Скачать книгу

ion>

      

      Graad 5

      Huistaal

      Saamgestel deur Riens Vosloo en Fanie Viljoen

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaard instellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die vertoning te verbeter.

      Liewe leerder

      Jou Piekfyn Afrikaans Leesboek gaan nog jou beste maat word. Eintlik is boeke beter as maats, want hulle het altyd tyd vir jou, hulle praat nie terug nie, baklei nie, en hulle skinder ook nie van jou nie! En hulle neem jou na wonderlike wêrelde toe. Wanneer jy lees en jouself inleef in die gebeure en karakters in ‘n storie, vergeet jy van al die ander dinge rondom jou.

      In jou Piekfyn Afrikaans Leesboek gaan jy nie net kort stories lees nie, jy gaan ook langer stories lees wat jou nuwe avonture gaan laat beleef of jou hare gaan laat regop staan. Daar is ook kort dramas wat julle in groepe kan beurtlees of opvoer, gedigte wat jy kan lees vir genot, en dit selfs saam met jou maats kan dramatiseer.

      Deur te lees, leer ‘n mens van allerlei dinge waarvan jy dalk nog nie weet nie of jy ontdek vreemde plekke waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Soms gaan jy oulike poskaarte of briewe of dalk interessante e-posse van snaakse “mense” lees. En soos die grootmense, gaan jy ook koerantberigte, resensies, onderhoude, verslae en advertensies van nader bekyk en beter verstaan. Dalk word jy ’n skrywer en gee jou Piekfyn Afrikaans Leesboek vir jou ’n paar goeie idees vir jou eie skryfwerk! Het jy geweet goeie skrywers lees sommer van jongs af baie?

      Al hierdie lekker leeswerk gaan jou help om Afrikaans spoggerig en vlot te lees. Geniet hierdie jaar se Piekfyn Afrikaans Leesboek!

      Samestellers

      Die gedokterde kosskottel

      Pieter W. Grobbelaar en Séan Verster

      Ai, dit was vir jou ’n ding en gedoente die dag met die Nuwejaarsfees op Jakkalsfontein. Dis Jakkals se beurt om die diere van die omtrek te onthaal, en hulle kom van heinde en verre af aan. Vrou Jakkals en haar kleinspan moet bontstaan by die kospotte, maar Jakkals is die gasheer en die koning van die dag. Hy verroer nie ’n poot om te help nie. Dis net rondstap tussen die gaste deur en slimstories verkoop.

      Van so hier staan en daar staan kom hy by die jongklomp uit. Hulle is baie danig met hom, want hy is hulle held as dit by slimstreke en kattekwaad kom.

      “Oompie Jakkals,” sê Jong-Ystervark naderhand, “daar is net een ding wat ons jong diere se lewe galbitter maak. Ken Oompie nie die resep vir ’n heuningstropie om dit te versoet nie?”

      “En wat is dié mankement?” wil Jakkals nuuskierig weet.

      “Dis Oompie Bobbejaan,” sê Jong-Ystervark met ’n sug. “Vandat hy magistraat is, is daar vir ’n jong dier nie meer ’n plesier nie.”

      “Ja! Ja! Ja!” roep die ander jong diere in ’n koor. “Hy straf ons ongenadiglik vir die kleinste ou misstappie.”

      “As ek dit . . .,” sê Jong-Muishond.

      “As ek dat . . .,” sê Jong-Haas.

      Hulle vertel hartseer verhale van ’n nes hoendereiers of ’n paar koppe kropslaai wat in die slag gebly het, en toe het magistraat Bobbejaan hulle allervreesliks laat afransel.

      “Olifant het my vyf houe met sy slurp gegee,” sê Jong-Muishond. “Ek dink my laventelbottel is flenters gebreek.”

      “My ma moes vir my ’n nuwe broek maak nadat magistraat Bobbejaan vir Wildehond op my losgelaat het,” kla Jong-Haas.

      Jakkals klap met sy tong. “Nee, dis nie goed genoeg nie,” sê hy. “Ons sal iets daaraan moet doen.” Hy dink vir ’n oomblik na, en toe onthou hy skielik Bobbejaan se groot swakheid. “Jong-Muishond”, sê hy, “jy bang mos nie vir Slang nie.”

      “Slang?” sê Jong-Muishond. “Wat wou!”

      “Nou goed dan,” sê Jakkals. “Ek gee vir jou een van die groot kosskottels hier. Dan pak jy vir Slang agter sy nek beet en maak hom daarin lê. Dan gee ons vir magistraat Bobbejaan ’n pruimpie wat hy nie sal kan kou nie.”

      Die jongklomp verstaan sommer dadelik hoe Jakkals se kop werk, en lag in hulle kieste.

      Alles verloop volgens plan. Voor Slang nog sy kop kan lig en begin sis en blaas, het Jong-Muishond hom gegryp en in die kosskottel geprop. Jakkals vat self die skottel na magistraat Bobbejaan se sitplek toe en sit dit voor hom op die tafel neer. Nou kan hy en die jongklomp maar net wag.

      Nie te lank nie, of al die kos is opgedra, en die etery kan begin. Bobbejaan, die vraat, wag nie eens tot sy gasheer hom nooi nie; hy trek sommer die kosskottel nader om van ’n kant af weg te lê. Hy verwag uintjiebredie of maroelapastei, maar dis boerewors wat hy kry. Ook maar goed, dink Bobbejaan, maar toe hy wil inskep, begin die boerewors self uit die skottel klim.

      Bobbejaan sien hoe die boerewors sy kop plat trek en hoor hom blaas: “Sssie jy, Sssekelssstert!”

      Toe weet hy: die wors is Slang!

      Bobbejaan dink nie nog daaraan dat ’n magistraat darem ’n voorbeeld behoort te stel nie. “Help!” is al wat hy sê voor hy agteroor slaan. Sy agterkop tref die grond soos ’n knopkierie en daar lê hy: uit soos ’n kers.

      Jakkals en die jongklomp kry nie kans om die grappie ordentlik te geniet nie. Slang is moeilik oor wat hulle hom aangedoen het en wil net pik. Op en af kronkel hy tussen die kosskottels op die tafel rond, en waar hy kom, gee die gaste pad.

      Daardie middag het hulle later as gewoonlik geëet. Jong-Muishond moes eers vir Slang tot bedaring bring en hom rivier toe vat om af te koel. Daarna moes hulle Bobbejaan lawe, want sonder ’n magistraat kan hulle darem ook nie klaarkom nie.

      “Wel, vriende,” sê Jakkals toe elke gas uiteindelik weer op sy sitplek is, “mag die nuwe jaar vir ons voorspoediger eindig as wat dit begin het.”

      Hy kyk reguit na magistraat Bobbejaan sonder om ’n mond te trek.

      Die jong diere mag nie hardop lag nie, maar hulle gryns darem.

      (Uit: Jakkals en Wolf. Human & Rousseau. 2011)

      Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:

      1.Hou julle van Jakkals se karakter? Verduidelik hoekom julle so sê.

      2.Voel julle jammer vir Bobbejaan? Hoekom?/Hoekom nie?

      3.Ken julle Jakkals en Wolf-stories? Vertel die klas daarvan.

      Natiki

      ’n Namkwalandse storie

      Die Kalahari-aandson sak weg agter die doringbome. Die jagters kom terug uit die veld. Op die werf lag en gesels mense.

      Natiki se twee susters en haar ma vryf hulle lywe in met vet. Hulle maak hulle mooi, want dis vanaand die dans van die volmaan.

      Natiki se hart brand om ook na die groot dansparty te gaan, maar toe sy haar ma vra of sy dan nie ook kan gaan nie, sê haar ma net: “Gaan haal die bokke en sorg dat jy hulle voor donker by die skerm het. Bring hout saam en maak ’n groot vuur om die wilde diere weg te hou.”

      Haar ma en haar twee susters het baie sleg gewerk met Natiki. Hulle was jaloers op haar omdat sy mooier as die twee oudste susters was, en hulle was bang dat ’n jong jagter dalk eerste in háár sou sin kry op die dansparty.

      Natiki

Скачать книгу