Скачать книгу

jy moet oppas vir die son!” roep my ma wat pas met ’n slaaibak in haar hande op die rand van die stoep verskyn het. “Vanaand sit jy weer in ’n asynbad en huil.”

      “Aaaag, Maa!”

      “Ek sê maar net.” Ma dra ’n geblomde trilobal-romp bo-oor ’n bypassende geblomde baaikostuum. Haar donkerbril lyk soos Jackie Onassis s’n. Aan haar ore hang trossies rooi kersies, so lewensgetrou dat jy daaraan wil hap. “Onthou, dis nie die Kaapse son dié nie.”

      Ek sit die oop boek plat op my gesig neer. Die swart letters swem voor my oë. Ek voel hoe die sweet by my maag afloop en in my naeltjie opdam.

      “Sjoe, maar die water lyk lekker.” Die Pretorianer se stem klink nader, asof hy langs Ma kom staan het. Ma se hoë kurksoolsandale kraak toe sy wegstap. Dis ’n rukkie stil, maar ek kan voel iemand kyk na my. Ek loer onder die boek deur en sien hoe die man oor die reling van die stoep leun. “Die molle het al goed gestoot daar onder, nè.”

      “Ja.” My pa lag verleë. “Ek sal een van die dae ’n haelgeweer moet aanskaf om die kêrels weg te hou.”

      “Ek sal haar graag oor ’n paar jaar wil sien.”

      Dink die donner miskien ek is doof? Ek lê roerloos, asof ek aan die slaap geraak het.

      “Mart is ’n stil kind,” sê my pa, “altyd met haar neus in ’n boek. Dis Liefie wat my grys hare gaan gee, dit kan ek nou al sien. Sy’s die wilde een.”

      “My naam is nie Liefie nie!” roep Liefie van iewers uit, hardloop teen die trap af, en spring in die swembad met ’n geplons wat soos applous klink.

      Ek is so dankbaar vir die afleiding dat ek nie eens omgee om nat gespat te word nie, probeer net die boek droog hou deur dit hoog bo my kop te lig. Draai my rug na die stoep en kyk hoe my sussie soos ’n skitterende forel deur die oppervlak van die water bars.

      “Ek het haar nou die dag in die badkamer betrap, besig om haar beenhare te skeer!” sê Pa ontstoke. “Met my skeermes! En sy’s nog nie eens op hoërskool nie!”

      Liefie klouter by die swembad uit, kom staan wydsbeen bo-oor my en skud haar lyf droog. Die waterdruppels skroei my vel soos droë ys.

      “Nee, man, kyk hoe lyk die boek nou!”

      “Wat lees jy?”

      “Niks wat jy sal verstaan nie.”

      “Hoe weet iy?”

      Sy sak langs my op die nat plaveisel neer. Haar vel is bruin soos ’n boomstam, haar lyf nog ongevorm, maar haar tepels begin klaar donkerder deurskyn onder die klewende bikini-bostuk. Sy knipoog vir my asof sy weet wat ek dink.

      “Jy sal vir Ma moet vra om vir jou ’n bra te koop.”

      “Ek het al.” Glad nie skaam daaroor soos ek was nie. “Ek dra dit elke dag skool toe.”

      Ek trek die klam boek nader, probeer weer lees. Die frangipaniboom agter my ruik so klewerig soet soos Ma se haarsproei. Oral om my is roomwit frangipaniblomme op die plaveisel afgegooi, asof die reuk selfs vir die boom te erg geword het. Dis moeilik om op ’n boek te konsentreer – selfs ’n boek met seks in – as die bome om jou soos haarsproei ruik en die son jou kaal bene brand en die plante so groen is dat dit voel asof jy pal deur ’n donkerbril na die wêreld kyk, selfs wanneer jy jou bril afhaal. Nou verstaan ek waarom almal altyd sê die mense oorsee lees meer as die mense in Afrika.

      Nog ’n rede waarom ek eendag in ’n dakkamer in Parys wil gaan woon. Om baie boeke te lees, terwyl ek lang Franse brode eet en goedkoop Franse wyn drink en sterk Franse sigarette rook. En wanneer ek nie lees nie, sal ek romantiese Afrikaanse gedigte skryf wat ek met groot gevoel sal voordra aan dodelik aantreklike Franse mans met sulke swart oë en sulke hol wange, wat natuurlik nie ’n woord daarvan sal verstaan nie …

      “Ek het vir my ’n naam uitgedink.” Liefie se stem onderbreek my toekomsdrome.

      “Jy hét mos ’n naam,” sê ek geïrriteerd.

      “Hoe sou iy daarvan gehou het as almal jou Liefie noem!”

      “Ek kan my nie voorstel dat iémand my ooit Liefie sal noem nie,” sug ek. “Ek lyk seker maar nie soos ’n liefie nie.”

      “Wel, ek was nie so stupid om vir die kinders by my nuwe skool te sê julle noem my Liefie nie.”

      “Nou noem hulle jou Loulene?”

      “Hm-mm.”

      Sy skud haar kop stadig terwyl sy met haar wysvinger patrone op die nat plaveisel trek. Byt op haar vet onderlip soos Ma maak as sy haar gevoel wil wegsteek. Maar vir Liefie was dit nog altyd makliker om gevoel te wys as om dit weg te steek.

      “Wat’s verkeerd met Loulene?”

      “Niks. Dit pas net nie by my nie. ’n Naam is soos ’n rok, dit moet by jou pas.” Sy laat haar stem sak om die dramatiese oomblik beter te benut. “Ek het vir hulle gesê my naam is Bobby.”

      “Bobby?”

      “Ja. Soos daai liedjie wat Simon altyd sing. Me and Bobby McKay?”

      “McGee.”

      “Ja, daai ene.” ’n Verblindende glimlag verlig haar gesig. “Dink jy nie dit pas by my nie?”

      “Bobby Vermaak!” mompel ek en draai op my maag om verder te lees.

      “Beter as Liefie Vermaak, dink jy nie so nie?”

      Die army is ’n snaakse plek, skryf Simon uit Potchefstroom. Ek wou mos ’n parabat word, dan moet ek Bloemfontein toe gaan as basics eers verby is, maar nou begin ek wonder of dit so ’n goeie idee is. Ek bedoel ek het hierdie prentjie in my kop van ’n valskermsoldaat vir wie al die girls gaan val, maar miskien is dit net ek wat vrek hard gaan val, uit ’n vliegtuig uit. Nee, ek is nie besig om ’n moffie te word nie. Ek wonder maar net.

      Ek’s besig om ’n boek te lees wat Pierre vir my geleen het, Catch-22, ek dink jy sal daarvan hou. Ek het jou mos gesê Pierre is die ou wat daar op Swartstroom grootgeword het? Hy’s in standerd nege uit die skool geskors, hoor ek nou die dag, oor hy vir die hoof gesê het hy’s ’n poepol, can you believe it, toe stuur sy ouers hom na ’n privaatskool in Pretoria en toe doen hy standerd nege en tien in een jaar. Toe hitch-hike hy laas jaar deur die land. Ek het nog nooit ’n ou ontmoet wat so baie vrae vra nie. En so baie vreemde opinies het nie.

      Hy sê die Amerikaners het hulle gat gesien in Vietnam. Solidly. Hy sê ook die wittes het hulle gat gesien in Afrika, maar daaroor stry ons nog elke dag.

      “Hier eet ’n man vleis,” sê Pa. “Beesvleis, bokvleis, leeu-vleis …”

      “Slangvleis?” vra die Kapenaar, wat die speletjie begin verstaan.

      “Slangvleis,” sê Pa. “Net verlede naweek het ons ’n slangbraai gehad.”

      “Nee, kyk, nou praat jy kak, Karel!”

      “Nie so hard nie, hier’s kinders hier rond,” sê Pa sedig. “Kom kry solank vir jou ’n stuk wors.”

      “Ek het vanoggend ’n monster van ’n slang langs die pad gekry,” sê die Pretorianer en sluk aan sy bier. “Maklik ses voet lank.” Nog ’n sluk. “ ’n Kar het oor sy kop gery, maar sy lyf het nog gewriemel toe ek stilhou.” Nog ’n sluk. Die man weet hoe om ’n storie uit te rek. “Ek het hom in my kattebak gelaai. Gedog ek kon miskien vanaand ’n bietjie sports maak. Ek wou hom onder ou Jaap se bed los, net die stert laat uitsteek …”

      “Nee, magtag, man!” Jy hoor eintlik die sug van verligting in die Kapenaar se lag. “Wat sou jy vir my vrou gesê het as ek ’n hartaanval gekry het?”

      My pa lag saam.

      “Maar nou het ek ’n beter idee,” sê die Pretorianer. “Ek stel voor ons hou vanaand ’n slangbraai. Dan wys ou Karel vir ons hoe doen hy sy ding.”

      “Ek

Скачать книгу