Скачать книгу

      E. Kotze

      Soetloop

      KWELA BOEKE

      van waarhede en versinsels oor geslagte heen

      vir Marlene

      1

      Die dag breek wit oor die kliprug, ’n kalkbank yl ingeklee met sout opslag en rankgoed wat kortstondig bot en blom en blus. Onder in die bog is die duinveld armoedig, die landjies kaal en verwaai, met hier en daar geronde klipstapels soos oergrafte waaronder dooies lydsaam wag op die dag van gelykmaking.

      Toe Samuel Laumbaart van Babilonstoren in die Swartland in die neëntiende eeu sy seuns soos Ou-Testamentiese verkenners uitgestuur het na die Agterbaai, was dit om weiding vir sy veetroppe te soek. Hul eindbestemming was Laaggelee, tussen die kliprug en duine waar daar ’n suiping is, ’n puts waarvan die water pekelsout is. Dit les nie die dors nie; niemand sal dit daar hou nie.

      Tog het die lot dit so beskik dat mense op ’n manier ’n bestaan daar maak. ’n Man met sy vrou en kinders het hul intrek geneem in ’n vratterige rietdakhuis waarvan die lae klipmure gestut word deur stewige bere. ’n Varkhok en koeistal, ’n afdak vir die twee kardonkies, een manatok: dis die somtotaal van Laaggelee.

      Die man wat die wenas by die puts draai, die emmers beurtelings laat sak en uit die diepte na die oppervlak katrol, is van middelmatige lengte, met kort arms en bene en ’n breë rug. Om die emmer uit te keer, verwring hy sy skouerpotjie, en stort. Sy regterelmboog, gebreek en sleg aangegroei, het Claas Prins lewenslank gestrem. Daarom staan hy ook in die omgang as Claas Arm bekend. Sy rykdom kan slegs aan kinders gemeet word. Agt dogters en twee seuns, die halfwassie nie bygereken nie.

      “Hu!” spreek hy die stuwende vee aan, druk hulle terug, maak die krip vol. Hy laat hulle suip. Klap die sweep met sy linkerhand. Keer die skaap kraal toe, jaag die boktrop die rante in en vat die melkkoei stal toe. Hy word nie ’n kudde van sy eie toegelaat nie, slegs die koei, ’n vark en hoenders. Een slagskaap in die maand. Een pond kontant. ’n Veewagtersloon.

      Klaar gemelk, haal hy onder uit die voerkis ’n bottel boerwyn, vat ’n goeie sluk en bêre dit weer. Hy vou die sweep dubbeld oor sy swak arm, en met die emmer melk in sy goeie hand loop hy huis toe.

      Daar wag sy vrou, Ellen, onmagtig in haar agtste maand.

      Sy sit in die uitgesakte biesiestoel onder die venster, haar hande oor haar geswelde buik gevou, knieë wyd vanmekaar, donker sisrok, wit voorskoot, toegerygde velskoene. Haar naaldwerk lê eenkant toe gestoot: ’n gedaan manshemp waarvan die rug versterk is met ’n ewe voos stuk pluiing. Uit kak was gekou, sê die vroue van Patnoster van sulke dikgelapte wasgoed as dit oopgegooi lê by die syferplekke langs die see. Mense armoediger as Ellen, wat glad niks het nie, sien op haar neer. Om te wys sy’s beter, was sy dan nog ’n maal die bontgoed deur en spoel voordat sy met die swaar drag die tog oor die duin aanpak.

      Die huis is van toeka af onveranderd: kamer en kombuis met ’n vuurherd. Daar is ’n potterak, seperyterbank, klein koskas, ’n kas van wit kanferhout vir breekgoed, ses lae stoeltjies van stinkhout met riempiesmat, ses Bentwoods half skeef gesit en ’n kiaatvoorhuistafel met gedraaide pote – aansitplek vir ’n groot gesin. Nutsgoed en prulle, meestal erfstukke wat hulle kon red tydens die rampspoedige uittog van De Hoop af.

      De Hoop, die plaas waarheen Ellen as jong bruid gebring is, se opstal is ’n wit opgeefsel tussen bloekombome hoog bo die kliprug. Sy kyk op van die uitgebrande vuur in die herd toe Claas sy voete op die grondstoep afstamp en die aandmelk inbring. Meet dan die strook son wat deur die nou venstertjie oor die tafelblad val. Daar sit nog ’n stúk namiddag en hier’s hy al by die huis.

      “Ek het maar die vee aangebring,” sê Claas verskonend toe hy haar blik merk, “dat hulle versôre kom. En die aandwerk klaarkom.”

      Met die huisgesin nie meer voltallig nie, word die werklas ál meer: koei melk en vark kosgee, hoenderneste uithaal. Van die kinders is nog op skool, ander werk elders. Ellen het nie meer haar kragte nie. Die dae is verby dat sy, vlugvoetig, oral voorgevat het. Selfs gemelk en water van die put af aangedra het as Claas iewers opgehou word, by sy suster op Kalkrug oorslaap vir die een of ander rede.

      Claas knoop die doek oor die skeierbak, giet die melk in en begin die slinger draai. Eers langsaam, totdat hy die ritme vind en die dun, geel straaltjie room een kant uitloop, die sterker blouwit straal regs.

      Dan voer hy fyngoed by die half dooie kole, blaas die vlammetjie aan, sit water op, wag dat dit kook, maak koffie, skink vir hom, en vir haar.

      Sy kriewel vir sy tydsaamheid. Tuur die verte in. Waar bly die kinders?

      Sy kyk na Claas. “Het jy hulle nie sien aankom nie?”

      “Nie so opgelet nie,” praat hy in die koffiebeker. “Hulle sal ’n geleentheid met Milanner saam kry, hy’s vemiddag hier deur.”

      Sy kop is by die kinders wat op Patnoster skoolgaan, besef Ellen, en sy swaer wat wag vir die bakkies om met vis in te kom. As die kinders maar die winkelgoed onthou, dink sy. Sy’t die notisie gisteraand op ’n stukkie bruinpapier geskryf: die allernodigste suiker en koffiebone, pakkie tee, tolletjie nommer 10-gare vir ’n wit hekelkantjie om haar swart rok se hals. ’n Onnodige uitgaaf, nes die tee. Maar Malie, hulle oudste, staan op trou, sy kan die kind nie verder in die skande steek nie. En hoe sy ook al probeer, sonder haar koppie elfuurtee kom sy nie deur die dag nie. Brakwater ofte nie.

      “Claas.” Haar stemtoon styg, geïrriteerd met sy blote aanvaarding van gunste en gawes, sy gelatenheid, hierdie hoed-in-die-hand-houding. “Ek praat van Liesie en San …”

      “Ja, ek’s nie doof nie.”

      “… wat vanoggend by die see gaan was het.”

      Die wasplek is aan die rand van die branders waar vars water onder ’n ligpienk rotsplaat uitsyfer. As die syfering toewaai, wat gereeld gebeur, skraap hulle die sand met hul hande weg om ’n wye kom te vorm waarin die skoon water eers stadig en dan sterker begin opwel: ’n helder poel tussen klip en sand.

      Hulle vermoed die water kom uit die kliprug. Wanneer dit reën, dreineer ’n soetloop, vars soos neut, waarskynlik in ondergrondse are af see toe en slaan op die strand tussen die kalkklip en ronderug granietrotse uit. Aan die begin, net ná hul aankoms op Laaggelee, het Claas saam met haar soontoe gestap, haar die kinders help dra, die bad en emmers vol gemaak voordat hy aangegaan het met sy eie werk om die vee te versorg en die kalkoond aan die gang te kry.

      Middae het hy haar weer kom help om die bad klam wasgoed terug te dra, sy met ’n kind aan elke hand, een in die maag. Malie met Nieko op die rug, drie duine op en drie duine af, sleepvoet deur die duwweltjies.

      “Die kinders is oud gewoond om by die see te was, wat henner jou skielik vandag?” vra Claas.

      “Susanna is skaars vyf, niks meer as ’n asem nie. Van hoeveel hulp is sy vir Liesie?”

      “Nou hoekom het Malie dan nie saamgeloop nie?”

      “Omdat Malie haar nie sommer in die son sal laat verbrand nie, al dra sy ook moffies.”

      Malie het die ligte hare van die Prinse en ’n bloesende vel. En Claas se teer oë, gevoelig vir die lig. Op die oomblik is sy op Laaggelee om vir haar troue klaar te maak, in die buitekamer besig met haar rok waarvan die soom, hals en moue met kraletjies versier word.

      Dis ’n uithangerigheid waarmee Malie van die Coetzees af gekom het, meen Ellen, die kinderlose egpaar by wie sy in diens was. Wat onder hul oë ’n vryery toegelaat het tussen Malie en die Langbáner. ’n Lagoonvisser. ’n Nasaat van gedroste matrose, gesoute seemanne. Taars, noem hulle hulleself. Leopold Taar het ’n broer en ’n ma wat by hom bly.

      “Wat dink jy, juffer, hoe ’n lewe kan hy jou bied?” het Ellen haar afkeer te kenne gegee.

      ’n Hele gemeente Taars om voor reg te staan. Alles klam van die seedouklimaat, van die mure tot die kooigoed. Want die huis staan met sy fondasies so te sê in die water as die gety opstoot. Ingerygde steentjies, die ene grate, aan die manatok drup ’n pekelsous. En só ’n wind, yskoud oor die water.

      Maar Malie is wys, met altyd ’n beter antwoord

Скачать книгу