Скачать книгу

kliphuis met die doekplafon en diep veranda reg rondom.

      “Oom Klasie-hulle sou vir ons plek gehou het.” Rudolf is gespanne, dis duidelik. Hy is immers ’n seun van die veld, en hierdie gedrang is vir hom vreemd. “Maar Ma is reg, dis dalk net ’n muisgaatjie.”

      “Dalk is daar nou meer plek by die, wat noem Josefien dit, Du Toits Pan?” sêvra Kinnie. Sy kan net dink hoe so ’n pan sal lyk, met vuil water, verwoeste riet, verjaagde watervoëls. Maar tog meer eenkant, wie weet? Vir die eerste keer wonder sy waar sy nou eintlik sal hoort: by die Viljees, of by die Meyers? Sal tant Lenie dalk aandring dat “Susanna” soos van ouds by hulle bly, omdat haar hulp daar nodiger is?

      Dis moeilik om ’n eenling te wees. Sy sal eendag haar eie gesin maak, met ’n man wat haar liefhet en kinders wat mooi deur haar versorg word. Sy vind dit swaar om aan ’n ander man as Rudolf te dink, maar sy sal haar kan dwing om ’n vreemde man lief te kry. Gewoond raak is lief raak, dis al.

      Asof tant Lenie Kinnie se laaste gedagtes kon lees, sê sy peinsend: “Ek hoop tog maar die Meyers los jou eers nog ’n rukkie by ons, kind.” Dan, na ’n rukkie, verklap sy iets wat Kinnie nooit geweet het nie: “Ek wou jou hoeka graag hou, daardie keer ná Jakob jou halfdood in die veld gekry het. Maar Klasie en Mynie het gesê bloed is bloed. Gelukkig het hulle my toegelaat om jou eers bietjie te versorg, ek het vir Jakob gestuur om veldskilpaaie te soek en ek het jou met flou skilpadsop gelawe, dis al wat ’n verswakte mens kan uitstaan.”

      “Dankie, tant Lenie,” sê Kinnie opreg. Nou weet sy ten minste dat daar iemand op aarde is wat haar op ’n tyd graag wou gehad het.

      Rudolf lag skielik, en dis goed om die klank te hoor. Hy was die hele tyd te ingedagte en somber. “Ma praat so ernstig soos een wat ’n testament maak.”

      “Ja, wie weet, boetie. Dalk gooi hulle ’n oumens sommer in daardie gate wat hulle so grou.” Maar tant Lenie kry darem ook ’n grimmige lagtrekkie binne die kappie.

      Hulle skommel die buitenste verspreide, eensame tentkampies binne; familiewaens met tente langsaan, en by elke staanplek lê ’n hoop witblouerige grond. Dis duidelik die klaar gesifte grond, nuttelose uitskot van die kosbare delwersgruis. Die meeste tentklappe is toegebind. Verwaarloosde honde blaf sonder drif. Almal is seker in die kleims, daar waar tente en skuilings digter op mekaar staan, die gedruis harder klink, die stof digter pak.

      Kinnie kry die gevoel dat hulle ’n paar dowwe mieliepitte is wat langs die pad geval het. Te veel dae en nagte was hulle in die oop, rustige veld, met snags die maan en sterre bo hulle kampplek en soggens die môrester as die eerste vuurvlamme gesellig losspring.

      Dis tant Lenie wat die vraag stel: “Boetie, dis nou goed en wel dat Klaas-hulle vir ons plek hou, maar hoe kry ons hulle in hierdie verdwaalspul?”

      Die osse sak een-een op hulle knieë in die jukke neer terwyl Rudolf sy hoed vorentoe stoot solank hy oor die saak dink. “Dis een van twee dinge. Ek of Jakob gaan te voet soek, of ons trek met die wa so ver moontlik in die gewoel in. Jakob?” raadpleeg hy sy regterhand.

      “Soek-soek bietjie dieperter in trek,” kies Jakob. Dalk is hy bang dat die een wat alleen gaan soek, vir altyd kan wegraak. Hy skud die sand uit sy deurgeloopte skoene en neem sy plek by die voorosse in terwyl hy mooi en sag hulle name roep, soos ’n bekende en strelende rympie, met spesiale liefkosing vir Donkerland met die seer poot.

      Om te vorder met ’n yslike wa is nie so maklik nie. Voertuie van alle soorte, die meeste met ’n buik vol gruis, kruie heen en weer. Digter en digter word die see van tente, krotte en delwers. Almal se baard en hare is gekoek van stof, die hoede vuil, die klere verbleik. Tussenin is daar ook die tekens van mislukking: flarde van verwaaide, verwoeste tente, geroeste siwwe, verlate gate. Kinnie skuif al hoe verder vorentoe in die wakap om beter te kan sien.

      Toe mans openlik staar en selfs op grondhope klim om haar te bekyk, besef sy egter dat vroue hier skaars moet wees, en dat sy haar afstand moet hou. Graag sou sy voor langs Rudolf wou sit, maar sy val liewer terug na haar plek langs tant Lenie.

      Die onrustige osse beur harder in die los grond. Die stomme goed wat net aan die ooptes gewoond is, het nie die begrip van ’n menslike wese, om te weet wat aangaan nie. Agter die grondhope en walle raak die lawaai net al groter, en die geskud van tallose siwwe laat ’n fyn stofreën neersak. Kinnie dink vies dat sy maar ’n halfvuil drarok kon aangetrek en haar gewone vlegsel onder die kappie weggesteek het.

      ’n Groter plaag as stof en hitte blyk vlieë te wees. Die osse skud aaneen hulle swaar koppe, en die mense bly met hulle hande voor die gesig waai. Kinnie sien hoe die lastige goed swart saampak op arms vol skrape. Vaderdank, netnou sal dit sononder wees en die pestilensies sal padgee, tot môre … ’n “môre” wat tot nog toe geen gesig van sekerheid het nie.

      Die dag begin skimmel, en almal wil skynbaar ’n laaste gelukkie soek voor dit skemer word. Oplaas moet Rudolf maar stilhou, reg binne die lawaai en gedrang. Krom straatjies vou oop, met besigheidsplekkies wat uithangborde van seil vertoon. Daar is selfs enkele welgeklede vroue, gehoed en gehandskoen, wat by winkeldeure in en uit gaan, en Kinnie dink daaraan dat sy vir die eerste keer in haar lewe bitter bly sal wees as sy maar net haar niggie Josefien kan sien.

      Dis egter ’n verrassing van ’n ander aard toe Frikkie skielik by hulle is. Almal lag verheug, en hy klapsoen vir Kinnie toe hy sy hande om haar smal middel sit en haar afhelp. “Ons het verneem van die watrek van Colesberg,” vertel hy, “en met mooi uitvra het ons elke keer geweet waar julle nou is. Die een het julle hier gesien, die ander daar. Ek wou juis ’n ryding gaan kry en julle tegemoet ry … en hier kom julle tussen die grondhope deur oop en bloot aangesuiker.”

      Nou is daar geen omdraai nie, dink Kinnie. Indien niks anders nie, is dit die moeë afwagting op Rudolf se gesig wat dit te kenne gee. Want waar Frikkie is, kan Josefien nie te ver wees nie, besitlike Josefien wat haar web opnuut om hom sal spin. En sy, Kinnie, sal terugglip in haar gewone rol van die niggie met die swygsame mond en gewillige hande.

      3

      Frikkie raai aan dat Jakob en tant Lenie by die wa agterbly solank hy vir Rudolf en Kinnie te voet vooruit vat. Vir die nag kan hulle hier oorstaan, die wa en osse moet net uit die pad beweeg word. Kinnie is verdeel tussen bly en gaan. Natuurlik is sy bitterlik nuuskierig. Maar sy wil nie werklik Rudolf en Josefien se herontmoeting sien nie. Sy wil tant Lenie ook nie alleen agterlos nie, maar dié is alte dankbaar om ’n rukkie te rus. Kinnie sien dus na haar behoeftes om en haal haar eie voorskoot af voor sy aansluit by Rudolf en Frikkie wat ’n entjie vorentoe wag. “Solank julle nie verdwaal nie,” roep tant Lenie verlaas agterna.

      “Ek ken hierdie Fields klaar so goed soos Tweefontein se werf, tante,” lag Frikkie.

      Bevreemd stap Kinnie saam met hulle die gedrang binne. Hulle vleg tussen allerhande opslaangeboutjies deur. Voor sommige van die sinkwinkeltjies met klein venstertjies, is reeds ’n brandende lantern opgehang. “En dié saampakkery?” vra Kinnie verwonderd omdat party plekkies so volgepak is dat jy net die vaal rugkante van die delwers sien.

      Frikkie skater ingenome, asof hy dit alles uitgevind en daargestel het. “Jy ken mos Engels, lees die name.” Sy lees hardop, en lag saam toe sy besef dat dit kroeë is. Gambler’s Luck, Diggers’ Delight, Old Cock, Hard Times. Elke moontlike uitlandse taal klink van buite en binne af op. Rudolf vra nou die vraag wat seker heeltyd by hom spook: “Is daar ooit nog kleims te krye, Frikkie?”

      “Daar kom gedurig in die mark. Intussen help werk jy ons kleim, om die helfte.”

      “Maar jou pa is die eienaar,” sêvra Rudolf. “Hy moet sekerlik die grootste aandeel kry.”

      En Rudolf sal net sy handlanger wees, dink Kinnie. Hulle moet versigtig trap oor tentpenne en -toue, rondom oop kleims. En versigtig trap vir die Meyers ook, besef sy.

      Hulle vertel Frikkie van die man met die skuimbekperde van vroeër die dag. “Dalk ’n Kopje Walloper wat padgee,” reken hy. “Die skelms wat hulle met onwettige kopery ophou. IDB. Illicit diamond buying. Dalk het hy hom verniet so arm gehou, hy was net op vlug.”

      Seilklappe

Скачать книгу