boonop is hy ’n violis. Soms as ek na sy vingers se presiese bewegings teen die snare kyk, wonder ek hoe hy aan ’n meisie sal vat. Een keer het my lyf skoon hoendervleis uitgeslaan by die gedagte daaraan. Nou probeer ek om liewer nie so na hom te kyk nie. Ek vertel myself eerder Noah se vingers sal dalk eendag soos my tone lyk. Vol eelte. Dit help.

      Ek kyk op my horlosie. Lisa beter opskud. Estian moet my nog terugvat Val de Vie toe. Ek en Noah gaan draf elke middag. En vandag móét ek hom sien. Hy sal weet hoe ek die nuus aan Ma en Pa moet verduidelik.

      Ek hoop net hy’s oukei daarmee dat ek Londen toe gaan. Die plan was dat ek en hy saam gaan. Ons het albei aansoek gedoen. Hy by die Royal Academy of Music en ek by die Royal Ballet School. Ons was so opgewonde, maar toe word sy ma siek. Toe hy sy aansoek kanselleer, het ek myne ook teruggetrek. Nog voor ons geweet het of ons aanvaar is. Dis wat vriende vir mekaar doen. Ek sou nooit sonder Noah Londen toe kon gaan nie, maar nou is alles anders.

      “Sophia, so wat dink jy?” vra Lisa met een wenkbrou gelig.

      “Van wat?” vra ek vir ’n oomblik deurmekaar.

      “Van die rok?” Sy staan hande op die heupe.

      “’Skuus … dit lyk goed,” sê ek en draai kant toe. “Dis baie mooi.”

      “Is jy oukei?” Lisa kyk fronsend na my. Sy steek nog ’n speld in die rok. “Jy weet, ná wat met jou gebeur het … te danke aan my.”

      Ek byt my lip voordat ek haar antwoord. Lisa bedoel ná die insident met haar eks. Dis die laaste ding waaraan ek vandag wou dink.

      “Ek’s oukei, regtig. Ek’s oor dit,” borrel die geoefende reaksie van die laaste maand oor my lippe, maar my stem kom effens heser uit as wat ek bedoel. Ek is bang ek laat haar sleg voel as ek regtig sê hoe dit met my gaan. Sê nou net almal is vir Lisa vies omdat sagte Sophia nie met ’n ontvoering kan cope nie?

      Dis deel van die rede hoekom ek dink nou is die perfekte tyd om Londen toe te gaan. Dalk blaas daardie lewendige stad sy asem in my longe en sal ek regtig weer oukei wees. Soms droom ek nog van die pistool teen my slaap. Die koue metaal wat in my vel druk. Die vrees in Thomas se oë toe hy die dwelms moes gebruik.

      Ek probeer om nie daaraan te dink nie. Ek oefen harder, dans beter. So eintlik moet ek Lisa bedank dat sy haarself in daardie gemors gekry het. Dit maak my ’n beter ballerina.

      “Is jy seker?” vra sy sag. “Wat as jy iets oorgekom het? Ek sou myself nooit kon vergewe nie.”

      “Maar ek het niks oorgekom nie. Ek’s fine. Regtig. Jy kan ontspan.”

      Lisa vee my hare uit die pad en druk my skouer. “Oukei, dan’s ek bly. Ek en Estian is bekommerd oor jou. Maar lyk my jy’s ’n tawwe girl.” Haar oë flits weer na my voete. “Ek weet nie of ek so sterk soos jy sou kon wees nie, of ek dit so goed sou kon hanteer nie.”

      Ek probeer glimlag, maar ek voel hoe my lippe net in ’n dun lyn bly. Ten minste behandel Noah my nie asof ek gaan breek nie. Ná die episode met die dwelmhandelaars maak almal asof ek soos Ma se handgemaakte glasvaas is wat sy in Venesië gekoop het. Elke dag wens ek daardie aand het nooit gebeur nie.

      Maar na vandag gaan my lewe weer sin maak. My lewenslange droom gaan bewaarheid word. En as ek enigiets positiefs uit my nare ondervinding kon leer, is dit dat die lewe kort is. Ek weet net nie presies hoe ek my mal idee verby Ma en Pa gaan kry nie. Noah moet saamkom vir morele ondersteuning wanneer ek hulle vertel.

      Ek vee met my hand oor die kant waarvan die bostuk van my rok gemaak is. Die kristalle moet nog aangewerk word, maar ek kan klaar die prentjie in my kop vorm. Die rok gaan so mooi lyk. Nes die tutu wat ek op die foto’s vir die Royal Ballet School in Londen gedra het. As ek toe net vir Lisa geken het, sou daar nie so ’n hap uit my spaargeld verdwyn het nie. Maar dis al wat ek kon doen sodat Ma nie moes uitvind nie. Daardie tutu is perfek vir ’n rol in Carmen, my gunstelingballet. Swart, rooi en goud. Ek het in verskillende passies poseer en Noah het die foto’s met my pa se kamera geneem.

      “Kry nou klaar! Ek mis my meisie!” Estian se stem weergalm in die gang voor die kamer.

      “Ons is nou klaar!” roep Lisa. Sy rol haar oë en lag. Soms wens ek ek kan ook iemand in my lewe kry wat so lief is vir my soos Estian vir Lisa. Maar my droom om eendag prima ballerina assoluta in Londen se Royal Ballet-geselskap te wees, is nou belangriker.

      Ballet is soos om op jou voete te droom. En as gevolg van die e-pos is ek een tree nader aan daardie droom. Ma het nog altyd gesê: “Mik

Скачать книгу