Скачать книгу

      Pa staan op, wankelend. Hy hou sy nek vas. Daar is bloed wat deur sy vingers syfer. Dit lyk swart.

      “Pa,” sê ek. My stem klink anders. Vir hom ook, ek sien dit in sy kyk.

      * * *

      Ek was dertien jaar oud, toe skiet ek twee mense. Uit woede. Vir die wêreld en vir my pa.

      Daardie aand besef ek ek sal my pa voortaan moet beskerm. Dit sal my rol wees.

      11

      Pa

      Terwyl ek hier skryf, terwyl ek daardie nag herroep, oorweldig die herinneringe my; ’n warboel, lukraak, sonder chronologie. En ek kan nie dié woord gebruik sonder om my pa se stem te hoor nie: “‘Chronos’ is Grieks vir ‘tyd’, ‘logos’ kom van ‘lego’, wat in antieke Grieks beteken ‘ek praat’. Dit het verbaster na ‘logia’, die studie van iets, dit is byvoorbeeld waar ons die woord en konsep ‘logika’ vandaan kry …” En dan sal hy passievol oor die Grieke en hul beskawing begin uitwei, om eindelik weer te eindig by sy groot versugting: “Ons was tot so baie in staat, ons het so baie verloor.”

      Dit is ’n vreemde ding, om die ou deure weer oop te maak, die winde van daardie tyd te laat inwaai. Heimwee en verlange, pyn en vreugde. Verwondering: Dít is my lewe. Dít is hoe ek gemaak en gevorm is. En die ander groot dilemma van die memoires: Om my vertelling ’n leesbare struktuur te gee, ondanks die truuks van die geheue, en die moeilike navigasie tussen die riwwe van emosie deur.

      My pa. Willem Storm. “That damn polymath”, soos Nero Dlamini hom dikwels sou noem wanneer Pa nie by is nie. My pa was sensitief en sag, maar hy wás ’n slim man. Én wys. Sy kwalifikasies as aardrykskundige en juris – in daardie aweregse volgorde – was die amptelike, akademiese rigtingwysers na sy rustelose intellek, maar het nie die volle verhaal vertel nie. In praktyk was sy belangstellings en insig veel wyer. Hy was half-historikus, semi-filosoof, kwasi-wetenskaplike.

      Hy was ’n immer soekende, voortdurend lesende, altyd bevraagtekenende kennisvraat, volkome geboei deur, en heeltemal verlief op, elke aspek van dié wêreld. Sy fokus was nooit ’n eng soeklig nie, maar ’n helder lamp wat die onderwerp én alles om hom verlig het. Sy perspektief was altyd breed, dit het nooit mense, en veral nie vir my, uitgesluit nie.

      Meelewing was sy kern, daardie seldsame vermoë om deur ander se oë te kan sien.

      “Hoekom is jy só, Willem?” vra Nero kort voor Pa se dood een aand in die Orphanage se sitkamer, hulle elkeen met ’n brandewyn in die hand.

      “Hoe?”

      “Jy kyk nog so half grootoog na die wêreld. So asof dit ’n bietjie magies is, alles en almal. Jy leef in verwondering, amper soos ’n kind, as jy my sal vergewe.”

      Toe lag Pa, en hy vra: “Weet jy waar kom die woord ‘magies’ vandaan?”

      “Jy gaan nie die vraag ontduik nie.”

      “Het jy geweet die woord ‘masjien’ het dieselfde herkoms as ‘magies’?”

      “Hoekom is jy só?”

      “Want die wêreld en die lewe ís magies, Nero. Op ’n manier. Want ons kan planne maak soos ons wil, maar die heelal steur hom nie daaraan nie.”

      “Wat het jou so gemaak?”

      Toe dink Pa, en hy sê dit is omdat hy op ’n dorp grootgeword het, die laaste geslag wat kinders was voor die Internet. Oudtshoorn was groot genoeg om ’n goeie hoërskool te hê, klein genoeg en ver genoeg van die stad af dat die plattelandse waardes behoue kon bly. Pa wou eers onderwyser word, geïnspireer deur van die goeie mense wat vir hom skoolgehou het. Vandaar sy studie in aardrykskunde. Maar toe is sy kamermaat op universiteit ’n regstudent, en hy begin die handboeke lees, en hy ontdek ’n wêreld wat hom óók fassineer. En hy raak in sy derde jaar verlief op Amelia Foord en hy besef hy sal meer van homself moet maak.

      12

      “Here, Nico,” sê Pa. Hy bring sy hand van agter sy nek en kyk verdwaas na die bloed op sy vingers. Sy knieë knak. Hy gaan sit. “Ek sal nou reg wees,” sê hy apologeties.

      Ek kyk na sy wond. Ek kan die klein, wit punt van ’n stukkie nekwerwelbeen in die lig van die huis op die rant sien, voor die bloed daaroor syfer. Maar Pa was onmeetlik gelukkig. Die rewolwerskoot het hom skrams agter sy kop getref, ’n skeur deur die dun vel en sagte vleis aan die bopunt van sy nek. Millimeters van sy breinstam.

      “Pa is net kwaai gekwes,” sê ek.

      Hy knik.

      Ek sien vir Spiere daar op die sypaadjie lê, sy oë oop, sy kop stukkend agter. Ek wil ook gaan sit. Ek staan weg van Pa af. Hy kyk besorg na my. Ek gooi op, op die teerpad. Aanhoudend.

      Pa staan op van sy knieë af en kom hou my vas. Dis meer ’n gebaar van dank as van troos, dink ek vandag.

      * * *

      Ons ruik die drank aan Spiere en Langhaar toe ons verbyloop. Dis seker hoekom Spiere misgeskiet het.

      Die Lighuis was net hulle lokaas. Hulle het in ’n ander huis aan die linkerkant van die straat gebly, die een waaruit hulle gekom het toe Pa ’n amper onsigbare waarskuwingsdraad afgetrap het en ’n liggie daar binne aangegaan het.

      Die huis ruik suur binne. Daar is leë bottels en blikkies en kartonne en papier-rommel oral. Vuil klere, vuil borde, vuil glase.

      Pa roep na die vrou. Niemand antwoord nie. Ons hoor hoe sy saggies huil. Pa loop voor, hy gaan staan in die kamerdeur. Hy sê: “Wag, Nico, die tannie het nie klere aan nie.” Ek bly in die gang, ek hoor hoe Pa sag en mooi praat met haar daar binne. Sy antwoord nie. Hulle kom uit. Pa het haar toegemaak met ’n laken. Haar kop hang en haar lyf bewe fyn en daar is blou en pers kolle op haar gesig. Haar hare is vuil en olierig, sy ruik baie sleg.

      Pa lei haar uit, straataf.

      13

      Die eerste vrou

      Pa bied vir die vrou kos aan, eers in Afrikaans. Sy hoor nie, of sy verstaan nie. Pa probeer Engels, dan die Frans en Duits wat hy bymekaar kan skraap. Dit help ook nie. Sy sit net op die rusbank met die vuil laken om haar en sy bewe en sy kyk vir die tapyt.

      Ons maak vir haar water op die gasstoof warm in ’n groot kastrol en dra dit badkamer toe, waar ons die bad volmaak. Pa vat haar en maak die deur agter hom toe wanneer hy uitkom.

      ’n Uur later gaan hy weer in. Hy kom uit en sê: “Sy sit nog net só, op die vloer.” Daar is net jammerte in sy stem.

      Ons maak weer water warm. Pa gaan was haar, ek wag in die kombuis. Hy help haar om klere aan te trek wat hy in ’n kas in die hoofslaapkamer kry. Hy lei haar na die kleiner slaapkamer. Die klere is effens te groot. Hy sit haar in die bed.

      Sy sê nie ’n woord nie.

      25 Maart

      Dit is die eerste keer in baie maande dat ons nie net twee in ’n huis of ’n kar of ’n vragmotor is nie. Dit is ’n snaakse gevoel, om te weet die vrou lê daar.

      Ek en Pa eet ontbyt. Die vrou roer nie.

      Pa lyk soos ’n mummie, want die wond agter sy kop is op ’n ongemaklike plek, die verband moet om sy voorkop gaan. En daar is verbande en pleisters aan die hondewonde van sy arms en sy skouer en sy rug.

      Ek was die skottelgoed, Pa gaan kyk na die vrou. “Sy slaap,” fluister hy toe hy uitkom.

      Ons praat nie oor gisteraand nie. Pa is anders. Hy gesels met my oor sy planne. En vroeër sou hy alleen vir Spiere en Langhaar gaan begrawe het, om my die skade te spaar. Maar vanoggend neem hy my saam om te help. Dit neem ure, want die grond teen Vanderkloof se koppies is hard en baie klipperig.

      Ek gooi weer op toe ons die lyke na die grafte toe sleep en hulle toegooi. Pa sê net: “Toemaar, Nico, toemaar.”

      Ons gaan terug huis

Скачать книгу