Скачать книгу

Die honde, die aand van die honde is in my kop, ek sien dit alles weer. Die vernedering dat ek na my ma geroep het. Ek is dertien jaar oud. Ek is gróót. Die honde, Pa se koors, die twee mans hier voor die huis, die skote op ons deur geskiet, die vasgebinde vrou, ek herleef dit, die beelde, die reuke, die vrees. My pa, eergisteroggend, hy het uit die trok geklim met sy seer lyf, hy het bang gelyk, vir die eerste keer bang, die manier hoe hy gekyk het, die manier hoe hy teësinnig aan die stywe, grieselrige karkasse gevat het terwyl hy die honde weggesleep het. My hart wil uit my bors bars, my asem is nie genoeg nie, alles wil my oorweldig.

      Ek wil skree. Ek het ’n kwaad in my, vir die wêreld. Vir die honde wat wil moor, wat ons so doelgerig wil doodmaak. Ons, wat ná Die Koors soveel wildplase en wildtuine se heinings gaan knip het, wat al die dieretuin-hokke in Bloemfontein gaan oopmaak het. Ons is dierevriende, hoekom wil die honde ons doodmaak? Die kwaad brand deur my, ’n redelose kwaad. Vir alles, vir Die Koors wat my hele bestaan verwoes het. Ek bal my vuiste, ek wil iemand of iets uitskel vir die onregverdigheid, terwyl die kamer, die wêreld, die heelal al hoe nouer en swaarder word, die druk groter en groter en groter.

      “Nico!”

      Pa is skielik by my, die drukking is weg.

      Ek kyk vir hom. Hy kom sit langs my. “Jy het geskree. Ek dink jy ly aan skok.”

      My hele lyf is gespan, oorgehaal soos ’n geweer.

      “Ek is hier,” sê Pa.

      Daar is niks wat ek verder kan sê nie.

      “My koors het gebreek,” sê Pa.

      9

      24 Maart

      Dit reën vroegoggend, donder en blitse, ’n dreuning op die huis se sinkdak.

      Daar is humiditeit in die lug, ’n drukking, soos iets wat broei of fermenteer. Binne my ook, want die kwaad en vrees het nie verdwyn nie, dit kruip net iewers in my agterkop weg.

      Pa sê dis veilig om koffie te maak as dit reën, die geur sal nie ver geruik kan word nie. Maar ons moet steeds die vensters toehou. Ons drink in die kombuis. Hy vertel my van Abraham Maslow se hiërargie van behoeftes. Pa praat nooit af na my toe nie. Hy gee my feitelik al die inligting, ek moet self besluit wat ek nie verstaan nie. (Jare later besef ek hy het seks uitgelaat toe hy Maslow se fisiologiese behoeftes opnoem. Ek neem hom dit nie kwalik nie.) Hy verduidelik dat Vanderkloof op fisiologiese vlak ideaal is; al die water wat ons nodig het, en goeie potensiaal vir die belangrike vorme van boerdery. Want die klimaat is redelik goed, besproeiing is maklik, en daar is boonop hidro-elektriese krag wat ons sal kan herlei, as ons die regte mense met die regte kennis kan vind om die stelsel te verander en te onderhou.

      Hy weet presies watter vraag op my tong lê. Hy sê natuurlik is daar ander plekke, ander damme en riviere, wat min of meer dieselfde bied. Maar hy ken hierdie wêreld so goed, hy was ’n paar jaar gelede hier. Hy weet: Vanderkloof is uniek as dit kom by Maslow se behoefte van veiligheid. Vanderkloof is ’n vesting, ’n burg, ’n natuurlike fort, danksy die heuwels met hul kranse, en die dam. Daar is net een maklik begaanbare pad in, teen die steil heuwel op. Daar is net een flank om te verdedig, tensy die vyand met ’n vloot skepe kom, wat darem baie onwaarskynlik is op die Oranjerivier, en Pa lag. Dit is wanneer ek kan sien hy het nog nie heeltemal herstel van sy koors nie. Die lag is so ’n bietjie hol. Dit is asof daar ’n deel van hom is wat nie teruggekom het nie.

      “Maar wat van die twee ooms in die Jeep wat hier bly?”

      “Ja. Die komplikasie … Ek dink nog daaroor.”

      Die humiditeit in my kop is ’n voorbode. “Ek dink ons moet ry, Pa.”

      Pa hoor nie.

      * * *

      “Hulle gaan nie met daardie oop Jeep rondry terwyl dit reën nie,” sê Pa. “Kom ons gaan haal die arsenaal.”

      Ons luister en kyk eers mooi op die stoep voor ons na die Volvo toe draf om ons wapens en skoonmaakgoed te gaan haal. Ons noem dit ons “arsenaal” sedert Pa vir my verduidelik het waar dié woord vandaan kom – uit “pakhuis” in die oorspronklike Arabies, na Venesiese Italiaans, na Engels en eindelik Afrikaans.

      Ons lê die paar pistole en die twee jaggewere op die kombuistoonbank uit. Ek vee die reëndruppels van die donkergrys staal af. Ons sit langs mekaar en maak die wapens een vir een ordentlik skoon, en olie hulle.

      “Ons sal vanaand in die donker kyk of ons hulle lig kan sien,” sê Pa. “Dan sal ons weet hoe gerus hulle is, en hoe naby hulle is.”

      Ek wonder waarom ek nie daaraan gedink het nie.

      “Dan sal ons net ’n bietjie gaan verken.” Nadat hy gedink het: “Daar kan meer as net die twee mans en die vrou wees.”

      “Wat maak ons dan?”

      “Dan ry ons maar eers. Die risiko …”

      “Hoekom ry ons nie net nie, Pa? Nou. Vanaand.”

      Pa is so lank stil dat ek wonder of hy my vraag gehoor het. Dan sê hy: “Ons wil ’n nuwe begin hier kom maak. Ons wil ’n gemeenskap kom skep met moraliteit, met die regte beginsels, met omgee vir mekaar. Dan moet ons nou reg wegspring. Ons kan nie daardie tannie só los nie. As hulle net twee is, moet ons minstens probeer. Al is dit net ek en jy.”

      Dit is die eerste keer dat Pa praat van “’n gemeenskap skep”. My gedagtes is op daardie oomblik te besig met ander dinge, dit registreer nie. Eers baie later sal ek besef hy het alles toe al deurdink. Hy het ’n visie gehad, vóór die dag met die honde, vóór ons hier aangekom het.

      Teen vieruur klaar die reën op. “Dis jammer,” sê Pa. “Dit sou gehelp het.”

      * * *

      Pa behandel teen skemer sy hondbytwonde met salf en verbande en pleisters. Hy drink pynpille. Hy smeer swart strepe oor ons gesigte met skoenpolitoer uit die kombuiskas. Ons trek donker klere aan. Ons laai vir elkeen ’n Beretta en ’n geweer: die Tikka .222 met sy lang teleskoop vir my en die .300 CZ vir Pa.

      “Die soort mense wat ’n vrou só behandel, hulle is … gevaarlik. Ons gaan net verken, Nico, dis al.”

      “Okay,” sê ek en hoop Pa hoor nie die verligting nie, want ek voel net alles is nie reg nie, daar is slegte dinge in die lug.

      Tienuur is dit pikdonker, die maan is nog nie op nie. Ons los eers die wapens, en klim van die agterstoep af op ons huis se sinkdak. Ons sien hulle dadelik. Hulle huis is hoog op teen die heuwel, so drie kilometer weg. Hulle moet ’n sterk kragopwekker hê, want dit is elektriese ligte wat so helder brand. ’n Groot huis, drie verdiepings.

      “Houtgerus,” fluister Pa, al is hulle heeltemal te ver om te hoor.

      Terug in die kombuis vra hy: “Jy het geen ander voertuie gehoor terwyl ek siek was nie?”

      “Nee, Pa.”

      Hy is diep ingedagte wanneer hy die pistool en geweer vir my aangee. Ons stap deur toe. “Kan hulle só onverskillig wees?” Ek weet Pa vra nie vir my nie.

      * * *

      Hy kry sy antwoord in die pad.

      Vanderkloof, in die Jaar van die Hond, is ’n deurmekaar dorp, nog in sy voor-Koors-vorm – ’n klein, onvoltooide, ondeurdagte lappieskombers wat oor die heuwels gegooi is. Daar is net een padverbinding na die boonste woonbuurt en die Jeep-mense se kasteel van lig. Ons loop suutjies en versigtig in die donker, ek so ’n halwe tree links en agter Pa. Ons tekkies sag op die teer, ek kan Pa hoor asemhaal. Ons misgis ons eers met die roete, ons moet omdraai, weer probeer. Kry die regte teerstraat.

      “Nico!” sê Pa sag maar dringend. Ek skrik. Hy hou sy arm uit om my te keer. Ek sien niks nie.

      “Hulle het ’n draad gespan,” fluister hy.

      Hy trek ’n vinger deur die lug om vir my die draad te wys. Ek moet nader staan, ek moet mooi kyk voor ek dit sien blink teen die lig van die huis daar bo, nog meer as ’n kilometer weg.

Скачать книгу