Скачать книгу

Ons hou heel eerste stil vir ’n wegneemkoffie by die promenade reg op die see.

      Sonder om mooi te dink, het ons Tinder ons bruin labrador saamgebring. Sy sit agter in die oop bak van die motor. Ons besluit om gou by ons gunsteling-oudhedewinkel ’n draai te gaan maak.

      “Maar wat maak ons met die hond?” vra Johan toe ons daar stilhou. Dié winkel word jare reeds in ’n ou huis in een van die ouer dele van die stad gehuisves en is veral bekend vir die pragtige meubels wat hulle van ou herwerkte vloerplanke vervaardig. Ons is gereelde besoekers.

      “Gaan jy maar in, ek wag solank by Tinder.” Die winkel is vol mooigoed soos altyd en ’n pragtige houtkissie in ’n agterste hoek vang my oog. Ek vra Johan om daarvoor uit te kyk toe dit sy beurt is om in te gaan. ’n Rukkie later kom die vrou wat in die winkel werk uitgeloop met ’n boodskap.

      “Die kissie is vir jou man ook mooi, maar wat wil jy daarmee doen? vra hy.” Ek weet nie regtig nie. “Sê vir hom dis goed so, ons hoef dit nie vandag te koop nie,” antwoord ek haar met ’n hart vol vrede.

      Bestuur jul geldsake saam. Neem mekaar in ag as dit kom by geld – anders kan dit tot groot konflik in die huwelik lei.

      Here, leer ons om wys met ons geldsake te werk te gaan. Amen

      11 Februarie

      Sy koninkryk is ook jóú deel

      Matteus 5:3 – Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. (NLV)

      In die bergpredikasie leer Jesus die volk deur prediking. Hierdie woorde kom direk uit die wese van Christus en is allerbelangrik vir elkeen wat Hom as Verlosser volg. Ons uitkyk op en belewenis van ons lewe verander volkome wanneer ons Christus se belofte verstaan, aanneem en deel van ons maak.

      In die bergpredikasie sê Jesus nege keer dat ons geseënd kan wees. Dit beteken dat ons die potensiaal het om ’n lewe vol vreugde en geluk te leef. Hierdie positiewe uitkoms vloei uit God se blydskap oor die lewe wat die gehoorsame mens kies. Jy vind ’n rusplek by God as jy die saligspreuke uitleef. Jesus waarborg dat lewensgeluk en vrede sal volg in jou persoonlike verhouding met God. As jy weet hoe nodig jy God het, is sy koninkryk ook jóú deel.

      Leef voortdurend in die vaste wete van hoe afhanklik jy van God, jou Skepper, is. Deur Hom eerste te plaas (en nie jouself nie), kan jy ook jou maat eerste stel en in ag neem. Min dinge kan erg skeefloop in verhoudings as ’n huwelikspaar in voortdurende afhanklikheid van God leef. Daardie lewende verhouding met God rig dan voortdurend ons keuses oor kommunikasie en konflikhantering.

      Hoe baklei ’n mens met jou maat terwyl jy bewustelik daaraan dink dat God jou hierdie lewe geskenk het en dat hierdie maat van jou ook aan Hom behoort? Onmiddellik is daar ’n wag voor jou mond; jy kyk met ander oë na die uitkoms van die konflik.

      Leef ek heeltyd bewus van my afhanklikheid van God?

      Soewereine Heer, ek wil in afhanklikheid van U leef – in elke faset en oomblik van my lewe. Amen

      12 Februarie

      Sluit opnuut ’n huweliksbelofte

      Markus 10:9 – Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.

      Ons is ’n ruk lank betrokke by ons kerk se huweliksverrykingsbediening. Johan as spreker en ek as kleingroepleier. Aan die einde van elke wegbreeknaweek lê die pare wat dit bywoon hierdie spesiale huweliksbelofte opnuut af en onderteken dit:

      •Ek sluit met jou ’n eensydige, onherroeplike, onbreekbare verbintenis wat slegs beeïndig kan word deur die dood.

      •Alles wat ek het en is, is joune. Jou teëspoed en pyn is ook myne. Ek sal jou altyd versorg en is bereid om my lewe vir jou op te offer.

      •Wat jy ook al in menslike gebrokenheid verkeerd sou doen, of dalk mag nalaat om te doen, sal nooit tussen jou en my kom nie. Ons verhouding is ’n hegte eenheid met geen plek vir ’n derde persoon nie.

      •Ek sal uit eerbied vir my Heer, Jesus Christus, onder leiding van die Heilige Gees, jou respekteer en liefhê soos Hy ons liefhet. Ek sal glo in jou en jou liefde vir my, en altyd streef om ons verhouding ’n veilige hawe te maak.

      •Ek wil altyd saam met jou in afhanklikheid opkyk na ons hemelse Vader en saam met jou getrou en gehoorsaam bly aan Hom. Ek gaan gereeld saam met jou bid en die Here voluit saam met jou dien.

      •Voor ons huwelik het ek die voorreg gehad om te kon kies wie ek wou liefhê. Ek het jou gekies en daarom is my besluit om jou lief te hê tot die einde toe.

      Erken aan mekaar: Slegs deur Hom is ons in staat om volkome lief te hê en ons beloftes aan mekaar te onderhou.

      Here, in u teenwoordigheid lê ons hierdie huweliksbelofte vandag weer aan mekaar af. Amen

      13 Februarie

      Jou liefdesbelofte bly staan

      Hooglied 2:16 – My liefling behoort net aan my, en ek is net syne. (NLV)

      Vanoggend blaai ek deur ’n ou tydskrif, en sien die foto’s en ’n artikel van ’n jong kollega se troue raak. Ek sit lank en kyk na die pragfoto’s van die paartjie in die veld buite die Vrystaatse dorpie waar die twee getroud is. Dit herinner my aan die detail van die dag, die bruid se asemrowende mooi rok en die atmosfeer van vreugde en liefde wat geheers het. Maar dis die lys van beloftes van die bruidegom aan sy bruid wat my hart vandag die meeste raak.

      “My belofte aan jou …

      •Ek aanvaar jou as ’n gawe van God. Ek sal jou altyd liefhê en een met jou wees. Soos die Vader, Jesus en die Gees Een is.

      •Ek wil my lewensreis met jou as my maat deel.

      •Ek sal jou bemin en respekteer, in tye van geluk en ook in donkerder dae.

      •Ek sal jou opsoek vir raad, liefde en ondersteuning.

      •Ek sal simpatiek en teer en beleef teenoor jou optree.

      •Ek wil my geluk en hartseer, my suksesse en mislukkings met jou deel.

      •Ek sal altyd in waarheid en in liefde met jou praat.

      •Ek sal jou eer en getrou aan jou wees solank ons leef.

      •Ek gee jou hiermee my woord van trou en neem jou as my wettige vrou.”

      Die onthaal, die gastelys en die detail van die dag vervaag, maar jul belofte aan mekaar moet vir altyd staande bly. Blaai weer ’n slag deur jul trou-album en herinner julself aan alles wat julle daardie dag aan mekaar beloof het.

      Here, U is die Ewige God en getuie van ons verbintenis aan mekaar. Ons dank U daarvoor. Amen

      14 Februarie

      Bly getrou, soos die oestervanger

      Psalm 50:11 – Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne. (NLV)

      Jaar ná jaar sien ons hulle op die strand. Twee swart oestervangers met hul bloedrooi snawels wat rustig oor die strand stap, hier pik-pik en daar ’n geskulpte seeslakkie of twee uit die sagte sand haal. ’n Mens sien hulle selde vlieg. Soms sit hulle op die swart rotse, en wys net die rooi snawels dat hulle daar is.

      Dié twee woon min of meer op dieselfde plekkie hier op ons strand, of so vermoed ons. Hul nes is iewers weggesteek tussen die wit duine en die soom van die blou branders. Die ideale woonplek, ongerep en stil, weg van die lawaai van mense.

      Dié voëls kies een maat vir die res van hul lewe. En boonop is hulle ewe getrou aan hul woonplek as aan hul maat. Oestervangers woon tot 20 jaar lank op dieselfde plek. Die nes is sonder fieterjasies, slegs ’n paar skraapsels in die sand. Broeityd is gedurende die somer, wanneer die wyfie een tot vier eiers lê. Die taak om die eiers uit te broei word gedeel. Maar nie in eweredige porsies nie! Die wyfie bring meer tyd op die nes deur, terwyl haar wederhelf die omgewing dophou en sy vroutjie en voornemende kroos

Скачать книгу