Скачать книгу

tee gehad.”

      Die heerlike geur van gebraaide hoender en uie laat Diana se mond water toe sy kombuis toe stap. Bettina Adams staan voor die oond met haar rug na die deur en sing luidkeels: “Soos ’n hert in dorre streke …”

      Diana gaan staan langs haar en die woorde sterf skielik weg.

      “Heit, hoe laat jy my nou skrik. Jy kan mos nie ’n oumens so bekruip nie.”

      Diana lag. “Ek bekruip jou nie, Bettina. Dis oor jy so hard sing dat jy niks hoor nie.” Bettina het waarlik ’n tweede ma geword nadat Diana se eie ma verongeluk het.

      “Wil jy koffie hê? Ek het vanoggend vars beskuit gebak.”

      “Ja, ek smag na koffie, en beskuit sal lekker wees, dankie. Gaan jy aan met jou dinge, ek sal self vir my maak.”

      Sy hou haar besig met die perkoleerder en die goue beskuite wat heerlik ruik.

      “Die mense kom druiwe oes en ek hoor weer daai Marcus Thompson is agter onse plaas aan.”

      Diana frons. “Ja, hy wil lankal ons grond hê, maar om Hoogeland te verkoop is nie vir my ’n opsie nie.”

      Sy en haar ouma kan of wil nou wel nie boer sedert haar pa se dood nie, maar dis hoekom hulle ’n deel van die grond aan Marcus Thompson verhuur sodat hy druiwe kan kweek en sy werkers dit kan oes. Só bly hulle darem verseker van ’n inkomste terwyl die plaas steeds aan haar, as enigste erfgenaam, behoort.

      Sy staan met haar koffie en doop die beskuit. Hap. Sluk. “Baie lekker, Bettina.”

      Bettina glimlag en vee haar hande aan haar voorskoot af. Sweet blink op haar bolip. Sy bring ure in hierdie kombuis met sy Aga en ander stowe deur, altyd aan die bak en kook. Wat sal Diana en haar ouma tog sonder Bettina Adams as kok en huishoudster, skoonmaker en bakker doen? Om nie eens te praat van haar man Willem wat die tuin en gronde so mooi versorg nie.

      “Hoe gaan dit met Shaun en Denzil by die skool?” vra sy uit oor Bettina en Willem se seuns. Diana en haar ouma het ooreengekom dat hulle altyd sal seker maak die seuns se skoolfonds by Paul Roos Gimnasium is betaal, al gaan dit hoe swaar.

      “Shaun werk hard. Hy weet matriek is nie speletjies nie. Hy doen baie goed in Afrikaans, dis net die wiskunde wat bietjie sukkel.”

      “Wil hy nog volgende jaar onderwys gaan studeer?”

      Bettina tel ’n aartappel uit ’n bak met water op en begin tydsaam skil. “Ja, hy sê dis sy droom om eendag by Paul Roos skool te hou, sodat hy ander kinders soos hy kan aanmoedig.”

      “Dis mooi!” Diana is trots op die seun, maar bekommernis roer in haar. Hulle het ook belowe om Shaun se studies te help betaal. Universiteite is duur. Sy sal by Stellenbosch se afdeling vir beurse en lenings vir hom iets moet probeer reël. Elke bietjie sal help.

      Bettina beduie met die messie. “Ja, ek sê mos nog altyd vir die seuns: Daar’s ’n toekoms vir jou as jy net wil leer.”

      Diana knik. “En hoe gaan dit met Denzil?”

      Bettina klik haar tong. “Hy moet meer werk en minder met die vriende rondhang. Denzil moet nou ernstig word oor sy skoolwerk. Daar’s net twee jaar voor hy ook in matriek is. Maar dit gaan darem nie te sleg nie.”

      Lang krulle aartappelskil val onder Bettina se messie weg. “Hoe was jou dag, my duifie?”

      “Opwindend, dankie.” Sy vertel haar van die vonds in die biblioteek.

      “Haai, nou moet julle alles eers aanmekaarplak voor julle die geheimenisse kan lees?” Haar donker wenkbroue skiet boontoe.

      “Ongelukkig, ja. Maar soos hulle sê: Voor in die wapad het nou ’n lig begin brand.”

      Tog kan Diana haarself nie keer om te wonder wat die biograaf van Oxford beplan nie. Hy is soos ’n vae bedreiging in die agtergrond. Soos ’n spinnekop wat besig is om sy web te spin en hierheen wil kom om vlieë te vang.

      2

      Diana loop af na die restoureerder se laboratorium in die hart van die universiteitsbiblioteek. Hy is ’n benerige man met opgerolde hempsmoue en ’n grys broek wat te kort is vir sy lang bene en sy witgekousde enkels bo stomp swart skoene ontbloot. Hy staan gebukkend oor ’n tafel waarop velle vergeelde papier die tafelblad bedek, maar kyk oor sy skouer toe sy inkom.

      “Goeiemôre, meneer Erdeman. Ek is Diana Malan van die Departement Engels, wat my proefskrif oor Sutherland doen …”

      “Gegroet, doktoranda Malan,” sê hy, sy Nederlandse aksent onmiskenbaar. Hy kom orent en kyk fronsend na haar bo-oor sy ronde brilletjie wat hom soos ’n uil laat lyk. “Mejuffrou Theron het Sutherland se joernaal vir my gebring. Gedorie, dit is een afgryslike gemors, maar moenie hoop verloor nie. Kom sit by die tafel en kyk of u kan lees wat ek reeds gerestoureer het.”

      Sy trek ’n stoel nader en hy stoot twee gelamineerde bladsye na haar toe. Daarop sien sy aantekeninge in ’n netjiese klein handskrif in verbruinde ink.

      “Kan u iets uitmaak?” Erdeman kyk nuuskierig oor haar skouer.

      Gefassineer staar sy na die skrif. “Ja. Dié stuk verwys na Sutherland se roman oor die Anglo-Boereoorlog. Dit was ’n baie vroeë skryfpoging voordat hy hom op digkuns toegespits het en min mense weet daarvan.”

      “Wat skryf hy van die oorlog?”

      “Die held, majoor Edwin Gordon, is ‘stellenbosched’. Dit beteken hy is oneervol gestuur om die bevelvoerder van die Kakies se Remount Camp te word. Ek het daardie roman meer as een keer gelees. Die titel is Harrowed Heart.”

      Sy kan die Hollander naby haar ruik. Daar is iets muwwerigs omtrent hom, soos die reuk van die ou boeke en papiere waarmee hy werk. Gelukkig beweeg hy weer weg. Met haar vinger volg sy die woorde. Sy maak haar skootrekenaar oop en tik aantekeninge van die leesbare stukkies.

      … town’s name was feared by British officers who were unsuccessful in the field … Local farmer’s daughter … brother Victoria College Volunteer Rifles … doomed love? Ella?

      Diana het nog altyd gewonder of Ella, die plaaslike meisie op wie die held in Harrowed Heart verlief raak, nie dalk op ’n ware een gebaseer is nie.

      attractive college building that stands on College Square was designed by a German architect

      charming village with its tree-lined dusty streets, surrounded by mountains

      change colour according to the time of day

      rather pastoral setting, different from crowded, reeking, ancient Edinburgh full of ghosts

      first came to this village with Mother directly after Boer War

      resided with Mother’s cousin, Professor Archibald MacDuggan

      suggested that I come to the College after completing my MA at Edinburgh

      educated men to prepare the leaders of the future.

      Cape Africaanders resent

      republics lost the war. Many people here speak fluent English

      Colony of the Empire for so long

      accents

      Dutch ancestry

      Africaanders harrow dragged through heart, bloody but unbowed

      Sy is so opgewonde. Hier is aantekeninge wat wys watter invloed hierdie omgewing op Sutherland gehad het. Genoeg om hom ’n hele roman daaroor te laat skryf.

      Daar is egter nog bitter min bladsye wat gerestoureer is. Dit blyk ’n lang en ingewikkelde proses te wees. Haar maag trek op ’n knop van moedeloosheid. Een van die dae gaan daardie hooggeagte indringer van Oxford ook alles wil sien. Sy moet dit vóór hom sien. Daarom sal sy verwoed moet kom lees, elke oomblik wat sy vry het.

      Terwyl Diana ’n week later na die departementshoof se kantoor stap, is sy snaarstyf gespanne. Sy kan eenvoudig nie onbetrokke

Скачать книгу