Скачать книгу

vinnig op en af in die straat. Waar is almal? Al die motors van netnou is weg. Die sypaadjie is leeg, behalwe vir ’n ou swart 3-reeks BMW met blink wiele.

      Ek swaai om. Twee mans kom nader uit die kerk se rigting, elk­een met sy wapen op ons gerig. Waar’s die derde man? Ek is seker daar was drie in die kerk.

      Weer kyk ek hek se kant toe.

      “Stop net daar.” Die rot lig sy wapen.

      Ek ignoreer hom, skuifel agtertoe, nader aan die Hilux, Liesbet langs my.

      “Stop!” sê hy weer. “Ek fokken skiet julle.”

      “Watch it,” sê die grootste man. “Niemand moet die reverend seermaak nie.”

      Die rot beduie met sy pistool ek moet eenkant toe staan. “Gee pad. Nou.”

      Ek ignoreer hom weer. Skuifel tot my rug teen die Hilux is, Liesbet langs my.

      Waar ís die ander man?

      ’n Geraas laat my skrik, omkyk.

      ’n Man – die een van die kerk wat ek vermis het – spring van die bakkie se laaibak op my. Ek tref die grond. Die Glock spat uit my hande.

      “Liesbet! Hardloop!”

      ’n Vuis tref my, net onder die ribbes. Die lug plof uit my longe. Ek val op my knieë neer.

      “Ek het die reverend!” ’n Man het Liesbet aan die hare beet. Sy gil, baklei teen sy greep. Hy sleep haar agter hom aan hek toe.

      Iemand skop my hard in die sy. Ek sien skrams oranje tekkies.

      “Shaquel!” roep die groot man. “Los die stupid bitch en kom! Ons het wat ons wil hê.”

      Ek probeer orent kom. Die rot se laaste skop tref my in die maag. Ek soek na asem. Val plat op die grond neer en kyk hoe die tekkies in die BMW klim en wegry.

      ADRIANA

      1

      Johannesburg, Junie 1988

      “Addie, kom nou!” Sandra se stem sny skril deur die donker.

      “Sjjt,” sis ek. “Jy gaan my ma wakker maak.”

      Ek skuif my swart mini hoër op waar ek wydsbeen oor die vensterbank sit, gooi my regterbeen oor en skuif versigtig af tot op die sementpaadjie. Druk my kamervenster agter my toe.

      Ek draf oor die yskoue gras, skoene in die hand. Trappies, die Du Toits se basterbrak, blaf vir my deur die slap draadheining van die buurhuis. Behalwe vir sy gekef en die sukkelende geluier van die Cortina is dit verbasend stil vir halfelf die aand in Jan Hofmeyer.

      “Hou jou bek!” sê Sandra vir die hond.

      Ek klim agter in die motor. Peet gooi sy sigaretstompie by die venster uit, glimlag vir my. “Hoe lyk dit? Dos jou ma?”

      Ek knik. Ek is nie lus om oor haar te praat nie. Sy is gister uit Tara Psigiatriese Hospitaal ontslaan en is baie bly om weer by die huis te wees.

      My pa is hier, maar in die garage, soos gewoonlik. Hy vlug deesdae heeltyd soontoe. Hy kom kyk of ek slaap en dan werk hy daar tot vroeg soggens. Of hy blaai deur die nuutste Scope, as ek Peet moet glo.

      “Ry,” jaag ek hom aan.

      “Jy nie lus om te bestuur nie?”

      Ek hoor die lag in sy stem. Ek het laas week amper ’n verkeerslig platgery toe hy my leer bestuur het.

      “Baie snaaks. Ry net.”

      Sandra leun agtertoe, druk my knie. “Jy okay? Jy lyk moeg.”

      Ek doen die wasgoed, kook en skryf eksamen. Waar moet ek tyd kry om vrolik te lyk?

      “Julle hou aan nonsens praat.” Ek glip my hakke aan.

      “Waarheen?” vra Peet.

      “Roxy’s,” sê ek en Sandra gelyk.

      “Daai hool? Hoe kan julle heeltyd na daai kak musiek wil luister?”

      “Dis nie ’n hool nie,” stry ek. “Buitendien, Daisy sal ons inkry. Ons is nie almal agtien soos jy nie. En die brandewyn is goedkoop, sê jy.”

      “Leer sy jou nog haar sirkus-tricks?”

      Ek antwoord nie. Netnou lê die storie die hele skool vol. En sirkus-tricks kan enigiets beteken as jou klas omtrent testosteroon uitasem.

      Peet bestuur met sy regterhand op die stuurwiel, linkerhand op die rathefboom, nes sy pa. Hy ry te vinnig. Klein, arm huise flits verby, dan effe groter huise, tot in die hart van die stad met sy hoë grys woonstelblokke. Ek kyk na die helder verligte, raserige strate, die Hillbrowtoring wat oor alles uittroon.

      Ek vang Peet se oë in die truspieëltjie. “Wat vreet jóú?”

      Sandra sit haar hand op sy been, praat oor haar skouer. “Sy pa sê hy moet polisie toe.”

      “En jy wil nie?” vra ek vir hom. “Dalk is dit beter as die army.”

      Peet lag lelik en steek ’n sigaret aan. Sy hele familie rook, so niemand sal weet hy stook skelm in sy pa se kar nie.

      “Dis juis hoekom my pa sê ek moet die army skip. Die fight is nie meer daar nie, dis hier. In die townships.” Hy trek diep aan die sigaret. “Fok hulle almal. My pa, die bleddie regering, die fokken ANC. Hulle is almal poepholle.”

      “Druip nog ’n slag matriek,” stel Sandra voor.

      “No ways.” Hy lag weer, sy mond skielik weerloos. “Al hier­die kak, die opstande, die bomme; dit gaan nie binne ’n jaar ophou nie. Dis jarre se gemors.”

      “Vat die pad,” sê ek. “Soos Johan.”

      “Hulle het hom in Walvis vasgetrek. Hy’s in die tronk.”

      Hy draai die ruit oop. Die lug wap-wap deur die venster. Ek ril van die koue, slaan my arms om my lyf. Ek moes seker warmer aangetrek het.

      Sandra kyk na Peet, ’n gelate trek op haar gesig. Haar bruin krulhare is deurmekaar en haar maskara is effe gesmeer. Ek wil nie weet wat hulle vroeër op die agtersitplek gedoen het nie.

      “En jy?” vra Peet. “Gaan jy rêrig swot ná matriek?”

      “Ek wil, ja. Dit lyk of ek ’n beurs kan kry. Dan moet ek volgende jaar net hard leer vir ’n goeie matriek.”

      “En dan gaan jy eendag Londen toe,” sê Sandra. “Of Amsterdam. Jy wou mos nog altyd.”

      Sy slaan die sonskerm voor haar af, kyk in die spieëltjie en sit vars lipstiffie aan. “Een van ons moet hier wegkom.”

      2

      Johannesburg, Julie 1989

      “Hier.” Die Hollander leun oor my en sit die teekoppie voor my neer. Hy gooi melk by, te veel suiker, roer met sy lang, maer vin­gers. “Drink. Jy sal beter voel.”

      Ek staar na die goedkoop wit keramiek, die hap uit die koppie se oor. Hoe gaan tee my beter laat voel?

      Hy vou sy skraal lyf op in die stoel langs myne, druk die bril terug op sy neus.

      My ma kyk na haar hande wat op die tafel rus. Die stilte rek.

      Uiteindelik swaai haar oë na my. “Ek is … Ek’s jammer oor Peet.” Haar stem klink krakerig en oud, ongeoefen.

      “Jammer?” My stem raak hoog. “Hoe help jammer?”

      “Adriana. Meisje … nee.” Die Hollander se oë pleit: kalm wees.

      Hy kruis sy bene, die boonste voet wat soos altyd rusteloos op en af beweeg. Lieg oor wat in sy binneste aangaan.

      Hy is reg. Dit help niks om my ma te ontstel nie, om my woede op haar uit te haal nie.

      Ek vryf oor haar hand, klein en bleek onder

Скачать книгу