Скачать книгу

is. Vir hom is sy Maleen, en Rudolf is Dolfman. Ook die naam Kinnie is deur Jakob gegee; hy, wat haar lewe gered het toe sy kleindom probeer wegloop het, terug na haar pa toe, en op die Viljees se grond beland het, om flou gehuil deur Jakob gevind te word. Die Meyers was al radeloos gesoek. Jakob dog dis ’n “weg lammertjie”, en het gesê: “Maar jy’s dan ’n kinnertjie.” So het die eertydse Santjie Rigter vir almal Kinnie geword. Net met haar voorstelling in die kerk was sy Susanna Jacoba Rigter, en dan noem tant Mynie haar ook nooit anders as Susanna nie, so half kwaaierig.

      Die Meyers reken dat Jakob heeltemal te eie met sy werkgewers is, maar hy is deur wedersydse trou vas aan die Viljees gebind. Hy het ’n vrou en twee kleintjies op Werfplaas, vir wie hy gereeld geld wil stuur totdat hy self ryk terugkom. So glo hy vas. “Dankie tog vir die miskoeke, Kinnie,” sê Jakob nou.

      “Jy moet my help dat ons hol goed oopsit, Jakob. Vannag reën dit.”

      Rudolf kyk die lug in. “Ek sien ook so. Jakob, ek en jy sal onder die wa moet inkruip.” Gewoonlik slaap hulle aan weerskante van die vuur, elk op ’n stukkie seil en in ’n kombers toegerol, sodat die vroue die wakap kan kry. Kinnie sou nie omgee vir die harde grond as sy maar langs Rudolf kon slaap nie. Dis ’n diep verborge gedagte wat haar so verleë maak dat sy haar nek voel warm word.

      Hulle werk suinig met die warm watertjies, sodat daar ná die skottelgoed ook ’n bietjie waswater vir elkeen sal wees. En Rudolf het gesê dat hy wil skeer. Hoe nader hulle aan hulle bestemming kom, hoe rusteloser raak hy. Is dit die gedagte aan diamante, of aan Josefien ? Ongemerk haal Kinnie sy skeerblikkie uit. Dit moet tog nie lyk of sy die rol van sy geliefde wil speel nie. As hy vra, soos voor hulle by die huis weg is, dat sy sy wangbaarde moet regknip, sal sy dit doen. Sy sal egter weer eens sorg dat sy nie te naby staan, sodat haar lyf aan syne raak nie. Maar die ligkring van die vuur sal hulle saamsnoer, terwyl die osse rustig aan hulle trekkettings lê en herkou, oë soos groot vuurvlieë in die skynsel. Al is die veld hoe kaal, hulle vind altyd iets te vrete. Soos my lewe, dink Kinnie; hoeveel jare al voed sy op die krummels van Rudolf Viljee se aandag, herkou dit in haar gedagtes?

      Die afgelope weke was dit haar beskore om na aan hom te lewe. Maar môre bereik hulle die delwery, en alles sal verander. Hier waar die geur van die soutribbetjie met dié van vuurrook meng, met ’n kiewiet wat in die aandveld skree, pak ’n diepe benoudheid haar beet. Sy het niks van haar eie, geen mens of dier of ding nie.

      Hoe sal die lewe hier haar behandel?

      2

      Hulle moet net ’n paar myl van die delwery af wees toe ’n perdekar uit daardie koers aangejaag kom. Jakob lei betyds die osse eenkant toe, want dis duidelik dat die kar nie sal uitwyk nie. Reg langs hulle hou die drywer die skuimbekkende perde in. Hy lyk verwaarloos met klere van verbleikte bruin ferweel, nerfaf stewels en stofgekoekte hare onder ’n gevlekte hoed. Hy dra ’n breë gordel met ’n jagmes daaraan.

      “Going to New Rush?” roep hy in onbeskaafde Engels.

      “Where else?” roep Kinnie terug, omdat sy beter in Engels is as Rudolf, en hy reeds te kenne gegee het dat sy hom daarmee te hulp sal moet kom. Sy het kleintyd Engelse speelmaats gehad, die Butler-kinders, en selfs met haar mindere skoling lees sy elke Engelse boek waarop sy die hand kan lê.

      Die tye wanneer Josefien en Frikkie aangery was na ’n naburige plaas waar dalk ’n reisende skoolmeester was, moes Kinnie met die huis- of plaaswerk help. “Jy hoop seker om eendag met ’n Engelse lord te trou,” het Josefien eendag snedig gesê toe Kinnie weer met ’n Engelse boek sit wat die domineesvrou van die dorp vir haar geleen het.

      “Dis ’n mooi storie,” was Kinnie se enigste verdediging.

      “Thought you’re boors,” sê die vent nou, verbaas oor Kinnie se Engels. Sy blik gly brutaal oor haar.

      “So we are,” antwoord sy parmantig. “Now make way, please.”

      “Sê vir hom sy perde het dikkopperdesiekte,” sê Rudolf hard. Die geel skuim verklap.

      “Toe maar,” antwoord sy, “hy sal self uitvind as die stomme goed dood neerslaan.”

      “Whot’s he say?” wil die kêrel agterdogtig weet.

      “Nothing,” antwoord Rudolf self, deeglik vies.

      “What’s it like out there?” kan Kinnie tog nie help om te vra nie. Sy voel tant Lenie se onderskragende teenwoordigheid agter haar in die wakap, en verder is Rudolf en Jakob ’n soliede beskerming wat haar vrees vir die ruwe vreemdeling verdryf.

      Die man lag roggelrig: “No damn bed of roses. Dysentery, filth, dust and flies. Bad water and scarcely any food. I’m all up with it.”

      “We are not you. We are boors, remember,” sit sy hom hoogmoedig op sy plek.

      “You pay yer money and you take yer choice,” snuif hy. Dan loer hy die volgepakte wakap binne. “Have you people a wee bite to share?”

      “Hy bedel kos,” tolk Kinnie.

      “Gee hom tog maar iets,” sug tant Lenie. “Anders maak hy ons nog dood daarvoor.” Sy gee ’n slopie met ’n stukkie koue vleis en twee vetkoeke aan vir Kinnie, wat dit weer vir Rudolf gee. Dié gooi dit sommer vir die vreemdeling, wat nie eers dankie sê voor hy in die slopie grou, ’n stuk vetkoek met sy tande afskeur en die peits lig om die halfdooie perde aan te spoor nie.

      Hulle skommel nog verder in die skielike stilte waar net die swaar asems van die osse opklink, en die dowwe plof van hulle pote in die sand. “Josefien het gelieg,” sê tant Lenie eindelik. “Ons gaan ’n helhool tegemoet. Kyk hoe lyk hy, of die dood op sy hakke sit.”

      “Dis wat elkeen daarvan maak,” troos Kinnie. Sy kan dit nie verdra dat die ander, veral Rudolf, skielik so mismoedig lyk nie.

      “Soos boerdery,” stem Rudolf dankbaar saam. “Jy moet tye lank kan insit voor jy uitkry.”

      “Ás jy uitkry,” herinner tant Lenie. In die platkappie, met die son van voor, wys elke plooitjie op haar gesig.

      “Sy perde is sleg verniel,” kom Jakob met ’n nagedagte.

      “Seker maar beter ek het toe nie ’n handperd saamgebring nie,” sê Rudolf.

      “Veral ’n ongesoute een,” stem sy ma saam.

      Die dag word lank, en die son begin reeds oorskuif toe Rudolf sielik regopper sit en sy hoed agtertoe stoot. “Kyk daar,” beduie hy met die sweepstok.

      Kinnie dog eers hy gewaar ’n wildsbokkie. Maar dan sien sy, dynserig ver op ’n lae verhewenheid in die veld, die witterige skynsel teen die bleekblou lug. Dit moet Colesberg Kopje wees, waarvan Josefien geskryf het, die koppie wat so vinnig uitgekalwer is. Die eerste delwerye was teen die Vaalrivier, en daarna by Du Toits Pan. Maar Colesberg Kopje is die plek waar dit soos sneeu gelyk het ná die stormloop, van wit papiertjies wat kleims afpen, en wat nou glo New Rush heet.

      “Dis die diekens,” sê Rudolf, ’n effense heserigheid in sy stem.

      Hy is haastig om by Josefien te kom, dink Kinnie, sonder om haar blik van die toneel weg te vat. Dis soos ’n ver, vuil magneet wat trek en trek.

      “Lyk soos ’n stuk muwwe brood,” som tant Lenie op, hand bo die oë in die kappie.

      Rudolf antwoord nie. Kinnie sien dat sy hoed weer vorentoe geskuif is. Dan neem hy ’n besluit: “Kom ons maak eers ’n laaste staning. Die osse kan sommer in die juk lê en rus. Ons maak vuur en eet laat middagkos of vroeë aandkos, dan kom ons nie onklaar daar aan nie.” Vraend kyk hy na Kinnie, wat knik. Sy weet nou hy sien ook op teen die vreemde.

      Die ekstra tyd bring meer gemoedsrus. Hulle kan gewoond raak aan die toneel daar voor, ’n vuil tentesee onder ’n stoflaag. Eindelik is alles weer weggepak, met die orige lewendige kole wat in ’n ysterpot onder die wa hang. “Om ’n vuurtjie daar oorkant aan die gang te kry,” het tant Lenie sorgsaam beduie.

      Rudolf spoor die osse aan. Hulle is op die laaste skof, dis geen vergissing

Скачать книгу