Скачать книгу

ou professor Hodgin net nie weens siekte moes aftree nie, sou hý haar promotor gewees het. Nou moet sy sowaar onder Terry van alle mense werk.

      Vanaf haar eerste jaar sweep hy haar emosies op. Hoe simpel was sy nie? Om te dink sy beërwe die hemel toe hy uiteindelik in haar begin belangstel kort nadat sy as junior lektor aangestel is. Min het sy geweet dat dit so stomp beëindig sou word, sonder ’n verduideliking. Terry kon haar ten minste ’n rede gegee het, maar nee, hy het eenvoudig net opgehou om haar te kontak. Sy moes geweet het Beryl Makin was daarby betrokke. Terry het nie eens die ordentlikheid gehad om ’n ruk te wag voordat hy dit duidelik gemaak het dat sy belangstelling na Beryl verplaas is nie.

      Moet sy nie maar tog vir ’n pos by ’n ander universiteit aansoek doen nie? Om jou kollegas en die studente in die gesig te moet kyk terwyl jy nie weet wie van hulle van jou vernedering bewus is of agter jou rug skinder nie, is bykans onhoudbaar.

      Nee, Terry Swales gaan haar nie onderkry nie. Sy sal aanhou maak asof dit haar nie regtig traak nie; voorgee dat hy nie regtig vir haar so belangrik was nie. Sy moet nou maar eenmaal onder Terry werk, hom heeltyd sien, en voorgee dat hy nie haar gevoelens seergemaak en haar ego byna geknak het nie.

      Die departementele sekretaresse, die moederlike en bekwame Erna Uys, is gelukkig nog daar. Sy wou bedank nadat professor Hodgin afgetree het, maar sy het tog besluit om aan te bly.

      Net toe Diana by Erna se kantoordeur wil ingaan, kom ’n laggende manstudent so vinnig agteruit dat hy Diana byna onderstebo stamp. “Oukei …” sê hy, sien haar raak en spring opsy. “Sorry, Miss Malan.” Dis Neville Pieterse. Sy sien hom deesdae gereeld hier by die kantore rond. Sy knik vieserig vir hom.

      ’n Soet walm begroet haar toe sy instap. Haar neus kriewel. Sy haat die geur van sterk parfuum en sy is altyd erg van reuke bewus. Beryl Makin staan daar met ’n breë glimlag op haar mooi gesig. So, dis waarom Neville giggelend in trurat by die deur uitgekom het. Hy is een van die manstudente wat net nie genoeg van Beryl kan kry nie.

      “O, haai Diana,” groet sy in haar heserige stem. Beryl is korter as Diana en meer gerond. ’n Styfpassende wit bloes beklemtoon haar mooi borste en haar kort blou romp steek beslis nie haar welgevormde bene weg nie. Met een hand vee sy oor nagswart hare wat styf agtertoe getrek en vasgemaak is, asof sy wil voel dat dit nog reg sit, en vroetel dan aan een van haar enorme silwer oorringe. Beryl het nie die bestudeerde sogenaamde shabby academic look van baie ander vroue op die vloer nie. Sy dra grimering en doen moeite met haar voorkoms.

      “Haai.” Diana is nie lus om met haar te gesels nie.

      “Kom jy vir Terry sien? Ek was nou net by hom. Hy behoort nog in ’n baie goeie bui te wees.” Sy knipoog veelbetekenend vir Diana. Dit laat haar gril. Sy hou nie van die vroumens se insinuasies nie. “So, as jy probleme met jou tesis het beter jy maar nou met hom daaroor gesels. Shame, dit kan nie maklik wees om oor so ’n mindere digter soos Sutherland te werk nie. Dis nie ’n onderwerp wat ék ooit sou kies nie. Ek dink ook nie Terry is baie opgewonde daaroor nie, hoor.” Sy rek haar oë groot.

      Diana klem haar hande in vuiste langs haar sye. “Dis vir my interessant.” Sy gaan nie vir Beryl van haar vonds in die biblioteek vertel nie.

      Beryl haal haar skouers op. “’n Mens moet darem ook weet hoe om jou promotor se belangstelling te prikkel … Dit lyk my jy sukkel daarmee.”

      ’n Rooiwarm woede stoot in Diana op, maar Beryl druk by haar verby, en is by die kantoor uit voordat Diana aan iets kan dink om daarop te antwoord.

      “Wat gaan weer vandag met daai Beryl aan?” wonder Erna Uys hardop waar sy agter haar lessenaar soos ’n hekwag voor Terry se kantoor sit. “Hallo, Diana,” groet sy dan met haar gewone warm vriendelikheid. Teen die muur en op die lessenaar is daar foto’s van haar man en kinders, en langs die rekenaar staan ’n glaspot met pienk rose. Diana weet dit kom uit Erna se tuin en dit ruik heerlik soet, nie geurloos soos kweekhuisrose of so sinteties soos Beryl se oordadig-aangewende parfuum wat nog in die lug hang nie. “Wat lyk jy vanoggend so jittery? Moenie jou aan Beryl steur nie, hoor. Kan ek vir jou tee maak?”

      “Nee dankie, Erna. Ek lyk maar so want ek moet oor my proefskrif kom praat en oor een ding is Beryl reg: Prof was nie juis opgewonde oor my onderwerp nie. Hy het gedink ek moet, soos Beryl, liewer iets doen oor Afrika-skrywers.”

      Erna rol haar oë. “Sy kla dat sy vashaak. Seker meer afgehap as wat sy kon kou. Dis nie maklik om ’n oorspronklike onderwerp uit te dink nie. Dan moet jy nog jou hipotese bewys en jare lank aan die proefskrif werk. Liewer julle as ek, hoor.”

      Wees net sterk, maan Diana haarself toe sy by Terry se kantoor ingaan. Hy staan by sy venster met ’n beker koffie in sy hand. Hier vanaf die vyfde vloer van die Letteregebou sien ’n mens ver: die ruwe blou van Simonsberg, die besige en dreunende Merrimanstraat onder, ’n vulstasie, winkels, huise, woonstelle. Sy kyk ook graag by haar venster uit na die uitsig, tot daar waar Hoogeland teen Simonsberg lê.

      “Môre, Terry.”

      “Môre, Diana.”

      Hy het pas die ou professor se kantoor oorgeneem, maar dit is reeds oorvol van boeke, lêers en allerlei papiere. Op sy lessenaar staan ’n tweeling van die glasblompot in Erna se kantoor, die rose pienk, vars en geurig, seker vanoggend gepluk. Erna het dit altyd vir professor Hodgin gedoen en nou bring sy vir Terry ook blomme.

      Terry kom nader. Hy is gemiddelde lengte en fris gebou. Dis van al die bergklim en stap dat hy so fiks lyk. Sy daaglikse uniform bestaan uit ’n denimbroek met die een of ander bypassende kraaghemp. Vandag is die hemp ligblou en donkerblou geruit. Sy oë, wat vir haar soos gebreekte en saamgeperste blou glas lyk, kyk na haar met sy kenmerkende omvouende blik. Nou ruik Diana ’n ander soort soet geur: naskeerroom en deodorant. Terry het nog altyd lekker geruik. Veral in ’n toe vertrek is ’n mens bewus daarvan.

      En waar hulle hier alleen saam in die intieme ruimte van die kantoor is, raak Diana nogeens bewus van hoe aantreklik hy is. Sy prominente kaak en groot neus laat sy gesig sterk lyk, en met sy weerbarstige vag blonde hare wat hy redelik lank laat word het, kom hy jonger as sy veertigs voor.

      Diana onthou nog hoe hy in haar eerstejaar-Engelse klas Shakespeare gedoseer en met Romeo and Juliet afgeskop het. Sy is seker dat sy nie die enigste student in die klas was wat smoorverlief op hom geraak het nie.

      Die liefdeswoorde in sy diep stem sou sy daarna en vir ewig kon aanhaal:

      My bounty is as boundless as the sea,

      My love as deep; the more I give to thee,

      The more I have, for both are infinite.

      As oorgewig agtienjarige meisie, nog onseker van haarself, sou sy nooit kon raai dat sy hom uiteindelik sou date nie. Maar dis natuurlik eers ná sy skeisaak en ná sy soveel gewig verloor het dat hy in haar begin belangstel het. Hoe maklik het daardie belangstelling nie nou na Beryl geskuif nie?

      Hy beduie na die stoel oorkant hom. “Sit, Diana.” Hy kyk eers vlugtig na sy rekenaarskerm. Druk ’n knoppie op die toetsbord en save iets met ’n pienggeluid.

      Sy verwyder ’n boeksak wat op die gastestoel gelê het en gaan sit. Sy kyk hom uitdrukkingloos aan, maar hy glimlag vir haar.

      Hy is so seker van sy manlikheid en aantreklikheid vir vroue dat hy dit wraggies regkry om haar te ontsenu – selfs nou nog, ná alles. Die alfaman.

      Hy sluk die laaste van sy koffie af en stoot die beker eenkant toe. Kyk Diana waterpas in die oë om te wys dat hy nou sy onverdeelde aandag aan haar gee. Vroeër kon hy haar met ’n blik vaspen. Nou sál sy haar koel en onbetrokke voordoen.

      “Ek was nogal verbaas dat jy ’n relatief onbelangrike skrywer soos Alexander Armstrong Sutherland vir jou proefskrif gekies het, maar jy sê jy reken sy oeuvre is nog nie deur soveel mense bestudeer soos die klassieke skrywers s’n nie.”

      “Ja, dis een rede. Die ander een is dat hierdie omgewing ’n belangrike invloed op sy werk gehad het, omdat hy twee jaar lank by Victoria Kollege klasgegee het.”

      Terry tel ’n pen op en skryf iets op ’n vel papier.

Скачать книгу