Скачать книгу

buite Queenstown merk ek die vreemdste verskynsel. Dit lyk of die plate doringbome langs die pad in sneeu getooi is. Met die naderkykslag besef ek dit is spinnerakke – nou, soos die son van agter daarop skyn, duidelik sigbaar.

      Dit laat my dié oggend dink aan die sonde in ons lewe. Hoe maklik is dit nie ragfyn versteek nie, met die gif van vernietiging daarin verskuil. Slegs as die son van God se lig vanuit die regte hoek daarop skyn, sien ons (en ander) dit raak en kan regmaak wat verkeerd is.

      Laat sy Gees die sondes uitwys wat julle nie meer raaksien nie en sy Lig daarop skyn.

      Here, laat ons die versteekte sondes wat ons huwelik skade doen, raaksien. Amen

      6 Februarie

      So wit soos nuut begin

      Jesaja 1:18 – Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.

      ’n Bekende skoonheidshuis stel hul nuwe parfuum bekend. Die kleur wit is die inspirasie vir dié blommegeur in ’n geronde bottel van spierwit glas. As deel van die bekendstelling word ons genooi om na ’n modekenner te luister. Die elegante vrou is van kop tot toon in wit geklee en neem haar plek op ’n groot wit leunstoel in. Die tema van haar praatjie vind groot aanklank, ook by my.

      Ons almal strewe na ’n lewe waarvan die pas stadiger is, waar ons weer met mekaar kan praat en al ons sintuie behoorlik inspan, sonder die oorweldigende aanslag van tegnologie.

      Sy wy uit oor die behoefte aan aanraking. Die sagte streling van ’n hand kan liggaam en siel kalmeer. Sy brei uit oor hoe ons op soek is na stilte en vrede wat onstuimige harte kan kalmeer. Sy gesels oor wit as modekleur, as simbool van suiwerheid en ’n nuwe begin. Wit is kalmerend en nooi jou uit om iets nuuts te skep.

      Ek maak my oë toe, terwyl ek luister. Here, dankie vir u vrede en genade wat elke dag nuut is – ook vir u belofte dat ons sondes, so rooi soos skarlaken, weer wit sal word soos wol. Die woord wit word 75 keer in die Bybel gebruik. Dit is dié kleur wat die meeste na in die Skrif verwys word. Dit is die kleur van regverdigheid, heiligheid en redding.

      Wat sou julle doen as God ’n spierwit verfdoek vir jul huwelik voor julle neersit? Bely wat verkeerd is en dank God vir die genade van volmaakte vergifnis.

      Here, was my sonde wit soos wol. Dankie vir ’n nuwe begin, ’n skoon doek waarop ons die storie van u liefde kan skilder. Amen

      7 Februarie

      Die beloofde land is so naby

      Deuteronomium 1:6 – Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: “Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.”

      God beplan vir elkeen van ons ’n goeie lewe volgens sy wil. Hy gee aan elkeen talle beloftes van voorspoed. Vir die Israeliete was die Beloofde Land soveel nader en bereikbaarder as wat hulle ooit kon besef, maar vir veertig jaar het hulle in die woestyn bly swerf.

      Ons wil bitter graag ons beloofde land binnegaan. Baie het reeds die bestemming gehaal, maar nog meer glo dit lê buite bereik. Juis omdat ons nie risiko’s wil waag of die bekende agterlaat nie.

      Hoe ver is jy van die beloofde land? Dwaal jy dors en futloos deur die woestyn? Of is die berg ná al die jare van swerf en swoeg net te hoog om oor te steek? God nooi ons om die plek waar ons vassteek, te verlaat en die beloofde land binne te gaan. Ook in ons huwelik.

      Dalk stry en bots julle al jare oor dieselfde kwessies. Of aanvaar bloot dit wat sleg is as “dit is nou maar so”. Dalk is jul verbintenis sonder vonk en vuur. Onthou, God het vir ons net die beste in gedagte. Maar om dié beloofde land te bereik, verg opstaan, loop en saamtrek. Dit vra ’n visie vir ’n nuwe toekoms en ’n bereidheid om hard te werk.

      God sal ons nooit verlaat nie – veral nie op die pad na die lewe vol belofte en voorspoed wat Hy vir ons in gedagte het nie.

      Wees eerlik oor sake tussen julle. Spreek dit wat verkeerd is aan om so die mooi wat God vir julle beplan te ontvang.

      Here, ons is dwalend deur die woestyn. Ons roep na U. Help ons om by u beloofde land uit te kom. Amen

      8 Februarie

      Hand aan hand in onseker tye

      Genesis 2:24 – Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

      Ons het ’n ete-afspraak by ’n restaurant nie ver van ons huis af met vriende wat tans in die Midde-Ooste woon en werk. Ons het hulle sedert hulle na Doha in Katar verhuis het, nie weer gesien nie. Hulle kuier in Suid-Afrika vir ’n paar weke.

      Ons kyk na foto’s van die moderne stad in die middel van die woestyn waar hulle woon en verluister ons aan hul stories. Nina vertel hoe hulle naweke die pad vat woestyn in om die omgewing te verken. Sy wys die geharde potplante wat sy iewers op ’n plaas gekoop het wat nou op hul balkon groei. Ons kyk na foto’s van ’n turkooisblou binnelandse see en troppe kamele langs die pad.

      Dit lyk of hulle goed aangepas het en gelukkig is daar. Maar ons vriendin vertel ook van die onsekerheid rondom haar ingenieursman se werkkontrak. Hoe hulle vir lank nie geweet het wat die toekoms vir hulle inhou nie. Hoe sy kontrak onverwags beeïndig is. Met al hul besittings reeds weggepak in kartondose wat die woonstel vol rondstaan, het hulle op die laaste nippertjie, drie dae voor hulle sou vertrek, gehoor dat ’n nuwe kontrak by dieselfde maatskappy vir hom aangebied is.

      “Dit gaan goed met die twee, maar ’n mens kan sien hulle is deur moeilike tye,” merk Johan op toe ons by die huis kom.

      Moeilike en onseker tye kruis elkeen se pad. Dra en ondersteun mekaar juis in tye soos dié. Herinner julle weer aan die heilige belofte wat julle op jul troudag aan mekaar gemaak het.

      Here, help ons om in onseker tye hand-aan-hand aan U te kan vashou. Amen

      9 Februarie

      Bring jou broodjies en vissies

      Matteus 15:34 – Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.” (NLV)

      Op my lessenaar by die werk lê ’n helderkleurige blou teëltjie wat ek by die kerkie in Tabga in Galilea gekoop het toe ons dit die eerste keer besoek het. Dié teëljie is daar om my elke dag te herinner aan die belofte van God se voorsiening.

      Op die teël is die kenmerkende mosaïek-ontwerp wat die wonderwerk van die vermeerdering van die brode en die vissies uitbeeld. Daar is ’n mandjie, brode en vissies wat vir dié wat die Woord ken, spreek van oorvloed, genade en voorsiening.

      Die kapel lê aan die voet van die Berg van Saligsprekinge digby die meer waar Jesus die skare gevoed het. Voor by die altaar van die eenvoudige kapel, lê die eeue oue mosaïek (deel van die oorblyfsels van ’n ou kerk wat voorheen daar gebou was) wat vir gelowiges kon bevestig dat dié wonderwerk daar op daardie plek plaasgevind het.

      In die binnehof voor die kerkie groei ’n ou olyfboom met ’n dik stam. Binne die kerkie is dit koel en rustig. Op die banke sit pelgrims biddend, terwyl sommige ’n kersie aansteek, meestal as uitroep vir die verligting van finansiële nood. Van tyd tot tyd lui ’n non, geklee in grys, die kerkklok.

      Ek maak my op een van die houtbanke agter in die kapel tuis om dankie te sê vir sy voorsiening en versorging, terwyl die lig van buite sag deur die albastervensters na binne skyn.

      Vertrou jul finansies aan God toe. Hy kan selfs die kleinste broodjie en vissie tot ’n oorvloed vermeerder.

      Here, U ken ons behoeftes. Dankie vir u voorsiening van ons daaglikse brood – na liggaam en gees. Amen

      10 Februarie

      Besluit saam oor geld

      Prediker 5:9 – Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie … Ook hier kom dit tot niks.

      Dis ’n winderige seedag en ons besluit om ’n draai in Oos-Londen te maak voor

Скачать книгу