Скачать книгу

      “Ek het, ja, as julle vir my ’n perd het? Ek ry net nie Westerse styl nie.”

      “Jou ma het so gesê. Moenie bekommerd wees nie, Hanz het vir jou een van sy volbloedmerries in die stal gelos,” sê Liesie.

      “Ek weet nie wie Hanz is nie en ook nie waar die perd of die stal is nie.”

      “Ons sal solank vir jou gaan opsaal. Kry jy jou ryklere, dan wys ons jou,” sê Liesie.

      Nicole hardloop terug na die kamer met die hemelbed waar sy geslaap het. In hulle ryskool is daar altyd baie snedige grappies oor perderuiters wat volgens die Amerikaanse of Westerse rystyl ry, maar die drie perde wat hier aangekom het, lyk goed opgelei en mooi versorg. Die agterkleinniggie lyk gaaf, maar die tweeling freak haar uit. Hulle is te lank en te skraal en veral die een is te flippen nors! Chané sou nooit toegelaat het dat sy saam met húlle op ’n uitrit gaan nie.

      Dit is ook maar goed Monique en Chané is nie hier nie. En sy het nie ’n keuse nie, sy kan nie hierdie drie ignoreer nie. Nie net is hulle familie nie, maar ook die enigste lewende siele in die onmiddellike omgewing.

      Sy trek haar swart rybroek by die Guess-T-hemp aan en prop haar voete driftig in haar rystewels.

      Sy sal maar net haar vertelling van haar vakansie kort hou, sonder om te veel foto’s te neem. Haar pa en Claire se troue kan haar hoof-bloginskrywing op Populars’ corner wees. Hierdie vakansie moet sy net probeer oorleef; sy hoef nie ’n vrolike SMELL-bydrae vir Chané te lewer nie.

      Nicole besef skielik hoe honger sy is toe sy uitstap om die cowboy-ruiters te soek, haar rypet onder haar arm. Sy het ’n moulose rybaadjie by haar langmou-T-hemp aangetrek. Die onderbaadjie is soos ’n fotograaf s’n met baie sakkies sodat sy haar selfoon kan saamdra. Sy trek die voordeur toe en wonder vir ’n oomblik of sy ’n alarm moet stel of die deur moet sluit.

      Liesie kom aangestap met ’n swart merrie, opgesaal met ’n Wintec-springsaal. Hiérdie merrie het beslis nie drie bene soos Ouma Grace gevrees het nie. Sy is supermooi, blink en glad geborsel. Die merrie lig haar kop en kyk intelligent en vreesloos na Nicole. Nicole is sprakeloos. Sy het nie vir een oomblik gedink die perd wat vir haar gereël is, sal só lyk nie.

      “Nicole, ontmoet vir Raven Girl,” sê Liesie. “Raven en my merrie, Fudge, is baie goeie vriende, so ons kan eers langs mekaar stap tot jy haar gewoond is.”

      Die tweeling galop reeds vooruit op hulle bruin perde, teen die duine op.

      4

      Raven Girl

      Op die kruin van die duin draai een van die ouens om en waai vir Nicole en Liesie voordat hy op ’n galop wegtrek en oor die duin verdwyn.

      Raven Girl het ’n gemaklike stap. Sy is baie rats en die ligste drukking of aanraking van Nicole se hakke laat haar dadelik reageer.

      “Sy is ’n polo-perd. Sy kan soos blits draai en op spoed van rigting verander. Wees versigtig as jy haar intrek om te stop, sy doen ’n pletterstop. As ons op die strand ry, dink sy sy is in ’n wedstryd. Sy kom só vinnig tot stilstand dat mens maklik oor haar kop geslinger kan word.”

      “Hoekom dink sy dis ’n wedstryd?”

      “Hanz het jare lank polospanne afgerig in die Kaap. Hy het altyd sy perde op Noordhoek se strand afgerig en fiks gekry. Raven assosieer die seesand met polowedstryde. Hanz se span het tot twee jaar gelede nog internasionaal deelgeneem aan polo en polocrosse. Nou teel hy net perde, maar hy is nog steeds betrokke by die sport. Hy gaan baie Kaap toe.”

      Liesie en Nicole laat stap hulle perde tot op die bopunt van die wit sandduin met die groen skerppunt-duinegras. Agter die duin lê die see soos ’n groot blou dam. ’n Strandjie boog ’n baai uit in die vlak water. Die sand is blinkwit tot teen die duine en silwergrys teen die water waar die branders saggies uitspoel.

      Nicole trek haar asem verras in. Die skilderagtige strandjie lê soos ’n tweekleurige syserp om die gladde blou water gedrapeer. Nicole se vel tintel van opwinding. Die sout seebriesie stoot soos ’n yskasluggie teen haar aan en vul haar neus en longe. Sy hou Raven op een plek stil en neem gou ’n paar foto’s met haar foon. Die tweeling galop met hulle perde deur die vlak water. Dit lyk soos ’n foto-webwerfprentjie. Blou seewater, silwer seesand en wit sandduine met twee ruiters wat deur die water galop. Uiteindelik! Iets vir hulle blog: perdry teen die see! Sy moes haar kamera gebring het, maar sy het nie gedink sy gaan dit nodig kry nie. Hierdie prentjie wil sy met meer mexapixels vaslê as wat haar selfoon haar bied. Sy wonder of hulle gou kan omdraai, maar Fudge en Liesie draf reeds teen die duin af.

      “Ons sal moet wikkel! Hulle wag seker al vir ons met die ontbyt,” beantwoord Liesie haar onuitgesproke vraag.

      Die strand krul soos ’n kaaskrul na die een kant waar dit ’n rotsagtige punt vorm. Daar lê ’n klein blou bootjie in die vlak water, en Nicole sien ’n kliphuis en buitegeboue net agter die rotse. Die huis se ruite wink vriendelik. Die tweeling volg die paadjie na die huis.

      Raven Girl rem ongeduldig aan haar teuels om Fudge teen die duin af te volg. Haar lang swart maanhare wip ongeduldig. Sy krom haar nek sodat haar nekvel raafswart skyn in die oggendson en ruk-ruk weer aan haar teuels. Dan spring sy weg op ’n vinnige draffie en slaan oor na ’n galop toe hulle die dik sand tref. Nicole kan voel dat Raven nou uithaal en wil jaag tot by Fudge, maar die dik sand breek haar spoed. Toe die merrie se voorpote die harde nat sand tref, versnel sy kragtig.

      Fudge en Liesie is al by die branders. Raven Girl skiet met ’n vaart agterna, nou sonder die weerstand van die droë seesand. Nicole voel hoe sy beheer verloor. Die merrie plettergalop die vlak branders in agter Fudge aan. Die yskoue water spat op teen Raven se nek, teen Nicole se bene en deur haar gesig. Nicole vat haar teuels vinnig vas, laat sak haar hakke en knyp haar knieë vas teen die Wintec-saal. Dankie tog vir die Wintec. Vandat sy vir Shadow het, ry sy met ’n Wintec, so haar sit in die saal voel darem bekend, al is die perd vir haar vreemd.

      Raven reageer gelukkig dadelik op Nicole se hand- en been-instruksies. Sy val terug in ’n beheersde draffie en Nicole ontspan. Die merrie is rats en lewendig, maar sy luister wat jy van haar vra. Sjoe, sy het so amper afgeval!

      Liesie hou Fudge ook in en val langs Raven in. Die twee merries se opwinding bedaar tot ’n stapspoed in die vlak water. Nicole kyk teen die strand af. Die tweeling staan op die sandduine langs die kliphuis en kyk na hulle kant toe. Dan verdwyn die twee op hulle perde om die huis. Het hulle my dopgehou?, wonder Nicole.

      “Is jy orraait? Is sy te lewendig vir jou?” vra Liesie besorg.

      “Nee, sy is fantasties, maar ek het nog nooit op ’n strand perdgery nie en ook nie deur branders galop nie. Ek het die terrein onderskat.”

      “Raven is ’n pragtige perd, maar sy kan vol dinge wees. Jy ry regtig goed!”

      Hulle draf die entjie teen die strand af tot by die skulpiespaadjie wat na die kliphuis lei. Die blougrys skulpe kraak hard onder die merries se hoewe terwyl hulle om die huis van klip en glas beweeg.

      “Wow! Amazing strandhuis! Ek het nie besef hier is ’n vakansiedorp nie.”

      “Hanz se huis is eintlik ’n plaashuis. Hier is nie ’n vakansiedorp naby nie. So ’n paar uur verder teen die kus af kry jy die vakansiedorpie Malgasbaai in die natuurreservaat, maar dit is meer vir visvang en kampeer.”

      Nicole het verwag dat al die plaashuise hier soos tannie Pollie se huisie gaan lyk. Ouma Grace het so geskimp oor hoe outyds die mense van die Weskus is. “Dis die Wilde Weste van Suid-Afrika!” het sy gesê terwyl haar stem sommer so ’n oktaaf klim. “Ek kan nie glo jou ma wil jou daarheen sleep vir die vakansie nie! Mens gaan net soontoe in die blommeseisoen.”

      Liesie en Nicole ry om die huis. Die merries ken die pad. Agter die huis is ’n ry stalle in dieselfde boustyl as die huis. ’n Paar motors staan daar naby geparkeer. Nuuskierige merries met klein vulletjies by hulle loer oor die heinings.

      “Kom ons sit gou ons perde in die stal. Trek net die stiebeuels op en knoop jou teuels

Скачать книгу